Menu terloops
In Recaps & Resensies [22 Aug 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Die boere moet kies – maar daar’s ’n onverwagte kinkel…


Wat kan dan nou meer opwindend wees as ’n romantiese afspraak om ’n dieper band te vorm? Dís wat die lot liefdejagters in hierdie episode van kykNET se gewilde maatsoekreeks ‘Boer soek ’n vrou’ doen. En gaan die boere moet besluit oor wie hul tasse moet pak? 

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Die boere moet kies – maar daar’s ’n onverwagte kinkel…

“Die reis na liefde kan ’n avontuur wees, maar die pad na iemand se hart is soms ’n onvoorspelbare roete wat ’n mens sonder ’n padkaart moet aanpak,” sê Marciel Hopkins, aanbieder van Boer soek ’n vrou, aan die begin van dié week se episode.

Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap  

Die boer wat bekend is vir sy kwinkslae, neem sy gaste na die Gariepdam om ’n bietjie te ontspan.

“Ek is nou nie daai ou wat jou gaan verras met ’n piekniek daar bo-op die berg nie, waar jy om die hoek stap en daar’s sjampanje en die mandjie is uitgelê nie,” vertel hy vir sy twee gaste. Kykers sal onthou dat Dánika in die vorige episode aangekondig het dat sy vanweë werksverpligtinge van die saamkuier-naweek moet onttrek.

Sharezaan dink sy sin vir humor is enig in sy soort terwyl hy vir Nicole aan haar boetie herinner. Sy sê dit kan moeilik wees vir ’n terggees wanneer daar iemand wat sensitief kan wees, in die prentjie is.

Jacques wil vasstel hoe jonk van gees die twee is en pret saam met hom sal hê op die water en of is hulle dalk “ladybirds wat net heeltyd hier op ’n tak wil sit en mooi lyk”.

Hy besef die twee is kompeterend en besluit hy gaan ’n bietjie vuilspel inspan. Terwyl hulle vervaard agter ’n skiboot gesleep word as deel van die tubing-ervaring, begin hy sy gewig rondgooi. Sharezaan is die eerste slagoffer wat in die water beland.

Boer soek 'n vrou
Boer Jacques het vuilspel ingespan om vir Sharezaan en Nicole in die water te laat beland. Foto: Skermgreep

Boer Jacques erken hy het die pot ekstra geroer en was selfs bly toe die twee na afloop van die dag (en nog ’n paar keer se afval) vir hom kwaad was. Dit is presies wat hy wou gehad het moet gebeur.

“Ek is lief om te baklei,” erken boer Jacques onomwonde en sê dat mense nie moet terugstaan nie.

Marciel kom kuier

“Met net twee dames gaan hierdie ’n moeilike keuse wees,” sê sy.

Sharezaan erken sy’s redelik moeg ná afloop van die moeilike, dog opwindende pretdag op die water.

“Ek dink die onbekende is dalk ’n bietjie stresvol op die huidige oomblik. Die moontlikheid van nou al huis toe gaan, is nogals senutergend.” 

“Ek is 100% iemand wat so ’n bietjie meer terugtrek. Soos wat ek gemakliker raak, dan raak dit beter, maar ek dink aanvanklik dan’s ek geneig om ’n bietjie meer teruggetrokke te wees,” kom dit van Nicole.

Wat dink boer Jacques?

“Ek dink net my persoonlikheid laat dit dalk nie toe dat beide compatible is nie omdat nie een van die twee persone dieselfde is nie. Ek dink dat een meisie is net baie meer te sensitief en te saggeaard. 

“Ek gaan nie aan my verander nie. So, ek moet eerlik wees en dit kan raaksien. Ek weet met wie ek wil tyd spandeer,” kom dit van hom. 

Die groot besluit

“Met elke oomblik in hierdie proses waar mens meer tyd saam spandeer deur vrae te vra, meer van jouself te deel, leer jy iemand regtig ken. Maar dis ook in jou eie hande hoe baie jy toelaat vir iemand om jou te leer ken. 

Boer soek 'n vrou
En toe kom die verrassing… Foto: Skermgreep

“En om die klein deeltjies van jouself te wys is baie kosbaar en baie belangrik in hierdie proses,” sê Marciel aan Sharezaan en Nicole.

Omdat Dánika reeds tydens die aanmeld vir die plaaskuier gegroet het, gaan niemand vanaand huis toe nie.

“Lekker,” is al wat boer Jacques glimlaggend kan uitkry. Maar hy is nie heeltemal gelukkig daaroor nie. Hy voel hy het homself reeds voorberei om ’n keuse te maak, en nou word dit met nog ’n dag uitgestel.

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Verder weg van die waterpret, kies boer Daandré ziplining in die Magaliesberge vir sy gaste. Die Magaliesberge lê hom na aan die hart want hy het daar grootgeword en dis ook waar sy oupa-hulle geboer  het.

Elizette onthou dat sy op tweejarige ouderdom ’n paar vingers verloor het toe sy haar hand in ’n trekker se koeëllaers (bearings) gedruk het. Dit het egter geen impak op haar aanpasbaarheid gehad nie.

Boer soek 'n vrou
Avonture saam met boer Daandré. Foto: Skermgreep

Lize-Mari sê boer Daandré is glo self nie gek oor hoogtes nie, maar ten spyte daarvan maak hy seker dat sy gaste niks nodig het nie. Sy sê hy laat almal deel van die groep voel. 

Op haar beurt beskryf Marisca hom as ’n baie regverdige man, maar dit frustreer haar dat hy nog ’n toe boek is. Volgens haar is boer Daandré baie neutraal teenoor al drie van hulle, maar sy sou veel eerder wou sien of een van hulle meer aandag van hom kry.

Hy hou vas by sy gesprek met al drie – en dit is dat hy nie sy gevoelens op ’n skinkbord gaan plaas nie. Dis iets wat hy met elkeen apart sal deel want hy wil nie iemand seermaak nie.

Marciel kom kuier

Sy kan nie help om te wonder hoe gereed boer Daandré is om ’n keuse te maak nie. Intussen pak al drie die dames hul tasse. En die spanning is tasbaar.

Elizette sê sy probeer nog uitwerk hoe en waar sy is met haar emosies, terwyl Lize-Mari nog langer op die plaas wil bly om boer Daandré beter leer ken. Marisca is oortuig sy kan ’n toekoms op die plaas sien. 

Wat dink boer Daandré?

“My hart is rustig,” sê boer Daandré. 

Dis vir hom lekker om die drietal daar te hê, maar noem dat hy aan die einde van die dag op sy instink moet staatmaak. Hy raak baie emosioneel toe hy erken hy het nie besef hoeveel emosies daar bestaan nie en sê vir Marciel dis omdat daar harte op die spel is.

“Ek wil nie hê hulle moet seerkry nie,” en sê hy gaan dit met behulp van die Heilige Gees hanteer.

Die groot besluit

“My hart is rustig,” sê boer Daandré.  Foto: Skermgreep

Boer Daandré het vroeër aan Marciel erken om so ’n groot besluit het bietjie vinniger gekom as wat hy verwag het.

“Om te verhoed dat enige oorhaastige besluite geneem gaan word, Daandré, gaan ek vir jou op ’n latere stadium die kans gee om ’n meer ingeligte besluit te neem. Dus gaan niemand vanaand huis toe nie,” kondig Marciel aan.

“Heerlikheid, mens, jy moenie hierdie nonsens aanjaag nie,” kom dat van boer Daandré. “Julle maak nie reg nie, glad nie.”

Lize-Mari erken sy voel ’n bietjie deurmekaar in hierdie stadium want dit was die allerlaaste wat sy verwag het. Ook Elizette vind die besluit verwarrend en noem dat  emosies die hoogte ingeskiet het. Maar Marisca sien dit as ’n geleentheid om met groter selfvertroue vir boer Daandré te nader om meer oop te maak.

Boer JW (24) van Villiersdorp

Hy hou baie van die natuur, en daarom besluit hy om sy gaste op ’n vierwielmotorfiets-ervaring deur die Grabouw 4×4-roete te neem.

Nevé reageer flink toe boer JW wil weet wie gaan agterop ry – sy woorde was skaars koud, toe’s sy daar. Mieke was baie opgewonde oor die uitstappie sodat sy kan wys sy is nie vol nonsens nie: “Ek sal ’n bietjie stof kan vat.” 

Vir Danelle is die speelsheid en die gemak wat sy ervaar van die begin af, betekenisvol.

Tussendeur hang daar tog ’n donker wolk oor almal se koppe. Wie moet hierdie keer tasse pak?

Boer JW gee die verantwoordelikheid van vrae vra oor aan die drietal toe hulle vir ’n rukkie tot stilstand kom om ietsie te geniet. Nevé spring weg en wil weet wat hy uit vorige verhoudings geleer het.

“Definitief eerlikheid en kommunikasie is baie belangrik. As jy kan kommunikeer dan kan jy maklik ’n probleem uitsorteer, en jy moet gemaklik kan wees met daai persoon,” kom dit kort en kragtig van hom. 

Danelle gaan akkoord met boer JW se antwoorde en voeg by dat vertroue volg wanneer eerlikheid en kommunikasie nie geringskat word nie.

Marciel kom kuier

Mieke erken boer JW maak haar beslis opgewonde en sy het waardering vir sy skerp humorsin. Sy probeer hard om nie te veel hoop op sy keuse te vestig nie en volstaan by wat in die oomblik gebeur.

“Ek voel die tyd wat ons gehad het, het ons definitief benut en die beste daarvan gemaak,” kom dit van Danelle en sê sy het soveel moontlik vrae gevra en uitgevind wat sy kon binne die kort tydjie saam.

Nevé voel gekortwiek deur die teenwoordigheid van ander mense en dat sy nie op enigiemand se tone wil trap nie. 

Wat dink boer JW? 

Boer JW vertel vir Marciel die nuwe lewe in die huis en die geselskap was vir hom ’n positiewe ervaring.

“Ek sal sê ek is iemand wat realisties na dinge kyk. So, ek het dit so klein bietjie vooruit loop speel en vir myself bietjie uitgewerk hoe dinge dalk kan lyk in die toekoms en ek het maar net gegaan op daai eerste indrukke, die geselse wat ons al gehad het, die bietjie alleentyd en ek het daarvolgens my besluit gemaak,” sê hy.

Die spanning was hoog voordat die vroue gehoor het hulle kry nog tyd om vir boer JW beter te leer ken. Foto: Verskaf

Die groot besluit

Boer JW sê hy sal nie al die snaakse en flou grappe vergeet nie, ook nie hoe hulle die draak gesteek het met mekaar nie.

“Tyd is die grootste geskenk wat ’n mens vir iemand kan gee,” sê Marciel aan boer JW en sy gaste voordat sy die bom los dat niemand vanaand huis toe gaan nie. 

Boer JW sukkel om sy woorde te vind, maar noem dat hy steeds seker is oor die besluit wat hy geneem het.

Mieke sê dit was duidelik dat boer JW onkant betrap is deur Marciel se aankondiging. En Nevé wil weet wat in sy kop aangaan omdat hy gesê het dat hy reeds sy besluit geneem het. En Danelle wens daar was reeds duidelikheid oor wie huiswaarts moes keer.

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Niel neem sy gaste op ’n romantiese afspraak by Umzolozolo, ’n nabygeleë natuurreservaat waar hulle met harmonieuse tradisionele musiek en drankies verwelkom word.

Aniska voel dat die groep dames redelik gemaklik is met mekaar en dat hulle reeds ’n idee het waar almal staan.

Tydens die wildrit is dit duidelik dat boer Niel nie heeltemal so bekend met die diere is nie, maar Aniska is telkemale in die kol met haar kennis.

Hestia sê sy het ’n bietjie sleg gevoel omdat sy tydens die wildrit langs boer Niel gesit het. Al het hy langs haar gesit, het hy deurentyd al drie dames by die gesprek betrek. 

Op sy beurt erken boer Niel dis lekker om met almal te praat, maar dit is meer oppervlakkige gesprekke.

“Ek wil nie hê dat julle na die week voel ons het nie alles ingesit nie, daar’s meer wat jy wou gee of gesê het of . . . daai tipe van ding,” is boer Niel se boodskap aan sy drie gaste.

Marciel kom kuier

Hestia sê sonder huiwering sy kan ’n lewe saam met boer Niel sien en vertel dat hulle elkeen na afloop van middagete alleentyd met hom gehad het. 

Op haar beurt voel Mikal die plaaslewe is vir haar en sy kan haarself sien kinders grootmaak daar in die toekoms. 

Wat dink boer Niel?

“Die laaste twee dae was baie opwindend gewees. Ek het tyd met die meisies spandeer en ja, dit voel of ek hulle nou soveel beter leer ken het,” vertel boer Niel vir Marciel. En noem dat hy klein goedjies opgetel het wat vir die drietal belangrik is.

“Ek dink ekstra one-on-one kan definitief meer help, daar’s geen twyfel nie. Ek meen, hoe goed kan jy iemand rêrig leer ken in sulke tyd? Ek voel jy kan hul harte begin leer ken, tog is daar net ’n week en is dit eintlik genoeg? 

“Maar ek dink dit is daai klein risiko, daai klein kans wat jy vat, om ietsie te sien in hulle wat miskien ’n groot ding kan word in die toekoms,” sê hy vir Marciel.

Die vroue wag om van boer Niel te hoor… Foto: Skermgreep

Die groot besluit

“Die lewe gee vir ’n mens baie geleenthede. Soms kom die geleenthede op ’n silwer skinkbord, soms mis mens uit op ’n geleentheid,” sê Marciel en noem dat sy vir hulle ’n geleentheid wil bied om mekaar beter te leer ken. Daarom gaan niemand huis toe nie.

Wow, hoe’s dit? Jissie,” kom dit van boer Niel wat nie mooi weet hoe om op dié nuus te reageer nie, maar erken dat hy sommer die bibberasie het. 

Sy drie gaste kan hul verligting nie keer nie en vir ’n wyle is die spanning van die oomblik vergete.

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat

Op Boschrand wens Boer Quintus hy kan meer oor Veronica uitvind. Hy sê hy sien net vraagtekens as hy na haar kyk. Hy kan nie heeltemal die regte woorde vind om sy belangstelling te beskryf nie.

Op haar beurt voel Veronica of daar gevoelens besig is om te ontwikkel jeens boer Quintus.

“Ek voel die heeltyd Ria is soos die ma in hierdie groep. Sy is so die verantwoordelike een en dit bly so deurkom asof sy half gereserveerd is met wat sy sê. En sy maak grappies! Dis lekker,” erken boer Quintus.

“Emsoné. Sy is die een wat wil sorg,” som hy haar op.

Ria voel dat die groep gemaklik met mekaar is en dat daar enersyds oor oppervlakkige en diep onderwerpe gesprek gevoer kan word en dat boer Quintus ’n groot rol daarin speel.

Veronica stook die ketel met haar vraag of boer Quintus gaan verwag sy vrou met heeltyd by hom wees en of sy by tye weg van die plaas kan wees. 

Hy erken hy moet dit realisties benader en alhoewel hy sou verkies dat sy heeltyd daar moet wees, moet hy ook aanvaar daar sal tye wees dat hulle nie bymekaar sal wees nie.

Marciel kom kuier

Ria vertel vir Marciel dat sy baie opgewonde voel oor boer Quintus omdat hy so baie oopgemaak het teenoor hulle. Sy kan nie wag om hom beter te leer ken nie en vestig haar hoop daarop dat sy een van die twee dames is wat langer op die plaas sal aanbly. 

Vir Veronica tiek boer Quintus byna al die boksies op haar lysie. Sy is op dieselfde bladsy as hy wat betref die soeke na iemand om saam mee te bid.

En op haar beurt val alles in plek soos ’n legkaart vir Emsoné.

Wat dink boer Quintus?

Boer Quintus se gaste kry nog tyd om hom beter te leer ken. Foto: Skermgreep

“Met een en elkeen van die drie meisies wat hier is, sal ek ’n pad kan stap. Definitief. Hoe kies ’n mens as jy van al drie hou?” wil ’n radelose boer Quintus van Marciel hoor.

Die groot besluit

Boer Quintus het vir Marciel vroeër gesê hy wens hy het net ’n klein bietjie meer tyd met sy gaste gehad voordat hy sy keuse moes maak. Die drie dames het presies dieselfde vir Marciel gesê.

Marciel noem dat hul wense die situasie besonder moeilik.

“Vir 16 jaar al maak Boer soek ’n vrou mense se wense waar. Vanaand is een van daai aande. Niemand gaan huis toe nie,” lig sy hulle in.

Dis ’n oorblufte boer Quintus wat na Marciel draai en vra: “Wat?! Is jy rêrig ernstig?” waarop hy vra of hy die drie dames elk ’n drukkie kan gee.


Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies