Menu terloops
In Recaps & Resensies [30 Nov 2023]

‘Die brug’: Uit-blêrrie-eindelik!


Uiteindelik speel die onvoorspelbaarheid van ‘Die brug’ vir ’n rukkie nie net in die guns van die kykers nie, maar ook in dié van die spelers. ’n Besluit word geneem wat die son weer oor almal laat skyn. Maar, daar’s altyd ’n prys om te betaal, én ’n verrassing verander maklik in ’n verassing…

Stroom nou aanlyn

‘Die brug’: Uit-blêrrie-eindelik!
Kyk lokprent

Verlede week se cliffhanger hier aan die einde van die episode is reeds vergete as die nuutste episode van Die brug deur verteller Niel Sandilands se bekende rasperstem ingelui word.

Ons leer vinnig vir Melanie, verlede week se verrassing-toevoeging tot die span, ken. Dit val my op dat Melanie die omgewing beskryf as “ ’n overall positiewe omgewing” en dit gee dadelik weg dat Melanie of nog nat agter die ore is as dit by die groep en spel kom, of dat sy nog nie heeltemal in die binneboud-kringe van die spelers genooi is nie. Onderstromings is volop, en geheimsinnige gesprekke groei wilder as die wildtuin. Maar meeste speel nog hul kaarte styf teen die bors…

Die brug

Keuses, keuses

Vir Nuwe Leier Sam raak dit ’n moeilike storie as kapokhaantjie Geo hom nader skrop om hom te pols vir wie hy moontlik sal stem indien iemand huis toe gestuur moet word. Sam vertel vir Geo dat dit vir hom tussen Avril en Jamie is, maar off-screen is dit ’n ander storie. Sam verduidelik dat hy sal wil weet wat die res van die deelnemers sou wou besluit, en dat hy die sentiment in ag sal neem. Op die ou einde sou hy egter self wou besluit wie hul vinnige exit moet neem. 

Arme Jamie is die een wat Avril se suur druiwe die meeste proe, want Avril se selfbejammering hang laag uit. Sy probeer natuurlik vir Jamie beïnvloed deur haar saggies te laat verstaan hoe die windrigting nou skielik verander het. Wat arme Avril nie begryp nie is dat daardie windrigting reeds ’n rukkie al teen haar gedraai is. Sy kom dit egter nou eers agter met dié dat sy van haar power-babelas begin genees. Niks byt soos realiteit nie, en die queen of mean begin nou stadig haar eie gif terugkry. 

Slang-gate

Terwyl dié twee wasgoed opgehang het, het Hoender Hettie ’n slang doodgepik! Foto: Verskaf

Dis ironies hoe ’n toneeltjie voor Avril en Jamie uitspeel, en dit amper ’n lang uitgerekte metafoor raak vir hierdie twee se vriendskap. Hettie, Jamie se gunsteling-hoendertjie, speel met ’n slang terwyl die twee vrouens wasgoed van die draad haal – en Hettie pik die slang morsdood! Is dit moontlik dat Jamie dalk, nes Hettie, nie net ’n slangvanger is nie, maar ook fierce, feathered, and fearless? Hoewel Jamie simpatie het met Avril se gewaarwording oor die res van die deelnemers se attitude teenoor haar, is sy ook nie bang om haar uit te roep tydens ’n off-screen interview as “paranoid” nie. Is daardie paranoia gegrond, of net nog ’n simptoom van Avril se suurdruiwe? Die uiteinde van Slang-gate is dat Hettie die slang geëet het. Ek wonder maar net of dit ’n voorbode is vir Jamie se pad vorentoe…

Dit neem Jamie ook nie lank om so ’n bietjie meer van haarself te gee aan die groep nie. Sy besluit om tydens ’n ete ’n speletjie te speel waar sy vir elkeen van die deelnemers ’n kaartjie gemaak het met ’n vraag wat hulle moet beantwoord. Nes Nonnie se mini-platforms, is hierdie ’n bindingsoomblik tussen die (eintlik) spulletjie vreemdes. Die kameraderie in die groep is baie sigbaar. Kyk nou net hoe fierce, feathered, and fearless is dié hennetjie om nie net ’n teer oomblik te skep vir almal om eerlik en opreg, en diep bande te smee terwyl hulle brood breek nie, maar om ook haar nekkie ver uit te steek met ’n baie bedagsame oefening wat almal nader bring.

Fakkel tog!

Terwyl die nuutgevonde “vriende” begin praat oor strategie in terme van die vlotte wat gebou moet word, en wat daar nog gebou moet word om hul doelwitte te bereik, is daar ’n vervlakste fakkel wat gou weer kom amok saai onder die bedeesdes en ondeundes.

Melanie en Rob spring behendig weg om die Melkkan te gaan haal. Dit is Rob wat die nuus breek dat Sam, Jamie, en William moet besluit wie die persoon is wat volgende huis toe gestuur gaan word. Hulle was die enigste drie wat hulself verkiesbaar gestel het tot leier, en daarom moet hulle hierdie juk dra. Tina wens onmiddellik dat sy haarself verkiesbaar gestel het. Dít terwyl Iana besef dat die Melkkan elke keer strategieë in die wiele ry. Ongeag hoe noukeurig ’n mens besluite vooraf neem oor wat moontlik kan gebeur en wat die strategie vir elke onafwendbare gebeurtenis is nie, ’n mens kan net nooit met sekerheid sê wat die uitkoms gaan wees nie. 

Die stem

Sam, William, en Jamie gaan sit eenkant om koppe bymekaar te sit. Nog voor hulle gedagtes uitruil oor wie moontlik die slagoffer gaan wees, is dit reeds duidelik dat die keuse op ex-Queen Avril gaan val. William en Sam het al in die vorige episode oor die einste keuse geredekawel. Dit is ook duidelik van die groep af dat Avril of Jamie die top-kandidate vir hierdie besluit was. Terwyl Jamie dan nou een van die besluitnemers is, sal die lot nie op haar val nie. 

Jamie het nie ’n waarskuwing nodig oor wat gaan gebeur nie. Sy sit reeds met ’n geamuseerde glimlag op haar fraai gesiggie wanneer Sam en William hul gedagtes begin deel. ’n Mens moet seker maar ’n sin vir humor hê as die toneelspel nie Oscar-gehalte is nie, en ’n mens het ook nie ’n kristalbal nodig om te weet dat die naam wat hulle albei gaan uiter dié van die vorige mislukte leier is nie. 

Nietemin kan ’n mens die effense skok op Jamie se gesig sien as Sam eerste Avril se naam noem. As William dit sekondeer, weet Jamie die skrif is aan die muur vir haar vriendin. Sy probeer nie eers ’n ander naam te noem nie – Hennetjie weet sy gaan nie hierdie slang kan doodpik nie. 

Sam is die een wat dié verrassende skoknuus aan die groep openbaar. Avril se glimlaggie kort voordat haar naam genoem word, wys dat sy vermoed het dat haar reis se einde naby was. Sy is meer as gereed om huis toe te keer, maar nie sonder ’n paar laaste gewraakte woorde nie. 

Die brug
Die enigste een wat rêrig hartseer was om Avril te sien gaan, was Jamie… Foto: Verskaf

Hier is die eerste keer waar Avril slim gespeel het. Haar afskeidswoorde gaan definitief nog vir ’n rukkie by die oorblywendes spook. Avril noem Iana, Tina, Geo, Sam, en William as die mense wat sy weet teen haar gespeel het. Hierdie is ’n uiters slim manier om onsekerheid te versprei in die groep. Ook om te verseker dat hierdie vyf mense nou met arendsoë dopgehou sal word. Of sy die waarheid praat, of weer net na strooihalms gryp in ’n desperate poging om relevant te bly, is nie ter sprake nie. Wat wel ter sprake is, is dat hierdie ’n homerun- of skaakmat-oomblik is. Vertroue word in twyfel getrek. Deursigtigheid moet ook weer van vooraf bepaal word deur die wat nie op die naam genoem is nie. 

Waar Avril wel die pot mis sit, is wanneer sy sê dat sy nogal honoured voel dat dit ’n groep mense geneem het om teen haar te conspire – en daarom ook haar demise bewerkstellig het. Avril het egter niemand anders om te bedank as haarself nie. Ek het ’n houtwerkonderwyser op skool gehad wat altyd gesê het: “You have free will to make choices, but you are not free from the consequences of those choices.” Hy het dit beslis meer van toepassing gemaak oor watter gate waar geboor moes word om ’n projek te voltooi, maar dit pas ook by hierdie situasie. Avril se keuses en daaropvolgende gedrag het haar gelei tot by die plek waar sy glad nie geliefd was onder die deelnemers nie. Dit het haar baie duidelik die neon-glowstick in die donker gemaak om te kies. 

Obviously is Jamie verskriklik hartseer oor haar sister from another mister wat nou huis toe gaan. Avril se laaste bietjie venom word op beautiful maniere by Jamie ingespuit. Avril se laaste afskeidswoorde is bietjie weird. Sy is nou nie heeltemal uit op die manier waarop sy gesê het sy die speletjie sou verlaat ná Marna se exit nie… Dit is teleurstellend, maar persoonlik dink ek die reeks gaan nou baie beter daarna uitsien.

Dit is baie duidelik nadat sy vort is dat daar nie veel trane oor haar gehuil gaan word nie. Dis net Jamie se hartseer wat baie tasbaar was. Ek het simpatie met Jamie, veral omdat haar comfort zone nou daarmee heen is. Sam is slim as hy ’n strategie voorstel om Jamie daarvan te verseker dat sy nog deel is van die groep, juis nadat Avril vir Jamie van die res probeer alienate het met haar woorde dat sy niemand kan of moet vertrou nie. 

Iana, Geo, en Tina word ge-haunt deur Avril se afskeidswoorde. Tog – nie genoeg om hulle heeltemal skrik op die lyf te jaag nie. Spookvanger Geo stel sy spanlede gerus oor waar hulle staan met die res van die groep. Só word Avril se exit ter ruste gelê met ’n geruste laggie of drie. 

‘Joy comes in the morning’

Dag 10 begin met Sam se verjaarsdag. Die groep wens heel jolig vir die leier geluk met sy hernude gratis reis om die son. Almal lyk rustiger en sonniger – en ek kan hulle nie blameer nie. As die donker wolk weg is, is daar meer positiwiteit in die lug. 

Strategie hang ook in die lug. Geo en Jacques praat oor wie hulle die meeste vertrou. Jacques dink dit is hy, Sam, Geo, en Robert wat ’n staatmaker-groep is. Jacques dink wel ook dat Jamie goed is vir getalle, maar Geo vertel nie vir hom van die reeds bestaande groep van Geo, Robert, Iana, en Tina nie… 

Die alliansies raak nou nogal gekompliseerd in Die brug. Foto: Verskaf

Larry en William kom vorendag met wat Jacques as ’n goeie innoverende idee beskou. Hulle prakseer ’n waentjie met ’n houtwiel om die werkslading te vergemaklik. Sam besing die lof van die waentjie – en agteraf word sy leierskap se lof besing. Sam maak dit wel bekend dat hulle ’n probleem met tou gaan ontwikkel. Hy stel voor dat hulle die oorblywende tou moet ontrafel sodat hulle drie keer meer tou het om mee te kan werk. Die groep stem saam, en die besluit word geneem. Dit beteken wel dat hulle dalk harder gaan moet werk om voor te bly met die vervaardiging van die vlotte.

Terwyl die groepie aan die werk spring, gaan daar ’n fakkel af…

Die brug gee terug?

Larry is die een wat tydens die tou-besluit hardop gesê het dat Die brug teruggee. Terwyl die Melkkan gehaal word, probeer van die oorblywendes raai wat die nuwe boodskap in die Melkkan sal wees. Hulle kan nie dink dat dit nog ’n verwydering kan wees nie, en dat dit eerder dalk ’n journey (of selfs ’n oornag-journey) kan wees. Hulle begin dadelik name rondgooi oor wie hierdie avontuur sal kan aanpak. Geo is dit eens dat dit beslis Iana en Tina moet wees…

Geo is die een wat die gewraakte briefie voorlees. Die brug vra dat drie spelers op ’n staptog gestuur moet word waarop hulle antwoorde sal ontvang. Sam is die een wat die drie spelers moet kies.  

Sam het nog vier vlotte wat hy voor die einde van die dag ter water wil lê, en daarom dink hy dit moet drie vroues wees wat die staptog aanpak. Hy wil graag die mans behou vir moedige mannekrag. Hy stel Iana, Tina, en Nonnie voor – en die groep berus by sy keuse. Sam verduidelik in ’n off-camera onderhoud dat hy Iana en Tina beskou as die leiers van die vroue, en hy wou ook vir Nonnie stuur omdat sy nie haarself sou benoem nie – en hy wou vir haar ook ’n avontuurtjie gun. 

Die dapper stappers

Geo verduidelik aan Tina en Iana dat hy vir Sam geïnspireer het om die keuse te maak. ’n Effens kwaai Tina verduidelik in ’n off-screen onderhoud dat sy bietjie ge-irri is oor die feit dat die leier nie alleen die besluit gemaak het nie. 

Terwyl die vroue gereed maak om te vertrek, bespiegel die mans wat hulle op die staptog gaan vind. Die mans is dit eens dat indien daar ’n keuse gemaak moet word tussen items vir plig of plesier, dat plesier die oorhand sal kry. Geo is die een wat vir die groepie sê dat Iana en Tina moet sorg dat hulle vir Nonnie overrule

Die mans begin die vlotte te launch, en Nonnie speel veldgids vir die dapper stappers. Die gesprek draai ironies by die dood. Op ’n vraag of sy bang is vir die dood, sê Tina dat sy bang is vir die manier waarop dit gaan gebeur – en of dié wat agterbly okay sal wees. Nonnie gee te kenne dat sy nie bang is vir die dood nie…

Terug by die Houthuis is Rob en Geo skielik skrikkerig dat die vroue dieselfde keuse as hulle gaan moet uitoefen. Hulle neem die besluit om nie te veel uit te vra as die dapper stappers terug is nie, en dat hulle die vroue maar net gaan moet vertrou met wat ook al hulle te sê het. 

Intussen vind die vrouens die trappies van die Melkkan-brief en begin ’n koppie uit te klim. Terwyl hulle die wêreld bespied, sien Iana ’n eensame huisie met ’n kopbeen op die voordeur, en ’n krat. Maar dit is wat op die deur staan wat haar onmiddellik onrustig maak. In groot letters staan daar uitgesel “Die einde”. 

Hoe wreed is hierdie een? Dit is so onverwags, en so onvoorspelbaar, dat die wreedheid daarvan eers later ontdek sal word. Hier word daar van die spelers verwag of om teen een persoon te draai, of vir een persoon om hulself op te offer ter wille van die ander twee. Sjoe, en ek het gedink dat Survivor se bekende en slinkse blindsides wreed is – maar hierdie is erger! Baie erger!

Die einde

Die dapper stappers sien dat die krat vol lekkernye is – en onmiddellik weet hulle dat hier ’n keuse uitgeoefen gaan moet word. Die brug gee terug, maar nie voordat daar ’n prys betaal word nie. Tina maak behendig die briefie op die deur oop, en dit lees: “Vir een van julle is hierdie die einde van die spel. Net twee van julle kan terugkeer Houthuis toe. Julle moet self besluit wie bly, en wie terug gaan. Stem nou.”

Hoe wreed is hierdie een? Dit is so onverwags, en so onvoorspelbaar, dat die wreedheid daarvan eers later ontdek sal word. Hier word daar van die spelers verwag of om teen een persoon te draai, of vir een persoon om hulself op te offer ter wille van die ander twee. Sjoe, en ek het gedink dat Survivor se bekende en slinkse blindsides wreed is – maar hierdie is erger! Baie erger!

Natuurlik is dit net hier waar Die brug se briljante, maar tog baie lastige, cliffhanger die kyker laat verstaan dat dit die einde van die episode is. Met nege dae oor om 162m te bou om die prys van R1 miljoen (askies, R900 000) in te palm, is hierdie die een keer wat ek dink dit is nie net die deelnemers wat hier suffer nie…

Ek gaan nou al my sakdoek byderhand hou vir volgende week! Ek kan myself nie indink om een van hierdie formidabele vroue af te stem nie! Tussen Iana, Nonnie, en Tina is daar net doodeenvoudig nie ’n maklike uitweg nie. Ek sal regtig graag nie een van die drie wil uitstem nie. Wat ’n wrede dilemma is hierdie nie?


Die brug saai Donderdagaande uit om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144 en DStv Stream). Die reeks is ook op Catch Up beskikbaar. Ons resensent, Bouwer Bridges, se recaps word direk ná elke nuwe episode omstreeks 21:00 gepubliseer.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies