Verlede week moes Wilhrisca vir die derde keer die rivier oorsteek, weer terug na Noordhuis toe. Maar dié keer as leier. En Johan was al te onthuts toe hy Suidhuis toe moes koers as hul nuutverkose leier. Maar dié gedwonge “kruisbestuiwing” van spelers wat tussen die twee houthuise rondbeweeg en los tonge maak korte mette van sy lojaliteit aan sy geliefde Noordhuis en dis nou vir hom volstoom-vorentoe om seker te maak Suidhuis neem die voortou met vlotbou in Die brug.

Toe daar die allerlekkerste versnaperinge opduik, moes die spelers kies hoeveel tyd hulle wil inboet om sekere items in hul spens te kry. Noordhuis was baie rojaal en het 2½ uur se items “gekoop” terwyl snoep Suidhuis net 45 minute ingeboet het.
Die hoë prys van eiers
By Suidhuis word daar mooi beplan en kos voorberei vir middagete sodat hulle nie meer as hul 45 minute aan vlotbou verloor nie. By Noordhuis kriewel dit omdat Lelani en Rechaux nie weet wat hul leier se plan van aksie is nie.
“Ons kort so ’n bietjie leiding en ons het dit glad nie op die oomblik nie,” kla Lelani. Op haar beurt is Wilhrisca egter bekommerd dat die span mag voel sy “lei hulle by die kranse af”. Tydens ’n gesprek met Anesca noem sy dat haar instink en haar mensekennis haar twee keer laat dink oor wie vertrou kan word om oor daai brug te stap wat ook die geld sal deel.

Die Suidhuis-spelers is onrustig oor die Noordhuis se strategie. Dis Elsje wat voel dat die spelers dalk ’n uur ½ sou kies in ruil vir voorraad “want hulle het nog nooit eiers gehad nie.”
En wat het dit met die spreekwoordelike prys van eiers te doene? Net mooi alles, want terwyl Hilana, wat toe nog by Suidhuis was, ontbyt bo R20 000 gekies het, het Roscoe by Noordhuis R10 000 kontant gekies.
“Die beste transaksie ooit”
Dis koud en dit sous . . . maar dit demp nie gevoelens jeens mede-spelers nie. Veral Hanri is baie uitgesproke oor haar verligting dat Wilhrisca nie Suidhuis se nuwe leier is nie. En Hirome is op dieselfde bladsy as sy. “Dit was die beste transaksie ooit,” laat hy hoor.

Hanri stoom voort en vertel vir Johan dat respek verdien moet word en nie “demand” word soos wat Wilhrisca gedoen het nie. Kykers sal onthou dat Wilhrisca kort duskant ’n muitery geëindig het toe sy tydens die agtste episode ’n ultimatum aan die span gestel het. “So, watse rede gaan my keer dat ek eerder kom chill en nie saam met julle bou nie?” het sy hulle toe uitgedaag.
Duidelik was daardie woorde iets wat tot nou toe ’n bitter smaak in die Suidhuis-spelers se mond gelaat het.
‘Bly net positief’
“Een persoon het die mag om ’n hele groep negatief te maak,” sê Hanri. “Soos wat ’n mens ouer raak, leer jy it’s not all about you. Daai mense tree só op omdat dit ’n refleksie van hulself is. Vir my gaan dit oor die voorbeeld wat jy stel vir ander mense. Oor hoe om dinge te doen, klaar te maak wat jy begin het, mense met respek te hanteer.”

Hanri sê sy het besef dit help nie jy is slimmer of sterker as ander nie, jy kan ook in negatiwiteit verval.
“Die lewe het my ook al ’n paar klappe gegee. Ek is ’n advokaat en ek het my praktyk en my restaurant in ’n vuur verloor. En toe ek reg was om weer te begin, toe toets ek positief vir Covid.
“Ek was drie maande in ICU, ek het 10% kans gehad op lewe oorgehad, 10% longkapasiteit en ek moes van vooraf leer loop,” vertel Hanri. Sy noem dat sy vir nóg 147 dae op suurstof was nadat sy uit die hospitaal ontslaan is. Sy was 100% afhanklik van ander mense . . . “ . . . en dit was vir my moeilik.”
Haar pa het vir haar ’n bed vier treë van die badkamer opgestel omdat sy nie kon loop nie. Hy’t vir haar gesê sy gaan nie ’n rolstoel kry nie “want dan gaan jy nooit weer loop nie”. Hanri het haarself vertel sy gaan vir ’n week lank met ’n loopring loop – en dan gaan sy dit weggooi. Dit was erg, maar nou maak sy die beste van haar tweede kans in die lewe.
“Jy kan kies om te bly lê, jy kan kies om hartseer te wees, jy kan kies om jou woede op mense uit te haal. Maar ek kies nie dit nie. Ek kies om die lewe voluit te lewe en ’n verskil te maak waar ek kan.”
Noordhuis
Daar’s verligting te bespeur dat die spelers nie in die ysige en nat weer buite moet wees nie. Maar min het Tiaan geweet wat op hom sou wag tydens hierdie blaaskans.
“Jy gaan nou pretty lyk, jy begin sommer al smooth lyk,” word hy geterg terwyl Anesca hom met haar grimeerkwassies toetakel.
“Nickleback my nou,” kom dit van ’n verbaasde Tiaan toe hy die eindresultaat in die spieël gewaar.
Lees ook
Die stilte word verbreek
Net 45 minute nadat die dag se werksure deur die lughoring aangekondig word, gaan dit weer af – dié keer vir Suidhuis om aan die werk te spring. Onder die waaksame oog van ’n lieflike loerie, is dit die verstomde spelers van die Noordhuis wat besef dat Suidhuis baie minder tyd as hulle opgeoffer het.
“Maar wat gaan hulle eet?!” wil ’n verbaasde Lelani weet. Sy is heeltemal in die donker rondom al die kos wat deur vorige waarnemende spelers van Suidhuis bó die kontant gekies is.
Wat in hierdie stadium wel nog teen Suidhuis tel, is dat hulle nog ekstra boumateriaal moet gaan opgaar. Soos die massiewe aantal dromme wat sowat 300 m weg van die werkstasie is.
Dis Hanri wat soos vetgesmeerde blits met hul kano deur die water klief om korte mette van die dromme te maak. “Dit het gevoel of ek drie seekoeie sleep. Ek het net vir myself gesê dit is nie swaar nie en ek het geroei en ons het al die dromme by die werkstasie gekry,” vertel ’n trotse Hanri.

Die lang messe word vlymskerp gemaak
By Noordhuis pols Rechaux vir Lelani oor wie sy dink volgende huis toe gestuur moet word.
“Wilhrisca,” kom die antwoord sonder enige huiwering. “Op hierdie stadium is daar geen struktuur of niks motivering nie. F*kol. Elke oggend het ek gesê ‘kom ons kyk net gou die plan’,” gaan sy voort. Nou’s dit net soos uhmmmm . . .”
Voorgevoelens
By Suidhuis is dit Elsje wat die sensitiewe aspek van die speletjie opper, en dis of Johan en Wilhrisca nie dalk die volgende dag iemand gaan laat pak nie. Sy sê sy het so ’n voorgevoel gehad dat daar nog iemand huiswaarts gestuur gaan word voordat die einddoel behaal word.
Hanri wil nie eers daaraan dink nie, ook nie eers oor wie oor die brug gaan loop nie. Al wat sy wil hê is dat Suidhuis moet wen.
Dis tyd!
Suidhuis is lank reeds aan die gang teen die tyd dat die lughoring aankondig dat Noordhuis ook nou aan die werk kan spring.
“Dit het ’n hele tyd gevat voordat hulle begin werk het. Hulle het ordéntlike kos geëet,” kom dit met gemengde gevoelens van Jaco by Suidhuis toe hulle besef Noordhuis is nou ook weer aan die gang.
Maar by Noordhuis verloop dinge nie “vlot” nie. Lelani en Rechaux is knorrig omdat die dromme nie behoorlik vasgemaak is nie. En hulle weet nie hoekom nie, maar besluit dis tyd om hul eie ding te doen.
Toe Anesca vir Wilhrisca roep wat iewers doer ver op die vlotte doenig is, om te kom help om die vlotte te water te laat, kom die antwoord: “Ek kom nou, ek . . . ek . . . I’m just sinking here”.
En terug by die werkstasie deel sy die slegte nuus – dat die hele vlot besig is om te sink! Maar wag ’n bietjie . . . het Wilhrisca nie vir die span gesê om die middelste drom ook aan die vlot vas te bind nie?
“O, goeie Koos!” is Rechaux se reaksie toe sy besef Suidhuis kan hulle verbysteek. Maar Hanri voel baie gerus want sy kan sien van Noordhuis se dromme kom aan die kant van die vlotte uit.
Wie’s volgende?
“Voordat iemand oor daai brug gaan loop, gaan ons ’n spanmaat verloor,” is Tiaan se oorwoë mening terwyl hy en Hilana hul bondgenootskap by die Noordhuis verder versterk. Hy voel dat dit hy of Hilana kan wees. Hy dink ook dat Lelani die een gaan wees wat die hef in die hand sal hê wanneer dit by daardie keuse kom. Maar, sê hy vir Hilana, hy vertrou vir Wilhrisca absoluut. Soos in 100%.

“Ek het hierdie idee Wilhrisca gaan ’n bom laat val wat ons almal gaan skok,” gaan Tiaan voort. Hy onderneem om Hilana by Wilhrisca te beskerm sodat dit nie sy of hy is wat moet oppak nie. Tiaan is duidelik nie gelukkig met die trio wat hul eie spel speel nie. Dis nou Anesca, Rechaux en Lelani.
“So, ons gaan mekaar se basse probeer red?” wil Hilana weet. Die twee high-five daarop. Hilana sê mense dink dalk sy beweeg altyd onder die radar. Maar eintlik hang dit van elke situasie af want ’n “bossie kan orals groei, maar ’n veldblommetjie kies baie mooi die plekkie.”
Leierskap en leuens?
Die vuur van onmin vlam met al hoe hoër by Noordhuis met Lelani en Rechaux wat mekaar se gevoelens jeens Wilhrisca bly stook. Vir hulle is Johan beslis die beter leier van die twee.
Op haar beurt voel Wilhrisca sy is die stilste wat sy nog ooit op stel was. Maar dis omdat sy alles waarneem. Terwyl Tiaan haar probeer oortuig dat Hilana soos ’n delikate skapie is wat in ’n rigting gehelp moet word, loof hy vir Wilhrisca as ’n sterk vrou. Wie praat die waarheid en wie nie? Wilhrisca noem aan Tiaan dat Anesca van hom ontslae wil raak, soos in nóú. En dat Anesca nie meer haar top-2 is soos wat sy glo nie.

Sy moedig Tiaan aan om steeds met Anesca te flankeer sodat hulle bly glo hy is salig onbewus van die ware toedrag van sake.
Fluit-fluit, is iemand se storie dalk uit?
Daar is ontstelde uitroepe toe die lughoring die einde van die werksdag aankondig. Dit voel asof hulle pas begin het . . .
En toe is daar die pos-kan wat stilweg en onheilspellend op die water dryf, kort na die onverwagte fakkel-fanfare.
“Ek wil net nie roei nie, asseblief julle ouens, ek is m**r toe,” kom dit van Elsje by Suidhuis. Gelukkig het Hanri nog asem oor ná die “drie seekoeie se sleep” vroeër die dag. En by Noordhuis is dit Wilhrisca wat aanbied om die pos-kan te gaan haal.
“Hier’s ’n mooi woord, julle: ‘Hupstoot’,” lees Johan die etiket van die pos-kan se inhoud. By Noordhuis voel almal ook effe verlig toe hulle die woord hoor. Maar die verligting is van korte duur.
“Julle is nek-aan-nek by die brugbou. Vanaand kan julle kies om ’n hupstoot te kry om voor te kom, maar dit kom teen ’n heftige prys. Julle moet een van julle spelers onmiddellik huis toe stuur. In ruil vir hierdie speler sal julle 300 spykers kry. Dit gaan julle help om 10 vlotte baie vinnig te bou. Jul leier moet hierdie besluit neem namens die groep.”
Gaan Wilhrisca die bom by Noordhuis los en gaan Hirome by Suidhuis se wens om ’n speler ten koste van die spykers te behou, wel waar word?
Vanuit ’n heel ander oord los ’n speler wel ’n bom by een van die houthuise. Elsje bied aan om vrywillig huis toe te gaan en só haar span te help. Maar haar span ontsteld en weet nie hoe om dit te verwerk nie.


’n Tweede bom val by die ander houthuis. Wilhrisca besluit om van haar sterkste kompetisie ontslae te raak en stuur dan vir Lelani huis toe. Tydens die naskokke is dit duidelik dat hierdie bom alhoewel onverwags, nie werklik onwelkom was nie . . .
Maar die gemene deler by altwee houthuise is dat die trane gevloei het, alhoewel een van die spelers iewers ’n enorme sug van verligting geslaak het.

’n Gebreekte nek
“Ek dink nie noodwendig Die brug is ’n plek om selfsugtig te wees nie. Ek dink ons is ’n klomp vriende wat mekaar nodig het.
Elsje van Suidhuis vertel sy het haar nek gebreek toe sy 22 jaar oud was. Sy was in ’n motor toe hulle teen ’n donkiekar sonder weerkaatsers gebots het. Volgens ’n dokter destyds van Bloemfontein was dit net die Here wat haar lewe gered het. “Daar het ek besef ’n mens het nie net fisieke sterkte nodig nie, maar emosioneel ook. So, dit voel altyd vir my as ek emosioneel sterk is, is my liggaam ook net soveel sterker.”
Vlot-telling
Daar is nog net twee bou-dae oor. Vir die eerste keer in die seisoen is dit Suidhuis wat die voortou neem met nog net 20 vlotte wat voltooi moet word. Noordhuis is ’n kortkoppie agter – net een vlot skei hulle van die nuwe voorlopers.
Volgende week
“Gaan groot of gaan huis toe,” is Wilhrisca se wens. Maar wie gaan die grootste gaan in die volgende episode? Gaan die spykers die antwoord wees of gaan die spanne met ’n paar gate in die dromme en stukkende vingers die pylvak aandurf?
Daar is ’n brutale kinkel in die kabel en iewers moet daar om die tafel gesels word.
- Die brug word Donderdagaande om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream) uitgesaai. Episodes sal ná uitsending ook op Catch Up beskikbaar wees.
- Kyk ook solank die eerste seisoen op Showmax.