In verlede week se episode van Wie word ’n miljoenêr was dit ses bekendes wat hulself in die vuurwarm stoel bevind het ten bate van liefdadigheidsorganisasies. Teen die einde van die aand het hulle R65 000 vir verskeie van hul gekose organisasies losgeslaan.
“Ralph Waldo Emerson het blykbaar beweer ‘knowledge is the antidote to fear’ maar die man het duidelik nog nooit in daai vuurwarm stoel gesit nie, want enigiemand wat al daar moes sit, sal vir jou sê dit maak nie saak hoeveel jy weet nie, jou broek béwe,” laat Rian hoor.
Die ses deelnemers in hierdie episode:
- Daniël Eloff (Durbanville)
- Danielle Pieterse (Kaapstad)
- Clement Davids (Elsiesrivier)
- Rudolf Stehle (Pretoria)
- Lizelle van Wyk (Johannesburg)
- Garry Paterson (Pretoria)
Die eerste vinnigste vingers
Deelnemers moet die hoeveelheid spelers in ’n span van die minste tot die meeste rangskik. Wie van die ses het geweet dit is dubbelspel in tennis, dan netbal, gevolg deur krieket en natuurlik rugby met die meeste spelers?
Al ses is in die kol, maar dis Daniël wat hulle uitknikker met 4.380 sekondes agter sy naam. Die 30-jarige prokureur se vrou, Clarindi, is in die gehoor om hom te ondersteun.

Daniël bereik die eerste vangnet van R10 000 sonder enige huiwering. Hy stel sy tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000.
Hy haak egter vas toe hy gevra word watter Suid-Afrikaanse sangeres wat in 2008 oorlede is, wêreldwyd as Mama Afrika bekend gestaan het. Gaan die gehoor die regte antwoord verskaf? 90% van die gehoor kies vir Miriam Makeba (The Click Song en Pata Pata was van haar bekendste treffers). Daniël dink dis ’n betreklik-oortuigende reaksie en maak haar sy finale antwoord. Hy skuif op tot by R20 000.
Daniël besluit om die 50/50-hulplyn te benut om te help met die antwoord op watter stad die eerste een was wat die Olimpiese Somerspele drie keer aangebied het. Dis ’n taai ene – en hy erken dat sy vrou hom aangesê het om die Olimpiese Spele vooraf te bestudeer. Maar hy het nie daarby uitgekom nie . . . Met die keuse tussen Londen en Tokio besluit hy dit moet Londen wees. Daarmee skuif hy op na R25 000.
Met watter wetenskapsfiksie-fliek sou jy hierdie tagline assosieer: “In space no one can hear you scream”? Daniël besluit om ’n kans te waag op Alien. En hy’s reg! Daarmee skuif hy op na R30 000. En net een vraag oor om sy vangnet van R50 000 te bereik . . .
Was dit Mike Tyson wat in 1989 die woord Amandla op sy broek gehad het ter ondersteuning van Nelson Mandela? Daniël voel sy twee “Bel ’n pêl”-makkers gaan nie die antwoord ken nie. Nou bly net Rian oor. Hy sê hy neig ook na Mike Tyson toe – “ ’n moerse raaiskoot” – maar dis wat hy dink. Daniël sê die lewe is te kort en hy gaan ook raai dat dit Mike moet wees. Maar dis planke toe vir die twee raaiskote. Sugar Ray Leonard was die man met die boodskap gewees.
Die tweede vinnigste vingers
Vier motorhandelsmerke moet in die volgorde rangskik word waarin hul eerste voertuig vervaardig is. Dis natuurlik Ford, Toyota, Hyundai en dan Tesla. Weer is al vyf deelnemers in die kol, maar dis Danielle wat met 4.046 sekondes agter haar naam koers kies na daai vuurwarm stoel.

Dié 31-jarige rekenmeester van Kaapstad se kêrel, Armand, is in die gehoor om haar te ondersteun. Sy maak korte mette van die eerste paar vrae om by die R10 000-vangnet uit te kom. Nou stel sy haar volgende vangnet op vraag 10 vir R50 000.
Die vraag oor in watter stede daar nog ’n Golden Gate-brug wat dieselfde kleur en vorm het as die een in San Francisco, aangetref sal word, besluit Danielle om ’n hulplyn te aktiveer. Sy het ’n vriend wat baie graag reis en sy gaan haar “Bel ’n pêl”-hulplyn inspan. Etienne is die ou wat gebel gaan word. Hy is bietjie meer as halfpad seker dis Lissabon.
“Kyk, hy was al op die program. Ek vertrou hom,” sê Danielle, maar besluit om tog haar 50/50-hulplyn in te span. Sy moet tussen Stockholm en Lissabon kies. Dis inderdaad toe Lissabon. Sy skuif op na R25 000.
Waar sal die 394 m hoë Iconic Tower in Afrika aangetref word? Weer twyfel Danielle. Sy span Rian in as haar laaste hulplyn. Hy dink nie dis in Egipte of Mosambiek nie. Hy besluit om die keuse tussen Kenia en Suid-Afrika aan haar oor te laat.
Danielle besluit om na haar instink te luister en kies Suid-Afrika. Genade, dis toe wel Egipte!
Die derde vinnigste vingers
Suid-Afrikaanse universiteite moet van suid na noord rangskik word. Maties, Rhodes, Wits en dan Tukkies is die korrekte orde. Net twee deelnemers was in die kol, maar dis Garry wie se vingers die vinnigste was met 5.694 sekondes agter sy naam.

Die 64-jarige Skot sê hy het hier in die boeregemeenskap leer Afrikaans praat. Die grondkundige se vriend, oud-kollega Piet van die afgelope 40 jaar, is byderhand om hom te ondersteun vanuit die gehoor.
Garry haal die eerste vangnet sommer so tjoef-tjaf en stel sy volgende vangnet op vraag 11 vir R70 000.
Hy werk deur die vrae soos ’n warm mes deur botter en kort voor lank bereik hy die tweede vangnet van R70 000 sonder dat daar enige hulplyne ingespan is.
Drie vrae, vier hulplyne (waarvan hy drie kan gebruik) is nou oor vir sy opmars na die R1 miljoen.
“Nou gaan dit interessant raak,” som Rian dit op.
En hy’s reg. Want die sirene kondig die einde van die sessie aan met Garry op R125 000. Moenie die volgende spannende episode met Garry steeds in die vuurwarm stoel misloop nie!
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.







