Menu terloops
In Sepies [26 Sep 2025]

‘Diepe Waters’ se dubbeltroue eindig met ’n groot skok!


Met die waarheid nou onthul, hang Fourie se toekoms aan ’n dun draadjie.

Kyk 'Diepe Waters'

‘Diepe Waters’ se dubbeltroue eindig met ’n groot skok!

Net toe kykers gedink het Diepe Waters seisoen 3 sou eindig soos ’n sprokie met ’n dubbeltroue, het die kykNET-telenovela geskok met ’n onverwagse onthulling.

Net voor die bom gebars het.

Die dubbeltroue van Sanet (Nadia Valvekens) en Fourie (David Louw), sowel as Sanet se dogter Karla (Danielle Swanepoel) en Arno (Jean Henry), het soos ’n ware sprokiesverhaal geklink – ’n ma en dogter wat liefde saam vier nadat hulle soveel pyn en hartseer oorwin het.

Die liefde blom.

Sanet het haar stryd teen alkoholafhanklikheid gewen, terwyl Karla en Arno ná talle uitdagings uiteindelik hul pad na mekaar teruggevind het.

’n Stralende Karla op pad na haar nuwe lewe saam met Arno.

Maar soos kykers weet, is dinge in Diepe Waters nooit lank rustig nie. Vroeër die week het Zelda ’n verdagte oproep gemaak aan ’n geheimsinnige vrou, wat kykers laat wonder het wat sy beplan. Tog was die opbou tot die troue vol vreugde, hoop en opwinding – totdat alles voor die kansel in duie gestort het.

Vir wie het Zelda ’n boodskap gestuur?

Karla en Arno het hul geloftes sonder probleme afgelê, maar toe dit Sanet en Fourie se beurt was, het die groot skok gekom.

Groot vreugde vir Karla.

Net toe Fourie “ja” wou sê, storm ’n onbekende vrou die kerk binne.

Net toe Fourie “ja” wou sê . . .

Die vrou – vertolk deur Anel Alexander – het almal stomgeslaan toe sy verklaar dat Fourie nie met Sanet kan trou nie… omdat hy reeds getroud is – met haar.

’n Skokkende oomblik laat die gaste na hul asem snak.

Die episode het geëindig met ’n kerk vol geskokte mense, en kykers wat met vrae gelaat is – wie is die vrou wat aanvoer dat sy en Fourie nog getroud is, en is haar aantuigings waar?

Wie is Linda Blignaut?

Hoe ver sal Linda gaan om haar plek in Fourie se lewe te behou?

Die geheimsinnige vrou is Linda, Fourie se vrou in Doebai. Sy is ’n suksesvolle kunsgalery-eienaar in Doebai, wat spesialiseer in Afrika-kuns onder haar nooiensvan, Blignaut. 

Linda het Fourie jare gelede ontmoet toe sy nog daarvan gedroom het om haar eie galery te begin. By ’n handelsgeleentheid wat deur die Suid-Afrikaanse ambassade aangebied is, is sy aan Fourie voorgestel, wat destyds betrokke was by uitvoer na die VAE.

Fourie, wat dadelik na haar warmte en deursettingsvermoë aangetrek is, het haar gehelp om finansiële steun te kry vir haar galery, wat sy Maji Art Gallery genoem het.

Hulle vennootskap het gou romanties geword, en om hul lewe in Doebai makliker te maak, is hulle in die hof getroud.

Maar daar was ’n vangplek: hul huwelik, alhoewel geldig in Doebai, is nooit amptelik in Suid-Afrika verklaar nie.

Terwyl Fourie dit as ’n geriefshuwelik beskou het, was Linda diep verbind tot die verhouding. Met verloop van tyd, soos Fourie al hoe meer in Johannesburg was, het die krake begin wys. Toe hy vir ’n egskeiding vra, het Linda al hoe meer besitlik geraak, en ná ’n wanhopige selfmoordpoging het hul verhouding in duie gestort.

Fourie het geglo die egskeiding in Doebai is gefinaliseer, maar die proses is nooit voltooi nie. Toe Zelda vir Linda kontak, is die bom laat bars wat nou sy troue met Sanet vernietig het.

Wat wag vorentoe?

Met die waarheid nou onthul, hang Fourie se toekoms aan ’n dun draadjie. Sal Sanet hom kan vergewe vir so ’n vernietigende geheim? Hoe gaan Karla en Arno se huwelik die skok oorleef?

Gaan hierdie huwelik hou?

En hoe ver sal Linda gaan om haar plek in Fourie se lewe te behou?

Een ding is seker: Diepe Waters se kykers kan nog baie meer skokkende onthullings en emosionele draaie verwag.


Seisoen 4 van Diepe Waters skop af op Maandag 29 September op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies