Menu terloops
In Recaps [16 Okt 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Nog ’n paar harte bly in die slag  


Ná verlede week se trane en drama, is daar vandeesweek nog meer trane wat val wanneer die res van die boere hul keuses maak. Hier is als wat jy van dié week se episode van ‘Boer soek ’n vrou’ moet weet.

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Nog ’n paar harte bly in die slag  

“Elke liewe besluit wat ons neem, het die potensiaal om ons lewenspad onherroeplik te verander,” het dit in vandeesweek se episode van die maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se aanbieder, Reandi Grey, gekom. Daar kan óf liefde wink, óf dalk is daar ’n pad wat vir eers alleen gestap moet word. 

En só was daar verlede week groot verwikkelinge op twee van die boere se plase. In Richmond se wêreld het Elizma sélf besluit om die plaas te verlaat omdat sy nie die konneksie met Pieter ervaar het waarop sy gehoop het nie.

Maar op Rudi H se plaas het dinge ietwat anders uitgespeel. Hy moes kies tussen Lizelle en Ella – iets wat vir hom duidelik ’n moeilike besluit was. Ella was hartgebroke, maar nie vir haarself nie. Sy was vas oortuig dié goeie man het die verkeerde mens gekies. 

Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas 

Reandi het tyd ingeruim om vir Cilmari en Denike na die Jane Goodall Institute te neem, waar daar in hierdie stadium 33 mishandelde sjimpansees gerehabiliteer word. Die drietal was kort voor lank in oorpakke, waterstewels, rubberhandskoene en maskers uitgedos om met vurk in die hand nat en droë hooi te help skei. 

Hoewel Cilmari en Denike die wonderlike ervaring terdeë geniet het, was daar tog voortdurend die hoop om vir Willie ook te kan sien. Maar eers was daar ’n ander, uitdagende aktiwiteit: Hulle moes hul ondergronds in die Galaxy-goudmyn naby Barberton begewe. Cilmari en Denike het nie teruggedeins nie. Hulle was egter in die eerste plek oor Willie begaan. Sy naam het gedurig opgeduik, en al twee het eenstryk deur vir alleentyd met hom gewens. 

Die twee het selfs ’n geskenkie van groensteen gekry om vir Willie te gee, maar Denike het hoop op meer gekoester: “Ongelukkig kan ek nog nie vir Willie ’n trouring maak nie.”

Die laaste dag

Dit het gesous, en in die kombuis is daar fluks ontbyt gemaak. Gelukkig het die gesprek gevloei, merendeels te danke aan Willie se insette. Toe Reandi hom vra of hy bewus is van die redes waarom die pasmaats vir hom geskryf het, het hy erken dit was vir hom baie lekker om die redes van veral een van die pasmaats te hoor.

Denike het op haar beurt vir Reandi vertel die besoek aan die renosters was vir haar die beste deel van die week, veral omdat Willie dit saam met hulle gedoen het. Cilmari weer het dit geniet om soveel van haarself te leer – so tussen al die baie bederf deur.

Reandi wou by Willie weet of daar iemand is wat hy gaan kies, en hy het sonder huiwering erken hy dink wel so. “Daar’s goeters van haar wat makliker hier gaan inpas sonder om te veel veranderinge te moet maak,” het hy gesê.

Oor een ding het albei pasmaats dieselfde gevoel: Hulle het ’n rustigheid in hulle, ongeag wat Willie se besluit gaan wees.

Willie se keuse

Boer soek 'n vrou
Wie bly en wie ry?

Hy het begin deur al twee te bedank vir wat hy as ’n “regtig lekker week” beskryf het en ook dat hulle hulself oopgestel het vir die hele proses. “Vir die meisie wat nie bly nie: Weet net jy’s ongelooflik oulik, en daar is nie een enkele ding wat fout is nie. Dit is maar net hoe die ding verloop,” het hy die aanloop tot die bekendmaking van sy keuse begin.

“Cilmari, sal jy hierso bly? En Denike, ek is jammer,” het hy eindelik uitgekry.

Toe Denike groet, het sy Willie ’n mooi storie met Cilmari toegewens. Maar in die motor weg van die plaas af was daar heelwat trane en ’n paar diep asemteue. Sy het egter moedig teen die emosie geveg en het groot lof vir Cilmari gehad. Denike het ook weer gesê sy dink die twee gaan saam ’n mooi storie maak.

Boer soek 'n vrou
Haar trane het gevloei, maar Denike het nogtans vir Willie en Cilmari ’n mooi storie saam toegewens.

Cilmari was baie opgewonde oor die kans om Willie beter te leer ken. Ook hy het verlig en rustiger begin voel.

Boer soek 'n vrou
Cilmari was baie opgewonde toe Willie haar nooi om aan te bly op die plaas.

Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo

Lauren en Theresa het op hul beurt saam met Reandi na die plaaslike dierebeskermingsvereniging gegaan – die einste plek waar Evert onlangs sy brakkie aangeneem het. Maar hulle was nie daar om nog hondjies ’n nuwe huis te gee nie. Hulle moes die diere voer. Dit was moeilik om te sê wie dit die meeste geniet het – die diere, of die pasmaats en Reandi.

