Menu terloops
In Recaps & Resensies [19 Apr 2022]

‘Anatomy of a Scandal’: Dié kragtoer se houvas kan jy nie sommer afskud


‘Anatomy of a Scandal’ se ystergreep laat ses episodes na veels te min voel.

Deur André-Pierre du Plessis
‘Anatomy of a Scandal’: Dié kragtoer se houvas kan jy nie sommer afskud
Kyk lokprent

Die name David E. Kelley, Sienna Miller en Michelle Dockery behoort genoeg te wees om jou te oortuig om Anatomy of a Scandal te kyk. Indien daai drie name niks vir jou beteken nie: 1. Skaam jou. 2. Kom by. 3. Laat ons jou help om van hierdie briljante samekoms van talent sin te maak.

Kelley het Ally McBeal geskep. Onthou mos? Daai 90’s-hofdrama wat ons nooit wou gehad het moes eindig nie. Daarvoor was die drama van Ally (Calista Flockhart se breakout-rol) se lewe binne en buite die hofgange té meesleurend. En dís die effek van meeste, indien nie al, Kelley se stories. Van L.A. Law en The Practice, tot Boston Legal en Big Little Lies. Die man ken van.

Miller het weer naam gemaak in die fliek Alfie en almal se aandag gesteel.

Dockery is beter bekend as Downton Abbey se slinkse Lady Mary Crawley. In Anatomy of a Scandal word sy uiteindelik die tipe rol gegun wat wys sy kan meer as net ’n kwaai tannie op kamera wees.

Anatomy of a Scandal Resensie
Michelle Dockery in Anatomy of a Scandal. Foto: Netflix

Einde van ’n sprokieswêreld

Dié oorspronklike Netflix-reeks is gegrond op die gelyknamige boek deur Sarah Vaughan. Dit handel dit oor die nadraai van ’n bewering wat ’n egpaar se hele wêreld in mekaar laat stort.

Miller vertolk die rol van Sophie Whitehouse, wie se invloedryke man, James (Rupert Friend), ’n Britse minister is. Boonop het hy noue bande met die eerste minister.

Maar dan word James deur een van sy werknemers van verkragting beskuldig.  Skielik bevraagteken Sophie die sprokieswêreld waarin sy al vir so lank leef.

Dockery vertolk die rol van Kate Woodcraft, ’n vasbeslote aanklaer wat James se werknemer, Olivia Lytton (Naomi Scott), verteenwoordig. In die hof kom sy egter teen ’n ewe verbete prokureur, Angela Regan (Josette Simon), te staan.

Naas die hofdrama, wat oor slegs ’n paar episodes uitspeel, dra terugflitse na Sophie en James se universiteitsdae ryklik tot die agtergrond-narratief by. Dit gee die nodige konteks om te kan verstaan presies hoe uitgelewer, geïsoleerd en onbeholpe hulle is om die situasie te hanteer. Albei was studente op Oxford. Só is hulle blootgestel aan ’n tipe groepsdruk en lewenswyse wat eie aan ryk en invloedryke universiteite soos Oxford is. Sophie en James kom ook albei uit welaf families wat altyd vir alles en nog meer gesorg het. Noudat James, sonder die ondersteuning van ou universiteitsvriende, onder die aanslag van die media en breë publiek se kritiek gebuk gaan, besef hulle hoe sterk die invloed van hul opvoeding en veral hul ouers op hul was… En hoe dit eintlik swakkelinge van hul gemaak het.

Sosiale kommentaar

Die reeks, soos die oorspronklike boek, is ook sosiale kommentaar op Brittanje se elite.

’n Mens kan amper die onlangse nuus rondom Boris Johnson vergelyk met die situasie waarin die fiktiewe James homself bevind. Die manier waarop Johnson niks meer as 60 pond moes opdok vir sy partytjie by Downing Street terwyl die res van die land dit nie kon waag om ’n voet buite die huis te sit tydens Covid-19 nie, is tekenend van die absoluut belaglike skeiding wat in die Britse samelewing tussen die invloedrykes en die gepeupel bestaan.

Op ’n soortgelyke wyse lyk dit deur die loop van Anatomy of a Scandal asof James met niks meer as ’n tik op die vingers gaan wegkom nie. Nie omdat daar onvoldoende bewyse is nie; eerder as gevolg van wie hy is en wie hy ken.

Sophie speel ’n belangrike rol in hoe hy die situasie manipuleer. Hy gebruik inderwaarheid vir Sophie as ’n skild om te sorg dat hy sonder enige gevolge aan die anderkant kan uitkom.

Stilistiese mallemeule

Eie aan die manier wat Ally McBeal dikwels ons aandag uitgelok het deur denkbeeldige baba’s wat Ally met ’n spies probeer gooi het, gebruik Kelley slim kinematografie om ons aandag te trek en te hou.

In een episode sien Sophie byvoorbeeld hoe haar man vir Olivia reg voor haar verkrag. Dit is nie werklik besig om te gebeur nie, maar die manier wat die kamera in verskeie rigtings rondom die drie karakters draai, laat ’n mens gedisoriënteerd voel; wankelrig. Dís juis om simpatie by die kyker te wek vir wat in Sophie se kop aangaan.

Soms laat die stilistiese draaie en flashbacks ’n mens voel asof jy nie mooi weet wat aangaan nie. Jou greep op die narratief is, soos Sophie se greep op haar realiteit, nie aldag fors nie. Maar dis dan wanneer die akteurs intree en jou herinner dat húlle reeds alleen genoeg rede is om die reeks te kyk.

Buitendien is daar slegs ses episodes wat moontlik net genoeg is vir die wat bang is dis dalk nie regtig so goed soos hierdie resensent sê nie. (Maar dit is. Selfs beter.)

Anatomy of a Scandal is nou op Netflix.

Kyk ook:

Kry Netflix met DStv

DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies