Die boere het gekies, die vroue se geliefdes ontmoet en nou’s hulle reg vir die volgende avontuur: ’n wegbreek saam met hul gekose vroue by die St Lucia Eco Lodge. “Maar wie is nog bymekaar en wie gaan bymekaar bly?” wil Marciel Hopkins, programaanbieder van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou vandeesweek uitvind.
Vakansieweek begin

Dis ’n eerste keer vir Niel in St Lucia en hy hou van wat hy sien, al is dit effe bedompig. Maar vir hom is dit lekker om by die see te wees.
Vir Quintus is dit nie net lekker om aan die kus te wees nie, daar het ook goeie reën op sy plaas geval. Hy is baie ingenome met hierdie verrassing-vakansie en sê dat hy vir Ria op pad heerlik geterg het oor ’n Speedo en ’n bikini.
Daandré is self ook opgewonde om in St Lucia te wees. Dit was juis iets wat hy vir later beplan het.
Die vyf boere en vier dames bevind hulle kort voor lank rustig rondom ’n tafel wat kreun onder al die versnaperinge. Jacques het op sy eentjie opgedaag.
Ook hy is aangenaam verras omdat hy selfs die see kan hoor druis. En natuurlik kan die platjie nie tjoepstil bly nie.
“Ek moet sê, die seisoen is wárm, want die manne is verlief! Jissie, ek kan dit nie glo nie,” kom dit van hom. Die ander boere probeer uitvis wat dan gebeur het dat hy nie iemand saamgebring het nie.
“Dis nou seker ’n bietjie weird om hier alleen te wees, maar, dit help nou nie. Hulle is verlief, ek is nie flippen verlief nie. So, dis hoekom ek hier alleen is,” sê hy.
“Sy [Nicole] sal nou en dan ’n ietsie stuur of hoor, maar ons is pêlle,” is sy reaksie.

Oor dáái uitstem-kinkel…
Die gesprek draai gou in die rigting van die uitstem-aand wat toe aangeskuif is na ’n dag later. Quintus erken dit het hom van besluit verander van wie hy daardie aand sou kies.
“Van daai laaste dag wat ek haar gaan aflaai het en ek ry weer terug, en ek stap daar my huis in, toe’s dit tjoepstil. Maar gelukkig, toe ek op die yskas kyk, en ek sien sy het haar nommer vir my daar gelos – toe weet ek sommer, nee-wat, dit was lekker gewees,” sê Quintus.
Later kom die afstand tussen die boere en die vroue onder die loep. Ria bly op Viljoenskroon en Quintus is gou by om die afstand tot op die kilometer uit te spel: 182 km. Daandré en Marisca is sowat 45 minute se ry van mekaar af, en tussen die arme Niel en Mikal kronkel die pad ’n allemintige 1400 km. Dieselfde geld vir JW en Danelle.
’n Stralende JW en Danelle erken hulle is nou amptelik twee weke saam. “So, sy is my meisie,” erken hy en voeg by dat hy gevoel het die tyd en alles was net reg en hy is 100% seker van wat tussen hulle twee aan’t gebeur is.
Marciel belowe daar wag ’n verrassing op die span en kort voor lank klim almal in die wildkykvoertuig van Shakabarker. Daar gaan nie bokke gekyk word nie, maar wel krokodille en seekoeie vanaf ’n boot op die meer.
Jacques kon nie sy opgewondenheid beteuel nie, veral omdat dit die eerste keer is waar hy ’n lewendige seekoei gaan sien.
“Dit was vir my nogal m**rse cool. Nee, ek was baie opgewonde,” sê hy na afloop van die avontuur.
JW sê dis duidelik dat Daandré en Marisca gelukkig lyk en dat hy dink daar’s ’n goeie ding aan die broei tussen die twee.
“Daandré en Marisca is… ek wonder hoekom moet ’n ou so konserwatief wees? Jirrr, kan hulle nie net mekaar . . . **** julle, as jy van die girl hou, **** vry haar net! Dit breek my kop. Maar anyway, different okes, different strokes,” kom dit laggend van Jacques.
Wat Niel en Mikal betref, glo JW hulle is beslis goeie vriende en daar is volgens hom die moontlikheid dat iets meer mag ontwikkel. Danelle stem saam dat daar ’n “ietsie tussen hulle” is, en hulle moet dit nou net verder vat.
Daandré dink Niel se kop nog effe deurmekaar is en dat hy dalk ’n bietjie skrikkerig is, maar dat hy en Mikal beslis ’n oulike paartjie kan wees.
Teerpad
Krokodil- en seekoei-kyk kan mense honger maak. Die groep sit af na Meet & Eat om te herlaai. Dis duidelik dat Quintus baie van Jacques se humorsin hou – waar hy hom bevind, kan jy maar weet daar gaan lekker gelag word.
“Quintus en Ria is ’n oulike couple, en hulle is so mooi met mekaar ook. Hulle is baie sag met mekaar en weet hoe om mekaar te hanteer. Ja, ek dink hulle is nogal ’n goeie couple,” gee Daandré sy stempel van goedkeuring.
“Hoe lyk die pad vir julle tweetjies vorentoe?” wil Jacques van Quintus en Ria weet.
“Geteer,” kom dit blitsvinnig van Quintus, tot groot vermaak van die hele groep. Maar Jacques wil meer weet, soos hoe hulle dit gaan hanteer.
“Dag vir dag,” sê Ria en al wat Jacques kan uitkry is: “Sheesh . . . Julle is nou soos my vyf-minute onderhoude. Klaar! Jy vra iets en dan kry jy daai antwoorde.”
Dan word daar altyd gesê vroue is die nuuskieriges, maar Jacques is heel duidelik op ’n veldtog van sy eie om meer inligting uit die twee te trek.
“Brei ’n bietjie uit, man,” stu hy voort.
Quintus gee toe dat hy darem al Ria se nommer in die hande het.

Ook Mikal is van mening dat dié twee mense is wat weet wat hulle in die lewe wil hê en hulle is gemaklik met mekaar.
So kry elkeen om die tafel ’n beurt om meer uit te wei oor wat die afgelope tyd gebeur het.
Danelle vertel sy hoef niks aan JW se huis te verander nie. Toe sy onlangs by hom gaan kuier het, was daar reeds foto’s van hulle twee in fotorame in die huis geplaas. Dat JW die skoot hemelhoog deur het, is nie te betwyfel nie.
Mikal en hy het saam na KZN gevlieg en hy het vir haar gewys hoeveel vlugte alreeds bespreek is vir komende kuiers.
Quintus dink JW en Danelle is die gunsteling-paartjie op die oomblik. “Hulle is cute en hulle is gelukkig en hulle het so half klaar erken vir mekaar ‘hoorie, dis waar dit is’. Die res van ons is nog so ’n paar treë agter,” sê Quintus.
“Ons kan nou nie help nie, ons sê vir mekaar hoe ons voel. Maar tog, ander mense sien dit nou en dit help nie mens steek dit weg nie,” kom dit van JW nadat Jacques hulle twee genadeloos begin terg het.
Tyd vir uitstappies
Quintus en Ria
Quintus en Ria bevind hulle by ’n lodge so ’n entjie van St Lucia af. Dit duur nie lank voordat hulle wild, waaronder kameelperde, ’n renoster en bokke, gewaar nie. Terwyl hulle in die koorsboom-woud stap, wil Quintus by Ria weet of sy dalk enige dorings het waarvan hy moet kennis dra. Sy erken dat sy glad nie ’n oggendmens is nie. Sy geniet dit dat hulle mekaar nog steeds elke dag beter leer ken en iets nuut rondom die ander persoon ontdek. Vir haar is een van die belangrikste aspekte van hul vriendskap dat sy veilig by hom voel en weet sy kan ook haar swakhede met hom deel.

Ria sê sy is geneig om frustrasies op te krop en dan op ’n dag sal dit uitbars. “Maar ek sal nie skree nie, ek sal net baie kwaai wees,” vertel sy vir hom. En as dit die dag oopbars?
“Dan sal ek net baie duidelik sê ‘luister, hierdie en hierdie en hierdie goed wat jy gedoen het, maak my kwaad. Hou op.’ En dan’s dit klaar. Maar dan sal skrik want jy’t nie verwag dat ek dit dadelik sal sê nie.”
“Orraait, dis nogals ’n doring,” kom dit droogweg van Quintus. Ria stem saam, maar noem dat dit wel iets is waaraan sy werk. Sy is onseker of dit nou die regte tyd was om dit aan hom te noem, maar stel dit aan hom dat hy sélf ook daarop ingestel is om mense altyd tevrede te stel.
“Dit lyk vir my ek en Ria sit met dieselfde probleem met die manier van hoe ons konflik hanteer, die manier van hoe ons goeters prosesseer. Dit lyk my ons is in dieselfde bootjie, en dis iets waaraan ons saam kan werk,” sê Quintus.
“Ek word kwaai as ek honger is, maar ek dink jy weet dit al,” deel hy lighartig een van sy “dorings” met haar.
Later vertel Ria hulle het aanvanklik ná die week op die plaas, boodskappe vir mekaar gestuur. Maar weldra het Quintus gevra dat sy vir hom stemnotas moet stuur omdat dit vir hom belangriker was as net boodskappe.
“Ek en Ria het half ’n lekker verhouding op die stadium, as ek dit so kan sê. Lekker verhouding in die sin van ek en sy weet wat is die toekoms. Ons weet wat is die volgende stap, maar ons geniet hierdie deel van die reis so baie, dat ons voel ‘hoekom nou daar skip of dele skip om by daai lekker, lekker deel te kom?’ Daar’s mos nou niks wat ons jaag nie,” kom dit van Quintus.
“Dis wat lekker is van my en Ria. Ons geniet wat ons doen want ons weet waa’ntoe ons op pad is. As ons aanhou soos ons nou aanhou, dan is ’n verhouding die volgende stap.”

Oor ’n hetige bunny chow en koue vonkelwyn besef Quintus dat hulle altwee hulself kan wees by mekaar. Daar heers ’n gemoedelike samesyn vol grappies en lekker gesels, terwyl die kerrie vir Quintus laat sweet.
Quintus voel die bal is nou aan sy kant van die net en dat sy volgende stap baie belangrik gaan wees. En hy gaan sy gedagtes goed moet orden om dit reg te benader.
Op haar beurt hoop Ria vir soveel meer tussen hulle.
Niel en Mikal
Ssssss…lange. Iets waarvoor Mikal ’n groot vrees het. Niel voel nes sy oor slange. Maar dis juis waar Niel en sy hulself bevind: die Snakeozeum-slangpark in die Zulu Crock Wildlife Park!
Terwyl die slanghanteerder een na die ander slang aan hulle voorstel, is dit duidelik dat Mikal veral baie senuweeagtig is. Niel het dit darem gewaag om een van die slange se sterte te voel.
Niel was gefassineerd deur die pofadder. Hoewel dit kleiner was as wat hy gedink het dit sou wees, het hy besef grootte maak nie saak wat dodelikheid betref nie. Mikal se oë was pieringgroot toe hulle onverwags aan Wayne voorgestel word.
“Hier staan hierdie man met ’n slang om sy nek, hierdie groot python. Dit was nogal scary!” maar toe Niel haar nooi om nader te staan aan die slang, probeer sy wel om daaraan te raak. Een soliede stuk slang – maar sy kan nie die nodige moed bymekaarskraap om dit te doen nie. Niel waag dit wel om die slang om sy nek toe te laat. Mikal sê sy besef net al hoe meer hoe Niel elke nuwe uitdaging met soveel opgewondenheid takel en dat hy beslis in die oomblik leef. Dalk het Niel se waagmoed ’n impak op haar gehad en sy besluit om tog wel die slang op haar skouers te laat sit. Maar sy dink nie sy gaan dit ooit weer doen nie.

By die krokodille het die twee meer gemaklik aan die Nyl-krokodil geraak. Maar toe die rakker nie daarvan hou nie en erg begin wriemel, het Niel baie beslis groot geskrik.
“Hierdie oomblikke is rêrig vir my kosbaar saam met Mikal. In ’n mate, vir my, is dit nog deel van die lekkergeit van waar ons mekaar nog leer ken, sien wat vir haar lekker is en wat nie vir haar lekker is nie.
“Ek voel ons het nog nie rêrig genoeg tyd saam spandeer, jy weet, so one-on-one amper nie. So, hierdie is vir my rêrig kosbare oomblikke saam met haar,” vertel Niel.
Mikal het eerste sake begin aanroer toe sy by Niel wil weet waar sy kop staan en waar hulle met mekaar staan. In reaksie daarop noem hy dat hy beslis wou hê sy moes die vakansieweek saam met hom deurbring.

“Ek verstaan jy soek daai duidelikheid oor goed, maar… Om oor gevoelens en emosies te praat is nie iets wat by nature vir my kom nie. Ek dink dis ook hoekom ek nie vir jou daai sekerheid gee nie. Want my kop kort ook ’n bietjie spasie, my eie privaatheid om ’n duidelike keuse vir myself ook te maak,” sê Niel en erken dat hy onseker is of hy so gou reeds gereed is vir ’n ernstige verhouding.
Hy beskryf homself verder as iemand wat stadig is om teenoor ander mense oop te maak en dat hy eintlik ’n baie private mens is.
Mikal sê sy hoor wat hy sê, alhoewel sy gehoop het sy sal meer duidelikheid hê oor hul pad vorentoe. Maar sy gaan beslis nie druk op hom plaas nie. Sy besef wanneer sy hom spasie gee, hy meer teenoor haar oopmaak. Sy wil eerder dit wat hulle nou het, meer geniet. Wat wel vir haar bemoedigend is, is dat Niel van haar hou en haar graag beter wil leer ken.
Vir Niel gaan dit daaroor om nie té vinnig betrokke te raak nie, ingeval sake nie uitwerk nie en dan gaan iemand seerkry. Maar hy wil steeds kontak behou en tyd met haar spandeer.
Hy erken wel dat, ten spyte van sy kop wat deurmekaar is, hy werklik baie van Mikal hou en dat hy dink sy is stunning. En iewers, diep onder, wonder hy reeds of sy dalk die mens vir hom is . . .
JW en Danelle
Met koedoes, buffels en bokke as geselskap, bevind die twee hulle op ’n wildrit met die wind wat woelig waai terwyl ’n sagte reëntjie val. Hul volgende bestemming was iets wat nie een van die twee verwag het nie: snorkel!
Danelle was baie opgewonde daaroor want dis nie juis iets wat sy en JW al gedoen het nie, en nou kry hulle die kans om dit saam te doen. JW self het dit ook baie geniet want dit was die eerste keer dat hy tussen die visse swem.

“Elke oomblik wat ek en hy saam is, maak ons die beste van want ons weet op die oomblik is afstand maar eintlik die grootste ding tussen ons. Ja, elke liewe oomblik geniet ek so baie saam met hom,” sê Danelle.
“Ons het 11 dae by mekaar spandeer, wat half die eerste uitdaging in ons verhouding was. Maar op die ou einde was dit glad nie uitdagend nie. Want dit was net lekker en dit was net goed en ons het soveel lekker tyd saam spandeer.”
Op sy beurt vertel JW hulle geniet mekaar se geselskap en ook die tyd wat hulle saam kan spandeer. Veral die tyd word baie waardeer vanweë die 1 400 km wat hulle van mekaar skei.
“Ons is definitief seker oor hoe ons voel, want ons wys dit vir mekaar en ons sê dit vir mekaar.” En as hulle by mekaar is, word daar ook graag diep in die ander se oë gekyk. Hy het ook besef hy is ernstig oor Danelle toe sy op die plaas agtergebly het nadat hy sy finale keuse gemaak het.
“En toe’t ek vir haar so ’n ringetjie gegee; half as ’n promise ring vir die belofte, vir die afstand en dinge wat nog op ons wag, en die uitdagings,” vertel die jong boer.
“Ja, ek sal sê van die begin af het ek daai konneksie met jou gevoel en daai gevoelens het net sterker en sterker geraak. Hoe meer ek jou leer ken het, hoe meer het ek gehou van wat ek gehoor en gesien het.

“Daai verlief is daar, en ek is definitief, definitief lief vír jou. En daar’s baie liefde hierbinne,” erken ’n gelukkige JW aan ’n ewe gelukkige Danelle.
Sy sê die gevoelens is wederkerig en sy het baie liefde om met JW te deel.
JW erken hy moet homself soms so ’n bietjie knyp om te besef Danelle staan voor hom en hoe hy rêrig oor haar voel.
Daandré en Marisca
Marisca het ’n oomblik van “excitement overflow” gehad toe sy en Daandré by die Zululand Cat Conservation Project in Hluhluwe opdaag. Sy is ’n groot katliefhebber en dit maak nie saak hoe groot, klein, gevaarlik of vriendelik die katfamilie is nie . . .
Daandré is net so opgewonde, maar dit gaan meer daaroor dat hy tyd met Marisca spandeer. En hy het haar reaksie op al die verskillende katte – van rooikatte en tierkatte tot ’n cheetah – as die kosbaarste ding ervaar.

“Ek kan nie dink hoe dit sou wees as ek hierdie alleen moes doen nie. Maar dit was so lekker om letterlik by die katte te staan, en dan kom Daandré en hy sit sy arm om my… En dan klop my hart, want ek sien my favourite diere en sy arm is om my… Dit was rêrig net the best of both worlds,” kom dit van Marisca.
“Ons het nie ’n official titel vir dit (ons verhouding) nie, maar soos Daandré sê ‘nog nie’. Ek dink dis die lekkerste deel. Ek is nog nie sy meisie nie, maar dis obviously ook nie niks nie.”
“Ek het haar nog net nie gevra om my meisie te wees nie, want ons wou net eers deur vakansieweek kom. So, ek sal sê ons is op ’n baie goeie plek. Ons verstaan mekaar, ons is gemaklik met mekaar. So ja, ek is baie excited,” is Daandré se reaksie.
Marisca vertel sy het op 8 April verlede jaar ’n gebed in haar dagboek geskryf. Dit was gerig aan haar man van eendag . . . “En vandag sit ons hier. Dis 10 April, een jaar later. En dit waarvoor ek gebid het . . . dit het ek 10 keer meer gekry,” vertel Marisca terwyl die trane vlak lê.

Daandré probeer by Marisca uitvis wat in haar kop aangaan. Weldra gee sy toe dat sy werklik baie van hom hou.
“Nee, ek moet sê, ek het nooit gedink ’n mens gaan so maklik vir iemand val nie,” sê hy vir haar.
“Ek is baie opgewonde oor ons pad vorentoe. ’n Mens raak emosioneel en opgewonde en alles op een tyd om daaraan te dink. Want jy kan nie dink ses, sewe maande later sit jy met iemand so special langs jou nie. So ja, baie opgewonde,” kom dit van ’n baie emosionele Daandré.
“Jy’t jou hele lewe lank gebid vir die persoon wat jy graag wil hê langs jou sy. En as jy voel al die gebede wat jy opgestuur het, het nou realiteit geword. En dan besef jy hoe groot die Here nou eintlik is. Kyk waar sit ons vandag,” sê hy terwyl hy sukkel om sy trane te beheer.
Toe hy vir Marisca sê sy hart klop warm en vinnig, wil sy weet of hy kan sê hy is verlief. En hy bevestig dat dit inderdaad die geval is. Sy erken dat sy 110% verlief is op hom.
“Ja, dis lekker as ’n girl vir jou sê ‘ek is verlief op jou’. Ek het nooit gedink ek gaan daai woorde hoor nie, ek het nooit so ver daaraan gedink nie. En om dit actually te kan hoor en te besef ‘hoorie, maar die persoon is actually . . . sy’s verlief op jou’. Jy’t haar hook, line and sinker . . . dis daar. Dis jou forever story om te kan vertel.”
Jacques
“Persoonlik het ek nogals baie geleer van my kant af en dat daar nog baie opofferings van my kant gaan moet kom. ’n Girl gaan nie net in my skoot val nie. Jou tyd en die Here se tyd is maar altyd verskillend.
“Dis sleg dat ek nie iemand special hier het nie, maar ek sal haar graag eendag hier wil kom wys.”
Die nuwe aanbieder van Boer soek ’n Vrou word Donderdag, 17 Oktober 2024, op Bravo! om 21:00 op kykNET aangekondig. Marciel Hopkins, wat ook ’n Bravo!-aanbieder is, sal tydens dié episode met haar opvolger gesels.
Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer.