Menu terloops
In Recaps & Resensies [26 Sep 2024]

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Die boere maak hul keuses, trane loop en harte breek


In hierdie episode van ‘Boer soek ’n vrou’ gaan daar baie taai keuses gemaak moet word en vir sommige mag dit een van hul wonderlikste dae ooit wees. Vir ander… hartverskeurend.

Deur Annelene Oberholzer

Stroom nou

‘Boer soek ’n vrou’ S16: Die boere maak hul keuses, trane loop en harte breek

“Daar is al bewys dat ’n doodgewone persoon meer as 35 000 keuses op ’n dag moet maak. As mens ’n goeie nagrus kry, is dit ’n keuse elke twee sekondes. Vir ons boere is daar vandag is daar geen belangriker besluit as die een op ware liefde nie,” kom dit van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou se programaanbieder, Marciel Hopkins.

Boer Jacques (26), Venterstad, Oos-Kaap 

Op die kaalgebrande vlakte wil Sharezaan meer rondom die brand op die plaas by boer Jacques uitvis. Nicole is baie beïndruk met hoe die hele gemeenskap kragte saamgesnoer het om die brand te bestry.

Boer Jacques bevestig dat dit presies is hoe dit hier in die streek werk. Dit maak nie saak waarmee jy besig is nie, as daar ’n brand is, word daar onmiddellik gery om te gaan help.

Hy wil by die twee dames weet hoe hulle voel oor die wete dat dit die laaste dag saam gaan wees. Die naderende dwarrelwind is in alle waarskynlikheid sprekend van hoe dit in hul binneste gaan.

Ja, bevestig die twee, hulle voel soos daai dwarrelwind . . . so ’n bietjie deurmekaar. Terselfdertyd is hulle bly dat hulle nog tyd het vir gesels.

“Ja, lekker is ook net so lank. Êrens moet ’n mens nou jou besluite begin maak en waarnatoe alles moet gaan,” kom dit ernstig van boer Jacques.

Hy noem aan die twee dames dat hy gereed is om sy besluit te neem.

Tog sien hy ook uit na nog meer tyd met hulle twee. Gaan Dag 5 vir hom meer helderheid bring?

Boer soek n vrou
Daar was net nie genoeg chemie tussen Jacques en dié twee vroue nie… Altans, nog nie. Foto: Skermgreep

“Ek het nog nie met enigeen van julle chemistry of ’n konneksie-tipe iets opgetel nie. Uhm. Op hierdie oomblik sien ek nog beide persone net as vriende, en as daar iets ontwikkel, gaan ek die spasie daarvoor gee om te ontwikkel.

“Maar dis vir my moeilik om so vinnig gevoelens of iets te ontwikkel . . . en ek wil nie na iets voel wat nie daar is nie,” kom dit pynlik reguit van boer Jacques.

“Ek dink dis bitter belangrik om eerlik met mekaar te bly. En ’n groot ding is – ’n vrou moet blom, né? So, ek dink jy moet kan blom.”

“Ek dink ek doen al klaar,” lag Sharezaan in reaksie op sy woorde. Vir haar is dit belangrik dat wanneer die proses verby is, sy nie moet wens sy het dinge anders getakel nie. Sy weet sy  het alles gegee wat sy kon gee.

Gaan Nicole ook dieselfde boodskap van boer Jacques kry?

Sy vertel vir hom dat sy aanvanklik gedink het hy’s ’n lighartige grapmaker, maar dat sy die afgelope week besef het hoeveel diepte daar in hom skuil. Nicole sê sy het verskeie dingetjies in hom raakgesien wat haar tog laat dink dinge kan tussen hulle werk. 

Maar net soos met Sharezaan, gooi boer Jacques sy kaarte oop.

“Daar’s nog nie vir my gevoelens of . . . verstaan, ek moet nog nie aan ’n verhouding . . . verstaan, daar’s nog nie vir my so-iets nie,” sukkel hy om die woorde mooi te orden.

Nicole sê later voor die kamera dat vriendskap ’n belangrike grondslag vorm, maar daar moet ook minstens potensiaal gesien word vir ’n verhouding in die toekoms.

Boer Jacques het nou net een groot wens en dit is dat alles vanaand tot ’n einde kan kom.

“Dinge gaan nie verander nie. Dinge bly elke dag nou net dieselfde. Dis onnodig om die girls nog deur dit te sit. Nee, ek dink rêrig ons moet dit call,” sê hy.

Marciel kom kuier

Marciel vertel sy was al amper in haar pajamas, toe die oproep gekom het om na boer Jacques se plaas te gaan. Sy wil by hom weet hoekom hy vanaand reeds met die twee dames wil gesels.

“Ek het die heel week vir hulle gesê wat vir my belangrik is, is om eerlik teenoor hulle te wees en die proses eerlik te hanteer. 

Boer Jacques maak hart oop teenoor Marciel. Foto: Skermgreep

“Dis hoekom . . . met my alleentyd vandag ook met hulle was ek ook baie eerlik, jy weet, waar ons staan en hoe ons voel oor mekaar, want dit is belangrik dat die lug gesuiwer is rondom ons gevoelens, dat nie een van ons onder ’n illusie is oor wat aangaan nie.”

Marciel handig die spreekwoordelike vloer oor aan Jacques om vir Sharezaan en Nicole oor sy besluit in te lig.

“Ek wil net vir julle altwee weer sê, julle was m**rs spesiaal en dankie dat julle dit so mooi gehanteer het, die hele week.

“Ek het ’n besluit geneem. Ek wil graag . . . Nicole, ek wil graag, as dit reg is met jou, wil ek graag jou familie ontmoet en dan kan ons kyk wa’ntoe gaan mens dan,” is sy besluit. En Nicola dink dit sal gaaf wees om hom aan haar familie voor te stel.

Sharezaan sê aan die groep sy het ’n rustigheid oor boer Jacques se besluit en dat sy aan die einde van die dag bloot net hom gelukkig wil sien. En ook vir Nicole.

Cheers, vir eers… aan albei vroue? Foto: Skermgreep

Totsiens, Venterstad

Vir Krynauw, wat die twee dames by die plaas gaan haal het, is dit ’n eerste om twee gelyk huiswaarts te neem. Die twee lag half verbouereerd en erken hulle weet nie heeltemal wat nou aangaan nie.

Boer Daandré (26) van Brits, Noordwes

Dis Dag 5 op boer Daandré se plaas. En die senuwees knaag! Gaan vandag se vrae en antwoorde sy kop swaai en hoe gaan dit die twee dames se toekoms raak?

Elizette maak van die geleentheid gebruik om vir hom te vertel dat sy nie net van hom hou nie, maar dat dit vir haar baie ernstiger is vir haar.

“Ek is nogal bietjie skrikkerig want ek het nie verwag, vir my spesifiek, dat hierdie gevoelens vir jou so vinnig sal kom nie. Maar ek is vinniger en meer invested as wat ek gedink het ek sou wees op hierdie stadium,” erken sy aan boer Daandré. 

Boer Daandré systap haar vraag of hy vrede het oor die besluit wat hy geneem het en sê daar is nog baie vrae wat gevra moet word. En alhoewel hy sê sy hart is gelukkig, wil hy tog net 100%, selfs 110%, sekerheid hê oor sy besluit.

Boer Daandré wil weet of sy dink hy sal by haar mense kan inpas.

“My pa en my boetie is baie beskermend. Soos, my man moet eendag baie goed oor die weg kom met my familie. Dis baie, baie belangrik. Ek wil groot Kersfese saam hê en sulke goed,” is haar reaksie. En sy stel hom gerus dat in hierdie stadium sy glo hy sal goed by hulle inpas.

Boer Daandré voer ’n heftige binnestryd om seker te maak dat die twee dames welkom voel en nie ongelyk voel nie. Vir hom lê die stryd daarin dat hy nie enigeen van die twee aan ’n lyntjie wil hou nie.

“So, vanoggend was my hart op een plek en my kop het gehardloop . . . vêr,” vertel hy vir Marisca. Hy noem ook dat daar baie dinge die vorige aand tydens die braai gebeur het en dat mense baie te sê gehad het.

“Maar op die ou einde van die dag gaan jy die besluit met jou hart en jou kop maak,” sê hy.

“My hart sê dit lyk positief, ek en Daandré is op dieselfde bladsy en ons voel dieselfde oor mekaar. Maar met tye is my gedagtes op ’n heeltemal ander plek,” vertel Marisca.

Benoude oomblikke voor die groot aankondiging… Foto: Skermgreep

Sy glo ook dat dit wat sy voel, in ooreenstemming is met wat boer Daandré voel.

Hy erken aan haar dat dit vir haar en Elzette frustrerend moet wees omdat hulle wil weet wat hy dink en wat hy werklik voel.

Boer Daandré glo hy het sy antwoorde gekry waarna hy gesoek het tydens die oggend se alleensessie met elkeen van die twee dames.

Marciel kom kuier

Dit is Dag 6 op die plaas Marciel kan nie help om te wonder of dit vir die boer beter of slegter is om te weet dat altwee dames ’n toekoms met hom sien nie. Veral vir boer Daandré wat so sterk fokus op regverdigheid moet dit baie swaar wees om te weet hy gaan iemand se hart breek.

Boer Daandré glo hy het sy antwoorde gekry waarna hy gesoek het tydens die oggend se alleensessie met elkeen van die twee dames. Foto: Skermgreep

“Ag, ek is opgewonde. Ek het baie vrede in my. Die emosies was maar bietjie hoog die laaste twee dae, maar ja. Dis lekker dat dit half tot ’n einde kom in ’n mate want jy kan half die prentjie begin sien. ’n Mens wil nie huis toe kom na ’n leë huis nie,” en dis juis wat hom opgewonde maak oor wat voorlê.

Elzette vertel op haar beurt vir Marciel dat sy ’n vreemde kalmte en rustigheid in haar het. Marisca erken laggend sy is verlief op boer Daandré. 

Sy sê sy was al verlief in die verlede maar hierdie is iets anders, erken sy in trane. Sy glo hy is die regte man vir haar. Ook Marciel kan nie help om emosioneel te voel nie.

“Ek weet julle elkeen staan vandag hier met baie hoop en verwagtinge in julle hart, maar hier kan ongelukkig net een dame op die plaas agterbly vir ’n liefdesverhaal om te ontvou,” lig Marciel vir Marisca en Elzette in.

Boer Daandré bevestig hy het sy besluit geneem.

“So, die meisie wat op die plaas gaan agterbly vandag, is Marisca,” kondig hy aan.

Boer Daandré glimlag breed oor sy besluit. Foto: Skermgreep

Terwyl Marciel hulle ’n oomblik saam gun, gaan loer sy by Elzette in.

Sy sê sy het verwag dat dit Marisca gaan wees, en tussen die trane deur sê sy dat sy bly is vir hulle. En haar trane? “Dis happy tears.”

Totsiens, Brits

What a journey. Ek weet nie wat ek verwag het nie, maar dit was nie dit nie. Nou ja,” erken Elzette in die motor op pad huis toe aan Krynauw.

Hoe voel boer Daandré?

Marciel wil by boer Daandré weet hoekom hy vir Marisca gekies het.

“Dis eintlik ’n baie spesiale storie, maar in die blitsafsprake was dit vir my soos eintlik maar ’n done deal, ek het toe al geweet sy gaan definitief in die top-2 wees. 

“So, toe sy uitstap, toe het ek so gevoel in my lyf gekry en ek was soos ‘what in the world?’ Op daai oomblik kon ek met sekerheid sê dat dit is rêrig iets wat ek nog nooit in my lewe beleef het nie.”

Boer Quintus (39) van Winburg, Vrystaat 

Dis speletjietyd op die plaas en danksy Lottostar se Twister-speletjie daar gaan beslis weer ’n paar vrae gevra word waar die antwoorde dalk nie altyd so maklik is nie.

Hoe flankeer jy met ’n man? Terwyl Ria en boer Quintus behoorlik geknoop op die speletjie se mat is, antwoord sy dat sy met haar oë flankeer. Maar sy korrigeer haarself gou en sê sy doen dit deur grappies te vertel.

Boer Quintus erken aan Marciel hy was aanvanklik baie skepties oor die proses. Foto: Skermgreep

“Dis ’n bittersoet oomblik. Hierdie laaste aand wat ons saam het. Teen môreaand dié tyd weet ons nou al wat gaan vir wat en gaan daar iemand wees wat baie bly is en iemand wat baie hartseer is,” se boer Quintus.

“As ek môre gesê het ‘hoorie, ek kies vir jou’, dan’s dit Dag 1 van die res van ons lewens.”

Dag 6 op boer Quintus se plaas begin met die restourasiewerk van die stoel wat Ria en Emsoné vir hom gekoop het tydens hul uitstappie na Marquard.

Ria geniet die skaafwerk geweldig baie terwyl Emsoné vasbeslote is om net in die oomblik te bly. Sy wil nie aan later dink nie.

Sy erken sy was aanvanklik skepties daaroor dat jy iemand op ’n platform (soos Boer soek ’n vrou) kan ontmoet en dit kan werk. Nou moet sy toegee dat dit wel moontlik is.

“En hoe meer ek hom sien, hoe sterker word daai gevoelens.”

Marciel kom kuier

Ria vertel vir Marciel sy voel sy het haar maat gevind, iemand wat op dieselfde vlak as sy dink, redeneer en beweeg.

Emsoné sê boer Quintus se liefdestaal kom deur aanraking. Dit geld ook vir haar en sy voel hul fisieke kontak tydens die Lottostar Twister-speletjie het die vlinders behoorlik laat fladder.

En sy is 100% seker dat sy ’n lewe saam met hom wil bou.

Boer Quintus erken aan Marciel hy was aanvanklik baie skepties oor die proses. Hoe gaan hy weet of die regte een op die plaas gaan beland? Maar hy is aangenaam verras! En ja, hy is gereed om sy keuse te maak.

Wie gaan boer Quintus kies? Foto: Skermgreep
Boer Quintus en Marciel. Foto: Skermgreep

“So, die dame wat ek sal graag beter wil leer ken en wat ek graag sal wil hê moet agterbly by my op die plaas, sal dan wees, Ria”.

Toe Emsoné wegstap en Marciel haar volg, sê Ria vir boer Quintus dat sy weet dit was vir hom ’n swaar besluit om te neem. 

“Kom ons gaan huis toe,” en met sy arm om haar skouers stap die twee saam die stofpad na die plaashuis.

“Ek was bietjie confused, bietjie deurmekaar op daai stadium en ek het gedink ‘het hy die regte naam gesê?’ Maar ja, ek het regtig vrede en rustigheid in my hart,” vertel Emsoné vir Marciel.

Totsiens, Winburg

Net voordat Emsoné in die motor klim, het sy ’n laaste vraag vir boer Quintus: “Hoekom nie?”

“Ek gaan dit nie nou antwoord nie, eendag as ek gereed is, sal ek vir jou sê,” is sy reaksie. “Jy’s ’n ongelooflike vrou en dit was rêrig ’n baie moeilike besluit gewees.”

Boer JW (24) van Villiersdorp

Dag 6 breek aan met ontbyt op die stoep. Mieke maak ’n omelet en boer JW is ewe vernuftig besig om die spek te braai.

Tyd vir brekfis! Foto: Skermgreep

Hy besef dinge het nou ernstiger begin raak en die gesprek tussen hom, Mieke en Danelle sukkel maar om te vloei. Hy beskryf die atmosfeer as “hartseer en deurmekaar”.

Mieke glo sy het rede om te dink dat sy die een is wat vandag gaan agterbly op die plaas.

“Ek gaan net die goeie uit die week uit vat. Ja, natuurlik, aan my kant is daar ook mos ’n opgewondenheid want nou maak ek my finale keuse. So, dan kan ek met daai pad ook begin,” kom dit van boer JW terwyl daar ontbyt genuttig word. Maar hy het wel ’n hol kol op sy maag oor sy aankondiging wat voorlê.

Marciel kom kuier

Marciel onthou dat die vorige uitstem-sessie vir boer JW emosioneel baie taai was. Sy dink vandag gaan beslis ook nie maklik wees nie.

“Almal hoop vir liefde. Op die ou einde van die dag moet daar ’n keuse gemaak word om vorentoe te beweeg,” sê sy.

Danelle erken aan Marciel dat sy van die begin af vlinders gehad het nadat sy boer JW ontmoet het. En dat sy nou beslis besig is om vir hom te val.

Mieke sê sy sal baie hartseer wees om die vertroue wat sy in die jong boer gevestig het, te verloor as sy die een is wat die plaas moet verlaat. Sy sukkel om die trane terug te hou en kort voor lank vee Marciel subtiel haar eie trane weg.

Boer JW sê vir Marciel dat dit vir hom geensins lekker is om te weet dat hy dalk vandag iemand se hart gaan breek nie. Hy wil nie mense seermaak nie, maar wil hulle ook nie om die bos lei nie.

“Ek wil graag reguit met mense wees, al is mens seker oor jou besluit.”

Met altwee dames voor hom en Marciel, bedank hy hulle vir die afgelope week, vir die koffie en grappies wat gedeel is, die diep gesprekke en hoe hulle hom hanteer het.

Beide Mieke en Danelle het groot hoop gehad… Foto: Skermgreep

“My besluit is geneem,” kondig hy aan.

“So, die dame wat op die plaas bly, is Danelle,” sê hy. Beide Danelle en boer JW kan nie groter glimlag nie en Marciel los hulle alleen vir ’n tydjie.

Mieke sê vir Marciel sy voel oukei.

“Ja, dis obviously nie lekker om nou huis toe gestuur te word nie. Ja, die moeilikste ding is maar net dat hy nou nie my gekies het nie,” kom dit met ’n bewerige stemmetjie. Maar Marciel verseker haar sy kan met haar kop omhoog daar uitstap en dat daar ’n lieflike pad vorentoe op haar wag. 

Hoe voel boer JW?

Boer JW sê hy voel baie verlig noudat die negatiewe kant van die proses afgehandel is.

Hoekom het hy vir Danelle gekies?

“Van die begin af, sy was net hierdie vrolike mens en ’n sprankelende persoonlikheid en ja, maak grappies. En toe sy hier instap, toe’s sy net haarself. Toe weet ek dadelik sy gaan my ook aanvaar. Hier kan ek net myself wees en ek voel rustig en als langs haar,” vertel hy.

Boer Niel (30) van Dannhauser, KwaZulu-Natal

Dis Dag 6 op die plaas en boer Niel neem vir Hestia en Mikal op ’n stappie tussen die mielielande deur.

Boer Niel se senuwees lol. Soveel so dat hy die mielieplant se stam breek toe hy eintlik net die mieliekop wou afbreek om vir die twee dames meer oor die boerdery te leer. Dit gaan nie net oor wie dalk huis toe gestuur gaan word nie.

“Oor die feit dat ek eintlik nog steeds nie 100% in my kop ietsie duidelik het nie, voel ek op ’n moeilike plek op die oomblik met waar my gedagtes is,” erken hy.

Die drietal kom darem nie met leë hande terug na hul ekspedisie nie. Elkeen het ’n groenmielie wat hulle self moet skoonmaak en dan gaan daar gebraai word. Dis duidelik dat die twee dames nie baie ervare met hierdie proses is nie.

Boer soek n vrou
Boer Niel se senuwees het gelol! Foto: Skermgreep

“Ja, ek sal graag wil hê hy moet my kies,” kom dit van Mikal. Maar sy erken dat sy ook baie gespanne voel oor wat voorlê.

“Ek dink ons almal weet hoe ons voel oor alles, en dit maak dit nog moeiliker. Ek het regtig gehoop ek gaan vir een van julle baie sterk voel, eintlik al teen die braai-aand, en dit het nou nie so uitgedraai nie, maar vir ’n goeie rede het dit nie so uitgedraai nie.

“Want julle altwee is great mense en great vrouens en, jinne, ek wens ek kon julle altwee saamvat, maar . . .” vertel boer Niel vir die twee dames.

“Nee, ek deel nie,” kom dit tot groot vermaak van almal van Hestia nog voordat hy sy sin kan voltooi. Sy voel dat dit die eerste dag van haar toekoms sal wees indien sy gekies word om langer op die plaas te bly. En dit maak haar bly, al is daar ’n traan of twee.

Mikal erken sy hou baie van boer Niel en dat ook sy ’n toekoms vir hulle twee saam kan sien.  

“Ek voel ek is op die regte plek in my lewe en dat ek vir hom ’n goeie vrou sal wees.”

Op sy beurt is dit vir boer Niel bitter om te weet hy moet iemand huis toe stuur, iemand van wie hy hou. Hy voel 50/50 op die oomblik en sê eerlikwaar hy weet nie hoe dit gaan uitwerk nie. 

Marciel kom kuier

Mikal voel sy is op ’n plek waar sy vrede het met wat ookal die uitkoms is.

“Hy’s so manlik, hy’s sterk in wie hy as mens is. Hy stap met selfvertroue, ja, en net daai manlike look van hom,” is volgens Mikal die dinge wat boer Niel vir haar aantreklik maak.

“Ek kan hier uitstap met my boer, en dan word my wildste drome waar,” is Hestia se antwoord nadat Marciel haar vra oor haar gevoelens. 

Boer soek n vrou
Wie gaan dit wees? Hestia of Mikal? Foto: Skermgreep

Boer Niel is geweldig ernstig. Daar is twyfel in hom oor die regte keuse en hoe dinge kan verander in die toekoms. Gaan hy dalk later besef die een wat hy huis toe gestuur het, is die een wat hy deur sy vingers laat glip het? Maar hy is wel gereed om sy keuse te maak.

Boer soek n vrou
Boer Niel het dit duidelik gemaak dat dit vir hom baie moeilik was om tussen die twee vroue te kies. Foto: Skermgreep

Boer Niel erken aan die dames dat dit ’n baie moeilike besluit is wat hy geneem het want hy gaan iemand huis toe stuur van wie hy baie hou. En hy wil hê hulle moet weet dis nie ’n besluit wat hy ligtelik geneem het nie.

“Die dame wat ek wil hê moet op die plaas bly, is . . . Mikal.” 

Toe boer Niel eindelik vir Mikal omhels, kry hy net een woord uit: “Jissie.”

Marciel noem aan Hestia dat dit gelyk het of sy in stille skok was toe boer Niel sy keuse bekend gemaak het.

“Ek weet nie, ek het vrae. Ek wil maar net weet of daar iets is wat ek verkeerd gedoen het. Wat was missing gewees?” Sy sê sy het die man wat sy wil hê, in hom gesien.

Totsiens, Dannhauser

Net voor Hestia vertrek, het boer Niel iets op die hart.

“Ek wil net vir jou rêrig sê jy’s een van die beste meisies wat ek nog ooit ontmoet het . . . en ek is ook baie bly dat ek jou kon ontmoet het in my lewe.”

Hoe voel boer Niel?

Boer soek n vrou
“Hoe kan ek nie goed voel nie?” sê boer Niel oor sy keuse. Foto: Skermgreep

“Ek is verlig en . . . ja, kyk daai smile. Hoe kan ek nie goed voel nie? Ja, ek is verlig en voel bly. Iets heeltemal onverwags het vir my gebeur in hierdie proses. Ek het in my wildste drome nie gedink so ’n oulike meisie sal hier langs my sit aan die einde van dit nie,” kom van ’n glimlaggende boer Niel. 

Mikal sê dit voel vir haar ook net reg en gemaklik en dat sy uitsien na wat voorlê.

Volgende week

“Die tyd op die plase het dalk tot ’n einde gekom. Maar ons boere se sprokiesverhale het so pas begin,” sê Marciel. Gaan daar dalk nog ’n paar aangename verrassings opduik?


Boer soek ’n vrou (S16) word Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Episodes is ook op Catch Up ná uitsending beskikbaar. Ons recaps word weekliks ná afloop van die program, omstreeks 21:00, gepubliseer. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies