Soos Diepe Waters-kykers se geliefde karakters se verhoudings op die proef gestel word en stories nuwe rigtings inslaan, tree nuwe karakters vandeesmaand toe. En daarmee saam, natuurlik, kom ’n hele lot verrassings en geheimse wat ontboesem word.
Wie’s wie?
Frans Broeksma
Deon Coetzee (Spoorloos:Losprys, Binnelanders, Legacy, Egoli) vertolk dié rol.

Frans is ’n stewige, pront beesboer van die Vrystaat wat Boskruin toe kom om tyd saam met familie te spandeer. Hy is beginselvas en vat nie nonsens nie, maar sy direkte manier van doen, kan soms ongemak veroorsaak. Hoewel hy direk, en selfs soms stug optree, skuil daar ’n verrassend sensitiewe kant onder die oppervlak.
Kayla Daniels
Kayla word deur Reënboogrant se Marelee Ferreira vertolk.

Kayla sluit as junior skoonheidsterapeut by Skinvestment aan. Sy is energiek, entoesiasties en hou daarvan om nuwe tendense en idees te toets – iets wat nie altyd ewe goed by Zelda se meer tradisionele benadering inpas nie. Kayla se passie vir moderne, volhoubare skoonheid maak haar ’n dinamiese toevoeging tot die span.
Josh Williams
Emmanuel Castis van Isidingo- en Erfsondes-faam speel die rol van Josh.

Anja se vriend van Engeland, Josh, is vriendelik, spontaan en vol pret. Hy mag dalk nie die tipiese droomman wees nie, maar sy humor en groot hart maak hom vinnig gewild. Tog maak sy onkonvensionele styl en ligsinnige aard sommige mense ongemaklik, en dít kan dalk spanning veroorsaak.
Allan Lewis
Paul Strydom, wat een van die hoofrolle in Reënboogrant vertolk, speel Allan.

Allan is ’n selfversekerde, welaf finansies-student wat nie skaam is oor sy menings nie. Hy glo sukses kom net deur harde werk, en hy het min simpatie vir mense wat sukkel. Sy arrogante houding en pronkerige leefstyl maak hom nie altyd gewild nie, maar hy hou nie terug om sy sienings te deel nie.
Patrick Pieters
Lian Strydom vertolk die rol van Patrick.

Patrick is Allan se stille metgesel en getroue regterhand. Hy deel Allan se luukse leefstyl en stylvolle voorkoms, maar verkies om eerder in die agtergrond te bly. Al is hy nie so uitgesproke soos Allan nie, hou sy lojaliteit aan sy vriend hom dikwels in ongemaklike situasies vasgevang.
Kyk Diepe Waters Maandae tot Donderdae om 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144, ook aanlyn op DStv Stream). Diepe Waters is ook op Catch Up beskikbaar.







