Soos daar in die temaliedjie gesing word, draai die drama in kykNET se gewilde telenovela, Arendsvlei, altyd rondom “liefde en leed”.
Maar tussendeur trane, smartsages en skandale, tree liefde uiteindelik – na ’n paar ellelange ompaaie – tog altyd as die dag se oorwinnaar uit.
Só dan ook tussen grapjas Lionel (vertolk deur Jody Abrahams) en die saloneienaar, Janice (vertolk deur Crystal-Donna Roberts), wat dié week die knoop deurgehak het.
Die troue, wat oor twee dae net buite Stellenbosch verfilm is, was gelyke dele sprokiesagtig en boheems…natuurlik met ’n tirtseltjie biker vibes by.
“Die boheemse troue het my sommer baie aan my eie troue laat dink”, vertel Crystal-Donna. “My troue was ook buite en my rok was dieselfde styl. Ek het selfs ’n blommekroon op my eie troudag ook gedra,” sê sy.
“Alles was net perfek en mooi. Dit was regtig ’n spesiale dag vir ons almal op stel. Ek love hul verhouding.”

Tweede kanse
Toe kykers vir Lionel en Janice in 2018 vir die eerste keer ontmoet het (met die aanvang van Arendsvlei op kykNET), was albei in ander verhoudings. Lionel was met Ronel (Melanie Du Bois), en Janice met Thys (Sherman Pharo), getroud. Dié lot het almal vir mekaar as tieners geken en jare later, nadat Ronel en Lionel weer by die Vlei intrek geneem het, het hulle besef dat hulle met die verkeerde mense getroud is.
Thys en Ronel het stadig weer gevoelens vir mekaar begin ontwikkel. Dít terwyl Lionel se tienerverhouding met die liefde van sy lewe, sy “babes”, Janice, vinnig weer vlamgevat het.
Janice se hart is destyds in stukke gebreek toe sy hul baba laat aanneem het, nadat Lionel vir Ronel gekies het. Sy wou nie ’n tienerma wees nie en het gedink daardie hoofstuk van haar lewe is finaal verby… Dis nou tot hulle mekaar in dieselfde dorp weer raakgeloop het.
Lionel en Janice het reeds later in die eerste seisoen van Arendsvlei weer liefde by mekaar gevind, toe Lionel se seun Lee-Roy (Roberto Kyle) met kanker gediagnoseer is. Die band tussen hulle het aanhou groei en verstrek en uiteindelik het albei se huwelike verbrokkel.

Liefde wen
Maar dit beteken nie dat dinge in hierdie passievolle verhouding altyd klopdisselboom verloop nie. Janice en Lionel het maar soos enige paartjie hul uitdagings. Trouens, Lionel het al baie aande op die bank in die sitkamer deurgebring. Nogtans vind hulle altyd hul pad terug na mekaar.
En nou is hulle uiteindelik getroud!
Maar dit was so hittete of dit het glad nie gebeur nie. Lionel het mos reeds in Februarie vanjaar vir Janice gevra om te trou. Sy het egter sy aanbod van die hand gewys. Almal het gedink dít sou die einde van hul liefdesverhaal beteken.
Maar julle ken tog mos vir Arendsvlei – daar is altyd ’n kinkel in die storielyn.
Oor die afgelope maand het Lionel sy liefde met dade bewys, soos toe hy sy gunsteling-baadjie verkoop het om vir Janice nuwe haardroërs vir die salon te koop.
Toe sy uiteindelik besef dat daar geen ander deksel vir haar pot is nie, het sy besluit om Lionel met ’n boheemse-biker troue te verras.