Dinge is nou besig om ongemaklik ingewikkeld te raak in die sewende episode van kykNET se maatsoekreeks, Op my eish! met die voormalige rugbyspeler Ruan Smith en sy tweeling-wingman, JP.
Ruan het dit reeds duidelik gemaak dat hy dink die nonsens-drama tussen die vroue moet nou stop. Dis toe net daar waar JP besluit het iemand moet met die meisies kom gesels om sake te help ontlont. Hy het die hulp van Liezl Thom, ’n gekwalifiseerde lewensafrigter, ingeroep. Kykers mag haar onthou van kykNET se Vet Kans (2018) en die eerste seisoen van Op My Eish! met Neels van Jaarsveld.

Gesprekke met Liezl v.1
Saartjie het eerste op die bank gaan sit. Alhoewel sy aspekte van die reeks moeilik gevind het, was sy verras oor die warmte waarmee die ander vroue haar by die reeks verwelkom het.

Jenine het op haar beurt genoem dat sy nie die reeks as ’n kompetisie sien nie, maar dat sy eintlik daar is vir Ruan.
Chantelle het aan Liezl erken dat daardie spesifieke dag vir haar een van die moeilikste dae was. Sy is moeg en sy voel emosioneel uitgeput. Alhoewel sy aanvanklik nie kans gesien het vir ’n sessie met Liezl nie, het sy tog meer vreedsaam gevoel ná afloop van hul gesprek.

Gemengde emosies was die boodskap wat Maritha met Liezl gedeel het. “Dit gaan nie sleg nie, maar dit gaan ook nie great nie,” was haar woorde. En natuurlik is sy elke dag opgewonde oor die vooruitsig om vir Ruan te sien . . .
Cindy het vir Liezl vertel sy’t haarself in haar kop “reggemaak” voordat sy by Kilima aangekom het. Katterigheid en jaloesie was maar net twee van die baie dinge waarop sy voorbereid was.
Emosies het hoogty gevier en Liezl was byderhand met vertroostende sneesdoekies om trane te help wegvee.
Watersport ná die ‘waterwerke’
Die meisies wat met Liezl gesels het, het na afloop van hul gesprekke iets gehad om na uit te sien: Watersport met Magoebaskloof-avonture. En sowaar, Cindy wat altyd na die tawwe een lyk, het eensklaps erken sy’s baie bang vir water. Wie sou dit kon raai van die meisie wat lyk asof sy selfs vir Chuck Norris kans sien?

Gou het sy met haar oë piering-groot by die instrukteur probeer uitvis wat met hulle gaan gebeur “when we’re versuiping”. Dis hoekom hulle daai belangrike reddingsbaadjies dra, het hy haar gou verseker.
Die opblaasbare ‘gecko tubes’ het hier en daar vasgehaak en daar’s water gesluk, maar een van die grootste uitdagings was toe hulle 4 m vanaf ’n rots in die ysige water moes spring. Dit was toe egter ’n vulletjie teen die waterval vanwaar hulle in hul ‘gecko tubes’ moes afgly.
Gesprekke met Liezl v.2
Terwyl die spannetjie in die yskoue water rondspartel, het die ander meisies kans gekry om met Liezl te gesels. Charlene het na afloop van haar gesprek gesê dat al die drama op die stel begin voel het haar vrede is meer werd as die geselskap om haar. Eina!

“Dit gaan altyd goed met my,” het Bejanke afgeskop. Maar sy kon nie vir Liezl flous nie. Wat krap, wou sy weet? Wel, die goedjies onder die meisies wat uitsorteer moet word . . . En Ruan? Daar het sy ’n bietjie vir Liezl probeer systap.
Minette het weer erken sy voel nie sy hoef altyd aan al die dingetjies deel te neem nie. Ook vir haar is die tyd op stel ’n tuimeltrein van emosies. Sy was oortuig dat sy en Ruan baie lekker oor belangrike dinge kan gesels en ook heerlik saam kan skerts. “Ek dink daar’s definitief potensiaal.”

“I’m always true to myself. Ek doen nie een ding agter ’n toe deur en voor ander mense is ek iemand anders nie,” het Hermi verklaar. Maar sy het ook geglo dat dinge tussen haar en Ruan tot in daardie stadium redelik goed gegaan het.
En ja, die geduldige sneesdoekies is weer ingespan.

Piekniek ná die water-avontuur
Tussen die adrenalien en steil klim na bo, het die sopnat span met bewerige bene en kloppende harte op die oewer besluit dis tyd vir ’n piekniek. Ruan se bene wou hom in ieder geval nie tot by hul vervoer dra nie.
Wie weet, dalk het daardie avontuur baie van die “dingetjies wat pla” sommer ook laat verdwyn?
En omdat dinge gemakliker voorgekom het, het Ruan eers vir Saartjie eenkant toe gevra. Hy het genoem dat hy dink sy is baie volwasse vir haar ouderdom. En ja, op haar beurt sien sy potensiaal. So byna-byna was daar ’n misverstand toe Ruan gedink het Saartjie wou by hom weet of hy nog kinders wil hê. Ná ’n lang relaas van sy kant af, het hy besef hy het verkeerd gehoor. Sy wou weet of dit hom pla dat sy nog nie kinders het nie.

Dit het hom so onkant gevang, want niemand het hom nog ooit daardie vraag gevra nie. Hy het wel genoem as hy iemand ontmoet wat kinders wil hê, hy waarskynlik daardie opoffering sal maak.
Na afloop van hul alleentyd het Ruan erken: Saartjie is “baie, baie spesiaal”.
Stroomversnellings woel gevoelens los
Na afloop van hul ervaring op die rivier en gepaardgaande stroomversnellings het Jenine erken dat daar baie beslis gevoelens aan’t ontwikkel is. Was dit dalk net van haar kant af of was haar instink in die kol?
Chantelle het ook so gevoel, want hier en daar het sy ’n oogknip van Ruan se kant ontvang. En sy was vol hoop vir een van daai eenkant-gesprekke met hom.
“Is dit sy manier van flirt?” wou Cindy weet toe hy sommer uit die bloute so tussen die piekniek-kuier deur by haar wou weet of sy wil gesels. Teen die tyd weet kykers Cindy het alles behalwe gesels in gedagte gehad. Ja, onse Cindy wou veel eerder om die hoekie gaan en ’n soentjie (of twee?) steel.
Maar met sy volgende woorde het hy sowaar ’n emmer koue water op haar uitgegooi. Dis nie sy wat moes opstaan om met hom te gaan gesels nie, maar Maritha.
“Ek móét . . .”
Hy wou by Maritha weet hoekom sy die laaste paar aande stillerig was. Ja, dit was na hulle in die vyfde episode gesoen het, erken sy, en omdat hy aan die begin van die reeks gesê het hy wil nie sommer net meisies soen nie. En dit het haar effe op die vlakte gelos.
Dis net toe waar Ruan sy besluit aan haar bekend maak: “Ek móét jou huis toe stuur vandag”.
Dit het haar baie geskok want hulle was reeds op twee afsprake saam en sy het ’n redelike konneksie met hom gevoel.


“Die waarheid is, ek het ander konneksies met ander meisies,” het hy aan haar verduidelik. En dis meisies met wie hy nog nie genoeg tyd spandeer het nie. “Ek kan nie met iets aangaan as ek nie voel ‘it has to be’ nie.”
En Maritha? Haar instink het haar gewaarsku iets is op pad, ook omdat sy besef het dat Ruan anders na haar gekyk het die afgelope tyd. “Ek is hartseer, maar ek het vrede,” het sy gesê.
Groot getroos
Vir Jenine was die nuus verpletterend. Daar moes groot getroos word terwyl die trane haar wange afgestroom het. Die twee het ’n stewige vriendskapsband gevorm tydens die verloop van die seisoen.

“Ek dink definitief die poppe gaan begin dans,” het Saartjie ewe gewigtig voorspel.
Op haar beurt was Cindy geensins gestoord deur Maritha se vertrek nie. Die twee het van Dag 1 af nie langs dieselfde vuur gesit nie, maar sy het tog wel nader gestaan om ook vir Jenine ’n bemoedigende drukkie te gee. Ook Ruan het nader gestaan om te kom troos.
Diepe hartseer, baie trane – en nog agt meisies oor. Gaan Saartjie se poppe wél wild begin dans?
Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.










