Toe die akteur Jean Henry die oproep ontvang het om as Arno na die Diepe Waters-stel terug te keer, was sy reaksie een van opgewonde afwagting, vertel hy. “Die tydsberekening was goed, want ek het ekstra kapasiteit gehad op daai oomblik om ordentlik aandag aan die rol te gee.”
Vir hom was die breek van die skerms af egter nie net ’n rustyd nie, maar ook ’n kans vir herbesinning. “ ’n Breek was goed en gesond. ’n Mens kom terug met ’n nuwe perspektief en die opwinding is weer daar,” sê hy.
En kykers sal gou besef: Arno is nie dieselfde man wat die dorp destyds verlaat het nie. “Hy’t emosioneel baie gegroei,” vertel Jean Henry. “Hy het beter perspektief gekry oor die lewe en ’n duidelike rigting waarheen hy wil beweeg – persoonlik en in sy werk.”

Maar dit is nie net kykers wat verras gaan wees nie… Karla is heeltemal oorbluf wanneer sy Arno onverwags weer in haar wêreld sien opdaag. Sy het hom lanklaas gesien, en tog is haar reaksie opreg positief. Wat beteken dit vir hul geskiedenis, en dalk vir hulle toekoms? Gaan ou gevoelens weer opvlam, of het dinge te veel verander?
Sonder om te veel te verklap, laat Jean Henry val dat Arno hierdie keer met vaste voornemens opdaag. “Hy weet presies wat hy wil hê,” sê hy met ’n glimlag. En daardie vasberadenheid gaan verseker dinge op die dorp laat gons!
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.










