Menu terloops
In Sepies [10 Nov 2024]

Sepievoorskou: Oomblik van swakheid in ‘Suidooster’, karma tref in ‘Diepe Waters’


Meer as een lewe is in gevaar hierdie week en daar sal vinnig gespeel moet word om tragedie te vermy. Lees ons sepievoorskou vir meer oor die sepiedrama wat vandeesweek op kykers wag.

Deur Tarren-Lee Habelgaarn
Sepievoorskou: Oomblik van swakheid in ‘Suidooster’, karma tref in ‘Diepe Waters’

Hier is waarna jy hierdie week (11 tot 15 November) op Suidooster, Diepe Waters en Skemergrond kan uitsien.

Suidooster

Ek het mos gesê Kaashifa (Jawaahier Petersen) moet kalm bly. Maar as ’n mens kyk na die manier hoe sy en Nazeem (Irvine van der Merwe) stry kry dan is ek nie verbaas dat haar liggaam so gereageer het hierdie week nie. Rhafiek (Irshaad Ally) is siek van bekommernis oor sy kind, maar Kaashifa het net een baby op haar brein in dit is Emir, haar nuwe restaurant. Ongelukkig doen Nazeem iets wat hul albei se toekoms, en dié van Emir, kan belemmer. En dit verbaas my glad nie, want hulle moes geweet het hulle kan hom nie vertrou nie! 

Mo (Alushay Klazen) se waarheid kom uit en dit dwing haar om drastiese stappe te neem. Ek kan nou nie sê dat dit my eerste reaksie sou wees nie, veral nie vir ’n pastoor nie (#nooffence), maar die liefde het my ook al dom goed laat aanvang. Dit is seker maar nou Mo se oomblik van swakheid… Maar wat ’n oomblik, ek het sommer vir ’n sekonde ophou asem haal só intens was die toneel. 

Lee-Ann (Portia Joel) begin my nou irriteer. Ek is hier vir healing en alles, maar nou raak dinge belaglik. Ek moet sê as ek so na Lee-Ann se aksent luister en na haar maniere kyk, sou sy my ook kon flous. Ek sou nooit kon raai dat sy ’n posh sakevrou is nie. Maar slim vang altyd sy baas, so sy beter weet wat sy doen of sy gaan nog in haar hande huil vir die gemors wat sy aanvang. 

Kyk Suidooster weeksdae om 18:00 op DStv-kanaal 144 (ook aanlyn op DStv Stream) of ná uitsending op Catch Up.

Skemergrond

Patty (Gretchen Ramsden) se senuwees is klaar en myne ook! Ek het geweet haar suster se moordenaar sit agter al die snaakse goed wat onlangs met haar gebeur en kyk nou! Ek hoop iemand glo haar en help voordat dit te laat is. Ek het netso groot soos Patty geskrik.

Ek is ook agterdogtig soos Hazel (Carmen Maarman) wanneer dit by Christine (Devonecia Swartz) kom, maar my mond het op die vloer gehang tydens dáái toneel. Nee, sies man, het die vroue dan geen selfrespek nie? Dan wil ek nie eens van Ronnie (Mario Haupt) praat nie. Intussen beter die vroue van Everlasting wakker skrik want Christine se groot plan is ’n tragedie wat hul hele wêreld sal omkeer.

My hart breek vir Louis (William Adams) en Amber (Talia Davis). Dit is hectic, maar dalk is die waarheid die antwoord om hul albei te help. 

Skemergrond saai weeksdae uit om 19:30 op kykNET&kie (DStv-kanaal 145) en DStv Stream. Dit is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.

Diepe Waters

Sanet (Nadia Valvekens) moet weer vir Ben (Eric Bouwer) in die oë kyk en dit is maar ’n ongemaklike besigheid. Ek is nie ’n ouer nie, maar ek verstaan nie hoe hy nog so bankvas agter sy dogter se leuens kan staan nie. Hy weet tog sy is gevaarlik. 

Arme Sanet kan net nie wen nie. Die lewe het haar darem al ’n paar klappe gegee hierdie jaar, maar sy staan nog. Sy is beslis ’n sterk vrou. 

René (Marijke Coetser) vat regtig die koek en ek sou nie so kalm soos Anja (Reandi Grey) wees nie. Ek sou haar teen die tyd al te lyf gegaan het as sy so met my moes mors. Maar kyk hoe het karma haar teruggekry hierdie week! 

Ek was so bly toe Lettie (Stephanie Baartman) ’n tweede kans kry hierdie week, maar nog meer toe Johan (Liam Bosman) sy sprokieseinde kry. 

Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Dit is ook op Catch Up beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer

Lag, liefde en soveel meer: Ons kykNET-kyklys vir Oktober

Oktober op kykNET bring plaasromanse, slim speletjies en stories vir boekliefhebbers. 'Boer soek ’n vrou' se liefdeskeuses sorg vir afwagting, 'Haas se gat' speel met woorde en feite, terwyl 'Boekmerk' by skrywers en leeskringe kuier vir gesprekke oor Afrikaanse boeke.

Meer

’n Skokwending en gevaarlike versoekings vier hoogty in ‘Suidooster’ dié Oktober

Ou vetes vlam op, nuwe liefde vertroebel oordeel en ’n skokwending ruk een gesin se wêreld in Ruiterbosch. Dié Oktober loop spanning hoog in Suidooster. Hier is vyf storielyne wat jy nie wil misloop nie.

Meer

Neels van Jaarsveld, jong talent en lekker kos op VIA in Oktober

VIA sorg in Oktober vir lekker kykstof met Neels van Jaarsveld se troeteldierstories, kombuiskuiers saam met Aneeka Papier en kookinspirasie van Herman Lensing. Jong kunstenaars wys hul staal in Gekies vir die kollig!, terwyl Die beste in die Noorde wegbreekidees bied. Huisgenoot: Ware lewensdramas keer ook terug vir sy twintigste seisoen.

Meer
Sien alle opsies