Menu terloops
In Recaps & Resensies [26 Jun 2025]

‘Die brug’ S2: Vreugdesvure, trane én biegsessies


Spreekwoordelike brûe word die een ná die ander verbrand in vandeesweek se episode van ‘Die brug’.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk 'Die brug S2' op DStv Stream

‘Die brug’ S2: Vreugdesvure, trane én biegsessies

In verlede week se episode van Die brug het ’n brief met ontnugterende vrae albei huise onkant gevang. Dié vrae is brutaal. En die antwoorde? Ewe rof. Watter impak gaan dit op twee van die beleërde spelers, Hilana en Wilhrisca, se pad vorentoe hê? Veral nadat dié vraag die spanning tot op mespunt gedryf het: Wie sal die spelers dadelik huis toe stuur as hulle kon? 

‘Gee my ’n kans’

By Noordhuis lyk dit asof die nou-gevestigde spanlede die maklike uitweg kies as hulle iemand kon huis toe stuur. Hilana. “Julle het baie sterk bande, ek verstaan. So, al wat ek van julle sou vra, is om my net ’n regverdige kans te gee,” is haar reaksie daarop. Sy besef met daai “Bou of Brand”-briefie gaan dit moeilik vir haar wees om in só ’n kort tyd werklik deel van die span te word.

Die brug, wilhrisca
Wilhrisca is baie bewus van hoe ongewild sy is in Suidhuis. Foto: Skermgreep

By Suidhuis draai Wilhrisca nie doekies om nie. Sy sê sy wéét hulle almal sal haar wil huis toe stuur, daarom noem sy maar self haar eie naam. Later erken sy dat sy in alle waarskynlikheid vir Hirome sou stem. Sy sukkel om ’n konneksie met hom te maak. “Hirome . . . hy is net té veel in almal se sake.”

Melissa verras die groep toe sy bekend maak wie sy, buiten Wilhrisca, huis toe sou stuur. En nog ’n speler noem dieselfde naam. O, aarde!

Word daar ’n nuwe bondgenootskap gesmee?

Die brug
Wilhrisca het nie gehou van hoe Melissa met Luwellen gepraat het nie en voel daar word ’n muis van ’n man gemaak. Foto: Skermgreep

Wilhrisca gaan sit by Luwellen en vertel vir hom dat, alhoewel sy die tweede jongste by Suidhuis is, haar seuntjie se pa 56 jaar oud en haar eksman 51 jaar oud is. En dat sy goed oor die weg kom met ouer mense. Duidelik het sy nie gehou van die manier waarop Melissa met hom gepraat het nie.

“Dis nie ’n siekeboeg dié nie. Dis nie ’n vakansieoord nie,” stel Luwellen sy kant van die saak oor die druk wat hy op die spelers uitoefen om harder te werk en beter te bou.

‘Dis wie ek is’

Luwellen se emosies ry wipplank terwyl hy dit duidelik maak dat hy hier is vir sy vrou, sy twee seuns en om vir Mosselbaai te wys wie hy werklik is.

“Ek baklei hárd buite om ’n bestaan te maak vir my en my familie,” kom dit tussen die trane deur. “Ek was daar vir almal, altyd. Maar niemand was daar vir my en my familie nie. Ek is altyd ’n loser,” en met daardie woorde verberg hy snikkend sy gesig in sy hande. 

Hy bieg dat hy op die oomblik werkloos is. As hy nou moet terugkeer Mosselbaai toe, het hy niks . . . “Dis hoekom die ander spelers bekommerd moet wees oor my, want Luwellen Marx is hier om te wen.”

Waarnemende spelers

By Suidhuis is dit Luwellen wat deur Melissa aangewys word, maar Elsje dink dis ’n groot flater om hom te laat uitsit. Hy’s ’n sleutelfiguur, veral wat sy vaardigheid met die houtsaag betref. Ook Jaco dink hierdie was nie ’n goeie skuif nie.

Noordhuis se spelers mik vir 12 vlotte terwyl Johan die “huisvrou” gaan wees.

Monopoly en motivering

Voor hulle die oggend aan die werk spring, wil Wilhrisca by die ander spelers weet of hulle Monopoly speel, en indien wel, hoekom. Hirome dink dis ’n baie dom vraag. Jaco speel om te wen en ook om so nou en dan die pot in die middel te vat. Maar hoekom juis dié vraag?

Die brug
Wilhrisca was beslis nie geneë om aan die brug te bou as almal dan vir haar wil uitstem nie… Foto: Skermgreep

“Gisteraand het ons ’n lekker geselsie om die vuur gehad en ek weet waar julle almal met my staan. So, watse rede gaan my keer dat ek eerder kom chill en nie saam met julle bou nie? Want as daar vanaand ’n stemmery kom, is ek uit. Julle het dit baie duidelik gemaak. So, vir wie bou ek hierdie brug dan nou?”

Terwyl Jaco probeer paai, maak Wilhrisca dit duidelik dat die spelers moet motiveer hoekom hulle wil hê sy moet deel van die span wees. Doodse stilte. Dis Melissa wat eindelik reageer, maar gaan dit voldoende wees om Wilhrisca van plan te laat verander?

Sy noem ook dat daar net twee mense by Noordhuis is vir wie sy die brug sal bou. Dit laat die Suidhuis-spelers behoorlik gis oor wie dit kan wees.

Bou gaan daar gebou word

Dit lyk of dinge seepglad verloop met die te water laat van een vlot na die ander by Noordhuis. Durand is positief dat hulle eerste die halfpadmerk gaan bereik. 

Maar by Suidhuis eis die krapperigheid tussen die spelers en die harde werk sy tol. Hulle is moeg, fisiek en emosioneel. Gaan dit hul halfpad-teiken sink?

“Dit voel partykeer of jy teen sand hardloop . . .  en jy weet jy kan vinniger, maar jy kan nie,” som Hanri die algemene gevoel van uitputting op.

‘Lees my’

Vandag is dit Luwellen en Johan wat onderskeidelik moet besluit wie by die keuse waarvoor hulle gestel word, gaan baatvind. Die span of die individu?

Luwellen het hom voorgeneem om die spel met integriteit te speel. Maar hoe ver gaan hierdie voorneme kom as die keuse tussen R40 000 vir hom en kruideniersware vir die span gemaak moet word? 

Tot nou toe het nie een van Suidhuis se spelers die kontant gevat nie. Jaco, net soos Hannes en Hilana het in die vorige episode nie die kontant gekies nie. Daarom staan die spaarvarkie nou boepens met daardie lieflike bedrag.

Daar was groot vreugde in Noordhuis nadat Johan nie die geld gekies het nie en eerder met ’n mandjie lekkerte teruggekeer het. Foto: Skermgreep

“Vir niemand sê nie? Dit beteken dit is stéél,” kom dit van ’n baie emosionele Luwellen.

By Noordhuis het elke speler tot nou toe die kontant geneem: Wilhrisca (toe sy nog daar was) asook Roscoe en Tiaan het wel die geld in hul sak gesteek. 

Melissa se reaksie op Luwellen se keuse het dalk nuwe deure geopen. En een speler van Noordhuis beleef erge ongemak met die keuse wat Johan gemaak het . . .

Die brug
Melissa het besef sy het Luwellen verkeerd opgesom toe sy besef hy het nie die geld gevat soos sy gedink het hy sou nie. Foto: Skermgreep

Die groot 50!

Onder groot gejil en gegil kry Noordhuis dit reg om hul 50ste vlot in die water te stoot. Ja, die halfpadmerk is bereik. En die vreugdesvure brand hoog!

“Dit was ’n ongelooflike gevoel,” sê Anesca. Kort voor lank stap die hele span op die vlotte na die halfpadmerk. Johan is die een wat die fakkel die lug instuur om aan te kondig hulle het die mylpaal gehaal. 

Groot vreugde het gevolg nadat Noordhuis hul 50ste vlot in die water gestoot het. Foto: Skermgreep

Suidhuis het nog vyf vlotte om te gaan voordat hulle die halfpadmerk haal. Wilhrisca stort trane van vreugde vir Noordhuis terwyl sy hul eie vlotte tel. 

Tyd om fees te vier

Toe die Noordhuis-spelers terugkeer na die houthuis, is daar nog goeie nuus. Daar gaan gebraai word! Vleis, hoendersosaties, bier, vrugtesap. Noem maar op – daar was alles wat hulle nodig het om behoorlik fees te vier.

Maar, o wee! Terwyl Lelani die hele boodskap deurlees, gebeur daar iets wat hul gees onmiddellik demp. Hulle braai nie alleen nie. Suidhuis kom kuier vanaand.

By Suidhuis is dit Melissa wat die uitnodiging na Noordhuis se braai voorlees. Die reaksie is maar flou, maar vir Jaco is dit die beste nuus – want dit beteken daar’s vleis om te eet . . .

By Noordhuis word daar letterlik ’n lyn met witkryt in die huis getrek wat dit vir Suidhuis duidelik maak dat hulle nie oor daai lyn mag trap nie. Gelukkig is daar iemand wat met die einste kryt ook ’n welkom-boodskap by die deur vir die besoekers skryf.

Met Suidhuis se aankoms is daar ’n warboel van emosies te bespeur. Hilana wil nie werklik oogkontak maak met Melissa nie terwyl Wilhrisca in trane is om haar ou spanmaats weer te sien. Sy het werklik welkom by Noordhuis gevoel. 

En Luwellen? Wel, hy voel beslis nie baie warm & fuzzy teenoor die kompetisie nie.

Strategie en so ’n bietjie skinder

Hanri maak ’n direkte lyn vir Hilana, en bombardeer haar met nog meer direkte vrae . . . oor hoe hulle hul vlotte bou en ook te water laat. Maar Hilana het intussen ’n paar waardevolle lesse geleer. Sy gee net mooi niks weg nie. “Ek dink ons werk net ’n bietjie harder,” kom dit so ewe van haar af. Eina!

Hilana probeer (tevergeefs) vis… Foto: Skermgreep

Tiaan probeer uitvis of Suidhuis ook die “Bou of Brand”-speletjie die vorige aand moes speel. 

Wilhrisca hou nie terug nie en verduidelik dat sy basies die een naam was wat almal oor die algemeen met die negatiewe vrae genoem het. Sy noem dat Luwellen die sterkste speler is en dat hulle nie sy gevoelens wil seermaak nie, daarom die fokus op haar. “Dit is hoe skynheilig daai groep is,” lig sy die Noordhuis-spelers in.

Apologie vir wanopvattings

Terwyl almal probeer om gesellig saam te kuier, maak Anesca van die kans gebruik om vir Wilhrisca om verskoning te vra vir hoe hulle haar hanteer het. Noordhuis se spelers het gedink sy is daar “geplant”om hulle te saboteer en daarom is sy veral die eerste drie dae nie goed behandel nie.

“Toe bou sy dat die spoeg so spat,” loof Johan haar. En die res van die spelers stem saam. Sy was beslis tydens haar verblyf in die Noordhuis ’n aanwins vir die span gewees, is die algemene gevoel van haar vorige span.

Wat bedoel jy met spek en eiers?

Iemand se kierankies gaan braai met Hirome wat in alle onskuld genoem het dat hulle by Suidhuis spek en eiers gehad het om te geniet. Kykers sal onthou dit was Hilana wat dit bo R20 000 kontant gekies het toe sy die waarnemende speler in die vyfde episode was.

Lelani en Rechaux is heeltemal uit die veld geslaan en wil onmiddellik weet hoeveel dae gelede Suidhuis die wonderlike ontbyt kon geniet. Nou is die vet (en sommer die hele spek) behoorlik in die vuur.

Roscoe was die ou wat daardie keuse gemaak het. 

Hirome se skokkende nuus hou nie op nie. Lelani en Rechaux is nog besig om Roscoe se verraad te verwerk, toe hy noem dat hulle speler (Luwellen) genoem het dat hy die kos bó die aanbod van R40 000 gekies het. 

Maar Johan het aan Noordhuis genoem dat hy tussen R10 000 en die kos moes kies . . .

Dit was beslis ’n interessante oomblik toe Hirome heel onskuldig van die lekker spek en eiers vertel het en Lelani en Rechaux besef het dat van die waarnemende spelers reeds geld uit die pot geneem het. Foto: Skermgreep

’n Moerse verskoning

Dis net hier waar Wilhrisca besef sy moet met die sak patats na vore kom en roep vir Lelani eenkant. Sy het R10 000 bo koffie en suiker gekies toe sy op haar eerste dag by Noordhuis die aangewese waarnemende speler was.

“Hoorie, ek skuld jou en die span ’n moerse om-verskoning,” en daarmee vertel sy dat sy die geld gekies het. 

Dit lyk of Lelani haar verskoning aanvaar het. Tyd sal leer of dit wel die geval is.

Vlot-telling

Suidhuis moet nog 55 vlotte voltooi terwyl Noordhuis net 50 oor het om te water te laat. Gaan hulle dalk té veel vertroue in hul vermoëns openbaar wat hul opmars na die 100-merk gaan kortwiek?

Volgende week

Reeds na afloop van die braai het Durand van Noordhuis gevoel daar’s iets aan die broei. Dinge kan nie net altyd goed afloop nie. Is sy voorgevoel in die kol? 

Die fakkel bring weer ’n pos-kan met ’n brief getiteld “Magspel”.

“Soms is daar net ’n hartklop tussen wraak en vergifnis,” lui die brief. “Julle moet nou ’n speler by die ander houthuis kies wat onmiddellik die spel sal verlaat.”


Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies