Menu terloops
In TV [13 Feb 2026]

‘Op my eish!’: Dís hoekom Caitlin vir Ruan koebaai sê


Dié seisoen van Op my eish! het nog ’n kinkel by nadat donkerkop Caitlin McLaren van Pretoria op eie stoom haar tasse gepak het…

Deur Redaksie
‘Op my eish!’: Dís hoekom Caitlin vir Ruan koebaai sê

Die 30-jarige Caitlin McLaren van Pretoria het in vandeesweek se episode van kykNET se maatsoekreeks Op my eish! die oudrugbyspeler Ruan Smith met ’n swaar hart gegroet. Hoewel sy aanvanklik probeer byhou het, het haar werksverpligtinge net te veel geraak en sy het besluit om eerder van die reeks te onttrek. 

Op my eish, Ruan Smith, Caitlin
Caitlin deel haar besluit met Ruan. Foto’s: Verskaf/Skermgrepe

Sy het oor haar Op my eish!-ervaring en dié besluit vertel.

Watter deel van jou Op my eish!-ervaring sal jou bybly?

“Dit was ’n groot avontuur en beslis iets ver buite my gemaksone. Ek doen gewoonlik nie sulke dinge nie, so dit was ’n groot stap vir my. Maar ek is regtig bly ek het dit gedoen. Dit was ’n wonderlike ervaring, van die mense wat ek ontmoet het tot die dinge wat ek kon doen wat ek normaalweg nie die kans sou gehad het om te doen nie.”

Hoe het jy met die ander vroue oor die weg gekom?

“Omdat ek steeds vir die meeste van die tyd moes werk, het ek nie die geleentheid gekry om die ander vroue beter te leer ken soos ek graag sou wou nie. Tog – ek is absoluut lief vir almal met wie ek wel die kans gekry het om saam tyd deur te bring. Ek is veral bly dat ek vir Carmen ontmoet het. Daar is beslis ’n paar baie betekenisvolle vriendskappe gevorm.”

Op my eish, Ruan Smith, Caitlin
“Ek sou graag langer wou bly, maar… ek glo dit was die regverdige besluit vir beide Ruan en die ander vroue,” sê Caitlin oor haar besluit om die reeks te verlaat.

Het jy vriendskappe gesmee wat jy nou as ware, blywende vriendskappe beskou?

“Ja, beslis. Ek het mense ontmoet wat ek werklik as ware vriende beskou en met wie ek selfs ná die program in kontak sal bly. Jy spandeer eintlik meer tyd saam met die ander vroue as met Ruan. Dít maak dit makliker maak om sterk vriendskappe met hulle te bou. Ek en Carmen is steeds in kontak en ons spandeer baie tyd saam.”

Was dit vir jou ’n moeilike besluit om jou uit die reeks te onttrek?

“Dit was ’n baie moeilike besluit. Ek sou Ruan graag beter wou leer ken het, maar ek het geweet dat ek ander verpligtinge gehad het en nie ten volle teenwoordig sou kon wees nie. Ek het gevoel dit was net regverdig om iemand anders die geleentheid te gee om daardie tyd saam met hom deur te bring en ten volle teenwoordig te wees in die ervaring.

Op my eish, Ruan Smith, Caitlin
“Dit was ’n baie moeilike besluit. Ek sou Ruan graag beter wou leer ken het,” deel Caitlin.

“Ek het gevoel dat ek nie ten volle op die afsprake kon opdaag nie as gevolg van werk en persoonlike verantwoordelikhede, insluitend dinge soos my hond. Ek wou nie ruimte in die reis opneem as ek nie ten volle kon deelneem nie. Ek het gevoel dit was beter om ’n ander vrou ’n behoorlike kans met Ruan te gee.”

As jy nou terugkyk, wens jy jy het ’n bietjie langer gebly?

“Ek sou graag langer wou bly, maar ek is nie spyt dat ek vertrek het toe ek dit gedoen het nie. Ek glo dit was die regverdige besluit vir beide Ruan en die ander vroue.”

Jy en Ruan het ’n baie speelse verhouding gehad. Is dit hoe jy gewoonlik is wanneer jy iemand ontmoet, of het die kameras dinge meer ongemaklik gemaak?

Op my eish
Dis vir haar belangrik om ’n verhouding met humor te hê, deel Caitlin… En sy en Ruan het omtrent lekker gelag!

“Dis baie hoe ek is wanneer ek met iemand uitgaan. Humor en om saam te kan lag is uiters belangrik vir my. Die lewe is reeds ernstig genoeg, so ek dink dis belangrik om iemand te hê met wie jy ernstig kan wees, maar ook pret kan hê en oor dinge kan lag. Die kameras het dít nie regtig vir my verander nie.”

Het jy sedertdien iemand spesiaal ontmoet?

“Ek het nog niemand spesiaal ontmoet nie, maar ek is hoopvol. Ek sou niks meer wou hê as om ’n maat te vind met wie ek my lewe kan vestig en saam kan groei nie.”


Op my eish! saai Donderdae om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uit. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook S2 en S3 van Op my Eish! op Showmax.  

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies