In die eerste episode van kykNET se realiteitsreeks Die brug se tweede seisoen moes een speler vinnig haar tassies sommer op Dag 1 reeds pak… en toe daag daar boonop ’n onbekende gas “met houding” op! Wilhrisca Brits (30), ’n internasionale model en besigheidseienaar van Polokwane, is huis toe gestuur en haar afskeidswoorde was: “Die brug is gebrand. Dit is wat dit is.”
Nie een van die spelers kon egter voorspel wat hierna afgespeel het nie – hier is als wat jy moet weet ná afloop van episode twee se kinkels en draaie:
Waar gaan Wilhrisca heen?
Terwyl Wilhrisca vrede gemaak het met die feit dat haar bootjie haar huiswaarts gaan neem en dat sy haar seuntjie vroeër gaan sien . . . word sy geblinddoek. Die bootjie verander van koers en skielik bevind Wilhrisca haar by ’n tweede Houthuis, haar nuwe tuiste. Meer nog, daar’s ’n hele groep onbekende mense wat haar welkom heet. En hulle is onbewus van die ander groep mense wat haar die trekpas gegee het.

Hoe dan nou?! Wel, kom ons begin by die begin: Kykers neem ’n tydsprong terug na 12 uur vantevore…
Die ‘nuwe’ spelers
Nou raak dinge duideliker. Daar’s ’n tweede span! Is hulle ook op soek na die prysgeld, of het hulle ander planne wat besig is om uit te broei? Die tweede span spelers bestaan uit:
Johan (55), rotsmeganikus
“Ek is hier om saam met ’n span mense ’n doel te bereik.” Maar gaan sy geneigdheid om mense te vinnig te vertrou die spanwerk laat struikel?
Volgens hom is sy morele uitkyk redelik rigied en hy besef daar wag ’n paar uitdagings op hom as gevolg daarvan. Maar hy’s reg om te speel en reg om oor die brug te loop, maar hy laat ook ruimte toe om iemand anders te help om dit te doen wat dit dalk meer as hy verdien.
Hirome (27), arbeidsterapeut
Hirome vind sy inspirasie in ’n gedig wat lui: “Ons diepste vrees is nie dat ons ons onbevoeg is nie, ons diepste vrees is dat ons magtiger is as wat ons kan meet. Dit is ons lig, nie ons duisternis nie, waarvoor ons die meeste vrees.”
Hirome glo hy was altyd die swartskaap in die familie, maar tydens sy grootwordjare het hy besef hoe uniek hy is. “Om anders te wees, kan soms ’n target op jou back sit.”
Rechaux (42), besigheidseienaar
“Wysheid kom met ouderdom. Daar’s nie ’n ander pad soontoe nie,” en sy glo as die lewe jou druk, moet jy uitvind wat die les daarin is. Mense het haar gewaarsku dat sy nie baie toeganklik is nie en dis iets waaraan sy aandag gaan gee tydens die reeks.
Sy erken sy was ’n bietjie angstig met haar aankoms by Houthuis 2. Maar die ma van agt stuit vir niks. Sy is hier om hulle trots op haar te maak en sy gaan doen wat sy moet om in die spel te bly.
Anesca (35), finansiële bestuurder
Sy’s avontuurlustig en pak alles met ’n passie by die horings. En “net oukei” bestaan nie in haar woordeskat nie. Van karate tot klavierspeel en vier grade later – alles tot op die hoogste vlak danksy haar deursettingsvermoë. In haar eie woorde, sonder om verwaand te klink, beskryf Anesca haarself as ’n onkeerbare krag.
Oneerlikheid is vir haar ’n rooi vlag, maar sy besef Die brug is ook ’n spel wat gespeel moet word. As sy tydens die reeks dit kan regkry dat mense haar vertrou, selfs al mag daar ’n bietjie oneerlikheid ter sprake kom, is dit omdat dit deel van die spel is.
Lelani (39), fiksheidsinstrukteur
Positiewe energie en net nooit opgee nie – dis wat haar dryf. O ja, en dan is sy boonop fisies sterk! Maar sy erken Die brug is so ’n bietjie buite haar gemaksone want sy pas nie maklik of vinnig aan by ’n nuwe groep mense nie.
Sy glo mense mag haar dalk as ’n feeks ervaar, maar dis bloot haar manier om uit te vind of iemand sterker of beter as sy is. Daarna kan hulle vriende raak. Sy floreer op kompeterende mense, want dit maak haar meer kompeterend. Lelani gee glad nie om vir haar mede-spelers nie. Sy’s hier vir haarself. “Ek sal redelik enigiets doen om te wen. Hulle moet my net oor die brug stuur . . . en dan vat ek die geld.”
Roscoe (35), bokspromotor
“Ek dink baie van myself. Ek sien myself, as ek in ’n vertrek instap, is ek die belangrikste in die vertrek,” erken hy prontuit. En mense wys hom daarop dat hy ’n groot ego het, iemand wat graag oor homself praat.
“Die ding is net, ek praat eerder oor myself as wat ek skinder van ander mense.” Sy grootste droom is om wêreldberoemd te wees, en hy gaan alles moontlik doen om dit te bereik, al beteken dit hy moet elke dag van vooraf probeer. Maar, sê hy, hy sal nooit iemand afdruk om bo uit te kom nie.
Tiaan (35), boer
Gaan sy uitgebreide algemene kennis en hope ervaring dalk die deurslag gee? “Moet my nie vlak kyk nie,” is sy kort en bondige waarskuwing.
Sy pa kom van ’n sterk militêre agtergrond en hy het tot kolonel gevorder. Tiaan glo dat daardie agtergrond tot sy eie voordeel gestrek het, en vorentoe sal strek. Hy beskryf homself as ’n reguit mens wat oplossings vind en elke uitdaging met altwee hande takel. Hy is vasbeslote om te wen, nie om vriende te maak nie. Tiaan sê hy’s ’n regte jakkals, so as die oomblik aanbreek dat hy vir iemand moet jok, sal hy die persoon in die oë kyk . . . en jok.
Houthuis 2
Nadat die slot suksesvol ontsluit is danksy Tiaan wat die instruksies gehad het, is die span verstom oor die chaos binne-in Houthuis 2. Die brug-orkaan het ook hier seker gemaak daar’s baie werk wat gedoen moet word voordat dit bewoonbaar is. Blikkieskos, meubels, matrasse – wel, alles wat nie iewers aan die mure of vloer vasgespyker is nie – lê rondgesaai.
Dis Anesca wat die sakke vind met elkeen se naam. Dis soos ’n vroeë Kersfees met waterbottels, eetgerei en allerlei lekker goodies en die gemoedere kry ’n welkome hupstoot. Kort voor lank word stories rondom die tafel gedeel waarvan Roscoe se vertelling sterk emosies ontlok. Maar was dit te gou om so diep te gaan?
Die eerste fakkel
Terwyl die span buite sit en gesels, voel hulle allesbehalwe gerus. Is dit die stilte voor die storm? Hulle intuïsie was in die kol want kort voor lank is daar die gesuis van die fakkel wat die blou lug inseil. Dis Hirome en Rechaux wat in die kano klim om die pos-kan te gaan haal. Terug op land is daar weer ’n slot wat tussen hulle en die inhoud van die pos-kan staan. Daar word lank gesoek na die leidraad wat tot die ontsluiting van die slot gaan lei, want dis beslis ’n nuwe kode wat nodig is daarvoor.
Dis Anesca wat saam met Hirome die slot se kode (wat in bordkryt onder een van die stapelbeddens geskryf is) gevind het. Die brief bevat net een woord: Leier.
Ná die instruksies is daar nog ’n skok-aankondiging: ’n Tweede brief wag op hulle nadat ’n leier aangewys is. Almal lyk betreklik bekommerd, dit is immers tog Dag 1 en hoe goed ken hulle mekaar in hierdie stadium? Lelani is eerste uit die blokke en benoem haarself. Roscoe doen dieselfde omdat niemand anders na vore tree nie. Tiaan besluit om homself ook te benoem, maar moedig die res aan om vir Lelani te stem.
Die leier
Tiaan se strategie het gewerk en Lelani word tot leier verkies. “Ek is baie bly hulle het my gekies as leier. Dis baie lekker om te weet hulle sien my as ’n leier. Ja, ek is happy daaroor.”

Lelani sê haar selfbeeld was nog altyd vir haar ’n groot stryd. “Al my vriendinne en mense wat om my is, is altyd klein en kort, en fyn en mooi, en als is net altyd perfek. Ek is altyd die langer, en die groter, ene.”
Maar sy verkies groter, gesond en sterk bo maer en swak. Sy hou daarvan om sterk te wees sodat sy haarself met vertroue kan beskerm. ’n Onaangename voorval in 2004, een wat sy as “baie rof” beskryf, het van haar ’n banger mens gemaak. En dis duidelik dat die emosionele letsel wat gelaat is, nog lank nie vergete is nie . . . maar dit speel ook ’n rol in waarom sy vir Die brug ingeskryf het.
Die tweede brief
“Die speler wat die minste stemme gekry het, is jou medeleier,” lui die brief. Dis Roscoe.
“Nou?!” kom dit verbaas van Lelani toe die res van die brief gelees word. Iemand moet huis toe gaan. Vandag. Die skok is groot. Dis dan Dag 1 . . . en hulle leer mekaar nog ken.
Vir Anesca maak dit nie juis enigsins saak dat Roscoe as medeleier aangewys is nie want sy weet Lelani gaan in ieder geval die besluitnemer wees. Gaan Roscoe se respek vir Lelani as leier hom dalk aan die hakskeen byt? Gaan sy by hul ooreenkoms hou of gaan sy ’n ommeswaai maak?

Nuwe span, nuwe dinge
Aan die einde van die eerste episode het kykers gesien hoe Hirome by Houthuis 1 opdaag nadat hulle vir Wilhrisca uitgestem het. Ja, Hirome is einste die man wat volgens Luwellen Marx van Houthuis 1 later “met houding” daar by hulle van die boot afgeklim het.
By Houthuis 2 word Wilhrisca baie warm ontvang. Maar weldra verander dit in ’n warboel van vrae. Dit klink dan vir hulle asof sy reeds bekend is met Die brug nadat sy wou weet of hulle die chemikalieë in die buite-toilette gesit het.
“Gaan ons haar ’n miljoen vrae vra, of net stilbly?” wil Anesca weet. Wantroue vier hoogty en dit gaan ’n moeilike een vir Wilhrisca wees om te oorbrug.
Die tweede fakkel
Houthuis 2, nou bekend as Noordhuis, se span leer baie gou ’n waardevolle en duur les. Terwyl hulle binnenshuis was, het hul kano’s weggedryf van die kaai. Was dit nalatigheid of het iemand dit doelbewus gedoen? En daai kano’s is noodsaaklik om die pos-kan te gaan haal. Tiaan en Roscoe is die twee wat die koue water moet trotseer.
Daar was beslis mensehande betrokke die drywende kano’s, want by Houthuis 1, nou Suidhuis genoem, wag dieselfde verrassing – die kano’s is nie naby die kaai nie. Swem gaan daar geswem moet word. Dis Hilana en Hanri wat inspring om die saak (en die pos-kan) te beredder.
Luwellen (by Suidhuis) en Tiaan (by Noordhuis) lees vir hul spanne die brief voor: “Nie alleen nie”. Maar dis die res van die brief wat almal na hul asem laat snak. En weerwraak duik op . . .

Volgende week:
Bou ’n brug, kom die instruksie. En dit moet binne 13 dae voltooi word. Maar met die intrapslag van hierdie tweede seisoen is dit reeds duidelik gemaak dat dit nie seepglad en sonder kinkels gaan verloop nie.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.