Menu terloops
In Realiteit & Speletjie [12 Nov 2026]

Waterblommetjies bring vreugde en teleurstelling in ‘Kokkedoor: Klassiek’


In die tweede episode van ‘Kokkedoor: Klassiek’ moes tien spanne waterblommetjiebredie herontdek. Marion Holm het saam beoordeel terwyl familietradisies, nuwe geure en die dreigende eerste uitskakeling die spanning laat styg.

Waterblommetjies bring vreugde en teleurstelling in ‘Kokkedoor: Klassiek’

’n Lekker pot waterblommetjiebredie vra baie geduld. Maar in die tweede episode van Kokkedoor: Klassiek moes dié geliefde Suid-Afrikaanse gereg binne twee uur ’n nuwe baadjie aantrek. 

Die tien spanne se opdrag: skep ’n fynproewersgereg waarin selfs tradisionele rys en blatjang vernuwe moes word. Met R100 000 vir die wenspan en die eerste uitskakeling op hande, was daar heelwat meer as net ’n vernuwende aandete op die spel.

Marion Holm het as gasbeoordelaar by Herman Lensing en Jess van Dyk aangesluit.

Die aktrise se herinneringe aan haar ma se waterblommetjiebredie het die opdrag ’n persoonlike dimensie gegee: agter die nederige waterblommetjie lê ’n erfenis van sorgvuldige skoonmaak, eenvoudige geurmiddels en diepgestelde kennis wat van geslag tot geslag oorgedra word.

By die proetafel was die maatstaf duidelik. Vernuwing moes steeds na bredie smaak, met vleis, groente en sous wat saam ’n geheel vorm. 

Maar vir verskeie spanne sou die delikate waterblommetjie tussen al die groot idees verdwyn.

Herman en Jess se terugvoer

Jeanette Relling en Douglas Botha se trio van waterblommetjies het met dun pasta en sagte vleis ’n belowende indruk geskep. Herman kon die bredie herken, maar het die spekboom bevraagteken: die sterk suur smaak kon maklik die hoofbestanddeel verdring. Jess het die gereg nietemin as ’n lekker bord kos beskou.

Ansebé Pieterse en Maradine Whitehorn se waterblommetjie-dumplings (kluitjies) het te veel verskillende rigtings ingeslaan. Gekaramelliseerde uie, balsamiese asyn en sterk chakalaka het ongelukkig die waterblommetjies oorheers. Jess het boonop die sous gemis wat alles tot ’n bredie moes saambind. Die uiteenlopende geure op die bord het ook iets van die spanning wat tussen die spanmaats geheers het, weerspieël.

Stephanie Grobbelaar en Ruan Swanepoel se waterblommetjiebredie-risotto het gewys hoe vinnig ’n wenspan kan struikel. Te min sout en die gepaardgaande oordonderende klappergeur het die gereg veel eerder na ’n dis met ’n Thaise kerriebasis laat proe. Hul gebalanseerde blatjang het wel lof ingeoes, maar hulveiligheidskaart van die vorige uitdaging sou hier besonder waardevol gewees het.

Chanél Cloete en Karen du Plessis se waterblommetjie-ravioli was visueel suksesvol. Herman het die pasta se uitrol en gaarmaak geloof, maar dié tegniese sukses kon nie daarin slaag om die hele gereg bymekaar te bring nie. Die karakter van waterblommetjiebredie het steeds ontbreek.

Diana Bibbey en Zani Bormann se goudbruin waterblommetjieballe het mooi vertoon, maar die ontbytgraankors het te veel olie geabsorbeer. Dit het die hoofbestanddeel se geur gedemp en ’n andersins fyn aanbieding geknou.

Barbara Kemp en Janie Lottering se vonkelwyn-lamskenkel met waterblommetjie-pesto het daarenteen ’n emosionele snaar geraak. Herman het dit as die mooiste bord van die dag beskryf; Marion kon wel die samekoms van vleis en waterblommetjies proe terwyl Janie gevoel het dat Barbara haarself nie genoeg laat geld het in die Kokkedoor-stoor nie. Herman het beklemtoon dat dit juis haar onthoukos was wat tot die gereg se sukses bygedra het – en dat die twee kokke mekaar nodig het.

Milandré Braaf en Kheenan Douman se moderne Sondagmiddagete het met huislike brediegeure en nostalgiese aartappels beïndruk. Die klein bord het die elemente egter nie tot hul reg laat kom nie. Die arancini het ook te min waterblommetjiegeur gehad. Tog het hul vordering sedert die eerste uitdaging goed deurgeskemer.

Dewald Herbst en Mishka Brink het ’n besonder goed gaargemaakte lamsrak voorgesit, maar hul puree het eerder na blomkool as waterblommetjies gesmaak. Afsonderlik was daar lekker elemente; saam het dit egter nie die verlangde brediekarakter gehad nie.

Elsie Botha en Hanroe Erasmus se waterblommetjiegereg het die beoordelaars laat regop sit. Die twee het met groot huiwering kom aansit, maar hul vrese het gou plek gemaak vir verligting. Herman was só meegevoer dat hy in die sous wou bad, terwyl Jess die waterblommetjies wat in die aftreksel gaargemaak is, uitgesonder het. Hier het vleis, groente en sous saam die bekende brediesmaak opgeroep waarna die beoordelaars gesoek het. Vir Elsie was die lof oorweldigend: haar trane was dié keer van vreugde.

Die beoordelaars se besluit

By die langtafel het twee spanne bo die res uitgestyg: Barbara en Janie, en Elsie en Hanroe.

Uiteindelik het Elsie en Hanroe se geurvolle vertolking die deurslag gegee en hulle R100 000 in die sak besorg.

Vir die onderste drie was die stemming somber. Stephanie en Ruan se veiligheidskaart het hulle beskerm, wat beteken het dat die valbyl op Ansebé en Maradine of George en Paul sou afkom. 

Dit was George en Paul wat uiteindelik eerste hul voorskote moes ophang. Hul bereidwilligheid om te waag was duidelik, maar die uiteenlopende geure op hul bord het nie daarin geslaag om ’n samehangende geheel te vorm nie.

Die Kokkedoor-ervaring het Paul se passie vir erfeniskos en streekgeure opnuut aangevuur, asook sy hoop dat mense uit verskillende agtergronde ’n hegte band kan smee en diep vir mekaar kan omgee. Hy het gesien hoe respek vir tradisie ’n bekende gereg tot iets besonders kan verhef. 

George neem die voorneme met hom saam om ander se menings te oorweeg, maar terselfdertyd steeds sy eie instink te vertrou. Die positiwiteit, hoop en passie onder Afrikaanse mense – ’n mengelmoes van kulture met ’n gedeelde warmte, gasvryheid en openhartigheid – het hom veral diep getref.

Kokkedoor: Klassiek is Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en is ook op DStv Stream en Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies