Die sirene het verlede week Theron van Dyk (62), ’n besigheidsanalis van Seepunt, se opmars na die pryspot in die rede geval. Met R20 000 reeds op die bord en sewe vrae reg beantwoord, keer hy vandeesweek om verder sy algemende kennis in kykNET se vasvraprogram Wie word ’n miljoenêr op die proef te stel. Theron het nog twee hulplyne tot sy beskikking.
Hy skuif hoër op die prysleer toe hy korrek antwoord dat Indië bevolkingsgewys die grootste demokratiese vasteland in die wêreld is. Dit bring hom op R25 000 te staan. Indië is die tuiste van 1,4 miljard mense . . .
Sy tweede vangnet op R30 000 handel oor Springbokrugby en wie die eerste speler was wat 100 toetse vir Suid-Afrika gespeel het. Maar Theron herkou so bietjie aan die antwoord en besluit om die gehoor te vra. Dit is sy tweede hulplyn. 52% van die gehoor kies vir Percy Montgomery.
Theunis gaan met die gehoor se antwoord – en dis in die kol! Daarmee het hy R30 000 wat hy in sy sak kan steek.
Die Nasa-program wat beoog om teen 2026 weer mense op die maan te plaas, laat hom raai: Eros. Maar dis Artemis – en dit beteken sy storie is nou vir eers uit, maar hy gaan gelukkig met R30 000 huiswaarts keer.
Die ses spelers
- Devar Smit (Pretoria)
- Anmar van Niekerk (Hermanus)
- Fazal Valentyn (Wuppertal)
- CF Furstenburg (Fourways)
- Arno Strydom (Pretoria)
- Trudie Schwartz (Tzaneen)
Die eerste vinnigste vingers
Wie se kennis van die verskillende oorloë en revolusies gaan hulle in daai witwarm stoel laat beland? Dis Arno Strydom (27), ’n data-analis, wat met 3.362 die ander vyf deelnemers uitknikker.
Hy maak ook korte mette van die eerste vyf vrae op pad na die R10 000-vangnet. Arno stel sy tweede vangnet by vraag 8 vir R25 000. Hy kies die 50/50-opsie om ’n kersie op te steek rondom die voormalige premier van Pakistan. Dis natuurlik Imran Khan en hy beweeg aan na R15 000.
Het jy geweet jy kan nie met ’n Nobelprys vir Wiskunde vereer word nie? Arno het dit wel geweet en die pryspot skuif op na R20 000. Rian erken hy het Wiskunde op skool gehaat, maar Arno is weer gek daaroor omdat dit definitiewe antwoorde bied. Maar gaan hy sy tweede vangnet van R25 000 haal?

Hy besluit om vir Rian te vra watter spansport vir die eerste keer sedert 1900 weer na die volgende Olimpiese Spele gaan terugkeer. Is dit krieket of is dit netbal? Die twyfel vier hoogty en hy wend hom na die gehoor.
Meer as 50% van die gehoor kies krieket. Arno dink dis dan die opsie om te kies. En daarmee slaan hy sy vangnet vir ’n ses!
Sy kennis van Jupiter se gravitasieveld laat hom op R30 000 beland. Hy erken hy wou astronomie na matriek gaan studeer het, maar dit was te ver van die huis af. Dit bly wel iets waarin hy belangstel.
Arno beland op R50 000 toe hy na sy instink luister rondom die afstand van Marion-eiland vanaf Kaapstad. Dit is 1 900 km.
Sy raaiskoot dat Che Guevara in sy universiteitsjare ’n sporttydskrif vir sokker begin het, ontspoor sy optog na die R1 miljoen. Die ikoniese Kubaan was die stigter en redakteur van ’n tydskrif oor rugby! Kan jy dit glo?
Die tweede vinnigste vingers
Al die deelnemers ken die gradering van veergewig tot swaargewig wat boks aanbetref, maar dis Fazal (34), ’n tegnikus, wat blitsvinnig uit die regterhoek kom en die klok, sowel as die ander deelnemers, klop met sy antwoord in 4.322 sekondes.
Fazal laat nie gras onder sy voete groei nie en kort voor lank haal hy die eerste vangnet.
Hy stel sy tweede vangnet op R30 000 (vraag 9). Maar gaan hy reg wees met sy antwoord oor die herkoms van die Afrikaanse woord “foendi/foendie of fundie”? Hy sê dis afkomstig vanuit Zoeloe – en gedoriewaar, hy is absoluut reg. Het jy dit geweet?

Maar ai, toe hy moet aandui hoeveel medaljes Suid-Afrika sedert 1995 by Rugby-wêreldtoernooie ontvang het, was dit duidelik dat hy nie die vraag goed deurdink het nie. Fazal het gefokus op die wen-medaljes, maar het vergeet dat naaswenners ook medaljes ontvang. Wat ’n jammerte vir die man van Wuppertal . . .
Die R10 000 in sy sak gaan wel help met die aankoms van ’n nuwe babatjie in die gesin.
Die derde vinnigste vingers
Hoe goed is jou geografie en sal jy Europese lande korrek van oos na wes kan rangskik? Drie het die antwoorde reg, maar dis CF (52), ’n makelaar van Fourways, wat met 5.944 sekondes seker maak dis hy wat na Rian se kant toe oorstap.

Rian herken hom, maar is onseker waar hulle mekaar al vantevore raakgeloop het.
“O, my magtig,” kom dit toe CF vertel dit was tydens Op die spel, kykNET se gewilde spel- en taalspeletjieprogram. Hy is terloops ook reeds jare lank rugbyskeidsregter vir die Emirates Leeus.
CF antwoord onverstoord die eerste vyf vrae en haal die eerste vangnet van R10 000 sonder enige hulplyne wat ingespan word. Hy erken hy het hom al vantevore in die voet geskiet omdat hy nie die vrae goed deurgelees het.
Hy stel sy vangnet op vraag 9 vir R30 000 en vestig sy hoop op geen musiekvrae vanuit 2010 of 2020 nie . . .
Hy dink dis Ryan Reynolds wat ’n Walliese sokkerklub saam met die akteur Rob McElhenney gekoop het, maar span die 50/50-hulplyn in om doodseker te maak hy is reg. Dit is inderdaad Ryan Reynolds.
Terloops, die twee het vroeër vanjaar ook aandele gekoop in Club Necaxa, ’n eeu-oue Meksikaanse sokkerklub waarin die aktrise Eva Longoria ook aandele het.
Sy opmars na R30 000 lyk belowend – hy moet net weet wie in 2011 aangestel is as uitvoerende hoof van Apple in die plek van Steve Jobs. CF besluit om liewer sy “Bel ’n pel”-hulplyn te benut en sy vriend Dirk te bel vir hulp.
Dirk sê vol selfvertroue dat dit Tim Cook is en CF hoop dat hy reg is. Dankie, Dirk! Daarmee kan CF R30 000 huis toe neem.
Net toe Rian die volgende vraag vir R50 000 wil stel, is dit weer die sirene wat die tempo onderbreek. Dit beteken CF moet volgende week terugkeer om te kyk hoeveel meer hy by sy bestaande R30 000 kan voeg. Hy het gelukkig ook nog een hulplyn oor . . .
Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar.