Die brug se lastige cliffhanger van verlede week het kykers saam met die deelnemers by die vuur gelos waar hulle moes besin oor wie hulle sou opoffer ter wille van die speletjie… En niemand het geweet of daardie persoon dan sal moet exit nie. Hierdie week hervat die episode op daardie presiese oomblik, en elkeen verklaar sy antwoord oor wie hulle kies. Dit is geen geheim dat die groep reeds onder mekaar besluit het dat Jamie hierdie rondte die verkose kandidaat is nie – en daarom is dit dan ook nie snaaks dat meeste mense haar naam noem nie.
‘Jammer, maar ek is lief vir jou… rêrig’
Dit is opvallend dat almal hul antwoord verklaar met ’n ‘jammer’ en ’n ‘ek is lief vir jou’ en al die mooi goedjies wat ’n mens vir iemand seker sou sê net voordat jy hulle van ’n brug afstamp. Of dit nou die waarheid is of nie, en of dit nou maar net platitudes is wat veronderstel is om die sting uit die antwoord te haal, is net iets wat die spelers self sal weet.
Obviously is dit sleg vir Jamie om te hoor dat meeste van die mense vir haar sou stem op hierdie oomblik, en niemand sug harder van verligting wanneer William na almal se antwoorde aankondig dat dit die einde van die speletjie is – en dat niemand huis toe gaan nie. Vir almal is die speletjie nou iets van die verlede, maar Jamie herkou hard aan die verdoemende hou wat sy sopas beleef het.
Terwyl almal dan koer oor Jamie om seker te maak dat sy okay is, is dit Jacques wat nog so effe tot verhaal probeer kom. Jamie is nie die enigste een wat sand in die oë gekry het nie. Jacques is taken aback omdat Jamie sy naam twee keer genoem het – as die persoon wat sy die minste vertrou, en die persoon wat sy sou opoffer ter wille van die spel. Jacques voel dat hy moeite gedoen het met Jamie, veral nadat Avril huis toe gestuur is, en hy kan nie verstaan dat Jamie dit nie in ag geneem het met haar antwoorde nie.
Swaar harte
Jacques is nie die enigste een wat met ’n swaar hart van die speletjie weggeloop het nie. Iana probeer ook nog die dolk in haar rug verstaan. Verlede week het sy Tina se naam genoem as die persoon wat sy die meeste vertrou in die speletjie, maar toe dit by Tina kom, het sy Geo se naam genoem. Iana was diep teleurgesteld omdat sy, volgens haar eie gevolgtrekkings, dan nou nie dieselfde vir Tina beteken as wat Tina vir haar beteken nie. Iana is ook nie die enigste een wat wonder wat aan die gang is nie, want in ’n gesprek tussen Geo en Robert praat die twee mans ook oor wat hier aan die gang is.
Geo is wel van mening dat hy sou gedink het iets is aan die gang indien Tina hom nie as haar mees vertroude aangewys het nie. Hulle is mos van dag een af reeds two peas in a pod. In hul gesprek identifiseer Rob ook vir Iana as ’n gevaarlike speler, en iemand oor wie hulle maar wawyd wakker moet slaap.
Apologie-toer
Met ses dae oor om 117m te bou om die brug te kan voltooi, is dit duidelik dat die span skouer aan die wiel sal moet sit. Die oggend begin net so droewig soos die weer, want daar is maar nog hier en daar gevoelens wat nog gekneus is deur die vorige aand se kampvuur-speletjie. Oor die algemeen is daar rus en vrede in die bondige kits-familie op die oewer, maar daar is ook mense wat afdwaal en ernstige gesprekke met mekaar voer.
Eerste aan die beurt met ontboesemings en vredemaak-prosesse, is Tina en Jamie. Tina het vir Jamie gestem om opgeoffer te word, maar meer oor wat Jamie vir haar vertel het die vorige dag (rakende Avril). Ná die kort gesprek is Tina en Jamie weer happy chappies.
Tina en Iana is volgende aan die beurt, en dit terwyl hulle werk. Iana wil haar frustrasie (of is dit hartseer, of albei?) uit haar kry, sodat sy dit nie in haar hoef rond te dra nie. Tina verduidelik haar kant van die saak, en Iana share haar kant. Ná hierdie gesprek lyk dit of die twee vrouens weer op dieselfde bladsy is, veral wanneer Tina erken dat sy vir Iana en Geo ewe veel vertrou. Maar dit is Tina se off-camera onderhoud wat my wenkbroue laat lig: sy sê dat sy dalk te laat agtergekom het wie sy die meeste kan vertrou…
Minder dae, minder muscles
Die span trek weer saam en hulle probeer alles in hul vermoeë om te bly by die target van agt vlotte ’n dag wat gebou moet word indien hulle die speletjie wil wen. Sam is bekommerd dat, indien hulle nog een persoon moet verloor, mag hulle dalk nie hulle target per dag haal nie. Sam verklap ook dat hy nou uit mense uit hardloop wie hy sou huis toe stuur – en dat dit vir hom ’n bitter moeilike besluit sou wees om te maak indien daardie lot op hom sou val.
Teen die einde van die dag is hulle almal besig om te besin oor die min dae wat oorbly, en waarna hulle die meeste uitsien wanneer hulle almal oor ’n week by die huis sal wees. Tina dink daar gaan nog ’n verwydering wees. Jamie probeer daardie idee met positiwiteit wegpraat. En dan gaan daar ’n fakkel af….
Geo gaan haal die Melkkan, en lees dan die briefie wat getiteld is ‘Lewenslyn’. Dit kom dan aan die lig dat die deelnemers se families vir hulle video-boodskappe gestuur het – maar dat slegs vyf van hulle hul boodskappe mag kyk. Hulle moet self besluit wie daardie vyf gelukkige mense gaan wees…
Hoe wreed is dit? Hier sit jy in die middel van nêrens, en jy verlang jou dood – maar jy moet nou kies wie mag en wie mag nie ’n kans kry om hul boodskap te kyk nie! Ek sou dink dit is bitter moeilik om hierdie besluit te neem, maar die close-knit groepie se taak word vergemaklik met eers Iana en dan Melanie wat besluit om uit te sit. Tina en Jamie is die eerstes wat benoem word, en dan besluit hulle dat dit die mense met kinders is wat die boodskappe moet kyk.
Kinderkoor
Tina, Jamie, Rob, en William word dan gekies, en dit is dan nou net Geo en Jacques wat oorbly om die vyfde spasie te vul. Geo besluit dan dat sy seuntjie te klein sou wees om iets te sê, en besluit Jacques moet sy boodskap sien aangesien sy kinders groter is as Geo s’n. Die Family Five gaan dan binne toe om hul boodskappe te kyk, terwyl Geo, Larry, Sam, Melanie, en Iana buite die Houthuis sit en wag.
Die videos besorg heelwat snot en trane, nie net binne in die huis nie, maar ook buite. Ek het self ’n traan gepik, maar dit kan dalk toegeskryf word aan die uie wat ek gesny het vroeër die aand. Dit is veral Tina se blydskap en verlange wat my hart geroer het!
Geo moet homself op ’n stadium buite verskoon soos wat die emosie hom oorval, en Iana is eerste daar om hom te probeer bystaan. Geo verklaar ook darem aan die kykers, in ’n off-camera onderhoud, dat sy onbaatsugtige besluit nie strategies was nie.
Nuwe familie
Die Family Five sluit dan weer aan by die res van Die brug-familie, en William maak ’n openbaring: hy voel dat hierdie sy nuwe familie is, aangesien hy vier jaar laas met sy eie familie gepraat het. Die rede vir die familie-onmin word nie juis bespreek nie, maar almal is diep geraak deur William se ontboeseming. ‘Oom’ Larry probeer dan die gemoed ’n bietjie te lig deur vir William te vra of die deelnemers by William se troue dan nou aan die hooftafel sal sit…
Tyd om te konkel
Dag 15 begin met almal wat rondskarrel om te werk, en dit gee die verskillende groepies tyd om ook weer bymekaar te kom sonder om suspicion te raise. Jacques praat met Rob en Geo oor die ander ding wat hom die meeste gepla het van die kampvuur-speletjie: die feit dat Melanie en Larry hulself sou benoem het om opgeoffer te word vir die speletjie. Jacques is van mening dat ’n mens nie so iemand kan vertrou nie, veral nie wanneer daar geld op die spel is nie. Dit laat hom ook wonder oor wie opreg is wanneer dit kom by die feit dat hulle blykbaar almal reeds daaroor gepraat het om die jackpot te deel aan die einde van die program.
Ek het seker iets gemis, want ek onthou glad nie hierdie gesprek nie. Waar het hulle dit gehad? Wie het aan die gesprek deelgeneem? Hoe het die gesprek begin? Nog meer belangrik: hoe het daardie gesprek geëindig? Ek dink hierdie is ’n paar belangrike missing tonele wat ek baie graag sou wou sien, want oogkontak en liggaamshouding tydens so ’n gesprek sou vir ’n mens ’n aanduiding kon gee oor wie die waarheid verbloem het – en wie die waarheid gepraat het.
Onmin dreig
Later is dit tyd vir Tina, Iana, Geo, en Rob om seker te maak dat hulle op dieselfde bladsy is. Tina lyk asof sy dwars trek wanneer sy vir die groepie inlig dat sy nie dink hierdie groepie is die moeite werd nie, want hulle het nog nie een keer enige van hul strategieë ingespan nie. Geo herinner haar dat dit gewerk het met Sam se verkiesing as leier, en ’n mens kan bespeur dat hy nie baie tevrede is met haar stelling nie!
Hulle praat ook oor Larry en Melanie se opofferingsbesluite – en wat dit dalk vir die speletjie mag beteken. Hulle dink dat hierdie besluite dalk die groep die geleentheid gaan gee om een van die twee te laat exit – en Geo dink dit moet Larry wees. Tina dink dit is nie regverdig teenoor Larry nie, en dink dit moet Melanie wees…
Dit word ook vir die eerste keer uit die ongetitelde leier se mond verduidelik hoe die groepie vir hom werk: Iana is ’n sterk strategiese speler, Tina is ’n sterk emosionele speler, en Rob maak net soos wat die groep besluit het. Maar wat maak dit dan vir Geo? Die meester-manipuleerder, óftewel die puppet master? Hy is ’n baie sterker strategiese speler as Iana, en dit wil voorkom of Tina hierdie nou ook al hoe meer en meer begin besef. Beteken dit dat Tina nou vir haar ’n Geo-teiken op haar voorkop verf? Want ek wil myself verstout om te sê dat die kyke wat Geo vir Tina gee, getuig van vertroue wat verbrokkel…
Tina se grootste bekommernis is wat die res van die deelnemers gaan doen indien hulle moet uitvind van hierdie konkelende groepie. En sy het beslis ’n punt beet: baie meer family fights het al plaasgevind oor kleiner issues…
Van gekonkel kom ’n kinkel
In die middel van die dag gaan daar ’n fakkel af, en niemand is seker wat dit beteken nie. Iana dink dat indien daar ’n fakkel in die oggend is, is dit goeie nuus – laatmiddag-fakkels dui gewoonlik op onweer. Die groepie versamel in die Houthuis terwyl Jacques die Melkkan gaan haal.
Terug aan tafel lees Jacques die ongetitelde brief aan die groep voor. Die brug verwag van Melanie en Larry om te besluit wie die volgende persoon is wat huis toe gaan – en hulle het net drie minute om daardie besluit te maak. Melanie is onmiddellik in trane, en Larry laat sak sy kop op sy arms. Larry verduidelik later dat die besluit om hulself op te offer teruggekom het om hulle te byt. Melanie vra vir Larry of hulle kan uitgaan om te kan praat.
Larry en Melanie het geen idee wie hulle moet kies nie. Hulle praat wel oor wat hul kriteria moet wees vir hierdie besluit. Hulle dink dat almal waardige spelers is, en dat elkeen ’n belangrike rol in die bouproses het. Hulle praat dan oor wie hulle die minste vertrou, en wie te integraal is vir die vlotbou-proses.
Intussen stress Geo en Jacques hul gatte af, want beide het die besluitnemers se name genoem in onvleiende antwoorde tydens die kampvuur-speletjie.
But wait…
Hulle redekawel en gesels en probeer die ding uitpraat in die min tyd wat hulle tot hul beskikking het. Geo se naam word keer op keer genoem, maar dit is nie duidelik of dit die enigste naam is wat in hul gesprek opduik nie. Die swaarmoedige besluitnemers prewel net dat hulle nie ’n ander uitweg kan sien nie, en die kamera eindig op Geo se gesig by die tafel waar hy sit en wag om te hoor wie hulle huis toe gaan stuur.
En dan, natuurlik, kondig Niel Sandilands se vertellerstem die lastige cliffhanger aan. Daar is slegs vyf dae oor en 90m om te gaan – en binnekort is daar een minder speler om op staat te maak om die doelwit te bereik. Wie is daardie speler? En wat was die finale redes vir die besluit?
Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.