Menu terloops
In Recaps [30 Okt 2025]

‘Boer soek ’n vrou’: Son, see en vakansie . . .en ’n groot kinkel wat die koppe laat draai!   


Dit is uiteindelik tyd vir ‘Boer soek ’n Vrou’ se vakansieweek-episode en daar is ’n baie verrassende kinkel te danke aan Rudi H…

Deur Annelene Oberholzer
‘Boer soek ’n vrou’: Son, see en vakansie . . .en ’n groot kinkel wat die koppe laat draai!   

“Weg van die res van die wêreld en al sy verantwoordelikhede en weg van die geraas.” Só het Reandi Grey, aanbieder van kykNET se maatsoekreeks Boer soek ’n vrou die vyf boere en hul pasmaats se tyd saam beskryf. Maar het die son, see en vakansie die liefde laat blom of ontnugtering meegebring?

Die vyf boere is:

  • Rudi H (56), ’n boerbokboer van Windsorton
  • Rudi (47), ’n toerisme- en wildboer van Beestekraal 
  • Evert (38), ’n makadamia-, sitrus- en wildboer van Tshipise, Limpopo
  • Pieter (29), ’n skaapboer van Richmond 
  • Willie (26), ’n makadamia- en wildboer van Badplaas 

Dag 1. Weskus toe!

Paternoster aan die Weskus was die plek waar almal gaan uitspan het. Reandi kon nie help om te wonder of die romantiese lyne hier in ’n kraaines gaan ontaard en of die grote dalk tog ingekatrol gaan word nie. Die hoop op die perfekte vangs loop sterk.

Boer soek 'n vrou
Paternoster aan die Weskus was die plek waar almal gaan uitspan het. Foto’s: Skermgrepe

Willie en Cilmari het soos twee tieners gegiggel, en dit was duidelik dat die twee mekaar se geselskap geniet. Rudi het gesê hy het gewéét hulle gaan Paternoster toe die oomblik toe hulle in Kaapstad geland het. Vir Evert en Lauren was dit ’n aangename verrassing en vir albei ’n eerste besoek aan hierdie kant van die land.

Dit was ook ’n eerste vir Anzelle en Pieter, en die twee was baie opgewonde om meer tyd saam te spandeer.

Boer soek 'n Vrou
Anzelle en Pieter was baie opgewonde om meer tyd saam te spandeer.

Maar wag ’n bietjie! Waar is Lizelle? En wie is die vreemdeling wat hand om die lyf saam met Rudi H opgedaag het? 

’n Kinkel in die kabel: Ontmoet vir Lenmarie

Dit was Lenmarie wat liefies Rudi H se hand vasgehou het, en die tweetjies het al te danig met mekaar gelyk. En, het sy laggend erken, ironies is Paternoster die plek waar sy nog altyd wou trou.

Boer soek 'n Vrou
Lenmarie was aanvanklik onder sy toptienkeuses gewees, maar toe het sy nie in die vierde episode van die huidige reeks by die blitsafsprake opgedaag nie.

“Met die laaste uitstemming het ek vir Lizelle gekies,” het Rudi H verduidelik. “Maar daar was nooit … altans, van my kant af was daar nooit daai konneksie nie.” 

Lenmarie was aanvanklik onder sy toptienkeuses gewees, maar toe het sy nie in die vierde episode van die huidige reeks by die blitsafsprake opgedaag nie. Later het sy kontak met hom gemaak om uit te vind of hy haar tweede brief ontvang het om te verduidelik hoekom sy nie opgedaag het nie. Die einde van die storie was ’n e-pos en toe koffie en kuiers oor en weer. “En nou’s ons hierso.”

Hy het gesê hulle verhouding was platonies en dat dit vir hom die regte manier is waarop ’n verhouding moet begin. Lenmarie het saamgestem. Beide wou die week benut om mekaar beter te leer ken.

