Daar is min televisieprogramme in Suid-Afrika wat só diep in die harte van kykers ingeklim het soos Binnelanders. Twintig jaar ná die eerste episode op 13 Oktober 2005 uitgesaai is, bly die drama binne en buite die mure van Binneland-kliniek steeds een van kykNET se grootste suksesse.
Terwyl Binnelanders hierdie maand sy 20ste verjaarsdag vier, is daar een ding wat duidelik uitstaan: die geheim van sy lang lewe lê nie net in die mediese noodkamers of drama tussen dokters en pasiënte nie, maar in die ongelooflike span, voor én agter die kameras, wat elke dag die stories laat leef.
Om relevant te bly – dís die hart van alles
Volgens regisseur Jolette Roux, wat al jare deel is van die Binnelanders-familie, is die geheim eenvoudig maar kragtig.
“Ek dink die kern van Binnelanders se sukses is die feit dat ons vir 20 jaar geslaag het daarin om relevant te bly. Ons vertel stories wat so na aan die kykers se realiteit is dat hulle eerlikwaar voel hulle is deel van die storie, of iemand ken met wie dit gebeur het.”
Vir Roux is dit egter nie net die skryfwerk wat tel nie, maar die toewyding agter die skerms.
“’n Storie op papier is net ’n boek. So die volgende ding wat ek dink ons so lank al suksesvol maak, is die proses waar ons dan die woorde in prentjies verander. Die uiterse in-diepte navorsing wat gedoen word – van hoe wonde op watter graad van gesond word moet lyk, hoe ’n karakter met ’n geestesversteuring sal optree en praat, tot hoe die area waarin mense onder puin vasgekeer is, sal lyk en nog meer. Dit als om die visuele ervaring van daai “boek” vir die kyker so na aan realiteit as moontlik te kan maak.”
Sy voeg by dat daar nooit ’n 20-jaar-plan was nie.
“Die doel was nog altyd om te doen waarvoor ons lief is – om stories te maak vir so lank as wat kykers dit geniet. Elke jaar wat Binnelanders nog ’n verjaarsdag vier, is ’n eer en ’n blessing.”
Binnelanders het saam met die tye gevorder
Oor die afgelope twee dekades het Binnelanders ook tegnies en visueel gegroei.
“Ons het deur die jare probeer om altyd voor in die tou te staan as dit kom by nuwe tegnologie. Van SD na HD, top-gehalte kameras en ons nuwe editing programme,” sê Roux.
Sy meen kykers sien dalk nie altyd die verandering nie, maar as jy die heel eerste episode langs ’n nuwe episode sit, sal jy sien hoe alles saam met die tye verander het, van haarstyle en mode tot die hospitaalmasjinerie.
Sy glo egter ook dat die ware “beslissende oomblik” van die reeks nie in ’n enkele episode lê nie, maar in die verhouding met kykers.
“Binnelanders het deel geword van elke kyker se gesin. Of jy nou as ’n ouer kyker saam met At (Hans Strydom) grys geword het, of as middeljarige kyker saam met Bronwyn (Kim Cloete) en Steve (Clint Brink) tieners grootgemaak het, of selfs as tiener als saam met Thalia (Megan Troskie) en LJ (Julian Robinson) beleef het, iewers het jy gevoel dat jy deel is van ’n familie. Dis daardie familieband wat maak dat ons vandag nog hier is.”
Hoogtepunte op stel
Van die Binnelanders-rolverdeling vertel oor hul hoogtepunte en lesse as deel van die sepie:
‘Keerpunt’

Vir aktrise Leandie du Randt, wat vir jare as Ivanka die kykers se harte gesteel het, was Binnelanders ’n keerpunt in haar loopbaan én lewe. “Binnelanders het die trajectory van my loopbaan verander, mense het my begin ernstig opneem as aktrise van Binnelanders af en die mense daar is soos familie vir my.”
Sy vertel oor haar gunsteling-oomblikke agter die skerms. “Ek dink die lekkerste oomblikke was saam met Je-ani Swiegelaar en die geselsies met Oom Ben Kruger (wat Oom Okkie vertolk het) op stel. My storielyn saam met Oom Hans (Strydom) sal ek altyd in my hart dra. Wat ’n voorreg.”
Maar dis haar woorde oor die kykers wat mens veral diep tref. “Ek dink Binnelanders is baie mense se sielkundige in die aande, waar hulle net kan ontspan, saam lag en vir ’n ruk vergeet van hul eie nonsens. Dit skep stabiliteit en roetine in ’n huishouding. Toe ek op skool was, was dit gesinstyd en dit is spesiaal.”
‘Relevante, intense storielyne’

Je-ani Swiegelaar, wat al 14 jaar lank as Naomi geliefd is, sê haar gunstelingoomblikke lê in die pret en kameraadskap agter die skerms. “My goeie oomblikke voor en agter die skerms merge oor die afgelope 14 jaar. Daar is nie werklike oomblikke wat uitskieters is nie, maar as ek hulle kan saamvat, sou ek sê die hoeveelheid pret wat ons altyd agter die skerms het. Dis altyd die snaakste om te lag wanneer jy nie mag lag nie, dan lag mens die lekkerste,” vertel sy.
“Ek sal dit van die berge af skree, Binnelanders het my regtig leer act! Ons word voortdurend uitgedaag met relevante, intense storielyne wat ons dwing om die beste van onsself te gee. Dis nie bubblegum-stories nie, dis werklike goed wat mense se lewens aanraak.”
Volgens haar het die sepie haar as mens ook help vorm. “Jy groei saam met jou karakter, jou selfvertroue bou, jou vaardighede word beter en saam daarmee vorm die mense hier jou tot ’n volronde mens en bou jy vriendskappe wat verewig sal hou. Ek sal dit vir niks in die wêreld verruil nie.”
‘Goed genoeg was nog nooit goed genoeg nie’

Vir Lorraine Burger of Annetjie soos kykers haar ken, wat as aktrise én skrywer deel is van die span, lê die sukses in hul onversetbare werksetiek. “Goed genoeg was nog nooit goed genoeg nie. Van die vervaardigers tot die skryfspan en akteurs, almal wil die beste moontlike produk lewer. Daar word nooit op louere gerus nie, selfs ná 20 jaar streef ons steeds na verbetering.”
Sy onthou ook haar eie “rush”-oomblik. “Die eerste keer toe ek ’n storielyn vir At Koster moes skryf, was ek vreesbevange. Toe die episodes uitsaai en ek my gedagtes en woorde in Hans Strydom se vertolking sien, was dit ongelooflik. Sonder Binnelanders sou ek waarskynlik nooit ’n loopbaan as skrywer gehad het nie.”
‘Dis ’n eer en voorreg om deel te wees’

Vir jonger sterre soos Gerald Steyn, wat die rol van Uys vertolk, beteken dit baie om deel te wees van so ’n nalatenskap.
“Dis ’n absolute eer en voorreg om deel te kan wees. Die tydperk getuig van die kwaliteit en professionaliteit van ons span.”
Hy onthou die swartmark-hart-storielyn as een van sy gunstelinge. “Nie net het dit baie opvolgstories gehad nie, maar ek dink dit was ’n goeie morele dilemma wat puik uitgevoer is.”
‘Elke storie het ’n doel’

Antoinette Modise, wat die rol van die geliefde skindertong Bonnie vertolk, sê sy kan nie een spesifieke storielyn uitsonder nie, want vir haar vorm alles deel van ’n groter legkaart. “Kyk, daar was nou al baie mooi, hartseer en deurmekaar storielyne, maar elkeen het ’n doel. As een storie nie daar was nie, sou dit voel asof die legkaart inmekaar sak,” vertel sy.
“As ek ’n karakter moes kies wat die gees van Binnelanders vasvang, is dit At Koster. Hy’s iemand vir wie kykers en ons kollegas groot respek het. Ek het onlangs die eer gehad om teenoor Oom Hans te speel en dit was ’n belewenis. Hy het hierdie stilte in sy spel wat volumes spreek en dis hoekom mense lojaal teenoor hom bly.”
Oor die reeks se nalatenskap sê sy: “Dis ’n ongelooflike voorreg dat Binnelanders ná 20 jaar nog so gewild is. Kykers nooi jou elke aand in hul huis in. Jy vertel gewone mense se stories en dit maak die reeks relevant. Vir my is dit ’n eer om al ses jaar deel van hierdie reis te wees.”
Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30.
Episodes van die vorige seisoen van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 22:00 op kykNET&kie. (DStv-kanaal 145) uitgesaai, met herhalings van dié episode om 01:00 die volgende dag. Daar is ook ’n omnibus van die week se episodes op ’n Saterdag om 10:30.
Seisoene 8-14 van Binnelanders is op Showmax beskikbaar. Die huidige seisoen is nie beskikbaar op die plaaslike weergawe van dié diens nie.