Menu terloops
In Recaps & Resensies [6 Jun 2022]

‘Borgen’ se nuwe seisoen boei met politieke hoogdrama


Borgen, een van Netflix se beste Deense reekse, se nuwe seisoen vra moeilike vrae oor Denemarke se rol op die internasionale politieke verhoog.

Deur André-Pierre du Plessis
‘Borgen’ se nuwe seisoen boei met politieke hoogdrama
Kyk lokprent

Daar bestaan ’n sekere beheptheid in popkultuur rondom die idee van vroue-politici. Met Angela Merkel wat onlangs afgetree het ná 16 jaar as Duitse kanselier, is daar skielik weer ’n vlaag boeke en dokumentêre reekse wat probeer verduidelik hoe Merkel Europa onherroeplik verander het.

Want dis nie net omdat sy ’n buitengewone leier was nie. Haar stempel is mos deels so merkbaar juis omdat sy ’n vrou is.

Dís dan ’n realiteit wat vroue in enige posisie van mag steeds vandag in die gesig staar. Boonop word dit dikwels aan chauvenistiese vooropvattings oor wat dit beteken om ’n vrou te wees, gekoppel.

Maar selfs in 2022 lyk dit asof ons steeds soek na stories wat hierdie narratief uiteensit.

Kykers honger vir Borgen se politieke intrige

Borgen Credit: Mike Kollöffel / Netflix
Sidse Babett Knudsen in Borgen: Power & Glory. Foto: Mike Kollöffel/Netflix

Borgen: Power & Glory spruit uit die oorspronklike Borgen-reeks wat kykers reg oor die wêreld reeds vir drie seisoene meegesleur het. Teen die tyd wat Netflix die internasionale uitsaairegte daarvoor in 2020 gekoop het, was die program bekende volksbesit in Denemarke.

Die reeks is aanvanklik in 2010 opdrag van die openbare uitsaaier, DR1, vervaardig en die derde seisoen is in 2013 uitgesaai. Maar kykers wêreldwyd kon nie genoeg daarvan kry nie – veral nie nadat dit op Netflix beskikbaar gemaak is nie. En siedaar, Netflix gee toe geld om ’n vierde reeks van Borgen te vervaardig.

Borgen handel oor Birgitte Nyborg (vertolk deur Sidse Babett Knudsen), Denemarke se eerste vroulike eerste minister. Die storie volg haar daaglikse stryd soos sy sukkel om haar verpligtinge as ’n ma en ’n vrou met dié van ’n koalisie-regering te versoen. Die eerste drie seisoene draai hoofsaaklik om ’n reeks omstrede besluite wat sy neem.

Magskonflik meesterlik verweef

In die nuwe seisoen, Power & Glory, wat nou op Netflix beskikbaar is, is Birgitte nie meer eerste minister nie. Sy bevind haarself in veel meer kontroversiële situasies as minister van buitelandse sake. Sleutelwoorde: Olie. Russe. Groen energie. Geld. Korrupsie. Leuens.

Katrine Fønsmark (Birgitte Hjort Sørensen), ’n voormalige verslaggewer op die minister se spoor, is ook nie meer ’n aanbieder van Denemarke se TV1 nie. Sy bestuur sommer nou die hele nuuskanaal. Anders as The Newsroom (HBO) of The Morning Show (Apple TV+), word etiese dilemmas in ’n nuuskantoor hier veel meer realisties uitgebeeld.

Spanning loop hoog onder Birgitte en haar mede-ministers as sy probeer om haar eie politieke party se belange in lyn te bring met wat dit wat ’n koalisie-regering vereis. Borgen verweef dié konflik meesterlik in die narratief in. Só word situasies geskep wat nie te vinde is in meeste Amerikaanse politieke dramas nie.

Want sien, Borgen het oor die laaste drie seisoene Amerikaners verstom met sy uitbeelding van hoe lande konsensus kan bereik; selfs met meer as een politieke party aan bewind. Terwyl Dene die sterk rolverdeling meer as enigiets anders in Borgen geniet, en Amerikaners die program kyk om Europa te verstaan, kan die res van ons daarna te kyk om onsself beter te laat voel oor ons eie regering.

Ons kan onsself in dié storie sien

Oor die laaste paar jaar het Borgen saam met ander reekse soos The Killing en The Bridge ’n nuwe gewildheid aan die Nordic noir TV-genre gegee. Wat Borgen egter uniek maak is dat dit ’n politieke drama is – nie ’n riller- of misdaadreeks soos meeste ander programme wat Denemarke uitvoer nie.

Uiteindelik is Borgen ’n storie waarmee meeste mense kan identifiseer. Die hoofkarakter is iemand wat heeltemal te veel (en te hard) werk. Sy verloor uiteindelik haar man en kinders aan ’n kompulsiewe dryfkraf om ’n suksesvolle loopbaan te hê.

Maar dis ook ’n reeks wat, hoewel dit ’n fiktiewe storielyn het, Dene laat nadink oor die rol wat hul land speel in Europa se voortslepende dilemma rondom die oorlog in Oekraïne.

Maar dan is daar ook die parallelle oorlog waarmee hulle – en welke ander nasies – gewikkel is. Borgen speel met dié idee soos ’n kind wat rondomtalies draai: Tot watter mate kán hulle uiteindelik waarlik onafhanklik van enige ander land, of energiebron, wees?

Kyk ook:

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

As jy hou van kosprogramme
0

Afrikaans kook groot! 10+ Afrikaanse kosprogramme om op DStv en Showmax te kyk

Ons is maar net mense, ons dink met ons pense... En daar is wraggies baie kosprogramme – in Afrikaans – waarin lipafleklekker geregte opgedis word.

Meer

Jou ‘Reënboogrant’-kykgids vir Maart 2025

Japie slaan sy kloue in Sunette in, maar dan kry sy nuus oor haar gesondheid wat haar hele wêreld omdolwe. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse telenovela, ‘Reënboogrant’, kan verwag.

Meer

Redakteurskeuse vir Maart 2025

Wat om te kyk: Die meesleurende Jaco Bouwer-drama, 'Niggies', Pretoria se Afrikaanse spin op 'The Mommy Club', Showmax se Afrikaanse tennisdrama, 'Breekpunt', en Seth Rogen se nuwe komediereeks – dié stories tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer

Oscars 2025: Wie het gewen én waar jy wenners kan kyk

Zoë Saldaña met ’n verstommende vertolking in die veelbesproke ‘Emilia Pérez’, Adrien Brody met sy indringende spel in ‘The Brutalist’, en Kieran Culkin in ’n loopbaanbeste rol waarvoor hy amper-amper nee gesê het – hier is vanjaar se Oscarwenners én waar jy dié bekroonde rolprente kan stroom. 

Meer
Sien alle opsies