Terwyl Theresa rustig oor sake gevoel het, wou Lauren hê dinge moet nou na ’n kant toe beweeg – met of sonder Evert. Maar voor dit kon gebeur, moes die twee eers ’n pottebakkersles by Mud & Mingle neem.

Daar was egter ’n vraag wat Theresa aan Evert wou stel. Tydens sy video het hy gesê hy sal weet daar’s liefde as die geraas stil raak, en sy wou weet wat daardie stilte vir hom gaan bring. Lauren het erken sy meen daar’s reeds ’n konneksie tussen haar en Evert en dat sy vreedsaam in sy geselskap voel.

Vir Theresa het dinge darem baie vinnig ernstig geword, en sy het vermoed dat hy selfs gouer sy keuse gaan maak.

Alleentyd met Evert

“As daar ’n dag is waarop ons die week wil afsluit, is dit vandag. Want as jy na aan alles grootword soos hier, is die simboliek agter ’n storm of ’n groot reënbui net soveel sterker,” het Evert gesê nadat reën oor die plaas uitgesak het.

Toe Lauren by hom wil weet hoe sy oggend sonder hulle was, het hy erken dit het vir hom vreemd gevoel. Hy wou graag iewers alleen wees, maar toe hy besef het hulle is nie daar nie, het hy ’n bietjie neerslagtig gevoel.

Boer soek 'n vrou
Evert was vasbeslote om die beste van elke beskikbare sekonde met al twee sy kuiergaste te maak voordat hy sy besluit neem.

Theresa het besef dit mag dalk hul laaste alleengesprek wees en het vir Evert gevra of daar iets is waaroor hy wil praat. Toe hy by haar wou weet hoe moeilik dit vir haar sou wees om haar huidige woonplek te ruil vir die plaas, het sy onmiddellik reageer en gesê dit sal vir haar heeltemal oraait wees.

Evert was egter vasbeslote om die beste van elke beskikbare sekonde met al twee sy kuiergaste te maak voordat hy sy besluit neem. “Want die hele wêreld kan verander in een dag – en ons het nog een oor.”

Die laaste dag

“Dis baie moeilik om te weet waar Evert se kop is, want hy het definitief ’n moeilike keuse om te maak,” het Theresa erken. En daar was baie ongemaklike stiltes rondom die ontbyttafel.

Evert het reguit gesê hy is nie daar is om speletjies te speel nie, en hy is beslis gereed vir ’n verhouding.

Reandi se vraag aan Evert was of die kop of die hart in hierdie stadium vir hom die toon aangee. “Ek dink hulle stap hand aan hand,” het dit van hom gekom. Hy het verduidelik as die kop en die hart nie gelyke kanse gegee word nie, kan daar nie gebalanseerde besluite geneem word nie.

Hy het verleë uitgebars van die lag toe Reandi wou weet of daar iets was wat vir hom uitgestaan het. Ja, dit was die boomklim, maar ook die tyd saam om te kon ervaar hoe die pasmaats se lae afgeskil word.

Terwyl Lauren vir Reandi vertel het sy wil nie dink aan die “what ifs” nie, kon Theresa nie anders as om te erken dat sy tog wel effe verlief op die jong boer is nie. Vir haar is hy “awesome and well-rounded”, kwaliteite wat sy tot nou toe as baie raar in die regte wêreld ervaar het.

Op sy beurt het Evert reguit gesê hy is nie daar is om speletjies te speel nie, en hy is beslis gereed vir ’n verhouding. Hy het soortvan reeds die bakstene gekoop en is reg om te begin bou.

Toe Reandi vir Evert aangemoedig het om sy keuse te maak, het hy vir eens nie baie woorde gehad nie. 

Evert se keuse

“Ek is so geëerd dat ek ’n paar dae saam met julle kon spandeer,” het hy begin. 

Reandi het hom aangemoedig om sy keuse te maak, en vir eens het hy nie baie woorde gehad nie. 

“Lauren,” en daarmee het hy sy hand na haar uitgesteek. Toe hy haar omhels het, het hy haar gevra of sy ’n bietjie saam met hom wil rondhang. Daar was geen twyfel oor haar antwoord nie.

boer soek 'n vrou
By die motor het Evert vir Theresa gegroet met die woorde: “Jy’s asemrowend.”

En by die motor het hy vir Theresa gegroet met die woorde: “Jy’s asemrowend.”

Op pad weg van die plaas af, het Theresa gesukkel om haar emosies onder beheer te hou. Maar sy glo hierdie proses het haar aangespoor om beter te weet wat sy wil hê.

Lauren was verlig dat dit nou op die spits gedryf is. En Evert het “baie chuffed” gevoel. 

Lauren was verlig ná Evert uiteindelik sy keuse gemaak het.

Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal 

Ook die pasmaats van Beestekraal, Hannes en Arnold, is in die werk gesteek. Hulle moes ’n uilhuis bou onder die vaardige leiding van Brendan, Zietz en Jonathan van die Owl Rescue Centre by Hartbeespoortdam. Al die uilhuise word gebou van herwonne materiale – waaronder dele van wasmasjiene, stowe, yskaste en selfs mikrogolfoonde tel.

Hannes beskryf homself as plat op die aarde en allesbehalwe ’n sosiale vlinder. Hoe gaan dit by Rudi inpas? Op sy beurt het Arnold se gedagtes gewentel om selfbeskerming as Rudi hom nie kies nie.

Nadat die twee hul uilhuis gebou het, is hulle na ’n plek geneem waar leerprodukte vervaardig word. Die twee het elkeen vir Rudi ’n leergordel gemaak om dankie te sê vir die ervarings en ontvangs van die afgelope week. Die afrondingswerk aan die gordels het seepglad verloop, maar daar het ’n wolk van onsekerheid oor die twee se koppe gehang.

Rudi was verheug oor die twee handgemaakte gordels, want niemand het nog vantevore vir hom so ’n geskenk gegee nie.

Alleentyd met Rudi

Terwyl hy met Hannes gesels het, het Rudi probeer uitvis hoe hy en Arnold deur die loop van die dag met mekaar oor die weg gekom het. Hannes het die ouderdomsgaping tussen hulle twee opgehaal, maar gesê dinge het nie te sleg afgeloop nie.

Hy het Rudi verseker dat hy die afgelope week was presies wie hy is. 

“En ek hou daarvan dat my man moet weet: He is wanted, en hy is die een, en hy is spesiaal,” het hy gesê. 

Toe Rudi wou weet hoekom Hannes die vorige aand heeltyd naby hom was, het die antwoord vinnig gekom: “Want dis ’n ‘ons’ – dit sál ’n ‘ons’ wees die dag as jy my kies.”

Arnold het vir Rudi vertel dat hy baie emosioneel en onseker gevoel het, maar dat hy glo die nuwe dag sal moed bring.

Op sy beurt het Arnold erken dinge was rustiger tussen hom en Hannes, en hy het vir Rudi om verskoning gevra as hy enigsins bygedra het tot verdere stres en emosies. Hy het vir Rudi vertel dat hy baie emosioneel en onseker gevoel het, maar dat hy glo die nuwe dag sal moed bring. Een dag op ’n slag.

Die laaste dag

Die twee pasmaats het vir Rudi koffie in die bed gebring. Hy het gehoop hulle het nie omgegee vir sy deurmekaar kamer nie, en hulle was reg vir wat die dag sou bring.

Reandi wou dadelik weet of Rudi se glimlag ’n teken is van die begin van ’n liefdesverhaal. “Ek dink dis definitief ’n begin om iemand beter te leer ken. Definitief,” was sy antwoord.

Hannes het sonder enige huiwering vir Reandi vertel Rudi is die man vir hom. “As daai blou oë vir jou kyk, knak jou knieë,” het hy met trane in sy oë verklap en gesê Rudi laat hom veilig voel.

Op sy beurt het Arnold erken hy is verlief, maar ook bang en onseker. 

Boer soek ’n vrou
Beide Rudi se kuiergaste was die ene senuwees.

Rudi se keuse

“Ek dink ons het die beste in mekaar uitgebring. Ek dink ons het mekaar die goeie en die minder goeie dinge gewys – wat belangrik is in elke verhouding,” het Rudi aan die twee gesê.

“Ek sal graag wil weet of Hannes, jy … ek sou jou graag beter wou leer ken en of jy nog sal wil bly? En Arnold – jy is ongelooflik. En ek hoop jy het so baie van jouself geleer. Jy het geleer wie jy is en wat jy is, en wat jy kán doen. Jy’s ’n ongelooflike man,” was Rudi se aankondiging.

Hannes was oorstelp van vreugde to Rudi vir hom gevra het om langer aan te bly op die plaas.

“Ja, ek’s bly dis verby. Ek’s ’n bietjie teleurgesteld, maar Rudi het sy hart gevolg en solank hy bly is en hy gelukkig is, want dit is sy toekoms,” het Arnold met ’n krakie in sy stem gesê toe hy van die plaas af wegry.

Hannes het erken hy was baie verras en ook baie verlig oor Rudi se keuse. “Dit beteken vir my baie. Die liefde is ’n kans. En ek is reg vir daai kans,” het Rudi aan Reandi gesê.

Hannes het erken hy was baie verras en ook baie verlig oor Rudi se keuse.

Reandi sê

“Om ’n kans op liefde te waag is altyd die moeite werd. Maar dit verg dapperheid, deursettingsvermoë en selfkennis. Ons boere en pasmaats is hierdie week deur ’n warboel van emosies, maar elke hart wat liefde gevind het, is soos ’n kosbare stukkie goud wat ons moet bewaar. Liefde is nie vanselfsprekend nie. Dis ’n voorreg.”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies