Tot nou toe was daar baie hoop maar nog nie groot wenners in die vyfde seisoen van die gewilde Wie word ’n miljoenêr-reeks nie. Maar vanaand is dit heeltemal ’n perd van ’n ander kleur. Dis die gewilde spesiale episode waar bekendes gaan probeer om die meeste geld los te slaan vir hul gunsteling liefdadigheidsorganisasie.
Die ses deelnemers in hierdie episode:
- Karlien van Jaarsveld (sangeres)
- Tracey-Lee Oliver (Diepe Waters-aktrise)
- Pietie Beyers (Pronk Primêr-akteur)
- Jannie du Plessis (Oud-Bok en mede-aanbieder van Toks & Tjops)
- Dean Smith (Suidooster-akteur)
- Nicole Holm (Donkerbos-aktrise)
Die eerste vinnigste vingers
Gaan enigeen daarin slaag om sokkerspanne, volgens tuisveld, van wes na oos in die regte orde te rangskik? “Nee, jinne,”, “O, jitte” . . . is al wat hoorbaar is so tussendeur Dean se benoude laggie.
Die korrekte volgorde is: Inter Miami, Manchester City, Bayern Munich en dan Al Nassr. Net twee deelnemers is in die kol: Nicole binne 9.784 sekondes en dan Jannie binne 11.527 sekondes. Daar het jy dit! En selfs Nicole is verbysterd daaroor.
Sy speel namens Read to Rise en die lekker deel van vanaand se uitsending is dat sy ’n spanmaat kan kies wat saam met haar van vraag 6 kan saamspeel. Nadat Nicole die eerste vrae tot by die R10 000-vangnet kafgedraf het, moet sy nou ’n spanmaat kies. Sy stel haar vangnet by vraag 10 vir R50 000 en dis Pietie wat haar spanmaat gaan wees. Sy glo hy is die regte spanmaat, sy’t nie verniet vir hom klas gegee nie. Pietie is in die kol met die Kardashians, maar die vraag oor wie se man ’n aanval op haar mede-ysskaatser Nancy Kerrigan gereël het, besluit die twee dis tyd vir ’n hulplyn. Hulle gaan vir Rian vra om te help. Hy bevestig dat dit Tonya Harding is – en die beursie word voller . . .
Die sleutelfiguur wat ’n nabye familielid van tsaar Nicholas II én keiser Wilhelm II was tydens die Eerste Wêreldoorlog, noop Nicole en Pietie om die “Bel ’n pêl”-hulplyn te aktiveer.
Sy gaan vir die TV-regisseur en 7de Laan-aktrise Nina Swart bel. Nina is nie seker nie en dink dis dalk Raspoetin. Nou gaan die twee die laaste hulplyn inspan: die 50/50-hulplyn. Sy skater uit van die lag toe die twee name wat oorbly betwyfel. Nicole besluit om te volstaan by die R30 000 wat hulle tot nou toe verdien het. Terloops, die korrekte antwoord was koning George V.
Die tweede vinnigste vingers
Van sokker tot berge . . . watter berg is die hoogste en watter een die laagste van die vier moontlikhede wat aangebied word? Dis Everest, dan Kilimandjaro gevolg deur die Drakensberg en Tafelberg.
Pietie, Jannie en Dean is al drie in die kol, maar dis Dean se vingers wat die vinnigste was wat die korrekte orde binne 4.214 sekondes ingesleutel het. Hy speel vir Goue Aar Tehuis vir Bejaardes in Malmesbury. Benewens die feit dat hy van die dorp self is, probeer hy gereeld help om fondse vir die Tehuis in te samel en gaan kuier hy ook daar om met die inwoners te gesels.
Rian sê Dean was redelik uitgesproke terwyl Nicole en Pietie in die vuurwarm stoel gesit het. “Grootbek van die kantlyn af,” kom dit van Rian, en Dean erken hy is maar eintlik ’n “kantlynskreër” . . . en hy wil liefs net vrae oor die Teletubbies antwoord. Hy haal die R10 000-vangnet sonder sukkel en stel sy tweede vangnet by vraag 9 vir R30 000.
Wie gaan hy as spanmaat kies? Dis Tracey-Lee – en hulle twee besluit hulle gaan dit vir die oumense doen! Sy slaan die spyker op die kop toe sy antwoord dat Guinevere, alhoewel getroud met koning Arthur, Lancelot as minnaar gehad het. Hoe het sy dit geweet? “Daar was ’n movie van hulle.”
Sou jy die antwoord ken op watter wêreldbekende Suid-Afrikaner in 2002 sy TV-debuut gemaak het in ’n kameerol in die sepie Isidingo? Dean en Tracey-Lee besluit dis tyd om Rian as ’n hulplyn te nader. Terloops, Rian sê hy sélf het ’n kameerol in Isidingo vertolk . . . hy het ’n tent afgelewer en selfs eens die rol van ’n joernalis daarin vertolk. Maar gaan hy hier die tentpenne inslaan op R25 000? Hy dink dis Trevor Noah en die span aanvaar dit as hulle finale antwoord. Hy is sowaar reg!
Die vraag oor watter uiterste giftige chemiese stof wat in appelpitte voorkom, laat die twee effe verslae. “Ek eet nie appelpitte nie,” kom dit van Dean. “Ek is van Grabouw en ek eet nie appels nie,” volg Tracey-Lee op. Ná ’n pittige gesprek oor appels en arseen en die blyspel Chicago besluit Dean dis tyd om die 50/50-hulplyn in te span. Daar moet nou gekies word tussen arseen en sianied.
“Vir my is dit net ’n ding, ek moet net by [vraag] 9 uitkom. Ten minste. Dan weet ek dis my base. Dan bel ek,” besluit Dean. En hy gaan vir Lochner de Kock, die bekende Suid-Afrikaanse musikant, akteur, skrywer en koskenner, bel.
Lochner sê hy vermoed dis arseen. Dean besluit op arseen – en ongelukkig is hy verkeerd. Dis sianied! Maar ten minste het Goue Aar Tehuis nou R10 000 ontvang – en dis ’n gewaardeerde bydrae.
Die derde vinnigste vingers
Wimbledon-kampioene moet van jonk na oud rangskik word. Die korrekte orde is Carlos Alcaraz, Roger Federer en dan Andre Agassi met John McEnroe as die oudste van die viertal.
Pietie en Jannie is altwee in die kol, maar dis Pietie wat met 5.833 sekondes agter sy naam vir Jannie ’n kishou toedien. En hy speel ten bate van die Dierebeskermingsvereniging. Pietie erken met die tweede vraag dat hy nie weet wat die gedenkarea wat ná die val van die “Twin Towers” op 11 September 2001 in New York genoem word nie. Hy gaan vir Rian inspan as sy eerste hulplyn. Hy antwoord dat dit Ground Zero is en Pietie gaan akkoord. Dis natuurlik die regte antwoord.
Verder vorentoe gaan dinge makliker en Pietie se senuwees lol minder. Hy stel sy volgende vangnet op vraag 8 vir R25 000. En sy spanmaat vir die volgende sessie gaan Karlien wees.

Pietie kies die 50/50-opsie op die vraag wat Helen en Janet, wat onderskeidelik vir die Nobel-vredesprys en ’n Oscar benoem is, se van is. Hy dink dis Suzman, maar wil seker maak. Dis korrek en die prysgeld styg tot R20 000.
Pietie dink die musiekblyspel van David Kramer en Taliep Pietersen wat in 1999 die Laurence Olivier-toekenning gewen het, is Kat and the Kings. Maar hy twyfel en wil sy suster, Huisgenoot-redakteur Yvonne Beyers, bel. Dis sy derde en laaste hulplyn. Maar ongelukkig haal die 30-sekonde spertyd hul in voordat Yvonne kon antwoord. Pietie volstaan by Kat and the Kings. En dis sowaar die regte keuse. Hy het nou R25 000 in die sak vir die DBV.
Wie is naas Usain Bolt die vinnigste naelloper nóg oor die 100 m én 200 m? Karlien glo dis óf Yohan Blake óf Asafa Powell. Pietie sê hulle kan raai want die vangnet is reeds gehaal. Saam besluit hulle op Powell, maar net daar hardloop hulle volspoed in die hek vas. Dis Yohan Blake.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.







