Menu terloops
In Recaps & Resensies [4 Sep 2024]

‘Wie word ’n miljoenêr’ se nuwe seisoen skop op ’n hoë noot af – en een speler waag groot!


Rian van Heerden is weer aan’t roer in die ateljee as aanbieder van die wêreld se grootste vasvraprogram op kykNET, ‘Wie word ’n miljoenêr’. Wie gaan hierdie keer die flinkste antwoord en die vinnigste vingers hê?

Deur Annelene Oberholzer
‘Wie word ’n miljoenêr’ se nuwe seisoen skop op ’n hoë noot af – en een speler waag groot!

Soos in die verlede, is die eerste vangnet vir die Wie word ’n miljoenêr-deelnemers op R10 000 (na die vyfde vraag) gestel. Daarna kry hulle die geleentheid om self hul tweede vangnet vas te stel vanaf die sesde tot die 14de vraag van die 15 vrae. 

Deelnemers mag net drie van die vier beskikbare hulplyne gebruik waarvan elkeen net eenmalig ingespan kan word. Hulle kan die gehoor vra vir hulp of vir ’n 50/50 vra waar twee van die vier moontlike antwoorde verwyder word. Dan kan hulle ook ’n pêl bel of vir Rian vra om met die antwoord te help.

Die ses deelnemers

  • Engela Duvenhage (Wellington)
  • Hein Viljoen (Bloemfontein)
  • Marlu Roux (Johannesburg)
  • Gillian Christians (Pretoria)
  • Natasha Harmse (Stellenbosch)
  • Armand Cohn (Centurion)

Vinnigste vingers

Wie word n miljoener
Marlu het sy sportantwoorde geken. Foto: Skermgreep

Die 22-jarige Marlu, ’n student, is die vinnigste uit die blokke om die regte antwoord te gee rondom die volgorde van stede waar die Springbokke die Wêreldbeker gewen het. Dit het hom net 3.668 sekondes geneem.

Hy beland op die eerste vangnet van R10 000 met nog ’n rugby-vraag. Dié keer wil Rian weet wie het die doelskop teen Frankryk tydens die Wêreldbeker-kwarteindstryd afgestorm. Daardie ikoniese oomblik sal vir altyd in rugbyliefhebbers se geheue voortleem, danksy Cheslin Kolbe!

Marlu stel sy volgende vangnet op die 9de vraag wat R30 000 beloop. Hy roep die gehoor se hulp in vir die antwoord op waar die Internasionale Geregshof, oftewel Wêreldhof, gesetel is. Den Haag is die antwoord en hy vorder na die volgende vraag.

Vir die volgende vraag kies hy die 50/50-opsie en kies dan ook die regte antwoord. Maar die vraag oor waar die grootste diamant in 1905 in Suid-Afrika gevind is, span hy sy laaste hulplyn in om sy oom, Rudi, te bel. 

Ongelukkig loop die tyd uit voordat Rudi kan antwoord en Marlu besluit dat hy liewers nie gaan raai nie, maar sy R20 000 in sy sak steek en uit die stryd tree. 

Die tweede vinnigste vingers

Wie gaan die Amerikaanse presidente volgens huidige ouderdom, van oud na jonk, reg rangskik in die kortste moontlike tyd? Dis inderdaad Engela wat die flinkste rangskik in ’n tyd van 4.778 sekondes.

Engela (50) is ’n joernalis wat aan Rian bevestig dat sy ongelooflik vinnig kan tik. Maar die vraag oor die wêreld se grootste slangspesie wat in 2024 in Ecuador gevind is, dryf haar na die 50/50-opsie. Die resultate laat haar net verder verward en sy bel een van haar vriendinne, Gerda Engelbrecht.

Gerda stel blokkiesraaisels op en Engela is oortuig sy sal meer van obskure dinge weet omdat sy mense moet probeer vasvra met haar blokraaie. Gerda is self onseker, maar sê sy sal raai dis die noordelike groen anakonda. En dis in die kol!

Engela se kennis van landsvlae besorg haar R10 000 en sy kies haar volgende vangnet op vraag agt vir R25 000.

Dit is ongelukkig ’n vraag oor ’n aktrise wat drie keer vir ’n Oscar benoem is en elke keer dit gewen het, wat Engela se hoop op daardie R25 000 uitknikker. Frances McDormand was die korrekte antwoord, maar sy het Jodie Foster gekies.

Die derde vinnigste vingers

Dis Hein (41) wat binne 4.651 sekondes in die kol is met die rangskikking van radiostasies van noord na suid volgens hul hoofkwartier. 

Hein Viljoen, Wie word n miljoener
Gaan Hein vasval? Foto: Skermgreep

Hy behaal die R10 000-vangnet nadat hy die Griekse geneesheer na wie die etiese verklaring deur medici afgelê word, reg identifiseer as Hippokrates.

In ’n eerste vir Rian, kies Hein sy volgende vangnet as vraag 14 vir R500 000! En vraag na vraag antwoord hy sonder enige huiwering. Ook die vraag oor Stephen Mokaka wat die eerste Suid-Afrikaner geword het om ’n afstand binne 60 minute af te lê, word vinnig beantwoord.

Op Rian se vraag of hy atletiek volg omdat hy hierdie vraag so vinnig beantwoord het, erken Hein dat hy dit nie volg nie, maar “as ek verkeerd is, wil ek dit net baie vinnig verby kry”.

Hy span sy eerste hulplyn in om vas te stel watter professionele opleiding koningin Elizabeth II as agtienjarige tydens die Tweede Wêreldoorlog ontvang het. 

Hy vra die gehoor, maar is skepties oor hul terugvoer dat sy as motorwerktuigkundige opgelei is en kies die 50/50-opsie. Die twee antwoorde wat oorbly, is motorwerktuigkundige en elektrisiën. Wyslik besluit Hein om die gehoor se antwoord te aanvaar – en dit is inderdaad die korrekte antwoord.

Met Hein wat in hierdie stadium op R50 000 staan, kondig die sirene in die ateljee die einde van die tyd aan. Dit beteken hy sal moet terugkom en verder speel.


Wie word ’n miljoenêr saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

20

Wat om te kyk: 20+ gewilde boeke wat in TV-reekse omskep is

Van 'Recipes for Love & Murder' en 'Reënboogrant', tot 'Spooksoeker' en 'Dinge van ’n kind' – soveel boeiende boeke wat omskep is in soveel skitterende TV-reekse. Hier is ons keur van dié reekse wat jou gaan bekoor, inspireer en ontroer.

Meer

Wat om te kyk in 2025: Die 10 TV-reekse waarna ons die meeste uitsien

‘White Lotus’, ‘The Last of Us’, ‘The Handmaid’s Tale’ en nog keer met opvolgseisoene na die kassie terug, terwyl nuwe skeppings soos ‘Suits L.A.’, ‘The Pitt’ en ‘Zero Day’ – met Robert de Niro wat vir die eerste keer in sy loopbaan van nagenoeg ses dekades in ’n TV-reeks speel – ook wag. Daar is inderdaad baie, baie lekker televisie om na uit te sien in 2025.

Meer

Plaaslike stories kraai koning met kyksyfers op Showmax

Uit die tien reekse wat die meeste in 2024 op Showmax gestroom is, was nege plaaslike produksies met slegs HBO se epiese fantasiereeks, 'House of the Dragon', wat met Suid-Afrikaanse storievertellers kon meeding. 

Meer

Golden Globes 2025: Waar om vanjaar se wenners te stroom

Van die meesterlike en epiese historiese drama ‘Shõgun’ tot die vlymskerp komedie ‘Hacks’ – hier is waar jy die reekse en films wat vanjaar beeldjies by die Golden Globes ingepalm het, kan kyk.

Meer
Sien alle opsies