In Laataand by Rian nooi die aanbieder Rian van Heerden weekliks ’n nuusmaker na sy restaurant in Pretoria. Die tweede gas is altyd ’n verrassing vir die eerste gas en dis gewoonlik iemand wat hulle glad nie verwag nie. En vandeesweek was dit ook die geval met Anita en Mel toe Mel midde Rian se onderhoud met Anita haar verskyning gemaak het. Te verwagte het albei prontuit oor hul ervarings op die reeks gesels.

Hoogtepunte uit die gesprek:
Anita voel sy was te naïef
Anita het vir Rian vertel dat sy nie meer Checkers toe kan gaan om haar inkopies te doen nie. Om elke hoek en draai word sy gestop vir ’n foto en haar man, Boyce, wil nie meer saam met haar winkels toe gaan nie.
“Hulle (vreemdelinge) roep my by die naam en hulle praat met my en voer met my ’n gesprek asof hulle my jare ken! Dis ’n groot kompliment, maar ek het goedjies om te doen. Ek is rêrig net daar vir ’n brood en ’n melk,” het Anita vertel.
Anita oor Boyce se aftrede
Toe Anita se man, Boyce, se aftrede by KWV aangekondig is, het baie mense gesê dis as gevolg van haar gedrag tydens Die Real Housewives van die Wynlande. Sy sê dis ’n ongelooflike groot kompliment dat mense dink sy is die rede vir haar “ongelooflike hardwerkende man met ’n ontsettende goeie reputasie se aftrede”. Maar sy wens tog dat mense liewer oor die reeks – of oor haar – eerder as Boyce sou skryf.
Anita is glad nie spyt oor Die Real Housewives van die Wynlande nie
Sy meen dat as jy jouself heeltyd gaan bevraagteken oor hoekom jy sekere goed gedoen het, gaan dit nie dinge beter maak nie.
“Dit was die plan om myself bloot te stel. Ek wou wys dat iemand my ouderdom kan nog ’n mooi rokkie aantrek, haar lippies rooi maak, haar hare krul en sy kan oukei wees en aangaan.”
Toe Anita en Mel bietjie skinder…
Rian het vir Anita uitgevra oor haar mede-huisvrou, Karen Schwendtke (lees ons onderhoud met haar hier), se kommentaar dat sy soos Mel wou wees. Anita sê toe trots sy wou nie, want sy is reeds ’n “alfa-vrou”. En net daar stap Mel in om haar te verras. En haar eerste woorde was: “Nee, my hart gaan staan! Ek gaan nou flou word!”
Toe Anita begin praat oor die poker-aand en Karen se gedrag, was Mel se reaksie: “Ek weet hoekom sy so was. Dit was payback. Sy het gesê dit was aspris en dat sy dit so beplan het. Ek weet nie wat voor dit gebeur het nie, maar dit was payback.”
Anita en Mel gesels oor hulle ervaring
Hoewel Anita en Mel nie in dieselfde reeks was nie, het hulle dieselfde reaksie van kykers gekry, meen dié vroue. Aan die begin het niemand van hulle gehou nie en soos die reeks aangegaan het, het mense van hulle begin hou. Mel sê sy kry talle boodskappe van meisies wat haar inspirerend vind en dat mense by haar salon opdaag net om haar te ontmoet.
Anita ervaar dieselfde.
“Ek ervaar die meeste aanhang van jong getroude paartjies, jong tieners en ook die gay-gemeenskap.”

Die volledige episode is op Catch Up beskikbaar en jy kan dit ook kyk op DStv Stream. Rian se volgende gas is die uitgeworpe ANC-lid Carl Niehaus. Laataand by Rian is elke Dinsdagaand om 21:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) te sien.