Darem nog nie moeg vir mekaar nie…

“Dis ’n baie goeie tyd om kwaliteittyd saam te spandeer,” het ’n opgewonde Willie oor die tyd saam met Cilmari gesê. “Sover gaan dit baie goed. Baie goed.”

Al twee het speels verklaar dat nie een van hulle reeds moeg is vir die ander een nie.

Boer soek 'n Vrou
Willie en Cilmari het soos twee tieners gegiggel, en dit was duidelik dat die twee mekaar se geselskap geniet.

Pieter en Anzelle het dit tot dusver reggekry om mekaar elke tweede week te sien. En Pieter het boonop seker gemaak dat hy Valentynsdag met Anzelle kon deurbring. “Ja-nee, ek het haar gevra om my meisie te wees op Valentynsdag, en dit was baie spesiaal,” het Pieter met ’n breë glimlag aangekondig.

Vir Lauren het dinge ’n bietjie vinniger verloop as wat sy verwag het. Gelukkig, het sy vertel, is hul kommunikasie goed, en hulle het dit tot hier gemaak. Een ding waaroor sy en Evert saamgestem het, was dat die twee weke wat hulle nie saam was nie, baie lank was. 

Boer soek 'n vrou
Een ding waaroor Lauren en Evert saamgestem het, was dat die twee weke wat hulle nie saam was nie, baie lank was. 

Anzelle het opgemerk het dat Evert en Lauren baie verlief lyk – ’n geval van hoek, lyn en sinker.

“Waar staan ons nou?” was die vraag wat Rudi homself afgevra het. Wel, hy en Hannes bekyk mekaar nog, het hy gesê, maar albei voel positief. “Tyd gaan maar vir ons ’n antwoord gee,” was Hannes se reaksie.

Dag 2. Nog ’n verrassing

Van Paternoster is die span na Langebaan geneem – meer spesifiek, Club Mykonos. Dit was ’n grys dag en by tye koelerig. Daar was ook ’n bietjie olikheid weens seesiekte, maar dit het nie die borrel van liefde gebars of die samesyn belemmer nie.

Toe word daar lootjies getrek om vas te stel watter aktiwiteit op elkeen van die boere en hul pasmaats wag.  

Maar eers is daar gebraai aan die Weskus om almal by die Boere-Bahamas welkom te heet. Die kok agter die vlamme was bobaasbraaier en koskenner Kobus Botha – ja, die Kobus van Kokkedoor: Vuur & vlam. Hy het lag-lag gedreig om die eerste een wat ’n gesig trek vir seekos, veral die oesters sonder suurlemoen en Tabasco, die trekpas te gee.

Boer soek 'n Vrou
Bobaasbraaier en koskenner Kobus Botha – ja, die Kobus van Kokkedoor: Vuur & vlam – het vir hulle kom braai.

So tussen al die lekkerte deur het die boere en hul pasmaats steeds mekaar fyn uitgekyk. Willie het gedink Rudi H is ’n baie smart ou, terwyl Lenmarie gevoel het Hannes en Rudi was nog besig om die magsposisie tussen hulle uit te sorteer. Rudi het vir Evert as stillerig beskou en gereken Lauren bied vir hom standvastigheid. Daar was grotendeels konsensus daaroor dat Willie en Cilmari die gelukkigste van al die paartjies lyk. Hulle het self ook so gedink… 

Rudi was beïndruk met die interaksie tussen Lenmarie en Rudi H – hoe sy hom toelaat om homself te wees en ook gemaklik is. Pieter het gevoel Lenmarie kan goed en sterk staan teen Rudi H, en dis net wat hy nodig het.

Kobus se finale produk was koek – maar op die Franse manier: koek op ’n spit gebraai!? Saam met een van Adi Badenhorst se wyne was dit meer as lekker.

Dag 3. Stywe lyne, waterponies en ’n romantiese ervaring

Rudi H, Hannes, Evert en Lauren

Vir Rudi H was hierdie dag een van sy drome wat waar geword het. Diepsee-hengel was iets wat hy sowat 40 jaar laas gedoen het. Hy, Hannes, Evert en Lauren het hulle op twee aparte motorbote bevind. Kort voor lank het Rudi en Evert ’n weddenskap aangegaan oor wie die grootste een gaan inkatrol. Die prys? Die verloorder koop aandete die volgende aand.

