Met die huidige reeks van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou raak kykers ongelooflik diep betrokke by die boere en die pasmaats wat hulle gekies het. Dis ook nie ongewoon vir kykers om heel duidelik hul stem dik te maak as hulle dink daar is ’n wenner-pasmaat op die plaas nie.
Een van vanjaar se pasmaats was dadelik ’n treffer onder die kykers. Dit was niemand anders nie as die 26-jarige Cilmari Geldenhuys wat ’n bietjie langer by Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas (Mpumalanga), vertoef het.
Iets wat dadelik opgeval het, was hoe gemaklik sy ingeskakel het – op die plaas asook by Willie se vriende en familie. En wat kykers nie besef nie, is dat hierdie meisie ewe tuis op ’n perd se rug tydens vatresies is as wat sy Wiskunde aan vandag se jeug kan verduidelik.

Wie is die jong meisie wanneer sy tuis is?
Cilmari is die oudste dogter wat na ’n tyd op haar eie in Pretoria, teruggetrek het na haar ouerhuis op Memel in die Vrystaat. Maar van die rustigheid van die platteland is daar min by haar te bespeur. Sy is ’n Wiskunde-onnie by Hoërskool Ferrum in Newcastle, maar sy het nog heelwat ander hooi op haar vurk.
Sy hanteer ook die boeke en bemarking vir haar pa se slaghuis, Tevrede Vleismark, ’n bestemming wat menige mens se vleislus behoorlik gaan laat uithang met onder andere hul bekende geelvet-biltong, beroemde tuisgemaakte pasteie, skilpadjies, afval, koeksisters en boerewors.
Maar daar’s nog meer. Sy is ook ’n ywerige entrepreneur wat beoog om groot planne met haar “side lines” vir die toekoms te maak.
Was jou inskrywing vir Boer soek ’n vrou die eerste keer dat jy so iets oorweeg het? En het enige van die ander boere dalk ook jou aandag getrek?
“Ek het al voorheen oorweeg om in te skryf en ek ken wel ’n paar boere en ook van die meisies uit ons omgewing wat deel van die vorige reekse gevorm het, maar Willie se video was regtig die eerste boer wat my tot die punt gebring het waar ek wel die brief geskryf het.
“Ek is baie lief vir die plaas en boeregemeenskap, maar ek sê altyd ek soek ’n boer wie se verwysingsraamwerk wel wyer as boerdery strek. Ek is lief vir avontuur, reis en bietjie adrenalien, en ek kon sien dat Willie ook dit deel.
“Ek dink die ander boere is almal ongelooflike mense, maar ek sou nie vir een van hulle ingeskryf het nie.”

Hoe het dit vir jou gevoel toe jy een van die drie was wat deur Willie plaas toe genooi is? Het jy dit verwag?
“Ek het baie lekker met Willie oor die weg gekom en ons het vinnig gekliek in die Kaap. So, ek was baie bly om te hoor dat ek kon plaas toe gaan. Of mens dit verwag het, sal ek nie sê nie – ’n mens hoop maar hy kies jou, want Willie het werklik sy kaarte na aan die hart gespeel tot die einde toe. Hy het nie een van ons meisies voorgetrek nie.”
Is daar ’n hoogtepunt tydens die verfilming van die reeks wat vir jou uitstaan?
“Daar was vele hoogtepunte. Ek bedoel, hoe gelukkig kan ’n mens wees om so ’n ongelooflike vakansie aan die Weskus te kon hê, dat Kokkedoor se Kobus Botha vir jou kos maak, om ongelooflike mense (die boere en hul pasmaats, die hele span agter die skerms en Reandi) te ontmoet?
“Dan was daar ook die aktiwiteite met plaasweek toe ons die Galaxy-goudmyn by Barberton besoek het en by Jane Goodall se sjimpansees in Nelspruit ingeloer het. Om nie eers te praat van die ongelooflike mooi Nkomazi-reservaat en lodge waar Willie self ook bly nie! Alles was wow!
“As ek wel een hoogtepunt moet uitsonder was dit die dag by Care for Wild Rhino Sanctuary toe ons die groot witrenosters gevoer het en die baba swartrenostertjie melk kon gee. Dit het ’n groot impak op my gehad en is definitief een van die spesiaalste oomblikke in my lewe.”
Wat was vir jou die moeilikste of uitdagendste deel van die reeks?
“Vir my was die uitdagendste deel van die reeks die uitrustings. Dit klink baie simpel, maar daar was nogal baie spesifikasies, soos geen wit klere of kolletjies-patrone nie. Ek dra baie wit, so ek moes bietjie inkopies gaan doen.
“Nog ’n moeilike deel kom eers in terwyl die reeks uitsaai. Jy moet voorbereid wees vir baie kommentaar – en dis veral die Facebook-“tannies” wat lelik in die deelnemers se karakters inklim. Jy moet weet wie jy is en dat daai opinies en kommentaar jou nie moet beïnvloed nie.”
Het jou deelname aan die reeks vir jou tot ander insigte oor die liefde en verhoudings gebring?
“Absoluut. Ek het geleer om vinniger vir myself vrae te vra oor hoe ek voel en waar ek die verhouding sien gaan. Ek het een van die produksiespanlede ná een onderhoud gesê, ‘Dit voel of ek met ’n sielkundige praat,’ en toe antwoord hy dat hy wel is. So, ek dink die reeks help jou leer om nie net gevoelens en emosies op te krop nie, maar om ook daaroor te praat.
“Ek het net voor die laaste uitstem-proses gesê dit maak nie saak wat Willie nou kies nie, ek is net dankbaar dat ek deel was van die reeks en dat Boer soek ’n vrou my menswees nét goed gedoen het. Ek het so baie gegroei.”

Hoekom sal jy sê hoekom dinge tussen jou en Willie nie uitgewerk het nie?
“Ek en Willie het werklik groot pelle geword en ons albei het daai lawwe inner child. Ons het regtig net goeie tye saam gehad, maar ek dink nie een van ons het daai vrede ervaar van ‘hierdie is my trouman of -vrou’ nie.
“Al het ons van mekaar gehou, weet jy wanneer iets net nie bedoel is om te wees nie. En hier en daar het ons maar ’n paar verskille rondom ons lewenswyse gehad wat later dalk tot frustrasie kon lei. Ons het dit eerder op ’n goeie noot geëindig.
“Ons kan steeds met mekaar gesels en sy hele familie is ongelooflike mense wat ek nie sal omgee om vir altyd deel van my lewe te hê nie.”

Enige boodskap vir Willie?
“Willa, jy is ’n ongelooflike mens! Boer, besigheidsman, life of the party en regtig ’n familiemens! Ek is so dankbaar dat ons hierdie paadjie saam kon loop en nie een oomblik spyt is daaroor nie. Ek wens vir jou en jou liefmense net die Here se seën, voorspoed, vreugde en vrede toe. Leef voluit!”
Wat is jou raad aan voornemende deelnemers aan Boer soek ’n vrou?
“Daar is baie tips en raad wat mens het vir mense wat moontlik wil inskryf, maar die belangrikstes is:
- “Moenie inskryf as die boer nie werklik jou oog vang en jy regtig jouself saam hom kan insien nie. En moenie jouself deur dit sit as jou werk en verlof en alles dit nie gaan toelaat nie.
- As jy wel seker is jy wil die kans vat, gaan voluit, skryf daai briefie, stuur ’n video. Terloops, as dit nie vir my video was nie, sou Willie nie my brief betyds gekry nie.
- Maak seker jou identiteit is vas in die Here. Jy moet weet wie jy is in Jesus en moenie hierdie doen uit desperaatheid en met baie bagasie nie. Kom self eers op ’n plek waar jy weet jy is oukei met jouself.
- Dan, wees regtig egtig net jouself! Moenie voorgee nie, dit gaan wys! En niemand soek iets fake nie.”
Wat lê nou vir jou voor en hoe gaan dit op die liefdesfront?
“Ek gaan nou uit die onderwys tree en meer op my eie besigheid fokus. Ek kan nou nog nie presies sê hoe al die planne lyk nie, maar vertrou op die Here dat die regte deure sal oopgaan. Ek is redelik aktief op sosiale gebied, so my lewe gaan darem nie nou net een groot geheim word nie.
“Op die liefdesfront . . . Wel, eerstens, genade, ek het nog nooit so baie DM’s en (Facebook)-boodskappe gekry nie. Dit is nogal rof, maar ek het heel onafhanklik van Boer soek ’n vrou op ’n manier wel met iemand begin kuier en ek is nogal opgewonde om te sien waarheen dit gaan.”
KykNET stel die agtiende seisoen se tien boere op Donderdag 13 November om 20:00 bekend. Volgende op kykNET se werklikheidsreekspyskaart is Kokkedoor: Son & see wat op Donderdag 20 November begin. Dié seisoen van Boer soek ’n vrou is vir nog ’n wyle op Catch Up beskikbaar. Kyk ook die vorige seisoene op Showmax.