Menu terloops
In Recaps & Resensies [27 Aug 2025]

‘Wie word ’n miljoenêr’: Molslang kelder dié keer drome van miljoen


Die wenbedrae in vandeesweek se episode van ‘Wie word ’n miljoenêr’ was nie te versmaai nie, maar daai koel miljoen is steeds buite bereik.

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: Molslang kelder dié keer drome van miljoen

Tot nou toe is dit steeds Garry Paterson van Pretoria (sesde episode) wat die hoogste bedrag van R250 000 huis toe kon neem tydens die vyfde seisoen van Wie word ’n miljoenêr. 

Soos in die geval van Garry, het Jaco Wessels van Pretoria teen die einde van die agtste episode nog steeds in die vuurwarm stoel gesit en moes hy weer vir die negende episode terugkeer om te kyk of hy dalk meer as R30 000 in die sak kan steek.

Gaan hy koelkop bly? Hy het wel kalmer gevoel met sy terugkeer as wat hy die vorige keer gevoel het. Hy was een vraag weg van sy tweede vangnet wat hy by vraag 10 op R50 000 gestel het. Twee van sy drie hulplyne is ook reeds ingespan.

Hy het korrek aangedui dat Andy Warhol se ateljee in New York as die “Factory” bekend gestaan het. Dit het hom R50 000 in die sak gebring. Maar die volgende vraag oor as wat die Suid-Afrikaanse Lugdiens voor 1929 bekend gestaan het, het hom laat twyfel. Daarom het hy sy laaste hulpyn ingespan – en dis Rian wat moes bontstaan.

“Me and my big mouth,” het dit lakonies van Rian gekom. Hy het erken dat hy nie 100% seker is nie, maar Flying Springbok klink vir hom reg. Jaco het besluit om ook te raai – en hy het akkoord gegaan met Rian se raaiskoot. Dit het egter sy vlerkies summier kortgeknip. Die regte antwoord was Union Airways.

Die ses deelnemers in dié episode:

  1. Meyer Wessels (Bethlehem)
  2. Willis du Plessis (Krugersdorp)
  3. Ronnie Barnes (Bloemfontein)
  4. Liezel Pienaar (Strand)
  5. Sumarie Venter (Krugersdorp)
  6. Nico Geldenhuys (Johannesburg)

Die eerste vinnigste vingers

Wie het die Suid-Afrikaanse riviere van noord na suid binne die kortste tyd korrek rangskik? Dit is die Limpoporivier, gevolg deur die Vaal, die Oranje en dan die Groot-Kei. Vyf van die deelnemers was reg, maar die vinnigste vingers was dié van Liezel Pienaar wat net 4.636 sekondes nodig gehad het om die orde reg in te sleutel.

Liezel (44), ’n onderwyseres van die Strand, is deur haar man, Martin, in die gehoor ondersteun. Sy het soos ’n stuk seep deur die eerste vrae geglip en het haar tweede vangnet by vraag 10 vir R50 000 gestel.

Sy het besluit om haar eerste hulplyn in te span vir die vraag oor watter bekende Jane Austen-boek gedeeltelik die inspirasie was vir die fliek Bridget Jones’s Diary. Haar “Bel ’n pêl”-opsie was Cailey en sy het geantwoord dat dit Pride and Prejudice was – en daarmee het Liezel op die R50 000-vangnet geland.

Sy was genoop om nog ’n hulplyn in te stel toe sy gevra word wie die opdrag gegee het om die pad te bou. Die 50/50-hulplyn het haar met sir Lowry Montagu en sir Lowry Cole gelaat. Sy het besluit om sir Lowry Cole te kies – en dis korrek! 

Wat op dees aarde is ’n majola? Dit verskyn op die Orde van die Metgeselle van OR Tambo-toekennings. Sy het haar derde hulplyn ingespan – en dis Rian wat moes antwoord. Kan dit ’n stokstertmeerkat wees? Liezel het besluit om deur te druk met haar en Rian se raaiskoot – maar dit kelder haar opmars na die miljoen. Dis ’n molslang. Kan jy nou meer?

“Op vraag 12 deur ’n molslang gepik . . .” het Rian droogweg opgemerk.

Wie word n Miljoener
Daar is verskeie keer op Rian van Heerden se knoppie gedruk in dié episode. Foto: Skermgreep

Die tweede vinnigste vingers

Ruskampe in die Krugerwildtuin moes van suid na noord rangskik word. Dis eers Onder-Sabie, Skukuza, Satara en dan Punda Maria die verste noord. Drie van die spelers was korrek, maar Nico Geldenhuys het hul uitgeskakel toe hy dit binne 4.766 sekondes reg rangskik het.

Nico (36), is ’n regsadviseur van Johannesburg. Sy vrou, Christelle, was in die gehoor om hom te ondersteun. Hy het die eerste vangnet sonder sukkel gehaal en sy volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel.

In watter 1994-fliek het die hoofkarakter Andy vir sy vriend Red gesê: “Get busy livin’, or get busy dyin’”? Nico was onseker en het sy 50/50-hulplyn ingespan. Hy het The Shawshank Redemption bo Final Destination uit die oorblewende twee opsies gekies. Hierdie antwoord het hom tot by R30 000 gebring – net een vraag kort van sy vangnet.

Sy vangnet-vraag het hom soos ’n handskoen gepas want hy’s ’n groot Liverpool-aanhanger en het geweet dat die pawiljoen by hul tuisveld “Spion Kop” of “The Kop” genoem word. Dit is vernoem na die veldslag in 1900 tydens die Anglo-Boereoorlog.

Die vraag vir R125 000 handel oor watter land wat nie meer bestaan nie, maar wat in 1984 die gasheerland van die Olimpiese Winterspele was. Nico het besluit om die gehoor te vra omdat hy onseker van die antwoord was.

33% van die gehoor het vir Wes-Duitsland en dieselfde persentasie het vir Joego-Slawië gestem. Nico het besluit om die Sowjet-Unie te kies – en daarmee word sy drome van R1 miljoen kortgeknip. Joego-Slawië was toe wel die korrekte antwoord.

Maar gelukkig is daardie R50 000 in die sak nie te versmaai nie!


Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

kykNET se nuwe mini-dramareeks is ’n verhaal van verlies, vergifnis en hoop

Twee mans se paaie kruis in ’n ondersteuningsgroep ná die verlies van geliefdes. kykNET se 'Elke donker wolk' verken hoe ’n onverwagse vriendskap ruimte skep vir vergifnis, genesing en hoop.

Meer

Rubriek: Gaan griffel in Ouma se resepteboek! ‘Kokkedoor: Klassiek’ is terug! 

Ná ’n voorskou van die eerste episode laat 'Kokkedoor: Klassiek' vir Marteni Burger verlang na haar ouma se resepte én sien sy uit na nog skeppies nostalgie - met ’n knippie kombuisdrama en verrassende kinkels daarby.

Meer

Van die veld tot die kelder – kuier dié November saam met VIA

Van wildplase en wynkelders tot huise met karakter: VIA se November-aanbod beloof vars ontdekkings. Kuier saam met Shari Kennedy, Leandie du Randt, Frank Rautenbach en JP Quickelberge, en leer ken die mense, stories en plekke wat Suid-Afrika so besonders maak.

Meer

Chanél Muller oor ‘Sy, die meeue en die Heilige Gees’

"Enige persoon se geloofsreis is ’n baie persoonlike reis, en dit gebeur alles baie innerlik", sê Chanel Muller, die skrywer, regisseur en vervaardiger van die kykNET-reeks 'Sy, die meeue en die Heilige Gees'.

Meer
Sien alle opsies