Sedert 2008 is kykers vasgenael as dit tyd is vir die nuutste Boer soek ’n vrou-episode om op kykNET uit te saai. En dié kykers is ook nie op hul bek geval nie. Daar is die rusbank-rebelle wat summier van Dag 1 af besluit wie moet op die plaas bly en wie moet gly. En as kykers eers ’n gunsteling-pasmaat uitgesonder het, het die boere gou uitgevind of hul ondersteuners dink dit was ’n wyse keuse. Die opinies wat gelug word, was deurentyd soos net Suid-Afrikaners dit doen: plein en reguit!
Selfs 17 seisoene later word daar steeds tred gehou met die wel en weë van hierdie manne en vroue wat hul soeke na liefde op Boer soek ’n vrou aangepak het. Dit maak nie saak of dit troues, kinders, verbreekte verhoudings of tweede kanse is nie – die kykers wil weet hoe gaan dit met hulle.
Dis daardie oomblikke van “onthou jy nog?” wat Boer soek ’n vrou wat kykers nog lank gaan bybly. Met die nuwe seisoen op hande, kyk ons terug na hoogtepunte in dié reeks oor die seisoene heen.
’n Eerste
Een van die eerste boere wat liefde gevind het, was boer Tickey van Wyk wat sommer in die eerste seisoen (2008) al sy hart verloor het op Selmé-Louise. Sy het destyds besef dis ’n groot waagkans op die liefde, maar sy het haarself afgevra: “Sê nou net dit werk uit?”
Dit was die regte vraag want die twee het in 2009 voor die kansel gestaan. Hy, destyds ’n die boer van Beaufort-Wes en sy die onderwyseres van Nelspruit . . . Hulle het hulle later in Loxton gaan vestig en dit sou vier seisoene van Boer soek ’n vrou neem voor daar weer troubeloftes deur deelnemers afgelê is.
Die vonke spat
Tydens die tweede seisoen van Boer soek ’n vrou het die vonke gespat… En dit was nie noodwendig liefdesvonke nie, maar eerder die drama op die plaas van boer Pieter Hanekom van Franschhoek.
Hy moes tussen Lynda Smuts en Ashley Pugh kies – maar die twee meisies het allesbehalwe langs die gesellige kampvuur gesit. Hulle het woorde gewissel en daar’s selfs op mekaar geskree. Pieter het toe maar vir Lynda gevra om die plaas te verlaat. Sy het nie te lank daarna nie geluk in ’n nuwe verhouding gevind.
Groot skok
Johan van Zyl, ’n suksesvolle boer in die Roedtan-distrik was een van die gewildste deelnemers aan die vierde seisoen van die reeks in 2011. Tot met die 9de reeks (2016) was hy die boer wat die meeste briewe van belangstellendes ontvang het. Johan, een van Suid-Afrika se grootste produsente van sonneblomolie (SunOil), het ook met beeste en wild geboer. Ongelukkig het hy in September 2016 beheer oor sy bakkie verloor en in die hospitaal aan sy beserings gesterf.
Warm onder alle krae!
As daar nou een man was wat vroue, selfs ook mans, rooi laat sien het, was dit boer Johan Uys. Meer as 2 000 mense se relase op Facebook het getuig daarvan. Hulle was bitter verontwaardig oor sy houding teenoor vroue tydens sy verskyning in die tiende seisoen (2017).

“Ek het geen waardering vir ’n vrou wat só optree nie,” het die man, wat gereeld ’n traan of twee weggepink het, destyds gesê nadat hy een van die vyf vroue wat vir hom ingeskryf het, sommer vroeg haar tasse laat pak het. Sy het volgens hom tydens ’n ete “genoeg wyn” gedrink. Christa Meyer het glo te hard aan tafel gelag.
Ten spyte van ’n onderonsie met Marilyn van Droogenbroeck het hy haar gevra om langer op die plaas te bly. Maar daardie partytjie het ook gou opgebreek. Daarna was hy tot in 2018 in ’n verhouding met Marita Schoombee betrokke (sy was ook een van die vroue wat op die plaas kom kuier het).
*Johan is op 24 April 2021 aan Covid-19 oorlede.
Dit het 11 jaar geneem

Die 11de seisoen van Boer soek ’n vrou in 2018 was nie sonder verrassings nie. Dit was immers die eerste keer dat ’n vrou onder die top-10 boere gelys is. Boonop het die sakke vol briewe gemaak dat Toanette Els (23) nog verder tot die top-5 deurgedring het.
Haar deelname aan die reeks was nie sonder drama nie. Sy was immers in 2017 in hegtenis geneem toe sy daarvan beskuldig is dat sy met iemand se geld verdwyn het. Die saak is weldra van die rol geskrap. Sy het wel liefde tydens die reeks gevind – met Nardus van Wyk, maar beroepsbesluite en langafstand-uitdagings het hierdie bootjie gekelder.
In 2020 het sy en haar verloofde, Henri Rudling, die trotse ouers van ’n dogtertjie, Liané, geword.
Nog ’n grenslyn word verskuif
In die 12de seisoen (2019) is kykers onkant betrap. Hierdie keer was dit omdat die tradisionele boer wat op soek is na ’n vrou, toe eintlik ’n boer is wat op soek is na ’n ou. Dit was boer Damian Engelbrecht van Bapsfontein.

Daar was natuurlik die gewone kakafonie van sleutelbordkrygers wat hom wou kruisig. Maar veral die vroue het baie gou besef hierdie is beslis iemand van karakter – en hy het baie gewild onder hulle geraak. Alhoewel die megaboer nie liefde in die reeks gevind het nie, het hy in Oktober 2023 aan Jean Visser verloof geraak – iemand met wie hy 13 jaar vantevore in ’n verhouding betrokke was. Die twee het tydens ’n luisterryke okkasie in Oktober 2024 mekaar ewige trou beloof.
Ons sing ’n lekker liedjie
Die liefde het kom aanklop, die musiek is gehoor – en opgeneem . . . En toe die stilte. Dis hoe sake vir boer Richann Brüssouw en René de Klerk in die 13de seisoen van Boer soek ’n vrou (2020) afgeloop het. Hul eerste enkelsnit was “Vrystaatse vlaktes” en hulle het dit onder hul duetnaam “Reën” vrygestel. Maar toe daag die liefdesdroogte na agt maande op. Op 6 Junie, het René die presiese datum aangekondig. Richann het sedertien verloof geraak aan Roné Cameron en ’n liefdesliedjie, “Al kom die reën”, vir haar gekomponeer.

Drie keer is skeepsreg
Die liefde het behoorlik geblom in die 15de seisoen (2022) toe nie minder nie as drie van die top-5 boere liefde gevind het!
Louis Botha (oftewel Louis B soos hy tydens die seisoen bekend gestaan het), en Louis Malan (Louis M) deel nie net dieselfde naam nie. Die twee het sommer op dieselfde dag hul nooiens om hul hand gevra. Vir Louis B was daar niemand anders as Rachie van Staden nie.
En Annique Kleynhans het ook nie gehuiwer om daardie pragtige ring van Louis M aan haar vinger te steek nie. Natuurlik het Louis M deurentyd die argwaan van kykers ontlok en hulle het besluit hy beskou vroue net as seksobjekte. Toe ontmoet hy vir Annique na afloop van die reeks en ja, sy is ’n vrou soos sy ouma Dina. En hy glo sy ouma sou in haar noppies gewees het met hierdie keuse.
Boonop het Francois Fourie en sy Vanessa nie net lewensmaats geword nie, maar ook die ouers van klein Sion Pieter Fourie op 19 Julie 2023.

‘Sweet 16’ en ’n bietjie hartseer
Dit was ’n heerlike mengelmoes vol liefde en verrassings wat op kykers in die 16de seisoen van Boer soek ’n vrou in 2024 gewag het. Aan die einde van die dag was daar liefde vir vele.
Boer Lulani Vermeulen was een van die top-10 boere, en alhoewel sy gewild was onder die briefskrywers, het sy haar “juweel” by ’n troue ontmoet. Kort voor lank het sy en Bianca Nortjé verloof geraak.
Daandré Scholtz, die jong boer van Brits, se voete was behoorlik onder hom uitgeslaan toe hy sommer vroeg in die reeks besef het Marisca Kriel is die een vir hom. Gelukkig het sy dieselfde gevoel en die twee het in Junie 2025 trou aan mekaar gesweer.

En dan was daar boer Jacques Louw – die ou met die aweregse sin vir humor wat nie sy woorde versuiker aangebied het nie. Net toe dit begin lyk het of dinge na ’n kant toe beweeg, het hy summier altwee sy gaste, Nicole en Sharezaan, hul tasse laat pak. En nou is die einste Jacques halsoorkop verlief en verloof aan iemand anders! Haar naam is Bea le Roux en sy is van Wellington.
Twee, selfs drie, baklei oor dieselfde been . . .
Dit het by tye wild gegaan in die 16de seisoen van Boer soek ’n vrou. En die boer wat die meeste moes bontstaan tussen drie moeilike vroue, was boer Rudi Halgryn van Windsorton in die Noord-Kaap. Jinne, die drie was nie mak nie. Die wedywering om hierdie boer se hart het by tye groot kriewelrigheid onder Paola, Lizelle en Ella gelei. Beskuldigings het gevlieg, naels is gewys en die trane het gespat. Maar toe loop iemand anders met die boer weg. Dit was ene Lenmarie Stanton, ’n kliniese sielkundige van Kimberley wat destyds onder sy top-10 keuses was, maar koue voete op pad na die eerste afsprake met die boere gekry het.

Fluit, fluit, sy vrousoekstorie is uit
In die 17de reeks het hierdie boer het geweet waarna hy soek. Die oënskynlike skamerige boer van Richmond, boer Pieter Theron, het sommer na die eerste ontmoeting tydens die blitsafsprake geweet iemand het sy oog – en heelwaarskynlik ook sy hart – vasgevang. Die vonk tussen hom en Anzelle Pearson was so tasbaar dat een van sy gaste sommer self besluit het om die plaas te verlaat tydens die plaaskuiers.

Toe die reën sy planne gekortwiek het om Anzelle op 12 Desember 2025 in die veld te vra om te trou, het hy binne ’n japtrap ’n romantiese piekniek aanmekaar geslaan en onder die bome voor hul plaashuis ’n ring aan haar vinger gesit. Hulle is die eerste paartjie van die reeks wat verloof geraak het – en die trouplanne is nog “onder konstruksie”.
Die nuwe seisoen van Boer soek ’n vrou sal vanaf 23 Julie 2026 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word. Kykers sal dan weer die boere se liefdesreise kan volg. Die reeks sal, soos altyd, fokus op die vyf boere wat die meeste briewe ontvang het.