Menu terloops
In Sepies [21 Des 2025]

‘Diepe Waters’ se grootse storielyne van 2025


Nog ’n gebroke hart vir Sanet, ’n lyk in die swembad en ’n geheime tweelingsuster wat amok maak – ons kyk terug na van die grootste, mees dramatiese storielyne wat vanjaar in die kykNET-telenovela, ‘Diepe Waters’, afgespeel het. 

Deur Redaksie

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

‘Diepe Waters’ se grootse storielyne van 2025

Kyk, daar was etlike dramatiese wendings wat vanjaar die lewens van ons gunsteling Diepe Waters-karakters omvergegooi het. Soveel so, dat dit eintlik moeilik was om te kies watter storielyne ons vanjaar vir die grootste ses geslaan het. Hier is ons top-vyf (in geen spesifieke volgorde nie) Diepe Waters-storielyne van 2025: 

1

Die Viljoens ontrafel

Toe kykers in einde-Augustus aan die Viljoen-gesin bekendgestel het, het dit vinnig duidelik geword dat dié nie sommer net nog ’n mooi gesin is nie… Soos Tarren-Lee Habelgaarn oor hul aankoms geskryf het: “Op die oog af lyk Schalk (Izak Davel), Leandri (Christel van den Bergh), Marco (Xander Venter), Danie (Chartyn van Heerden) en Hanneli (Carla Schönfeldt) soos net ’n sportiewe familie met gekoördineerde oefenpakke en ’n liefde vir wen. Maar agter die glimlagte en sosiale media-profiele lê daar ’n wêreld van koue beheer, druk en manipulasie met die krake wat vinnig begin wys het.”

Viljoen-gesin, DIEPE WATERS
Schalk (Izak Davel) en Leandri (Christel van den Bergh) se prentjiemooi-gesin is toe nie so perfek soos hulle voorgegee het nie… Foto’s: Skermgrepe

En ja, dit is juis die Viljoens se donker familiedinamika wat hulle vinnig ’n intense en boeiende deel van die storie gemaak het. Elke koue kyk, elke gefluisterde dreigement, elke emosionele uitbarsting, het uiteindelik gelei tot ’n versplinterde gesin. Die terugbaklei teen Schalk se gevaarlike beheer het by Hanneli begin met dié jong tienermeisie wat haar eie wil ontdek het en geweier het om dit prys te gee. Maar dit was eers toe Danie in die hospitaal beland, dat Leandri ’n streep in die sand getrek het. Tog, alhoewel Leandri alles in haar vermoë doen om die vrede te bewaar, slaag sy nie daarin nie. Schalk se ware karakter kom nou uiteindelik na vore… en dit is beslis nie ’n mooi prentjie nie.

2

Pam en Siseko se sprokiesverhaal

Pam (Tracey-Lee Oliver) en Siseko (Chumani Pan) wat vir mekaar die ja-woord in ’n pragtige seremonie gegee het, was ’n hartroerende hoogtepunt.

Wat begin het as ’n onverwagte ontmoeting by die swembad toe Pam – in ware dramatiese styl – per ongeluk in die water beland het en deur Siseko ‘gered’ is, het tot ’n opregte romanse gelei. Siseko het nie lank gewag nie – hy het Pam kort ná hul ontmoeting gevra om met hom te trou.

Diepe Waters, Pam en Siseko
Pam (Tracey-Lee Oliver) en Siseko (Chumani Pan).

Die pad tot by die kansel was egter nie sonder struikelblokke nie, maar liefde het (dankie tog!) geseëvier. Die lobola-onderhandelinge tussen die Bhonga- en Swart-families is met groot sorg en respek gevoer. Tot vreugde van beide kante het dit sonder haakplekke verloop. Dít was ’n groot stap vir Siseko, seun van Koning Mzukisi Bhonga, wie se Xhosa-koninklike erfenis hom roep. Só ook vir Pam, wat haar eie pad deur familieverwikkelinge moes navigeer.

