Sy is ’n alombekende gesig op die kassie – plaaslik én internasionaal – met rolle in reekse soos die polisiereeks, NYPD Blue, die Netflix-treffer, Blood & Water, en die kykNET-sepie, Binnelanders. Dis juis haar rol as dr. Jennifer Adams in Binnelanders wat Sandi Schultz as een van die merkwaardigste in haar 40 jaar lange loopbaan beskou, maar dis vir ’n ander dokter-rol waarvoor sy op Wikipedia-lys verskyn. Vir haar vertolking as dr. Gwen Pennington in die Amerikaanse mediese drama, City of Angels, staan Sandi se naam langs van TV se grootste ongevalle-helde, soos Ellen Pompeo (as dr. Meredith Grey op Grey’s Anatomy) en Freddie Highmore (as dr. Shaun Murphy op The Good Doctor), op ’n lys van ikoniese Amerikaanse TV-dokters.
Sandi het vir 12 jaar in Amerika gewoon en werk. In dié tyd het sy ook in flieks soos The Last Samurai en Where Truth Lies (saam met haar eks-man, die Amerikaanse akteur John Savage) verskyn. Deesdae hou sy weer Suid-Afrikaanse kykers op hul tone as die sakevrou Zelda Joubert in kykNET se nuutste telenovela, Diepe Waters. Sy verskyn ook as die skoolhoof, Nicole Daniels, in Blood and Water. Die derde seisoen van dié reeks is onlangs op Netflix beskikbaar gestel.
Voorwaarts mars
Haar spel en die wydreikte van die etlike karakters wat sy al vertolk het, spreek van ’n dinamiese kunstenaar – een wat op amper 60 geen planne het om af te tree nie. Solank as wat die rolle beskikbaar is, sal ons vir Sandi op ons kassies sien, sê sy. Nee, wat, sy het te veel woema om nou al by die huis te sit. En die realiteit is ook dat aftree nie juis beskore is vir plaaslike toneelspelers nie, voeg sy by.
“Ek moet erken dat ek die stereotipe is van ’n akteur wat nie ’n pensioenfonds het nie. En boonop is ek regtig te oud om ’n ryk man te vang, so aftrede is nie ’n opsie nie,” grap sy.
Maar andersyds is dit ook waar dat sy nie wíl aftree nie.
“Ek hou van wat ek doen. Ek sal graag wil aanhou totdat my brein en my liggaam my in die steek laat,” voeg sy by.

Droomrolle… En die realiteit
Anders as in Hollywood, waar akteurs dikwels meer finansiële stabiliteit geniet en meer kieskeurig met rolle kan wees, kan Suid-Afrikaanse akteurs nie altyd bekostig om nee te sê as dit nie ’n “droom”-karakter is nie. Uiteindelik moet daar steeds kos op die tafel gesit word. Maar dit beteken ook nie dat jy net enige iets moet ja sê nie, maan sy. Vir haar speel die karakter se ontwikkelingsreis ’n groot rol in haar besluit om vir ’n rol te oudisie.
Toe ek die eerste keer op Binnelanders begin het, het ek geen idee gehad hoe om te huil sonder om my eie trauma te gebruik nie en só myself elke keer te hertraumatiseer nie. Die vaardighede wat ek geleer het om daardie karakter te speel, sal my vir altyd bybly. Sy sal vir altyd een van my gunsteling-mense wees wat ek al beliggaam het.
Sandi Schultz
“In Suid-Afrika is ons ongelukkig, in vergelyking met Hollywood en die res van die wêreld, meestal ambagsmense. Ons lewe meestal van salaris tot salaris, so dikwels is die belangrikste oorweging finansieel as dit by ’n rol kom. Maar ek het al nee gesê vir rolle wat ek gedink het ’n stereotipe is,” sê sy.
“As dit ’n sterk vrou met ’n oorwoë emosionele boog is, spring ek vinnig vir daardie rol.”
Een só voorbeeld, wat haar ook as mens laat groei het, is haar rol as dr. Jennifer Adams in Binnelanders.
“Ek het myself as ’n ervare akteur gesien toe ek in my vroeë 40’s daardie rol aangevat het. Maar daardie karakter het my ’n geleentheid gegee om te ontwikkel en te groei, op ’n manier wat ek nog nooit tevore ervaar het nie,” sê sy.
“Toe ek die eerste keer op Binnelanders begin het, het ek geen idee gehad hoe om te huil sonder om my eie trauma te gebruik nie, en só myself elke keer te hertraumatiseer nie. Die vaardighede wat ek geleer het om daardie karakter te speel, sal my vir altyd bybly. Sy sal vir altyd een van my gunsteling-mense wees wat ek al beliggaam het.”
Diepe Waters se Zelda vs Blood & Water se Nicole
Sedert sy tien jaar gelede teruggekeer uit Amerika na Suid-Afrika teruggekeer het, het Sandi bitter min stil gesit. En danksy die ontwikkeling van stroomdienste soos Showmax en Netflix, meen Sandi is daar nou meer geleenthede as ooit te vore vir ouer akteurs. Sy is, as sulks, optimisties oor haar toekoms in die bedryf.
Sy beskryf haar twee huidige werksomgewings as twee heeltemal verskillende wesens.
“In Blood and Water speel ek ’n karakter wat noodsaaklik, maar ook ’n randkarakter is. In Diepe Waters kan ek weer – vir die eerste keer in my lang loopbaan – die antagonis wees,” verduidelik sy opgewonde.
“Die wesenlike verskil is dat die een produksie kortvormig is en die ander langvormig is. Ek moet Nicole skep oor wat tot dusver in wese minder as 25 episodes is. Daarenteen kan ek Zelda oor die boog van ’n hele jaar kan vorm. Dit bied geleentheid vir baie meer nuanse.”
Vir kykers mag hierdie twee karakters dalk soos dag en nag verskil, veral omdat een ’n skoolhoof en die ander ’n genadelose sakevrou is. Maar volgens Sandi is Zelda en Nicole glad nie so anders nie. Dit is veral omdat albei tot ’n groot mate vroue uit behoeftige agtergronde is, meen sy. Hulle het hulself opgebou om in posisies te kom wat nie gewoonlik vir diegene van so ’n nederige begin bestem is nie. Tog is daar een groot verskil.
“Terwyl Nicole daarop ingestel is om die jongmense in haar beheer te dien, het Zelda geen probleem om mense in haar soektog na wraak te gebruik nie.”
Wat die hart van vol is…
Wanneer jy met Sandi gesels, kom jy vinnig agter dat haar liefde vir haar loopbaan en dit wat sy doen, haar hart sommer laat oorloop. Maar die een ding wat vir haar belangriker is – en haar hart nog voller maak – is die mense in haar lewe. So, as sy die geleentheid kry om saam met vriende te werk, maak dit haar tyd op stel nog lekkerder.
“Ek werk saam met my beste vriend op hierdie produksie (Diepe Waters). Dit is ’n ongelooflike bonus wat my veilig en geanker laat voel. Maar dit is ook heerlik om nuwe energieë te ontdek en ek geniet dit om daardie nuwe connections te verken,” sê sy.
Oor haar tyd in Amerika het Sandi niks behalwe goeie herinneringe nie. Niemand was meer verbaas as sy toe sy terugkeer Suid-Afrika toe nie.
“Ek het regtig nooit verwag om terug te keer ná die 12 jaar wat ek in Los Angeles gewoon het nie. Nadat ek myself nou vir meer as ’n dekade per ongeluk terug in Johannesburg bevind, sou ek dit uiters moeilik vind om weer Amerika toe te verhuis. Ten spyte van die beurtkrag, en slaggate en verbrokkelende infrastruktuur, is daar niks soos die Suid-Afrikaanse gees, kameraadskap en sin vir humor nie,” sê Sandi trots.
“En terwyl ek my Amerikaanse vriende en familie mis, het ek ’n ewe soliede en ondersteunende kring hier.”
Sandi se eie ‘diepe waters’
Op 58 het Sandi al baie in haar lewe bereik en beleef. Die lewe het haar al op opwindende avonture geneem, maar dit het haar ook deur haar eie diepe waters gevat. Tog bly Sandi positief en stralend en voel sy deesdae minder bekommerd oor die toekoms en ouer word.
Sandi vertel dat sy ’n groot vrees vir sterflikheid gehad het voordat haar man van 16 jaar, die regisseur Laszlo Bene, in 2020 gesterf het.
“Maar sedertdien het ek besef dat dit belangrik is om te lewe terwyl jy lewe. Ek dink my generasie is baie ‘jonger’ as dié wat voorheen was, en ek voel nie gedwing om ‘op my ouderdom’ af te tree nie. Ek het my gravitas verdien, maar ek het ook geleer om die dogtertjie in my, wat nooit die geleentheid gehad het om sorgvry te wees nie, die geleentheid te gee om dit te doen en te wees. My gunsteling George Bernard Shaw-aanhaling is: ‘Mense hou nie op speel omdat hulle oud word nie. Hulle word oud, omdat hulle ophou speel.’ As dit waar is, sal ek nooit oud word nie,” sê sy.
Vlieg, soos die feniks
Sy deel graag op sosiale media die dae as sy nie so sterk is nie, maar sy laat nooit toe dat haar seer haar liefde of lus vir die lewe blus nie. Op die vraag hoe sy steeds so positief bly ten spyte van die lewe se uitdagings en hartseer oomblikke, soos die sterfte van haar man, antwoord Sandi dat sy glo ons baie kere in wedergeboorte soos die feniks herrys.
“Ons, diegene wat al die struikelblokke oorkom het, wat die lewe op ons pad geplaas het, moet die weg wys vir diegene wat nog ploeter. Een van my gunsteling metafore is dié van die lighuis. Dit hoef nie oor die hele eiland te hardloop nie. Al wat dit moet doen, is om daar te staan en sy lig te versprei. As ’n herinnering hiervan, het ek ’n tattoeëermerk op my pols wat sê, ‘Illume‘,” sê sy.
“Dit is wat ek gaan doen. Ek gaan net hier staan, en my lig laat skyn.”
Blood and Water S3 is nou op Netflix te sien. Diepe Waters word Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET en DStv Online uitgesaai word. Dit is ook op Catch Up beskikbaar.