Menu terloops
In Sepies [22 Jul 2025]

Christiaan Ackermann oor ‘Diepe Waters’ se Juvan: ‘Hy leer my daar is altyd hoop’


Christiaan Ackermann het skaars sy voete in die vermaakbedryf gevind toe hy die rol van Juvan – ’n komplekse jong kalant – in ‘Diepe Waters’ losgeslaan het. Hy het met Tarren-Lee Habelgaarn oor dié ervaring gesels.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk 'Diepe Waters' op DStv Stream

Christiaan Ackermann oor ‘Diepe Waters’ se Juvan: ‘Hy leer my daar is altyd hoop’

Sedert Christiaan Ackermann se debuut in September verlede jaar in die gewilde kykNET-telenovela Diepe Waters as Juvan, het dié karakter se storielyne al meer draaie as ’n draaikolk gehad.

Juvan is bekend as die arrogante, dikwels selfbehepte swemmer by die Swartmarlyne-swemklub. Maar dié buitekant versteek baie pyn. Kort ná sy aankoms, moes Juvan ’n moeilike verhouding met sy afwesige pa, Fourie (David Louw), probeer herstel. Hy is immers grootgemaak deur sy oupa Nelius (Jürgen Hellberg), en dié se eie geheime het later soos ’n bom in sy lewe ontplof.

Soos wat die storie ontvou het, het Juvan uitgevind dat sy beste vriend by die klub, Lucas (Caleb Swanepoel) in werklikheid sy oom is! Ja, sy oupa en Lucas se ma René (Marijke Coetser), het jare gelede ’n kind saam gehad sonder dat enigiemand daarvan geweet het.

Maar dit was net die begin van die skokonthullings: Juvan se biologiese ma (Bianca, vertolk deur Natasja Jacobs), wat hom jare gelede verlaat het, het ook onverwags haar opwagting gemaak. Hy en sy pa moes toe saam verwerk dat sy destyds nie net weg is nie, maar dat sy ook ’n verhouding met Juvan se oupa gehad het. Dis ’n storielyn wat enige mens sou breek, tog het dit vir Juvan en sy pa nader aan mekaar gebring.

Juvan, Christiaan Ackermann, Diepe Waters
Juvan (Christiaan Ackermann) se ma word deur Natasja Jacobs vertolk. Foto: Skermgreep

En asof die familie-drama nie genoeg was nie, het Juvan boonop twee meisies aan vriende in sy binnekring verloor. Selfs al het hy soms windgat en uit voeling met die werklikheid voorgekom, is daar tog iets sag in hom… ’n karaktereienskap waarvan kykers hou.

Gelukkig lyk dit of die liefde dalk weer vir hom beskore is! En boonop is sy ma en die eienaar van sy swemklub nou verloof. Drama is dus nooit ver van Juvan af nie.

Ons het met Christiaan gesels oor sy groot TV-deurbraak, wat hy al by Juvan geleer het en hoekom Diepe Waters vir hom ’n unieke ervaring is.

Vir jou eerste groot karakter op televisie het Juvan al baie deurgemaak. Wat is die grootste les wat jy sover van hom geleer het?

Ek sal sê die grootste les wat ek geleer het is om altyd, soos Juvan, positief te probeer bly. Maak nie saak hoe moeilik dit is nie. En om aan te hou glo en hoop dat alles sal uitwerk. Maar ek het veral geleer om nie in die wêreld se negatiwiteit vasgevang te raak nie. Ek fokus eerder daarop om ’n beter mens te wees.”

Watter eienskap van Juvan wil jy graag meer in jou eie lewe toepas? En watter eienskap is jy bly jy het nie?

“Ek kyk op na die manier hoe hy altyd ’n goeie vriend en ’n mens vir ander is. Dis iets waarna ek ook strewe. Maar sy windgat-houding en soms gevoellose kant? Ek hoop regtig dis iets wat ek glad nie in my het nie!”

Dink jy kykers verstaan vir Juvan as jy so na hul aanlyn-reaksies kyk?

“Ek dink hulle verstaan hom baie goed. As ek die kommentaar lees, sien ek hulle besef hy het ’n moeilike agtergrond en dat hy uit ’n disfunksionele familie kom. Sy optrede en gedrag is nie altyd reg nie… Maar hulle verstaan hoekom hy soms so optree. Hulle verstaan waarvandaan dit kom.”

Wat was tot dusver die moeilikste storielyn om te vertolk?

“Definitief die storielyn waar Juvan uitvind dat sy ma en sy oupa saam geslaap het. Daardie haat en hartseer wat ek moes uitbeeld, was ’n uitdaging, want ek is nie van nature ’n haatvolle persoon nie. Maar dit is juis die uitdagende tonele wat vir my die lekkerste is om te speel.”

Juvan, Christiaan Ackermann, Diepe Waters
“Sy optrede en gedrag is nie altyd reg nie… Maar hulle (die kykers) verstaan hoekom hy soms so optree. Hulle verstaan waarvandaan dit kom,” sê Christiaan Ackermann oor kykers se indrukke van Juvan. Foto: Skermgreep

Daar was al baie karaktergroei vir Juvan. Wat is jou grootste wens vir hom?

“Ek hoop hy en Nina kry ’n kind! Ek voel dit sal vir Juvan baie beteken, want hy wou nog altyd ’n familie van sy eie gehad het. Dit is iets wat hy nie self gehad het tydens sy grootwordjare nie.”

Hoe het jy as persoon en akteur gegroei danksy jou tyd op Diepe Waters?

“Ek leer elke dag meer oor die kuns van toneelspel – veral hoe om elke emosie op ’n eerlike manier oor te dra. Ek weet ek het nog ’n lang pad om te stap in die bedryf. Maar ek is dankbaar vir alles wat ek al geleer het van die regisseurs, my mede-akteurs en almal op stel. 

“As persoon het ek ook baie geleer oor die werkende wêreld en die waarde daarvan om vir jouself ’n bestaan te maak.”

Julle spandeer baie tyd in die water. Was jy nog altyd lief vir swem of het jy nou eers ’n liefde daarvoor ontwikkel?

“Ek het my hele skoolloopbaan geswem, so dis nogal snaaks om te dink ek is nou in ’n TV-reeks oor swem! Op ’n weird manier voel dit of my hele lewe my voorberei het vir hierdie rol. Ek geniet dit baie om op stel te swem en veral om teen my co-stars soos Caleb Swanepoel (wat Lucas vertolk) mee te ding. Dis great om nou ook weer meer tyd in die water te spandeer én lekker te chill saam my regte vriende.”


Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié 8 stories in November misloop

Die finale seisoen van die TV-fenomeen 'Stranger Things'; ’n nuwe 'Kokkedoor'; liefdesintrige in 'Maxton Hall' se tweede seisoen; en Guillermo del Toro se 'Frankenstein' tel onder ons top-keuses vir vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Dikker as water’-kykgids vir November 2025

Doğa maak ’n groot besluit oor haar studies terwyl ’n misverstand tussen Pembe en Abdullah ontstaan. Hier is ’n voorsmakie van wat vandeesmaand op 'Dikker as water'-kykers wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-gids vir November 2025

Karla en Arno se verhouding word op die proef gestel en Danie se gevaarlike obsessie dryf hom tot uiterstes... Hier is waarna ‘Diepe Waters’-kykers vandeesmaand kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-gids vir November 2025

Wade ruk heeltemal handuit en Angie en Zoë wil mekaar weer aan die hare beetkry... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in November kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies