Die tweede seisoen van die realiteitsreeks, Die brug, speel af in die Outeniekwaberge aan die oewer van die Tuinroete-dam. Daar is weer R1 miljoen se prysgeld op die spel.
Die eerste seisoen is deur Rob Kruger, ’n voormalige professionele rugbyspeler van Midrand, gewen.

Die spelers: Vrese en vrede
(Lees meer oor die spelers hier.)
Hanri (38), advokaat en boer
“Moet nooit ophou wanneer jy verloor nie. Moet nooit bly lê wanneer jy val nie. Mag jy nooit haat wanneer jy seerkry nie. En mag jy lewe met die wete dat jy ’n doel hier het, veel groter as wat jy ooit sal besef.”
Dis Jan Hendrik van der Westhuizen, Suid-Afrika se Michelin-bekroonde sjef se woorde wat as inspirasie dien vir Hanri van Delmas se wêreld. Sy sê die lewe het haar al ’n paar harde klappe toegedien en sy weet hoe dit voel om alles te verloor. Maar sy’s ’n plaaskind, en plaaskinders maak ’n plan.
Hilana (43), kunsjuffrou
Hilana is gek oor die natuur. Maar, sê sy, as jy soms nie in die natuur kan wees nie, moet jy net diep asemhaal en oomblikke gaan soek om daardie spasie te vind.
Sy het ’n geheime wapen: Haar innerlike krag. Gaan dit die ander spelers onkant betrap?
Hilana sien uit daarna om haarself op alle terreine op dieselfde tyd te toets. En sy is reg vir die donker en die lig wat met daardie proses gepaardgaan.
Hannes (33), entrepreneur
Twee vrese regeer dié 33-jarige entrepreneur van Benoni se lewe: Die vrees om te misluk en die vrees oor wat mense van hom dink.
Hy sê hy is nou wel nie die rofste ou nie, maar Hannes weet hy’s eksentriek en super-spontaan. Dis iets waaroor hy al baie gespot is, maar een ding is seker: Hulle ken hom nie van binne nie. Hy is ’n kansvatter en berese, getroud met ’n wonderlike vrou en het drie kinders.
Melissa (37), ’n begrotingsbestuurder
Sy het direk ná skool by die weermag aangesluit en tot die rang van korporaal gevorder, en sy sê jy moet altyd in gedagte hou dat niks dieselfde bly nie. Wees voorbereid op enigiets wat kan gebeur.
Sy dink die ander spelers mag haar dalk geringskat, maar gaan sy hulle van haar militêre agtergrond vertel? Sy is ook heeltemal bereid om soms die waarheid te verdraai as dit gaan beteken dat sy op daardie brug gaan loop.
Wilhrisca (30) model en besigheidseienaar
Van model tydens die New York-modeweek tot brugbouer in Die Brug . . . Sy is van Pietersburg en sy sê sy het in die modelwêreld geleer dat as jy aan ’n kompetisie deelneem, doen jy dit om te wen. “Dis die enigste opsie.”
Sy dink mense sien haar as ’n modepoppie, maar hulle weet nie van waar sy kom nie. En wie haar grootgemaak het nie. Sy sê sy is belis ’n “Jack of all trades” maar dat “master of none” nie op haar van toepassing is nie. Sy’t ’n hele paar vaardighede wat sy reeds goed bemeester het. Maar ’n filter voor haar mond is nie een van daardie vaardighede nie.
Jaco (43), onderhoudstegnikus
Sy groot passie is om met sy hande te werk. Selfs ’n stuk staal wat vir ander bloot net ’n blok iets is, word deur hom omskep in iets prakties aan die einde van die dag.
Hy glo mense kan op hom vertrou en hy gaan beslis dieselfde mens hier wees as wat hy tuis en by die werk is. Jaco is hier om die ander spelers se vertroue te wen en die brug sáám met hulle te bou.
Luwellen (53), konstruksiebestuurder
“As die brug se fondasie reg is, sal die brug reg wees,” is die oorwoë mening van die man van Mosselbaai. Hy is oortuig dat sy vaardighede hom goed te staan gaan kom in die reeks.
Maar hy gaan dinge “na aan die bors speel” sodat die ander spelers eers later in die reeks vir hom bang gaan raak . . .
Die Houthuis
Vervalle is ’n vleiende woord vir dit wat op die spelers wag. En dis so verlate. Die enigste teken van lewe benewens die plantegroei is die spinnerakke wat blink in die sonlig.
Die kodeslot tot die deur se kode ontbreek en alhoewel die spelers reeds begin het om die dek netjieser te rangskik, kon hulle nog nie binne-in die Houthuis kom nie. Is hierdie die eerste toets wat op hulle wag?
Melissa is die een wat by die Houthuis opgedaag het met iets om haar nek. Dis toe al die tyd die instruksies om die slot oop te maak. Maar die instap was onaangenaam. Dit lyk of ’n orkaan die plek getref het. Daar moet skouer aan die wiel gesit word om skoon te maak.
Die brug se Houthuis-gids is propvol inligting en waarskuwings, waaronder teen skerpioene en giftige slange. Ook vir hoe lank hulle dit as tuiste sal benut.
En watter speler besluit reeds vroeg-vroeg dat die gesprekke rondom etenstyd waartydens die spelers meer oor mekaar probeer uitvind, nie belangrik genoeg vir haar brein is nie. En dit word deur die ander raakgesien. Die kosvoorraad is aan die min kant. Watter rol gaan dit op hul gemoed speel?
Die eerste fakkel
Hanri is die eerste een wat die fakkel gewaar het. Dit kondig die koms van die eerste pos-kan aan. Die spelers se eerste groot toets is hier – en dit sommer binne enkele ure na hul aankoms! Nes met die Houthuis, is daar ook ’n kodeslot aan die kan. Maar die kode is anders…
Gelukkig kom een van die spelers se oplettendheid tot hul redding en kort voor lank is die kan oop en die briefie in Luwellen se hande. Hulle senuwees is aan flarde. Wat wag op hulle?
Net een woord: Leier.

Ná die instruksies is daar nog ’n skok-aankondiging: ’n Tweede brief wag op hulle nadat ’n leier aangewys is. Met die benoemings vir ’n leier is daar duidelik reeds gevoelens. En dis nie alles positief nie.
Die leier
“Girl power” is die slotsom. Vir Melissa is dit ’n onverwagte keuse, maar terselfdertyd een wat haar diep ontroer en emosioneel laat. Haar reis vanaf ’n tweejarige wie se pa hulle verlaat het en haar nie aanvaar nie, tot vandag waar sy ’n trotse ma van twee seuns is en getroud is met ’n man wat ’n goeie pa vir hulle kinders is, gaan geen kyker onaangeraak laat nie.
Sy wil hierdie brug bou – as ’n simbool om haar te help om haar pa werklik te vergewe. “Moenie stukkend bly nie.”
Die tweede brief: Die skok – en die verrassing! “Die speler wat die minste stemme gekry het, is jou mede-leier,” lui die brief. Maar Hannes en Luwellen het ewe veel stemme gekry. Wie gaan sy kies? En is dit die regte keuse? Sommige van die spelers dink nie so nie.

Die twee leiers se eerste taak is bitter moeilik. Een van die spelers moet onmiddellik hul sak pak en huis toe gaan. Gaan die leiers met hul hart of hul kop kies?
“Die brug is gebrand. Dit is wat dit is,” is die eerste spanlid wat uitgestem is se laaste woorde toe die bootjie koers kies weg van die Houthuis af.
Maar wag! Daar kom ’n ander bootjie aan . . . En wie is die mens wat daarvan afklim? En, soos Luwellen opmerk, hy klim met houding van die boot af. Een speler het dan nounet gegroet en hier land ’n nuwe een!


- Die brug word Donderdagaande vanaf 8 Mei 2025 om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.