’n Hoogtepunt van die dag was toe Pam se pa, Gys Swart (Justin Strydom), haar tot voor die kansel vergesel het. Die spanning tussen Gys en Zelda (Sandi Schultz), Pam se ma, is vir dié spesiale dag opsy geskuif. Albei ouers het hul dogter ondersteun en saam geglimlag toe sy die volgende hoofstuk van haar lewe begin het.

3

Sanet se soveelste hartseer 

Diepe Waters
Net voor die bom gebars het…

Net toe kykers gedink het die derde seisoen van Diepe Waters sou eindig soos ’n sprokie met ’n dubbeltroue, het dié telenovela vir kykers met ’n onverwagse onthulling geskok.

Die dubbeltroue van Sanet (Nadia Valvekens) en Fourie (David Louw), sowel as Sanet se dogter Karla (Danielle Swanepoel) en Arno (Jean Henry), het soos ’n ware sprokiesverhaal geklink – ’n ma en dogter wat liefde saam vier nadat hulle soveel pyn en hartseer oorwin het. Maar net toe Fourie “ja” wou sê, storm ’n onbekende vrou die kerk binne. Die vrou – vertolk deur Anel Alexander – het almal stomgeslaan toe sy verklaar dat Fourie nie met Sanet kan trou nie… Omdat hy reeds getroud is – met haar!

Sanet was so hartgebroke toe Fourie die verhouding beëindig en landuit is, dat sy selfs met haar verslawingstryd koers verloor het.

Dit het vir ’n ruk gelyk asof Sanet se lewe dreig om heeltemal te ontspoor. Ná harde woorde van haar geliefdes – en ’n droom oor haar oorlede ware liefde Wim (Neels van Jaarsveld) – lyk dit egter nou asof Sanet tog vrede gevind het. 

4

Zelda/Hilda 

In ’n verstommende wending soos net die Diepe Waters-skrywers kan, het Zelda (Sandi Schultz) se geheime tweelingsuster, Hilda, opgedaag… En nie vir enige goeie redes nie.  

Vir dié storielyn moes Sandi ook in die skoene van Hilda, staan. Hilda – ’n rou, harde vrou met ’n baie donker verlede – het met haar dogter, Kelsey (gespeel deur Robyn Rossouw), se hulp vir Zelda ontvoer en haar identiteit oorgeneem.

Hilda Diepe Waters
Sandi Schultz het vir die tweelingstorielyne beide karakters – Hilda en Zelda – vertolk. Hier is sy as Hilda.
diepe Waters Zelda
Zelda is deur Hilda en dié se dogter, Kelsey (Robyn Rossouw) ontvoer en aangehou.

In ’n gewaagde en spanningsvolle storielyn het Hilda probeer om haar suster se lewe geheel en al oor te neem. Die fyn verskille tussen die twee het ander karakters egter agterdogtig gemaak. Zelda se dogter, Pam (Tracey-Lee Oliver), en Gys (Justin Strydom), begin wonder hoekom ‘Zelda’ dan nou so vreemd optree. Hulle kom gelukkig betyds agter die kap van byl en Zelda word met groot fanfare gered. 

5

Die swembad-tragedie

Diepe Waters
Sy was nie lank met ons nie, maar Natasja Jacobs se Bianca het beide kykers en karakters gereeld warm onder die kraag gemaak…

Bianca Bester (Natasja Jacobs) het haar onverwagse verskyning as Fourie (David Louw) se eksvrou gemaak en haar teenwoordigheid het die poppe behoorlik laat dans. Tot en met dié karakter se dood in Augustus toe Henry vir haar dood in die swembad aangetref het. Haar geliefdes is swaar getref – veral haar seun, Juvan (Christiaan Ackermann), en haar verloofde, Gys. Uiteindelik vind ons uit dat dit Nelius (Jürgen Helberg) was wat haar vermoor het en hy word tronk toe gestuur. 


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar. Kyk ook S1-3 van Diepe Waters op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies