Menu terloops
In Recaps & Resensies [29 Aug 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Alleentyd, speeltyd en huis toe-tyd vir die vroue


Die boere bly alleen agter terwyl die dames elders gaan kerjakker, en iemand moet haar tasse pak in die nuutste episode van ‘Boer soek ’n vrou’.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom aanlyn

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Alleentyd, speeltyd en huis toe-tyd vir die vroue

In verlede week se episode is daar behoorlik ’n stokkie in die speke van die boere se keuse-wiel gesteek toe die aanbieder, Marciel Hopkins, aangedui het dat hulle langer tyd gegun word om daardie groot besluit te neem. Dit was ’n eerste ooit vir kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou.  

“Onafhanklikheid is belangrik want jou boer gaan nie altyd langs jou wees nie,” waarsku Marciel die voornemende boervroue.

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Dis Dag 3 op boer Niel se plaas en die drie dames kry die eerste keer die geleentheid om vir hom kos te maak. En die man is beïndruk. Hy noem ook dat hy beter voel vandag omdat hy meer duidelikheid het oor dinge.

Boer Niel het ná Marciel se vertrek die vorige aand, alleentyd met elkeen van die dames deurgebring. Tydens dié gesprek met hom, het Hestia boer Niel verseker sy’s beslis nog in die spel en dat sy wil hê dit moet uitwerk. 

Vir boer Niel is dit baie lekker om meer tyd met die drietal deur te bring al weet hy nie heeltemal wat in die mou gevoer word deur die Boer soek ’n vrou-span nie.

Mikal is ook vasbeslote om die beste te maak van die ekstra tyd wat hulle op die plaas gegun is. 

Tot waar boer Niel ’n teksboodskap van Marciel ontvang . . .

“Liewe Niel, nog ’n dag, nog ’n geleentheid om liefde te vind. Mikal, Aniska en Hestia moet vandag op hul eie avontuur gaan. Hulle moet Glencoe verken. Daar is reeds ’n braai-aand beplan en nou moet die drie dames ’n nuwe uitrusting op die dorp gaan kry vir hierdie spesiale aand en dalk sommer kyk of hulle groen vingers het. Groete, Marciel.”

Aniska is heel rustig met die idee om sonder boer Niel dorp toe te gaan.

Maar boer Niel bly alleen met baie gedagtes wat deur sy kop maak. 

“In 24 uur kan baie dinge verander. Wat dit makliker is vir my dalk, maar nie die einde makliker nie want ’n mens kan net met een persoon wegstap.” 

Glencoe

Die drie is dit eens dat 12 minute van die dorp darem nie te ver is nie. Een van die plekke waar daar gestop is, is die kwekery waar die dames moes besluit waarmee hulle hul groen vingers gaan beproef.

Intussen is Hestia krummelrig omdat sy veel eerder tyd met boer Niel wou deurbring as met die twee ander dames op ’n uitstappie. Op haar beurt bevraagteken Aniska of dit wat sy en boer Niel in gemeen het, voldoende is want sy gebrekkige kennis tydens die wildrit het haar onkant betrap.

“Ek sal wou gehad het my man moet die verskil ken tussen ’n springbok en ’n rooibok,” sê sy.

Marciel kom kuier

Boer soek 'n vrou
Boer Niel en Marciel gesels. Foto: Verskaf

Boer Niel erken die stilte op die plaas is welkom, maar hy mis die geselskap. Hy sê vir Marciel Glencoe is dalk ’n bietjie van ’n uitdaging vir die dames omdat dit so klein is, alhoewel hy glo dis ’n lekker dorpie.

Ná Marciel se vertrek die vorige aand, het boer Niel en die drietal rondgery en alleengesprekke gehad. Hy is oortuig almal weet waar hulle met hom staan en waarheen daar beweeg gaan word die volgende paar dae.

Hy beraam planne om alleentyd met elkeen van die dames te spandeer sodra hulle van Glencoe af terugkeer om belangrike sake met hulle te bespreek.

Uit en tuis

Mikal is eerste aan die beurt en sy vertel dat die uitstappie vir haar baie lekker was. Alhoewel sy sewe jaar reeds op Stellenbosch bly, voel sy haar wortels is steeds diep geanker in die plaaslewe. Dis ook waar sy haar kinders wil laat grootword.

Hoe hanteer Hestia dit as dinge nie gladweg verloop nie? Sy glo in tweede kanse, sê sy. En opgee is nie sommer die opsie nie. Jy moet soms met en vir mekaar baklei. Boer Niel erken sy het hom reeds van die vorige dag af verbaas met haar diepte. En dat sy iemand is wat hy beter wil leer ken.

Aniska sê sy het vrede in haar hart met wat ook al mag gebeur. Boer Niel komplimenteer haar en sê dis een van haar mooiste eienskappe – die feit dat sy dit oor ander mense maak. 

Hy erken vir hom is dit ook moeilik om homself in ’n groep te wees en dat dit vir hom baie lekker is om so met haar op haar eie te kan praat.

Maar boer Niel word ’n moeilike taak opgelê voor die aand se braai begin. Hy moet na die uitrustings kyk en besluit watter dame het watter uitrusting vir die aand aangeskaf. Hy verras hulle almal – en kies Aniska se uitrusting eerste. In die kol. En dieselfde is die geval met die ander twee uitrustings.

Wat maak Marciel daar?

Ook Marciel is beïndruk met boer Niel se vermoë om die regte uitrustings te kies. 

“Julle, ek is vanaand hier om te sê dat die geleentheid wat ek vir julle aangebied het om mekaar bietjie beter te leer ken, nou verby is, en dat iemand vanaand wel gaan huis toe gaan” sê sy.

Boer Niel moet kies

Boer soek 'n vrou
En toe het Hestia iets op die hart… Foto: Verskaf

Wat hy uit die proses geleer het, is dat hy meer oopkop moet wees en beslis nie permanente besluite moet neem gebaseer op een verrassing nie. 

“As dit by die liefde kom, moet – en kan ’n mens – altyd ’n mens se instinkte vertrou,” is Marciel se boodskap aan die drietal wat gespanne op boer Niel se besluit wag. 

Maar voordat boer Niel sy keuse maak, het Aniska iets op die hart. Maar dit sal moet wag tot die volgende episode.

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Boer Daandré erken dit was nie net die dames wat deur Marciel se aankondiging onkant betrap is nie. Hy self was uit die veld geslaan, maar is tog dankbaar oor die ekstra tyd wat hulle almal saam gegun is.

Boer Daandré het sy oggenddraffie ter syde gestel sodat die drie dames kans het om met hom te gesels. En hulle het die tyd waardeer.

Marciel se boodskap het die vreedsame ontbyt onderbreek. Die boodskap is soortgelyk aan die een wat boer Niel ontvang het, maar hier moet Elizette, Lize-Mari en Marisca hul eie voete in Hartbeespoort gaan vind.

“Om seker te maak jy vergeet niemand nie, onthou dat foto’s vir ewig herinneringe kan vasvang. Maak asseblief seker daar is genoeg kole vir wanneer hulle terugkom. Groete, Marciel.”

Marisca sê sy word werklik getoets in hierdie proses want sy is iemand wat daarvan hou om te beplan en te weet wat voorlê. Jammer, Marisca, maar dis nie hoe dit werk op Boer soek ’n vrou nie . . .

Lize-Mari sien uit na die uitstappie, en voel ook dat dit vir boer Daandré belangrik is om ’n bietjie alleentyd te hê. 

“Ek dink ek het op hierdie stadium gesien wat ek wíl sien om my besluit te kan finaliseer. So, ek het rustigheid in my, en vrede in my,” kom dit kalm van boer Daandré nadat die dames koers gekies het.

Hartbeespoort

Die drie dames bevind hulle in ’n winkelsentrum en sukkel om te besluit watter vleisie om te kies wat op die kole gaan beland.

Kort voor lank parkeer die Boer soek ’n vrou-bakkie voor StaTik, ’n fotografie-ateljee waar hulle deur Jean-Jacques verwelkom word.

Elizette sê sy geniet dit om foto’s saam met ander mense te neem, is vir haar lekker. Maar selfies? Nie heeltemal so gemaklik daarmee nie.

Maar die kamera kliek voort en die dames lyk asof hulle redelik goed voor die kamera én agter die kamera is.

Marciel kom kuier

“Gister was dit baie emosies, baie alles op een slag, en dit was vir my moeilik gewees want die heeltyd in my kop . . . jy’t klaar jou keuse gemaak, maar jy moet nog steeds equal wees tussen al drie,” vertel boer Daandré vir Marciel.

“Die girls het definitief geskrik. Ewe skielik het hulle almal besef hoorie, maar as hulle nie gaan begin oopmaak en actually share en die vrae wat hulle wil vra en share wat hulle wil share, gaan hulle nie weet watse kant toe om te gaan nie,” sê hy. 

Vir hom was die spesiaalste oomblik toe hy besef het die drie is daar vir hom en sy hart, nie net om daar te wees nie.

Uit en tuis 

Dis reeds donker toe die dames terugkeer plaas toe en boer Daandré kan nie wag om uit te vind wat hulle alles aangevang het nie. Gelukkig is hy tevrede met die vleissnit wat hulle gekoop het vir die aand se braai.

Skaam-skaam oorhandig die drie hul fotorame aan hom. Die meisies kon 10 foto-hoekies uit ’n moontlike 18 kies. Boer Daandré is diep beïndruk met hul kreatiwiteit en besluit net daar en dan dat die rame mooi inpas by sy huis se styl.

Boer Soek 'n vrou
Wie bly en wie ry? Foto: Verskaf

Wat maak Marciel daar?

“Ek is vanaand hier omdat iemand beslis vanaand huis toe gaan,” val sy met die deur in die huis.

Al drie is dit eens dat hulle baie graag nog langer op die plaas wil aanbly, waarop Marciel vir hulle sterkte toewens omdat iemand wel vanaand haar tasse sal moet pak.

Elizette beskryf hulle drie as betreklik “drama-vry” en alhoewel Marisca met haar saamstem daaroor, dink sy vorentoe gaan die pad moeiliker wees om te stap.

Boer Daandré moet kies

“Ek is heel rustig vanaand. ’n Mens het baie tyd gehad om te dink en ’n mens het baie goed ge-process, maar ’n klomp goed wat ek opgelet het en ervaar het, goed ook oor die spesifieke meisie. 

“Dis glad nie dat sy ’n slegte mens is nie, sy’s ’n baie goeie mens . . . Hulle is al drie baie goed, maar ek sien net dat ons twee nie baie lekker gaan kliek en dat ons in mekaar se wêrelde gaan inpas nie,” sê hy vir Marciel en noem dat dit vir hom oor haar volwassenheid in haar geloof en emosionele welstand gaan.

Hy is beslis van plan om meer van homself met die oorblywende twee dames te deel.

“Die dame wat vanaand huis toe gaan. . . uhm . . . is Lize-Mari,” kondig hy aan. Beide Marisca en Elizette voel dat daar hoop is vir hulle vorentoe, al is daar hartseer oor die vertrek van Lize-Mari. Daar is beslis hope gevoelens wat nou met boer Daandré gedeel gaan word.

Lize-Mari groet

Boer soek 'n vrou
Sy’t vrede oor Daandré se besluit, sê Lize-Mari. Foto: Skermgreep

“Ek het baie vrede. ’n Mens hoop maar om op die ou end die een te wees wat gekies word. Maar ja, ek dink dit het uitgewerk soos dit moet. Verseker. Ek het geleer ek kan nogal myself challenge en uit my comfort zone gaan,” is haar afskeidswoorde.

“Sy is ’n amazing mens, ek is net nie daai deksel vir haar pot nie,” sê boer Daandré.

Boer Jacques (27) van Venterstad, Oos-Kaap  

Dis boeretroos al die pad op boer Jacques se plaas op Dag 3. Dis weer sy ma se granola vir ontbyt en Sharezaan dink die man is nou al redelik g*tvol daarvoor en dat hy veel eerder lus is vir spek en eiers.

Marciel se teksboodskap onderbreek die granola-oomblik.

“Nicole en Sharezaan moet vandag op hul eie avontuur gaan terwyl jy op die plaas agterbly. Hulle moet Willem se Kampie-padstal besoek. Dalk verras hulle jou met iets vir die huis en iets vir jou maag. Groete, Marciel.”

Terwyl die twee dames wonder oor wat vir Jacques se maag kan wees, laat hy gladweg hoor: “Vra vir Jacques se favourite, hulle ken my favourites”.

Benewens roosterkoek, dreig boer Jacques om hulle vir ’n afval-kursus by Willem se Kampie te stuur.

Willem se Kampie-padstal

Sharezaan erken sy voel onseker oor die pad vorentoe omdat boer Jacques die vorige aand vir Nicole na haar kamer vergesel het en ’n goeie nag toegewens het. Hy het nie dieselfde met haar gedoen nie . . . 

Op pad na hul bestemming vertel sy vir Nicole oor haar onsekerheid en sê sy dink Nicole pas dalk beter by boer Jacques. Laggend erken Nicole sy voel presies dieselfde oor Sharezaan. Maar oor een ding stem die twee saam: jy kan nie vir boer Jacques lees nie.

Boer soek 'n vrou
Nicole en Sharezaan moes leer roosterkoek maak. Foto: Verskaf

Die padstal verbaas hulle. Nicole sê ’n padstal het ’n baie spesifieke reuk, maar dis juis die nostalgie daaraan verbonde wat haar bekoor. Sy onthou van koeksisters, tuisgebakte koekies – en hoe lekker dit altyd was.

Die twee ontmoet vir Annette Steyn, en sy gaan hulle help om ’n wildebeeskop vir boer Jacques te verf. 

Hulle ontmoet ook vir Lee wat hulle touwys gaan maak oor hoe jy nou eintlik roosterkoek maak – reg van die begin af met deeg en al! Boer Jacques gaan natuurlik die beste roosterkoek moet kies, en dit maak hulle effe senuweeagtig. 

Marciel kom kuier

Boer soek 'n vrou
Marciel en Boer Jacques gesels oor hoe stil die plaas is sonder die vroue. Foto: Verskaf

Boer Jacques is besig om die hoenders kos te gee toe Marciel opdaag. En hy herken die plaas is lekker toepstil met Nicole en Sharezaan aan’t rinkink. Maar hy kan nie help om te wonder wat hulle alles aanvang nie.

Hy erken aan haar dat dit vir hom dreinerend is om so gefokus op sy emosies en gevoelens te wees, en daaroor te praat. Hy gee laggend toe dit gee wel meer insig, maar dis vir hierdie boer glad nie ’n lekker ding om te doen nie.

“Dis vir my m**rse frustrerend want dit is alles uit my beheer uit,” is sy reaksie toe Marciel wil weet hoe hy gevoel het toe hy besef het die twee dames bly nog ’n dag langer. “Dis vir my sleg om met iemand anders se emosies te werk en wat ek weet wat kan seerkry. So, dis vir my baie sleg om iemand aan ’n lyntjie te hou,” sê hy.

Volgende keer

Wat is dit wat Aniska so dringend met die groepie op boer Niel se plaas wil deel voordat hy sy keuse bekend maak? Vind ook uit watter ander dames gevra word om hul tasse te pak en die plaas te groet.


Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer

Redakteurskeuse vir Augustus 2024: ’n ‘Eksie Perfeksie’-romkom, beste seisoen nog van ‘Fargo’, en meer

Wat om te kyk: Die tweede seisoen van die epiese TV-vertelling van 'Lord of the Rings', heerlike humor in 'JACKPOT!', die Afrikaanse romkom, 'Eksie Perfeksie' en die ongelooflike historiese drama, 'The Tattooist of Auschwitz', tel onder my keur van TV-vermaak vir vandeesmaand se redakteurskeuse.

Meer
Sien alle opsies