Menu terloops
In Onderhoude [9 Feb 2026]

Op 90 leer sy steeds met elke opvoering, vertel Lida Botha


Dis pure nuuskierigheid wat haar steeds aan die speel hou, vertel die veteraanaktrise Lida Botha, wat verlede jaar op die stel van ‘Die Kantoor’ haar 90ste verjaardag gevier het. 

Deur Rozanne Els

Stroom 'Die Kantoor' op Showmax

Op 90 leer sy steeds met elke opvoering, vertel Lida Botha
Kyk lokprent

Lida Botha is as Tannie Miems een van die lekkerste – en droogste – karakters in Die Kantoor, ’n Afrikaanse herverbeelding van die über-sukesvolle The Office. Die storiekonsep is oorspronklik deur Ricky Gervais en Stephen Merchant geskep met die Britse weergawe wat steeds wyd as die toppunt van die mokumentêr-genre beskou word. 

Die Kantoor, met Bennie Fourie as regisseur en hoofskrywer, is egter nie bloot ’n Afrikaanse vertaling van The Office nie. Een groot verskil is die kantoor-omgewing wat verander is na ’n maatskappy wat in polonie spesialiseer, Deluxe Processed Meats, eerder as die papierverskaffer, Dunder Miffler Paper Company, van die oorspronklike storie. En dis by hierdie einste polonie-maatskappy waar Tannie Miems nou etlike jare lank al werk…  

Saam met Lida in die rolverdeling tel onder andere Albert Pretorius as Flip (die baas), Schalk Bezuidenhout as Flip se regterhand, Tjaart, en Gert du Plessis se Joubert, ’n polonie-smous. 

Lida, bekend vir haar rolle in onder meer Die Manakwalanners, Meeulanders, Orion, Vallei van Sluiers, Ouma en Oupa Sit op die Stoep, Die Boekklub en vele, vele, vele meer, het met Terloops gesels.

Jou karakter in Die Kantoor, Tannie Miems, is darem maar lekker. Wat was jou eerste indrukke van Tannie Miems toe jy die draaiboek onder oë gekry het?

“Ek het nie voor die tyd vreeslik insae tot die karakter gehad nie. Dit was met die deurlees (van die tekste) met die res van die rolverdeling wat ek haar in verhouding met die ander karakters gesien het. Sy het op die dorp grootgewond en het as jong meisie by die fabriek begin werk. Sedertdien handhaaf sy die streng dissipline van ’n werknemer. (In haar oë) word die ‘baas’ altyd gehoorsaam en met respek aangespreek. Hy is ‘Meneer’.” 

lida botha, die kantoor
Lida Botha as Tannie Miems in Die Kantoor. Foto’s: Verskaf

Hoe het dié rol op jou spoor gekom en wat van die projek het jou opgewonde gemaak?

“Ek dink dit was in Augustus verlede jaar wat ek gevra is om ’n oudisie in te stuur. My selfoon was toe skielik op siekverlof! Een van daai dinge… En ek dink toe dis (die rol) seker nie vir my bedoel nie. Maar toe bel Bennie my ’n paar weke later. Hy verduidelik toe dat al die akteurs elke roepdag op stel moet wees – vir sewe weke! Jô! Ek was baie opgewonde oor hierdie nuwe ervaring wat wag. Ek het onmiddellik ‘The Office’ ge-Google.” 

Schalk (Bezuidenhout) het vertel dat omdat al die akteurs ook in die agtergrond moes wees in meeste van die tonele, het hy bietjie te veel Solitaire op sy foon gespeel om hom besig te hou – wat het jy in dié tye gedoen?

“Nou ja, amper twee maande is ’n lang tyd en dit het later ’n innerlike dissipline geverg om te bly sit. Die hele dag as Tant Miems al is jy nie op kamera nie – wel, vir ingeval die kamera in jou rigting beweeg terwyl die hoofkarakters in daardie toneel hul ding doen. Maar jy moet jou besig hou. Ek het so baie mandalas ingekleur dat ek later gedink het ek is ’n Boeddhis.

“Ek het ook André P. Brink se vertaling van Miguel de Cervantes se Don Quixote gelees. ’n Aanhaling uit Elizabeth Gilbert se jongste boek was voor my opgeplak: ‘You live in your mind.’ En, moenie lag nie, ‘When you are old, it is not how gorgeous you look, but how gorgeous you feel.’ Weet nie waar dit vandaan kom nie! O, ja – ek het T.S. Eliot se digbundel Old Possums Book of Practical Cats ge-Google. Die musiekblyspel Cats, wat daarop gegrond is, was mos in die nuus. Sulke mooi kat name. ‘Macavity, Macavity, there’s no one like Macavity / He’s broken every human law, he breaks the law of gravity.’

“Ek het ook T.S. Eliot se lang gedig, ‘Ash Wednesday’, probeer memoriseer, maar net die eerste gedeelte! Ek trek darem al by die derde vers.”

Het jy meer kieskeurig geraak soos jy ouer geword het oor die projekte waarvoor jy ja sê? 

“Ek is nie kieskeurig nie, solank die karakter geloofwaardig is. Dit help natuurlik met die voorbereiding. Want as jy goed ingestudeer is, klim jy met gemak in die karakter se skoene en word die karakter.”

Wat sou jy sê is jou bronne van inspirasie? Kan jy bietjie vertel oor die evolusie van daardie inspirasie en dryfkragte?

“Wat my bron van inspirasie betref, is dit seker maar nuuskierigheid. Ek kan my verkyk aan ander mense. Ek vind mense se mannerisms baie interessant. Die kleur van hul oë en kleredrag val my ook altyd op. Ek is tog so bly ons is nie almal eenders nie!” 

Is daar ’n reeks, teaterstuk of rolprent waarop jy gewerk het wat jou veral na aan die hart lê? Hoekom? 

Die Kwiksilwers, Silwerskermfees
In Die Kwiksilwers het Lida teenoor Susanne Beyers, June van Merch en Theresa Sedras gespeel.

“Wat my vorige werkervarings betref, weet ek nou nie hoe om een uit te sonder nie. My mees onlangse speelfilm, Die Kwiksilwers, sal ek altyd met groot genot onthou. En natuurlik, meer as 30 jaar terug se Fiela se kind. En ’n Pawpaw Vir My Darling sal ek altyd weer wil kyk. Dít was so snaaks. 

“Wat TV-reekse betref was destydse Meester en 1945 goeie ervarings. Vallei van Sluiers was ook besonders. En natuurlik Oupa en Ouma Sit op die Stoep – een van die vele projekte wat ek saam met my man, Johan, gedoen het.” 

Vertel ’n bietjie oor jou en Johan se sinergie wanneer julle saam op ’n projek werk en watter projekte vir jou uitstaan. 

“Ek en Johan het nog altyd lekker saam opgetree. Ek is my loopbaan in die teater aan hom te danke. Ek het so baie by hom geleer. Hy was reeds ’n gerekende akteur toe ek hom leer ken het. My heel eerste toneelervaring in Namibië was saam met hom in Athol Fugard se Hello and Goodbye. Ek sal altyd met deernis terugdink aan Agnes van ons liewe Heer; aan Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa; Straties… Ons het ook vir twee jaar getoer met drie aanbiedings van Oupa en Ouma. 

“As ek eers begin opnoem, kan ek nie ophou nie!” 

In ’n onderhoud sowat tien jaar terug het jy gesê: “Ek glo my paadjie is vir my uiteengesit. Ek het maar net my beste gedoen, binne daai paadjie.” Voel jy steeds só?

“Wat my paadjie betref – ek dink ek was reg om dit so te sien. Ek het dit nie onmiddelik gevind nie. Eers ná baie ander pogings in die onderwys en my tyd in die klooster (as jong vrou). Hierdie paadjie (as aktrise) stap ek nou al vir meer as 50 jaar. En hopelik altyd tot die beste van my vermoë. Ek kan nie sê ek is al ’n meester ná al my duisende ure nie, ek leer eerder nog steeds met elke opvoering.”


Nuwe episodes van Die Kantoor is weekliks op kykNET (DStv-kanaal 144) en Showmax beskikbaar –Sondae om 20:00 op kykNET en Dinsdae op Showmax.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies