Menu terloops
In Onderhoude [10 Okt 2023]

‘Suidooster’ se Abigail Mei vind haar TV-voete


Toe die aktrise Abigail Mei die rol van Zenobia in ‘Suidooster’ losgeslaan het, het sy die geleentheid aangegryp om haar voete in die TV-bedryf nat te maak. Sy vertel ons meer oor haar sepiedebuut, en hoekom kykers vir Zenobia ’n kans moet gee.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn

Stroom aanlyn

‘Suidooster’ se Abigail Mei vind haar TV-voete

Haar karakter in Suidooster mag dalk ’n nuwe gesig op die kassie wees, maar dit is beslis nie die eerste keer dat Abigail Mei in ’n karakter se skoene klim nie.

Dié boorling van die Noord-Kaap is al vir meer as 14 jaar in die bedryf en was al deel van talle bekroonde teaterproduksies. Daaronder tel die Fleur du Cap-wenner G7: Okwe Bokhwe, asook Immimoya, en die aangrypende Onweer.  

Twee wêrelde

Teater is haar passie en sy vat vlam op die verhoog. Abigial, en selfs haar Suidooster-karakter Zenobia, mag dalk stil en teruggetrokke voorkom, maar daar is niks kleins aan hierdie aktrise se toneelspel nie. Sy gee alles op die verhoog as sy eers in ’n karakter se skoene klim. 

Abigail begin lag as sy vertel dat teateraktrises nou nie so famous soos TV- of movie-sterre is nie, maar dat dit vir haar lekker is om tussen die twee wêrelde te beweeg. 

Abigail voel unstoppable as sy op die verhoog is, sê sy. Tog het die TV- en fliekgogga het haar in 2021 hard gebyt nadat sy ’n rol in die fliek Atlantis losgeslaan het.  

“Dit was ’n ongelooflike ervaring, en saam met akteurs wat ek al vir jare respekteer. Ek het ook by die storie aanklank gevind. It hit close to home. Omdat ek nie vêr van Atlantis in Abbotsdale grootgeword het nie, het dit bekend gevoel en dít het my gehelp om met die storie te connect,” vertel Abigail. 

Atlantis vertel die verhaal van ’n tomboy taxibestuurder wat na haar magtige familie en die gemeenskap draai as haar broer vermis raak. Sy is vasbeslote om te verseker dat geregtigheid bo alles seëvier. Die tema van individuele gewete teenoor familielojaliteit kom sterk deur en dit het vir Abigail gedwing om dieper vrae oor haar eie gemeenskap en omgewing te vra. 

Van verhoog tot fliekstel

“Wanneer ek op die verhoog is, gaan ek groot. My karakters het sterk persoonlikhede en stories. Ek was altyd bekommerd dat as ek in TV of film gaan, dat ek dalk nie my optrede klein genoeg sal kan maak voor die kamera nie. Maar hierdie fliek was ’n goeie ervaring. Al is kamerawerk heel anders as teater, het ek gesien jy hoef nie jouself – of jou spel – kleiner te maak nie. Jy kan steeds groot performances in ’n meer intieme setting hê,” vertel Abigail. 

“Ek het dit baie op die stel geniet. Ek het die geleentheid gekry om saam met legendariese aktrises soos Lee-Ann van Rooi te werk, en ek het alles oos ’n sponge probeer inneem. Ná Atlantis en alles wat ek by mense soos Lee-Ann geleer het, het dit vir my die selfvertroue gegee om ’n kans met TV en film te waag. Ek was nog nooit so nervous op ’n verhoog soos wat ek op daardie filmstel was nie.” 

Ek dink dit is soms maklik om mense en hul omstandighede te judge en te sê iemand is sleg, sonder dat ons regtig weet hoekom hulle hulself in daardie situasie bevind. Ek dink dít is die geval met Zebonia. Dit is maklik vir kykers om sleg te praat van haar, maar soms maak omstandighede dat jy net nie vir iemand anders kan sorg nie. Veral as jy nie eers vir jouself kan sorg nie.

Abigail Mei

Sepiedebuut

Toe Abigail die rol van Zenobia in Suidooster losgeslaan het, het sy die geleentheid aangegryp om haar voete in die TV-bedryf nat te maak.

“Zenobia was anders as enige rol wat ek al ooit vertolk het. Sy is ’n bietjie rough around the edges, maar ’ n mens kan ook sien dat sy nie ’n maklike lewe gehad het nie. As ek na my gemeenskap kyk, sien ek baie Zenobias. Maar eers toe ek in haar skoene geklim het en haar background-storie begin create het, het ek besef hoe moeilik dit vir haar moet wees,” sê Abigail. 

“Ek dink dit is soms maklik om mense en hul omstandighede te judge en te sê iemand is sleg, sonder dat ons regtig weet hoekom hulle hulself in daardie situasie bevind. Ek dink dít is die geval met Zebonia. Dit is maklik vir kykers om sleg te praat van haar. Soms maak omstandighede egter dat jy net nie vir iemand anders kan sorg nie. Veral as jy nie eers vir jouself kan sorg nie. En ek is soms dieselfde as Zenobia – my trots maak dit vir my ook moeilik. Ek vra nie maklik vir mense om my te help nie, al weet ek dat ek regtig sukkel.”

Abigail Mei, Zenobia, Suidooster
Abigail Mei as Zenobia in Suidooster. Foto: Verskaf

Abigail sê Zenobia was ’n eye-opener vir haar en het haar gedwing om haar eie vooroordele van ander te bevraagteken. Al maak Zebonia vir kykers kwaad met haar houding en haar onbetroubaarheid, meen Abigail dat mense nie te hard op haar moet wees nie. 

“Deur hierdie karakter te vertolk, het ek baie meer empatie vir ander (ontwikkel). Dit het my dieper laat dink oor die situasies waarin mense hulself bevind, veral in die armer gemeenskappe.”  

Noudat die gogga behoorlik gebyt het, sien Abigail uit om nog TV- en fliekrolle los te slaan. Teater sal egter altyd ’n groot deel van haar lewe wees. 

Voor in die koor

“Mense sê altyd hulle het eers in ’n ander beroep begin, maar toe ontdek hulle hierdie passie en nou is hulle in die vermaakbedryf. Vir my het dit anders om gebeur. Van kleintyd af het ek geweet ek gaan ’n aktrise of ’n professionele atleet word,” vertel Abigail. 

“Toe ek op laerskool was, het ek altyd ’n groep bymekaar gekry en danse vir ons uitgewerk. Ek het dan vir laatmiddag gewag, voordat ons na die smokkelhuis in ons buurt gegaan het. Hier het ons vir die mense op die yard ons gechoreografeerde danse gedoen. Dit was die enigste tyd in my lewe waar ek kan onthou dat my ouers nie my sing en dans goedgekeur het nie. Ek is mos ’n pastoor se dogter, so my ouers wou niks weet van my wat by die smokkelhuis vir sakgeld danse opvoer nie. Nou mis hulle nooit ’n show nie,” vertel sy terwyl sy lag. 

Op die verhoog is dit net jy. Jy voel die gehoor, maar jy sien nie gesigte nie. Daar is ook nie tweede takes nie. Dit is net hier en nou en daardie oomblik. 

Abigail Mei

Abigail het destyds al ’n liefde vir optree gehad en wou altyd in die limelight wees. Sy was ook altyd voor in die koor as haar oom sy kamera uitgehaal het. 

“Ons het duisende video’s van ons familie. Ons hou nou nog daarvan om saam by iemand se huis te kuier; saam na ou video’s te kyk en daaroor te lag. My oom het altyd sy kamera by hom. Dit was sy stokperdjie om hierdie familie-opnames te maak. Dit was seker waar my liefde om te perform begin het. Ek het egter finaal besluit (om ’n aktrise te word) nadat ek ’n produksie van Schoonspruit Sekondêr in Malmesbury gesien het. Ek het geweet ek wou na daardie skool gaan omdat dit ’n skool vir kunste was.” 

Dien ander met talent

Ná skool het Abigail kunste gaan swot, maar het sedertdien ook ’n liefde ontdek vir vroeë kinderontwikkeling deur haar kinderteaterproduksiewerk, sowel as ’n passie vir bemarking. Vir haar is dit lekker om al haar vaardighede te kan uitleef in een omgewing. En ander te kan dien met haar talente. 

Abigail is bly dat sy nie tussen haar verskeie passies hoef te kies nie en sien uit na wat volgende gaan gebeur. 

Daar is wel een groot verskil tussen teater en televisie waaraan sy nog gewoond raak en dit is die aanhangers. 

“Mense ken jou nie regtig as jy ’n teateraktrise is nie. Daar is die gesigte wat ons gereeld by shows sien en hulle is natuurlik groot teaterliefhebbers, maar hulle sal jou nie sommer in die straat voorkeer nie. Maar ’n sepie-aanhanger is spesiaal. Ek raak nou nog daaraan gewoond dat mense my as Zenobia roep wanneer ek in die winkels is. Maar dit is ook vir my lekker om te sien hoe mense met jou werk connect.

Abigail Mei, Zenobia, Suidooster
Abigail Mei as Zenobia en Caleb Arnolds as Brendan in Suidooster. Foto: Verskaf

“Op die verhoog is dit net jy. Jy voel die gehoor, maar jy sien nie gesigte nie. Daar is ook nie tweede takes nie. Dit is net hier en nou en daardie oomblik. 

“Ek werk in stilte voor ’n show om seker te maak dat ek in die regte space is wanneer daardie gordyn oopgaan. Dit is anders op ’n TV-stel – en beslis anders met die kykers. Soms is anders lekker en vir nou geniet ek dit vreeslik.” 


Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies