Menu terloops
In Recaps & Resensies [16 Jul 2025]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Benoude oomblikke!


Rian van Heerden is weer slaggereed om die deelnemers met moeilike vrae te bestook in vandeesweek se episode van ‘Wie word ’n miljoenêr’. 

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Benoude oomblikke!

Rian van Heerden, aanbieder van Wie word ’n miljoenêr, vertel vir die gehoor dat die Amazon-miljardêr Jeff Bezos glo tydens onderhoude vir potensiële kandidate vra of hulle “ a lucky person” is.  “Maar hier by Wie word ’n miljoenêr wil ons by deelnemers weet, ‘Is jy ’n gelukkige slimkop met die geheue van ’n trop olifante en die moed van ’n leeu?” laat Rian hoor.

Die ses deelnemers in vandeesweek se episode 

1. Janus Bezuidenhout (Edenvale)

2. Renée Swanepoel (Murraysburg)

3. Antonie van Niekerk (Alberton)

4. Rodney Louw (Hermon)

5. Andrea Jonker (Somerset-Wes)

6. Renier Benson (Germiston) 

Die eerste vinnigste vingers

Om die deelnemers se kennis én vingerspoed op die proef te stel, moet hulle sportbyeenkomste in chronologiese orde binne ’n kalenderjaar rangskik. 

Die korrekte orde is: Kaapstad-fietstoer, Twee Oseane-ultramarathon, Comrades-marathon en dan die Durban July-perderen.

Net een deelnemer is in die kol, en dis Renée Swanepoel (64), ’n pensioenaris van Murraysburg, wat met 9.422 sekondes agter haar naam na die warm stoel koers inslaan. Manlief John is in die gehoor om haar te ondersteun. Sy draf die eerste vyf vrae in ’n ommesientjie kaf en kan R10 000 in die sak steek. Haar volgende vangnet stel sy op vraag 9 vir R30 000.

Wie word n miljoener Renee Swanepoel
Renée Swanepoel (64), ’n pensioenaris van Murraysburg, was die eerste vinnigste vingers. Foto: Skermgreep

Met haar volgende vraag oor watter bestanddeel nie deel maak van die tradisionele Engelse nagereg Eton Mess nie, besluit sy om die gehoor se hulp in te roep. 84% van die gehoor is oortuig dat skuimpies nie deel is van die nagereg nie. Tog is Renée nie oortuig nie.

Vir die eerste keer in die reeks word Rian as hulplyn ingespan. “So, ek het ’n restaurant . . . maar ons poedings is beperk,” terg Rian. Hy stem saam met die gehoor en Renée besluit om dit as haar finale antwoord aan te bied. 

Maar genugtig – hulle is almal verkeerd! Dis toe al die tyd sponskoek. En daarmee moet Renée die warm stoel ontruim met ’n heerlike R10 000-meevallertjie.

Die tweede vinnigste vingers

Sou jy die Afrika-lande van noord na suid kon rangskik? Al vyf deelnemers is korrek, maar dis Janus Bezuidenhout, ’n boorling van Bethlehem, wat die orde binne 5.248 sekondes korrek rangskik het: Tunisië, Rwanda, Mosambiek en dan Lesotho. Andrea was vuurwarm op sy hakke met 5.372 sekondes.

Janus (37) is ’n meganiese ingenieur en Rian wil baie gou by hom weet of hy enige vrae oor poedings aan hom gaan stel. “Nee, nee, nee,” kom dit vinnig van Janus. Sy vrou, Leandi, ondersteun hom vanaand vanuit die gehoor.

Wie word n miljoener Janus Bezuidenhout
Janus Bezuidenhout (37), ’n boorling van Bethlehem en meganiese ingenieur. Foto: Skermgreep

Kort voor lank kan Janus ook R10 000 in sy sak steek, ’n mylpaal wat hy vooraf voor gewens het. Net soos Renée besluit hy ook om konserwatief te speel en sy vangnet op vraag 9 vir R30 000 te stel.

Om vas te stel watter Suid-Afrikaanse eiland ’n Unesco-wêrelderfenisgebied is, besluit Janus om die gehoor as hulplyn in te span. Hy kan nie tussen Marion-eiland en Robbeneiland besluit nie. 82% van die gehoor stem vir Robbeneiland. Gelukkig is hulle hierdie keer in die kol en Janus skuif op na R15 000.

By die agtste vraag haak hy egter vas. Watter kossoort se bynaam is “Russiese penisillien” omdat dit as antiseptiese middel op die slagveld tydens die Wêreldoorloë gebruik is? Hy versoek die 50/50-hulplyn en laventel en knoffel bly oor. Janus besluit om sy “Bel ’n pêl”-hulplyn in te span. Dis sy derde en laaste hulplyn en hy gaan vir sy tannie Christa vra om uit te help. Sonder huiwering kom die antwoord: Knoffel. 

Rian vertel die Russe het knoffel glo net so direk op wonde gebruik as ontsmettingsmiddel  en ook vir verkoues en om koors te breek. Dan merk hy skalks op dat dit ook bekend staan as “groente-viagra” maar hy weet nie waar hulle dit aangewend het nie . . .

Maar die “P” in die woord ChatGPT knikker hom uit en sonder enige verdere hulplyne besluit Janus om die aftog te blaas met R25 000 in die sak. Terloops, die korrekte antwoord was “Pre-trained” (Chat Generative Pre-trained Transformer).

Die derde vinnigste vingers

Sjoe, wat ’n vraag. Deelnemers moet vlugrampe in die korrekte orde rangskik. Wie onthou die Hindenburg-blimp? Dan is dit die Suid-Afrikaanse Lugdiens se rampvlug, die Helderberg, gevolg deur die 11 September-terreuraanvalle op New York se Twin Towers en meer onlangs die Maleisiese vlug MH370 wat van die radar af verdwyn het.

Renier Benson, Wie word 'n miljoener
Renier Benson (30) is ’n onderwyser van Germiston. Foto: Skermgreep

Drie van die oorblywende vier spelers is in die kol, maar dis Renier Benson wat binne 6.102 sekondes die voortou geneem het.

Renier (30) is ’n onderwyser van Germiston en sy kêrel van die afgelope twee jaar, Marko, ondersteun hom vanaand. Hy antwoord een na die ander vraag sonder enige twyfel korrek en hy haal kort voor lank die R10 000-vangnet. “Ek gaan die res van die skape volg en ook die net op R30 000 (vraag 9) stel,” besluit Renier.

Renier sê hy kyk beide die Engelse en Afrikaanse reekse van Wie word ’n miljoenêr en hy was vasberade om ’n deelnemer te word nadat hulle tydens ’n vorige opname in die gehoor was. Dis vir hom soos ’n droom wat waar geword het.

Sy vangnet-vraag betrap hom onkant. Wie van Bob Dylan, Elton John, Bruce Springsteen en Rod Stewart het nog nooit in Suid-Afrika opgetree nie?

“As ’n man met radio-ervaring . . .” mik hy na Rian as sy eerste hulplyn. Rian neig na Bruce Springsteen, maar is hy reg? Renier besluit om liefs ook sy 50/50-hulplyn in te span. Bob Dylan en Elton John bly oor. Gaan hy sy finale hulplyn inspan? Beslis – en dit gaan die gehoor wees.

77% van die gehoor stem vir Bob Dylan. Renier besluit om na hulle te luister – en met sy laaste hulplyn beland hy op sy vangnet van R30 000. Die volgende vraag oor die 10de hoogste piek in die wêreld stuit hom egter net daar. Annapurna is in Nepal en nie Indië soos wat hy geraai het nie.

Benewens die R30 000, is daar darem ook die kans op ’n foto saam met Rian wat vir Renier baie gelukkig stem.


Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies