Ons kyk terug na drie storielyne rondom kanker in Suidooster, Getroud met Rugby, Arendsvlei en Binnelanders wat kykers diep geraak het:
Kaashifa in Suidooster

Kaashifa (Jawaahier Petersen) se borskankerdiagnose kort nadat sy aan Rhafiek (Irshaad Ally) verloof geraak het, het ’n vreugdevolle tyd in ’n emosionele en uitdagende periode verander. Ná ’n mastektomie moes Kaashifa ook rekonstruksieoperasies ondergaan waarna sy haar reuk- en smaaksintuie verloor het. Dié onverklaarbare newe-effek het vir groot spanning in die storie gesorg, soos Kaashifa amper deur al dié trauma verswelg is. Só is die voortdurende uitdagings en gevolge van mense wat wel van kanker gesond word ook deur elke episode beklemtoon.
Deur haar reis kon kykers beide die fisieke en emosionele realiteite van herstel sien, terwyl dit ook die belangrikheid van ’n sterk ondersteuningsnetwerk en veerkragtigheid beklemtoon het.
Lienkie in Getroud met Rugby

Lienkie (Mandi du Plooy-Baard) se kankerverhaal het kykers gewys hoe ’n ernstige siekte nie net die pasiënt raak nie, maar ook hul familie, vriende en gemeenskap. Haar diagnose van pankreaskanker, wat sy aanvanklik net met haar naastes soos haar man Blitz (Werner Coetser) gedeel het, het tonele van spanning en groot emosies geskep.
Terwyl sy tydens haar eerste diagnose chemoterapie ondergaan het, het die sepie haar geestelike voorbereiding, hantering van newe-effekte en die uitdagings van om dié lewensveranderende diagnose met ander te deel, uitgebeeld. Sy was vir ’n tydjie in remissie, maar toe kom die pankreaskanker terug. En dié keer was dit selfs kwaaier, met haar mediese span wat vir haar moes meedeel dat sy waarskynlik net enkele maande sou lewe. Op dae toe haar energie laag was en sy amper nie van die bank af kon beweeg nie, was die tol op haar familie duidelik.
Lienkie was swanger toe die kanker terugkom. Ek sal nooit vergeet wat sy vir Blitz gesê het toe hy vra of dit die swangerskap of kanker is wat haar laat siek voel nie. Haar antwoord was seker een van die treffendste tonele wat ek nog op TV gesien het: “Dit is crazy om te dink dat daar terselfdertyd lewe en dood binne my groei en albei maak my siek.”
Die storielyn, wat eindig met haar dood en haar geliefdes se verwerking van dié verlies, bly een van die mees emosioneel gelaaide en belangrike storielyne in een van ons plaaslike stories. Dit het kykers herinner dat siekte almal rondom die pasiënt raak en die waarde van empatie, bewusmaking en ondersteuning beklemtoon.
Ingrid in Binnelanders

Toe Ingrid (die ontslape aktrise Michelle Botes) in die vroeër dae van Binnelanders met borskanker gediagnoseer is, het kykers ’n nuwe, diep menslike kant van At (Hans Strydom) gesien. Dieselfde kant wat hulle nou met sy ondersteuning teenoor sy huidige vrou Laetitia (Rika Sennett) – of Gretha Havenga soos wat sy deesdae genoem word – se siekte sien.
At het vir haar dié nuwe Gretha-identiteit geskep toe sy laas in die storie was omdat hy skuldig gevoel het dat hy haar destyds van haar loopbaan ontneem het. Die nuwe identiteit laat toe dat sy steeds navorsing kan doen. Maar toe word sy met ’n breingewas gediagnoseer. Sy wou aanvanklik nie mediese sorg daarvoor ontvang nie, omdat sy steeds aan haar navorsing wou werk. At het egter met sy besorgde en sagter kant vir haar oortuig dat sy dit moet laat verwyder. Die dokters kon egter nie alles kry nie en sy sukkel steeds met haar gesondheid.
Sy sagte bemoediging teenoor Laetitia/Gretha – en om vir Ingrid op haar laagste te sê sy is steeds die mooiste vrou wat hy ken – is as onvergeetlike en emosionele TV-oomblikke verewig. Dit het aan kykers gewys dat daar skoonheid en waarde in kwesbaarheid is.
Lee-roy in Arendsvlei

Lee-roy (Roberto Kyle) is as jong kind met limfoomkanker gediagnoseer, maar het in remissie gegaan. In seisoen 1 van dié telenovela het baie van die drama in die Foster-familie rondom Lee-roy se kanker gedraai. Hy het dringend ’n beenmurgoorplanting nodig gehad, maar hulle kon aanvanklik nie ’n skenker kry nie. Sy pa Lionel (Jody Abrahams) het toe uiteindelik vir hom ’n skenker geword. Maar beide Lee-roy se ouers (sy ma Ronel is deur Melanie du Bois vertolk) het meer troos buite hul huwelik gevind soos hul kommer oor hul seun toegeneem het. Só is nog een van die onvoorsienbare gevolge wat siektes op families kan hê, uitgebeeld.
En dan was daar Lee-roy se eie liefdesverhaal tydens dié tydperk. Dit was juis toe hy op sy siekbed lê en vir weke in die hospitaal was, dat sy verhouding met Wesley (Craig Adriaanse) so diep geraak het. Wie sal daardie skelm soen tussen hulle in die hospitaal kan vergeet?! Gelukkig was die oorplanting ’n sukses met Lee-roy en Wesley wat later getrou het.