Boer soek 'n Vrou
Vir Rudi H was hierdie dag een van sy drome wat waar geword het. Diepsee-hengel was iets wat hy sowat 40 jaar laas gedoen het.

Rudi was ’n bietjie emosioneel, want hy het onthou hoe sy pa hom uitgeneem het vir diepsee-hengel. Ja, daar was trane.

Lauren het gou-gou ’n vissie aan die hoek gekry. Evert het gedink hy het ’n haai gevang – en elke keer wat hy daaroor gesels het, het die haai al hoe groter geword, nes daai vis wat altyd wegkom. Rudi het ook ’n vis gevang, terwyl Hannes ’n kreef uitgetrek het. Hy het wel later ’n vis ook inkatrol.

Terug aan land, het Evert vertel dat hy en Lauren mekaar twee weke laas gesien het – die langste tydperk sedert hulle op die plaas was. “Dis nogal lekker om iemand te kan mis,” het hy erken. “Dis nog beter om te weet daar gaan ’n geleentheid wees waar julle bymekaar gaan uitkom.”

Boer soek 'n Vrou
“Dis nogal lekker om iemand te kan mis,” het Evert oor sy gevoelens vir Lauren vertel.

Toe Lauren vir hom sê dat hulle besig was om middag- en aandete op een slag te geniet, het hy seepglad ingeglip met: “Can I have your heart?” en bygevoeg dat hy reeds haar pa gevra het. Sy het erken dat sy opgewonde is oor die plek waar hulle twee hulself nou bevind, want hy’s die soort van ou met wie sy haar lewe kan deel.

Hannes het gekla dat Boer soek ’n vrou hom uitput. Die vroegoggende is nie vir hom nie. Maar hy was seker dat hy en Rudi op die regte pad is met mekaar en dat die potensiaal vir iets meer, baie sterk is.

Boer soek 'n Vrou
Rudi het sy en Hannes se verhouding vergelyk met dié van ’n baba se vordering: tussen die kruip en die loop. “Bietjie vorentoe, bietjie agtertoe, slat iets om, lag ’n bietjie, huil ’n bietjie.”

Vir Rudi was dit lekker om net oor ditjies en datjies met Hannes te kon gesels. So tussen alles deur het Hannes erken dat Rudi vyf jaar gelede kwalik na sy kant toe sou kyk. Maar die afgelope vier jaar het hy baie rustiger geword. 

Rudi het hul verhouding vergelyk met dié van ’n baba se vordering: tussen die kruip en die loop. “Bietjie vorentoe, bietjie agtertoe, slat iets om, lag ’n bietjie, huil ’n bietjie,” het hy gesê. Op sy beurt het Hannes gesê Rudi beskerm sy hart, en sy mure is baie hoog, maar dat hy terselfdertyd baie “oop” is. 

Ten spyte daarvan voel Rudi nog nie verlief of verlore nie, maar “daar’s hoop”.

Rudi H, Lenmarie, Willie en Cilmari

Rudi H, Lenmarie, Willie en Cilmari het waterponies van naderby leer ken. En die viertal was bitter opgewonde oor hul ervaring. Dit het nie lank geduur voordat daar wye draaie, wilde sirkels en water wat  plesierig spat was nie.

Volgens Lenmarie was daar ’n bietjie kompetisie tussen die twee boere, maar Rudi H het laggend opgemerk dat Willie darem ’n bietjie respek vir die oueres getoon het. Willie het teruggekap en beweer Rudi H het die vinniger waterponie gehad.

Boer soek 'n Vrou
“Ons weet waar ons met mekaar staan, en ja, daar’s vir seker passie, anders sou dit nie so ver gegaan het soos tot dusver nie,” het Rudi H oor Lenmarie vertel.

Ná afloop van die sports op die water, het Lenmarie erken sy was spyt sy was nie tydens die episodes op die plaas nie. Rudi H het saamgestem en gesê hy hou van haar aanpasbaarheid. Sy vat dinge soos dit kom en maak die beste daarvan. “Ek sal sê ons is so ’n bietjie in die friend zone. Ons geniet mekaar se geselskap, maar ek kan nie namens hom praat nie,” was haar mening.

“Ons weet waar ons met mekaar staan, en ja, daar’s vir seker passie, anders sou dit nie so ver gegaan het soos tot dusver nie,” het die boerbokboer van sy kant laat hoor. Net soos die ander Rudi, glo Rudi H aan babatreetjies.

Boer soek 'n Vrou
Cilmari het gesê dit voel goed om saam met Willie te wees, want sy kan werklik net haarself wees.

“Ons het definitief hierheen gekom as vriende. Vriende met hopelik intensies. Ek weet nie of dit sin maak nie. En ek dink ons is nog steeds op daai vlak,” het Willie gesê en bygevoeg dat hierdie werklik ’n goeie tyd is om mekaar beter te leer ken.

Cilmari het gesê dit voel goed om saam met Willie te wees, want sy kan werklik net haarself wees. Sy het gedink hulle is besig om ’n rigting in te slaan, en hulle bevind hulle beslis nie in ’n situationship nie.

Pieter en Anzelle

Pieter en Anzelle het die gelukkige lootjie getrek wat vir hulle ’n romantiese ervaring in die sak gebring het. Terwyl Kevin die skipper vir hulle verduidelik wat op hulle wag, het Anzelle dit duidelik gemaak dat oesters nie vir haar is nie. Rou, slymerig – nee dankie.

Nadat Pieter hand moes bysit om die oesters uit die water te haal, is hulle gewys hoe om dit te geniet. Suurlemoensap, swartpeper – en natuurlik sjampanje wat dit nog beter laat proe. Pieter het egter gebieg, hy sal dit beslis nie bo sy Karoo-tjoppies kies nie.

Boer soek 'n Vrou
Pieter en Anzelle het die gelukkige lootjie getrek wat vir hulle ’n romantiese ervaring in die sak gebring het.

Anzelle het die tyd saam met Pieter ervaar as iets wat sy graag wou hê. Dit was vir haar rustig en gemaklik, en sy’s baie gelukkig. Pieter het ook die tyd met Anzelle geniet en gesê dat daar regtig niks is waaroor hy kan kla nie. Behalwe natuurlik dat sy nie oesters saam met hom wou eet nie.

Toe sy by hom wou weet wat op hom wag met sy terugkeer na die plaas, het hy net een woord gehad: “Verlange.”

Die jong boer het duidelik muisneste, want hy het vertel terwyl hy moet boer, dink hy die hele tyd aan Anzelle en wil hy graag by haar wees. En, het hy erken, die boerdery ly daaronder! Maar hy is oortuig dit sal eendag weer beter gaan – wanneer sy daar is.

Vir een van die boere was dit beslis liefde met die eerste oogopslag, en hy glo hy het sy trouvrou gevind. Sy pasmaat glo ook sy het haar ideale man ontmoet. 

Die ander vier boere is nog versigtig om hul gevoelens naam te gee. Maar Kupido se pyle het hulle ten minste skrams getref, of selfs ’n kolskoot gegee sonder dat hulle dit agtergekom het. Net tyd sal leer.

Reandi sê

“As ek dinge so bekyk, lyk dit of daar ’n hele paar van ons geliefdes is wat met vol harte, romanse en nuwe insigte terugkeer huis toe. ’n Klein wegbreek is dalk net wat hulle nodig gehad het om die liefde te anker en die pad vorentoe aan te pak met iemand aan hul sy.

“Wat meer kan elkeen van ons voor hoop?”


Boer soek ’n vrou S17 saai uit op Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Nuwe episodes is ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Kyk ook Boer soek ’n vrou S14-S16 op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies