Menu terloops
In Sepies [13 Okt 2025]

20 jaar van ‘Binnelanders’: ’n Terugblik op een van Suid-Afrika se goue sepies


Dis 20 jaar sedert die eerste episode van ‘Binnelanders’ op kykNET uitgesaai is, en daar blyk steeds geen keer aan dié sepie te wees nie. Ons kyk terug na die grootste, selfs soms haas onmoontlike, oomblikke wat sedert 13 Oktober 2005 in die lewens van die personeel en pasiënte van Binneland-kliniek afgespeel het.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Kyk 'Binnelanders' op DStv Stream

20 jaar van ‘Binnelanders’: ’n Terugblik op een van Suid-Afrika se goue sepies

Toe Binnelanders op 13 Oktober 2005 vir die eerste keer op kykNET uitgesaai is, het kykers voor die kassie ingeskuif vir wat toe nog ’n mediese dramareeks was en wat in die hartjie van Pretoria afgespeel het. Wie sou kon raai dat dit in een van Suid-Afrika se suksesvolste Afrikaanse sepies sou ontwikkel – ’n storie wat mediese nood, romanse, misdaad én tragedie in net die regte balans saamsmelt.

Onder die Binnelanders-rolverdeling in die vroeë 2010’s was onder andere Stefan Ludik, Nadia Valvekens, Reynardt Hugo, Desiré Gardner en Ramey Short. Foto’s: Verskaf/Argief

Hoewel Binnelanders begin het as ’n uurlange drama wat aanvanklik op beide M-Net en kykNET uitgesaai is, is dit halfpad deur die reeks se tweede seisoen in ’n sepie omskep. Daar was intussen nog ’n paar afdraaipaaie – soos toe ’n regspraktyk by die hospitaal-storielyn gevoeg en die titel na Binneland Sub Judice verander is – maar sedert 2011 word dit as ’n halfuurlange sepie op kykNET uitgesaai.

Van skokkende sterftes en ingewikkelde liefdesdriehoeke, tot skurke wat met moord kan wegkom, hier is van die mees onvergeetlike oomblikke, karakters, verhoudings en skandale wat Binnelanders oor die afgelope 20 jaar so besonders gemaak het.

1

At Koster geskiet! 

At Koster (Hans Strydom) se skietvoorval het die dramatiese einde van Binnelanders as reeks en die begin van sy nuwe era as sepie ingelui. ’n Skokoomblik wat dit duidelik gemaak het dat hier nog meer bloed, spanning en drama kom.

2

Dié skokkende liefdesdriehoek stel die standaard

Stefanie Malherbe (Rolanda Marais), Franz Basson (Dawid Minnaar) en Gideon Basson (Neels van Jaarsveld) het vir Binnelanders een van sy grootste skandes gebring en dit was beslis nie die laaste liefdesdriehoek nie. As daar een ding is wat hierdie reeks goed kan doen, is dit ’n skokkende liefdesdriehoek!

3

Roelien, Chris en Jennifer 

Kykers was verpletter toe Roelien van Deventer (Sarahann Doherty) gekeer het dat haar man Chris (Phillip C. Henn) met sy ware liefde, dr. Jennifer Adams (Sandi Schultz), trou. Hierdie storielyn het ook twee geliefde aktrises, Sandi Schultz en Nadia Valvekens, se sterre helder sien kyn. Hulle is tans te sien as frenemies Zelda en Sanet in die kykNET-telenovela Diepe Waters.

4

Pippa Venter: Van wegloopbruid tot ware liefde

Binnelanders 20
Pippa (Nadia Valvekens) en kapt. Ferdie Liebenberg (Dirk Stoltz). Foto’s: Verskaf

Pippa (Nadia Valvekens) het Conrad (Hykie Berg) voor die kansel gelos, maar uiteindelik ware geluk by kapt. Ferdie Liebenberg (Dirk Stoltz) gevind. Ná 13 jaar het sy die sepie verlaat en kykers met trane en nostalgie agtergelaat.

5

At en Ivanka 

Binnelanders 20
Sommige kykers is oortuig daarvan dat Ivanka (Leandie du Randt) eintlik At (Hans Strydom) se ware liefde is…

Die verhouding tussen die magtige At Koster en die (veel, veel) jonger Ivanka Gouws (Leandie du Randt) was net so omstrede as wat dit onvergeetlik was. Ivanka bly steeds ’n gunsteling onder kykers, veral wanneer sy weer ’n draai kom maak.

6

At Koster se reis van skurk na held

Binnelanders
Geen skurk in Binnelanders se geskiedenis het soveel invloed soos Hans Strydom se At nie.

Geen skurk in Binnelanders se geskiedenis het soveel invloed soos At nie. Hans Strydom is een van die laaste oorspronklike akteurs wat sedert die begin van Binnelanders se dae al op die program te sien is. Van manipulasie tot magspeletjies, hy was die man wat almal gevrees het. Maar uiteindelik het selfs At sy sagter kant gewys…

7

Cherilee Gouws en Ferdi du Toit – wreedheid in ’n wit jas

Nicola Hanekom se vertolking van Cherilee het vir koue rillings gesorg. Sy en Ferdi het Naomi (Je-ani Swiegelaar) wreed gemanipuleer en selfs haar eie dogter misbruik in ’n siek “kanker”-bedrogstorie.

8

Marissa teen Ella

Binnelanders 20
Marlee van der Merwe het uitstekende toneelspel in haar dubbelrol as die tweeling Marissa en Ella gelewer.

Marlee van der Merwe se dubbelrol as die tweeling Marissa en Ella was ’n hoogtepunt. Marissa het haar kollegas vergiftig, haar seun gemartel en uiteindelik moes haar eie suster haar psigologiese teistering tot ’n einde bring. Suiwer Binnelanders-teater!

9

Riekie: Die moordenaar wat niemand verwag het nie

Binnelanders 20
Sjoe! Dié storielyn het ons omtrent vir ’n ses geslaan…

Riekie (Zandélle Meyer) het soos die onskuld self gelyk, totdat sy ontmasker is as ’n reeksmoordenaar wat haar pa se vriendin, Rita (Ilana Cilliers), wou frame vir die moorde. ’n Donker, onvergeetlike wending! 

10

Delia en Andries – familie en siekte

Sepievoorskou, Delia, Binnelanders
Delia (Odelle de Wet) is een van die Binnelanders se mees intense en gemene karakters.

Delia (Odelle de Wet) bly een van Binnelanders se mees intense en gemene karakters. Maar toe haar pa, Andries (André Odendaal), se dissosiatiewe identiteitsversteuring aan die lig kom en een van sy alterego’s haar kind ontvoer, het selfs geharde kykers haar begin jammer kry.

11

Toe Conrad homself “verloor” het

BINNELANDERS
Conrad, deur Hykie Berg vertolk, se storielyne het vir kykers al omtrent op ’n wipwarit oor die jare gevat.

Ná ’n besering het Conrad (Hykie Berg) ’n totaal ander persoonlikheid ontwikkel. Vir weke lank het kykers die genadelose sakeman sag en sentimenteel sien raak, net om hom alles te sien verloor toe hy weer “homself” word. Tog het daar ’n bietjie van die nuwe Conrad oorgebly.  

12

Louis en Naomi se orgaandrama

Binnelanders 20
Die orgaandrama het amper die einde van dié pragtige paartjie beteken met Louis (Germandt Geldenhuys) wat alles moes insit om Naomi (Je-ani Swiegelaar) se vertroue terug te wen.

Louis (Germandt Geldenhuys) het in ’n orgaansmokkelnetwerk beland wat byna sy huwelik met Naomi vernietig het. Die skokkende waarheid dat haar nuwe hart van dr. Steve (Clint Brink) se vermoorde broer gekom het, het aanhangers laat sidder. Dit was beslis een van daardie storielyne wat kykers op die punt van hul stoele gehou het met een skok ná die ander. En aan die einde het Louis en Naomi – gelukkig! – mekaar weer gevind. 

13

Die sperm-kinkel wat almal laat gasp het

’n Kliniekfout het gemaak dat Louis die biologiese pa van Delia se baba geword het – dít terwyl hy en Naomi self met vrugbaarheidsprobleme gesukkel het. Suiwer sepiegoud!

14

Tertius se twee babas, twee driehoeke en te veel drama

Binnelanders
Ai, shame, die arme man…

Van Daleen se babageheim tot Tracy se motorongeluk en koma, Tertius (Reynardt Hugo) het seker die meeste drama van almal beleef. Tog bly hy een van die gewildste dokters in Pretoria se bekendste kliniek. Twee keer het hy gedink hy het ’n dogter en twee keer was dit nie sy kind nie, maar dié van ’n Koster danksy ’n one night stand. Eina! Eers Daleen en toe Tracy (Melinda Viljoen). 

15

Rian se “dood” en Pippa se hartseer

Rian (Erik Holm) en Pippa was die goue paartjie van Pretoria, totdat Rian sy eie dood geveins het. Toe hy weer verskyn, was sy reeds getroud met haar Kaptein. ’n Klassieke Binnelanders-tragedie. Moenie vergeet dat At ook sy dood moes fake nie. Dit is nog ’n opspraakwekkende Binnelanders-kinkel. 

16

Die aardbewing

Die 2018-aardbewing is een van Binnelanders se indrukwekkendste produksie-oomblikke. En ook toe Louis besef het hy is werklik op Naomi verlief. ’n Kombinasie van spanning, liefde en asemrowende TV. Soos ’n toneel uit Chicago Fire.

17

Steve en Elana: Liefde, verlies en ’n laaste asem

Binnelanders 20
Min storielyne het kykers so diep geraak soos Elana (Ilne Nienaber) en Steve (Clint Brink) s’n.

Min storielyne het kykers so diep geraak soos Elana (Ilne Nienaber) en Steve (Clint Brink) s’n. Hul verhouding was vol warmte en eerlikheid en natuurlik ’n gesonde porsie drama – tot die dag wat alles weggeneem is. Elana se dood bly een van die hartseer-hoogtepunte in Binnelanders se geskiedenis.

18

Annelize Roux, koningin van chaos

Cindy Swanepoel vertolk die rol van Annelize Roux in Binnelanders.
Cindy Swanepoel as Annelize Roux in Binnelanders.

Van blackmail en manipulasie tot gebroke harte, Annelize (Cindy Swanepoel) het dit alles gedoen. Sy is die definisie van ’n moderne sepie-skurk: stylvol, slim en soms net té gevaarlik vir liefde. Sy het seker die meeste verhoudings gehad en elke liewe een sonder langlopende sukses. As julle vergeet het, sy was met At getroud en sy was ook in verskeie verhoudings met (onder meer) Uys, Steve, Tertius, Jeremy, Eben, Rian én Conrad.

19

Okkie en Ilse

Binnelanders 20
Oom Okkie is deur die geliefde ontslape akteur Ben Kruger vertolk.

Vir elke skurk is daar mense met siel en diepte en dis Okkie (die ontslape akteur Ben Kruger) en Ilse Ferreira (Hannelie Warren). Hul liefde het jare lank vir balans gesorg, selfs toe dr. Sergio de Freitas (Emmanuel Castis) vir Okkie van moord verdink het.

20

Danny en Chanel, die liefdesverhaal wat nie sy gelukkige einde gekry het nie

Binnelanders 20
Almal het gehoop op ’n gelukkige einde vir Danny Jantjies (vertolk deur die ontslape akteur Bradley Olivier) en Chanel (Lindsey Abrahams).

Danny Jantjies (vertolk deur die ontslape akteur Bradley Olivier) en Chanel (Lindsey Abrahams) was die aan-en-af-paartjie wat almal met ’n gelukkige eindig wou sien. Bradley se skielike afsterwe in 2023 het sy karakter se laaste storielyn in ’n emosionele afskeid verander.

Hier’s op nog 20 jaar van hartseer, genesing en onvergeetlike drama by Binneland-kliniek!


Nuwe episodes van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai. Daar is ook elke aand ’n herhaling van die episode om 23:30, asook Dinsdag tot Vrydag om 08:30. 

Episodes van die vorige seisoen van Binnelanders word vanaf Maandag tot Vrydag om 22:00 op kykNET&kie. (DStv-kanaal 145) uitgesaai, met herhalings van dié episode om 01:00 die volgende dag. Daar is ook ’n omnibus van die week se episodes op ’n Saterdag om 10:30. 

Seisoene 8-14 van Binnelanders is op Showmax beskikbaar. Die huidige seisoen is nie beskikbaar op die plaaslike weergawe van dié diens nie.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Wat om te kyk: Moenie dié stories in September misloop nie

Van die nuwe seisoen van een van die beste TV-reekse dié dekade, 'Slow Horses', tot ’n nuwe Afrikaanse drama met Simone Nortmann, en 'Tweespalt', ’n rugbyreeks wat die wedywering tussen die Springbokke en die All Blacks onder die loep bring.

Meer
6

‘Suidooster’ in September: Skokke, geheime en verraad vier hooggety

Liefde, lojaliteit en die vraag of bloed werklik dikker as water is, word vandeesmaand in 'Suidooster' telkens op die proef gestel. Hier is ses groot storielyne wat jy in September moet dophou.

Meer

Jou ‘Skemergrond’-gids vir September 2026

Lily en Ruan is gebroke en Christine se verlede haal haar in. Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir September 2026

Nazeem is ’n doring in Bridgette se vlees en Frankie en Riaan het ’n moeilike gesprek. Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in September kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies