Menu terloops
In Sepies [26 Sep 2025]

‘Diepe Waters’ se dubbeltroue eindig met ’n groot skok!


Met die waarheid nou onthul, hang Fourie se toekoms aan ’n dun draadjie.

Kyk 'Diepe Waters'

‘Diepe Waters’ se dubbeltroue eindig met ’n groot skok!

Net toe kykers gedink het Diepe Waters seisoen 3 sou eindig soos ’n sprokie met ’n dubbeltroue, het die kykNET-telenovela geskok met ’n onverwagse onthulling.

Net voor die bom gebars het.

Die dubbeltroue van Sanet (Nadia Valvekens) en Fourie (David Louw), sowel as Sanet se dogter Karla (Danielle Swanepoel) en Arno (Jean Henry), het soos ’n ware sprokiesverhaal geklink – ’n ma en dogter wat liefde saam vier nadat hulle soveel pyn en hartseer oorwin het.

Die liefde blom.

Sanet het haar stryd teen alkoholafhanklikheid gewen, terwyl Karla en Arno ná talle uitdagings uiteindelik hul pad na mekaar teruggevind het.

’n Stralende Karla op pad na haar nuwe lewe saam met Arno.

Maar soos kykers weet, is dinge in Diepe Waters nooit lank rustig nie. Vroeër die week het Zelda ’n verdagte oproep gemaak aan ’n geheimsinnige vrou, wat kykers laat wonder het wat sy beplan. Tog was die opbou tot die troue vol vreugde, hoop en opwinding – totdat alles voor die kansel in duie gestort het.

Vir wie het Zelda ’n boodskap gestuur?

Karla en Arno het hul geloftes sonder probleme afgelê, maar toe dit Sanet en Fourie se beurt was, het die groot skok gekom.

Groot vreugde vir Karla.

Net toe Fourie “ja” wou sê, storm ’n onbekende vrou die kerk binne.

Net toe Fourie “ja” wou sê . . .

Die vrou – vertolk deur Anel Alexander – het almal stomgeslaan toe sy verklaar dat Fourie nie met Sanet kan trou nie… omdat hy reeds getroud is – met haar.

’n Skokkende oomblik laat die gaste na hul asem snak.

Die episode het geëindig met ’n kerk vol geskokte mense, en kykers wat met vrae gelaat is – wie is die vrou wat aanvoer dat sy en Fourie nog getroud is, en is haar aantuigings waar?

Wie is Linda Blignaut?

Hoe ver sal Linda gaan om haar plek in Fourie se lewe te behou?

Die geheimsinnige vrou is Linda, Fourie se vrou in Doebai. Sy is ’n suksesvolle kunsgalery-eienaar in Doebai, wat spesialiseer in Afrika-kuns onder haar nooiensvan, Blignaut. 

Linda het Fourie jare gelede ontmoet toe sy nog daarvan gedroom het om haar eie galery te begin. By ’n handelsgeleentheid wat deur die Suid-Afrikaanse ambassade aangebied is, is sy aan Fourie voorgestel, wat destyds betrokke was by uitvoer na die VAE.

Fourie, wat dadelik na haar warmte en deursettingsvermoë aangetrek is, het haar gehelp om finansiële steun te kry vir haar galery, wat sy Maji Art Gallery genoem het.

Hulle vennootskap het gou romanties geword, en om hul lewe in Doebai makliker te maak, is hulle in die hof getroud.

Maar daar was ’n vangplek: hul huwelik, alhoewel geldig in Doebai, is nooit amptelik in Suid-Afrika verklaar nie.

Terwyl Fourie dit as ’n geriefshuwelik beskou het, was Linda diep verbind tot die verhouding. Met verloop van tyd, soos Fourie al hoe meer in Johannesburg was, het die krake begin wys. Toe hy vir ’n egskeiding vra, het Linda al hoe meer besitlik geraak, en ná ’n wanhopige selfmoordpoging het hul verhouding in duie gestort.

Fourie het geglo die egskeiding in Doebai is gefinaliseer, maar die proses is nooit voltooi nie. Toe Zelda vir Linda kontak, is die bom laat bars wat nou sy troue met Sanet vernietig het.

Wat wag vorentoe?

Met die waarheid nou onthul, hang Fourie se toekoms aan ’n dun draadjie. Sal Sanet hom kan vergewe vir so ’n vernietigende geheim? Hoe gaan Karla en Arno se huwelik die skok oorleef?

Gaan hierdie huwelik hou?

En hoe ver sal Linda gaan om haar plek in Fourie se lewe te behou?

Een ding is seker: Diepe Waters se kykers kan nog baie meer skokkende onthullings en emosionele draaie verwag.


Seisoen 4 van Diepe Waters skop af op Maandag 29 September op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk in 2026: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

Van dáái yshokkiespelers tot ‘Bridgerton’ se Aspoestertjie-verhaal, die terugkeer van die geliefde vampierslagter Buffy en nog ’n 'Game of Thrones' spin-off – hier is ’n keur van die TV-reekse wat vanjaar op kykers wag.

Meer

Wat om te kyk: Sit dié reekse op jou moet-kyk-lysie vir Januarie 2026

Die volgende romantiese rondomtaliedans in 'Bridgerton', die terugkeer van die trefferreeks 'Een keer om die son', en die Afrikaanse weergawe van 'The Office' tel onder my top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Dís waar jy die 2026 Golden Globe-benoemdes plaaslik kan kyk

Van die heerlike derde seisoen van ‘The White Lotus’ en Seth Rogen se briljante ‘The Studio’ tot die ingrypende dramareeks ‘Adolescence’ en die fabelagtige fanfare in ‘Wicked: For Good’ – hier is al die reekse en films wat benoemings vir 2026 se Golden Globes ontvang het, én waar jy dit plaaslik kan kyk.

Meer
10

Wat om te kyk: 10 Kersfeesflieks vir die feestyd

Van een van die mees romantiese flieks van alle tye tot een baie, baie spesiale Kersbriefie – hier is ons keuse van Kersfeesflieks om oor dié feestyd te kyk. 

Meer
Sien alle opsies