Menu terloops
In Onderhoude [19 Jun 2025]

‘Jy moet dit verdien’: ‘Die brug’ se Duan Wanty oor realiteitstelevisie, karakters kies en hoekom dié reeks só goed werk


Duan Wanty het nog altyd ’n gawe gehad om mense met onvergeetlike stories op te spoor. En dié gawe betaal groot dividende as die hoof van inhoud en rolverdeling vir kykNET se trefferreeks ‘Die brug’. Hy vertel meer oor hoe dié seisoen se spelers gekies is.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Jy moet dit verdien’: ‘Die brug’ se Duan Wanty oor realiteitstelevisie, karakters kies en hoekom dié reeks só goed werk

Van hoof van inhoud tot realiteitstelevisie-junkie, Duan Wanty het nog altyd ’n gawe gehad om mense met onvergeetlike stories op te spoor. As die hoof van inhoud en rolverdeling vir kykNET se trefferreeks Die brug, help Duan om ’n realiteitsprogram te skep wat strategie, emosionele diepte en menslike konneksie saamvoeg.

Die eerste seisoen is verlede jaar vir ’n internasionale Emmy benoem, maar die tweede seisoen het reeds na slegs ’n paar episodes dit met intensiteit en kinkels oortref.  

Ons het met Duan gesels oor waarna hy soek wanneer hy die volgende groot TV-oomblik cast, waarom Suid-Afrikaanse kykers so gaande oor Die brug is, en hoe realiteitstelevisie net soveel oor transformasie as oor vermaak gaan.

DIE BRUG, DUAN WANTY
Duan Wanty agter die skerms op die stel van Die brug. Foto: Verskaf

Het jy die Engelse weergawe van Die brug gekyk voordat jy aan die plaaslike weergawe begin werk het? Wat was jou eerste indruk?

“Toe ek genader is om aan die projek te werk, het ek nog nooit van The Bridge gehoor nie. Ek het toe besluit om Seisoen 1 van die Britse weergawe te kyk en as ’n regte realiteit-avontuur-aanhanger het ek onmiddellik op die formaat verlief geraak. 

“Wat my egter opgeval het, was hoe kort die internasionale weergawe is met net agt episodes. Ek het geweet ons sou meer tyd nodig hê om regtig in die emosies, dinamika en reis te delf. Ons het nie regtig geweet wat ons doen in die eerste seisoen nie, maar dit was só opwindend om iets nuuts te skep.”

Waarom dink jy het Die brug so goed aanklank by Suid-Afrikaners aanklank gevind – by die spelers én die kykers? 

Ons het van die formaat gehou en wou net ’n lekker program maak, ons het geen groot verwagtinge gehad nie. Die sukses was ’n bonus. Ek dink regtig dit is die hart van die program wat mense ingetrek het. Iemand het onlangs gesê dit voel soos ’n telenovela, net met regte mense wat ’n brug bou. Ek stem heeltemal saam! 

“Ja, mense wil sien hoe die brug gebou word, en hulle sal nog, maar hierdie seisoen was die verhoudings, strategieë en span-dinamiek só intens dat ons dít meer moes wys. Mense identifiseer met die emosionele én metaforiese brûe wat gebou word en dís hoekom hulle aanhou kyk.”

Waarna soek jy wanneer jy mense vir realiteitstelevisie kies? Is daar ’n resep vir ’n goeie rolverdeling of karakters?

“Dit hang altyd van die formaat af. Wat vir ’n dating-program werk, sal nie noodwendig vir ’n avontuurreeks werk nie. Maar oor die algemeen soek jy ’n mengsel van persoonlikhede. Mense wat ’n konneksie kan bou, of dalk met mekaar gaan bots. Jy wil deelnemers hê wat eg, oop en goeie vermaak is. Aan die einde van die dag maak jy steeds televisie – daar moet drama, dinamiek, én hart wees. Mense moet iets voel wanneer die karakter op die skerm is.”

Wat was jul benadering tot die rolverdeling vir Die brug, en was dit makliker om vir Seisoen 2 te cast as Seisoen 1?

“In Seisoen 1 het ons gefokus op mense wat by ’n kruispad in hul lewe is; mense met interne konflik. In Seisoen 2 het ons verder gaan kyk en gevra, ‘Hoekom verdien jy om oor die brug te kan loop?’ Ons wou nie net Seisoen 1 herhaal nie, so ons het die rolverdeling verdubbel en ’n breër reeks persoonlikhede ingebring

“Dit was moeilik om te cast omdat daar druk was om op die sukses van Seisoen 1 te bou, maar ook makliker omdat mense regtig gereed gekom het om hul stories te deel. Eintlik het mense óns gevind. En met ’n program soos Die brug kan enigiemand reg wees, want almal het ’n storie of ’n brug om oor te loop. Dit gaan nie altyd oor trauma nie. Soms gaan dit slegs oor die soeke na betekenis. Suid-Afrika is ryk aan stories wat nog nie vertel is nie, en ons wou daardie stories lig gee.

“Ons het gekyk na, ‘Wat is jou storie? Kan jy dit vertel? Is jy relatable?’ Jy hoef nie die meeste geluide te maak nie. Soms is dit die stil een of die ouer deelnemer wat die meeste insig bring. Ons wou hê mense moet hulself in die program kan raaksien.

Hoe het jou rol verander in Seisoen 2 en wat wou julle anders doen?

“Ons het geweet Seisoen 2 moet meer betekenisvol en uitdagend wees. In TV is Seisoen 2 (van ’n reeks) dikwels die toets en jy wil nie met ’n wenformule peuter nie. Maar ek het vir my span gesê ons moet onsself druk. So ons het dieper stories ingebring, moeiliker vrae gevra, en probeer om regte oomblikke van persoonlike groei te skep.

“Dit was nie altyd maklik nie. Jy beplan die reeks lank voordat jy die mense ontmoet, so jy weet partykeer iemand besonders gaan dalk vroeg huis toe, maar jy kan nie die struktuur verander nie. Dis soos om ’n koek te bak, jy kan nie die bestanddele halfpad deur verander nie.

“Maar die hele span het met soveel sorg gewerk. Almal was emosioneel invested, nie net daar vir ’n tjek nie. Selfs die natuur was deel van die storie, dit het soos nog ’n deelnemer gevoel. Dis daardie hart en sorg wat die program spesiaal maak.”

Hoe kan ’n swak rolverdeling ’n program beïnvloed?

“Een slegte keuse kan beslis die energie verander of die vloei van die storie onderbreek. Maar met Die brug glo ek nie daar is so iets soos ‘slegte’ rolverdeling nie, want die program is gegrond in regte mense se stories. Elkeen het waarde, en iemand wat kyk gaan met jou identifiseer. Party kykers wens dalk iemand was meer uitgesproke of rustiger, maar daar is ’n plekkie vir almal onder die son. Dít is wat Die brug laat werk.”

Wat is jou top-drie onvergeetlike realiteitsprogramme wat jy al gekyk of op gewerk het?

“Ek is ’n regte realiteitsreeks-TV-verslaafde… dis moeilik om net drie te kies! Maar Come Dine With Me South Africa was wonderlik om aan te werk – dit is snaaks, warm en vol karakter. Die brug is só uniek, mense hóéf nie belang te stel om na vreemdelinge te kyk wat ’n brug bou nie, maar hulle raak verslaaf aan die menslikheid. En natuurlik, Survivor. Ek is al jare ’n fan. Dis ikonies. Ek hou van avontuursprogramme, maar ek hou net soveel daarvan om in my pajamas TV te kyk. Dis vir my oor daardie lekker skinder-oomblikke, maar ook die tye wanneer mense hul waarheid deel.”


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

13

Wat om te kyk dié Vrouemaand: 13 reekse en rolprente waarin vroue die storie dryf

Wat om te kyk: Vir Vrouemaand het ons ’n kyklys saamgestel van reekse en rolprente waarin kragtige aktrises aan onvergeetlike vroue-karakters lewe gee.

Meer

Wat om te kyk: Moenie dié stories in Augustus misloop nie

Van 'Gesels' en Michael Fassbender se 'The Agency' tot 'Ted Lasso' en 'Reacher' se vierde seisoene – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer
12

Wat om te kyk: 12 Afrikaanse reekse om nou te stroom

Van die rillerreeks ‘Donkerbos’ en 'Ontwaak' tot die bekroonde 'Koek' en 'Wyfie' – hier is ons keur van die beste Afrikaanse stories om nou op DStv Stream te kyk.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer
Sien alle opsies