Menu terloops
In Wat om te kyk [2 Aug 2023]

‘Devil’s Peak’: Eerste blik op Deon Meyer se aksiebelaaide treffer binnekort op M-Net


Die TV-verwerking van die immergewilde plaaslik skrywer Deon Meyer se meesleurende boek ‘Devil’s Peak’ word eersdaags op M-Net uitgesaai. M-Net het solank ’n eerste kykie gegee.

‘Devil’s Peak’: Eerste blik op Deon Meyer se aksiebelaaide treffer binnekort op M-Net

Hy was aanvanklik ’n agtergrondspeler in van Deon Meyer se eerste boeke, maar in 2004 het Bennie Griessel die kollig betree met die verskyning van Infanta. Intussen het Bennie
een van die Afrikaanse letterkunde se mees ikoniese karakters geword – die legendariese speurder-inspekteur van die Ernstige en Geweldsmisdaadeenheid in Kaapstad wat met al sy foute en feilbaarheid en sy ewige stryd teen die drankduiwel diep onder lesers se vel gekruip het.

In 2007 verskyn Infanta se Engelse vertaling as Devil’s Peak en eersdaags kry hierdie misdaadriller nuwe lewe as ’n TV-reeks op M-Net.

In Devil’s Peak is Bennie, vertolk deur Hilton Pelser, op die spoor van ’n vigilante-moordenaar wie se misdade die verbeelding van die publiek aangryp. Maar hoe nader Bennie aan die identiteit van die moordenaar kom, hoe meer word hy ingetrek in ’n donker en gevaarlike wêreld waar niks is soos dit voorkom nie.

Ook in die rolverdeling is Sisanda Henna, Tarryn Wyngaard, Albert Pretorius, Gérard Rudolf, Shamilla Miller en Masasa Mbangeni. Die regisseur is Jozua Malherbe.

Die reeks is vervaardig deur Lookout Point en Expanded Media Production in samewerking met MultiChoice Studios en BBC Studios Distribution. BBC Studios, eienaars van Lookout Point, sal die reeks internasionaal bemark.

Devil’s Peak volg in die voetspore van ander uitmuntende plaaslike reekse uit die M-Net-stal wat kykers in die afgelope paar jaar laat regop sit het – reekse soos LegacyThe WifeReyka en Trackers, met laasgenoemde wat ook op een van Meyer se boeke gegrond is.

“M-Net is trots om vir ons kykers ’n wêreldklas-reeks te bring met sy wortels stewig in Suid-Afrika geplant,” sê Waldimar Pelser, M-Net-direkteur: Premium-kanale, in ’n persverklaring.

“Hierdie is ’n verhaal wat net in Suid-Afrika kan afspeel; waar die donker misdaad-onderwêreld op ’n amper daaglikse basis die borrel bars van dié wat sekuriteit en gemak soek. Devil’s Peak wys die beeldskone Kaapstad met én sonder haar masker. Dit is die verhaal van Bennie Griessel se stryd teen nie net die duiwels daar buite nie, maar ook die duiwels binne hom; sy soeke na geregtigheid vir ander en verlossing vir homself. Dit is ook die verhaal van ’n pa wat enigiets sal doen om die dood van sy seun te wreek. Nie oor alle sterftes word ewe veel gerou nie, suggereer die storie. Ons hoop Devil’s Peak gaan ’n reeks wees wat dit onmoontlik maak om weg te kyk.”

Meyer is een van Suid-Afrika se suksesvolste skrywers op internasionale vlak. Sy boeke is reeds in meer as 20 tale vertaal en hy is wêreldwyd ’n topverkoper. Hy het ook al verskeie toekennings, plaaslik en internasionaal, vir sy werk ontvang.

“Ek is verheug en baie trots om uiteindelik te sien hoe Bennie Griessel se wêreld ook op die skerm lewe kry, alles te danke aan ’n briljante en talentvolle plaaslike en internasionale span,” sê Meyer in die verklaring.

Devil’s Peak was die eerste boek waarin Bennie die protagonis, as ’t ware die hoofspeler, geword het en hier is sy debuut op TV. Opwindende tye!”


Die datum van die uitsending van die eerste episode van Devil’s Peak op M-Net word eersdaags bekend gemaak. Dit sal ook op die DStv App gestroom word en sal op DStv Catch Up beskikbaar wees.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 6 stories in Julie misloop

Van ’n nuwe oes boere wat ’n liefdesmaat soek tot die senutergende aksie van die Wêreldsokkertoernooi-eindstryd – hier is ons keur van TV-hoogtepunte vir vandeesmaand.

Meer

Van ‘My f*k Marelize’ tot ‘Die Toring’ – Nichola Viviers is reg vir die kollig

’n Vars gesig met ’n onmiskenbare teenwoordigheid in die nuwe kykNET-telenovela 'Die Toring' is Nichola Viviers in die rol van Cazz Fouché.

Meer

Misi weer op ’n reddingsmissie in ‘In die sop: Gastehuisrevolusie’

KykNET se ‘In die sop’-werklikheidsreeks kry ’n vars laag verf met die fokus wat van restaurante na gastehuise skuif, maar ’n bekende gesig, die dekorkenner Misi Overturf, is weer deel van die reddingspan.

Meer

Gerrie slyp sy tande vir Dracula se wêreld in nuwe ‘Leef jou Reis’

Die nuwe seisoen van Gerrie Pretorius se 'Leef jou Reis' beloof om kykers te bekoor met bestemmings wat beide eksoties en nostalgies is.

Meer
Sien alle opsies