“Jy kyk die vasvraprogram waar ’n vreemde feit wat jy toevallig op Facebook gelees het, moontlik van jou ’n miljoenêr kan maak . . . mits jy dit reg onthou.” Só het programaanbieder Rian van Heerden kykers tot vandeesweek se episode van Wie word ’n miljoenêr verwelkom.
Die ses deelnemers
- Grizelda Rautenbach (Secunda)
- Barend van der Walt (Stellenbosch)
- Rudi Booysen (Kaapstad)
- Jeanine van der Westhuizen (Randburg)
- Jaco Wessels (Pretoria)
- HW de Jager (Stellenbosch)
Die eerste vinnigste vingers
Lande moes volgens oppervlakgrootte van klein na groot rangskik word. Dis Ciprus, Nederland, Spanje en Kanada. Al ses deelnemers het die orde korrek ingesleutel, maar dit was Rudi wat sy pad na die vuurwarm stoel binne 4.708 sekondes ingesleutel het.
Rudi Booysen (47),’n logistieke bestuurder by ’n hotel in die Kaap, se vrou, Henriëtta, was daar om hom te ondersteun. Hy het soos ’n vetgesmeerde blits deur die eerste vrae geglip en die eerste vangnet sonder sukkel gehaal en sy tweede vangnet by vraag 10 vir R50 000 gestel.

Rudi het besluit om ’n hulplyn in te span toe hy moes kies watter seevaarder het naby die Kaap die Goeie Hoop ter see gesterf het. En die hulplyn is Rian. “My liewe Rudi, ek het nie ’n cooking clue nie,” en daarmee het Rian bevestig dat hy werklik nie die antwoord ken nie.
Die 50/50-hulplyn word toe ingespan en Rudi moes kies tussen Bartolomeu Dias en Robert Salmond. Hy het vir Bartolomeu Dias gekies en dit het hom tot by die R25 000-kerf gebring.
Wie was die persoon wat in 2024 die oudste persoon (91 jaar oud) was om vir ’n Oscar-toekenning benoem te word? Hierdie vraag het Rudi genoop om sy laaste hulplyn in te span en hy het besluit om die “Bel ’n pel”-opsie te benut.
Hy het sy hoop daarop gevestig dat Loren, ’n kollega, die antwoord sou ken. Sy het gedink dis Betty White en Rudi het dit ook vermoed. Oeps, hulle was verkeerd. Dit was die komponis John Williams wat al vir 54 Oscars genomineer is en met vyf goue beeldjies bekroon is. Dink maar aan Jaws, die Star Wars-reeks, Superman, E.T. the Extra-Terrestrial, t die Indiana Jones-reeks, Jurassic Park, Schindler’s List en die eerste drie Harry Potter-flieks.
Rudi het darem nie met leë hande huiswaarts gekeer nie. R10 000 is beter as niks!
Die tweede vinnigste vingers
Rakette moes van die kortste tot langste rangskik word. Die korrekte raket-orde is: tafeltennis, padel, pluimbal en dan natuurlik tennis. Vier van die deelnemers het die korrekte orde ingesleutel met millisekondes in tyd se verskil.
HW de Jager (35), ’n welvaartbestuurder, het egter die ander deelnemers ’n kishou toegedien met 5.868 sekondes agter sy naam. Sy vrou, Madelé, het hom kom ondersteun.

Hy het met die spoed van wit lig deur die eerste vrae tot by die R10 000-vangnet beweeg en het sy tweede vangnet by vraag 10 vir R50 000 gestel. Maar die eerste vraag in sy opmars na daardie vangnet word gekortwiek deur die vraag: Wie of wat is die Long Tom waarna die Long Tom-pas vernoem is?
Sy eerste hulplyn wat hy ingespan het, was Rian – nadat hy eers gedink het om die gehoor te nader. “Dis ’n kanon,” was Rian se finale antwoord. En dit was korrek!
Het jy geweet dat Suid-Afrika nog nooit ’n Olimpiese medalje in gimnastiek gewen het nie? HW ook nie, en hy het sy tweede hulplyn ingespan om hom te help. Die 50/50-opsie het hom met atletiek en gimnastiek gelaat en hy het die korrekte keuse gemaak.
Sy kennis van Ernie Els se gholfprestasies het hom R50 000 in die sak gebring. Maar die volgende vraag dryf hom om sy laaste hulplyn in te span: die “Bel ’n pel”-opsie want hy is nie seker wie die Suid-Afrikaanse politiek aktivis was wat met Donald Woods vriende was in die fliek Cry Freedom nie. Sy hulplyn is toe niemand anders nie as Theunis Strydom, ’n deelnemer aan die derde seisoen van Wie word ’n miljoenêr. Dié ervare sakejoernalis en skrywer was in 2022 die eerste deelnemer wat ’n halfmiljoen rand in die sak kon steek.
Theunis het gedink dit was Steve Biko, al was hy nie 100% seker nie. Dié antwoord het HW op R70 000 beland. Maar nou moet hy voortgaan sonder enige verder hulplyne.
Die volgende vraag het gehandel oor die oorsprong van Zamalek, die bynaam vir Carling Black Label-bier. “Rian, ek’s een keer in die stoel,” en daarmee het hy geraai dat dit afkomstig is van ’n Egiptiese sokkerspan. Was hierdie dalk ’n R125 000-foutjie? Nee, hy het reg geraai.
Al ooit gehoor van Sirimavo Bandaranaike? Sy het op 21 Julie 1960 die eerste vroulike eerste minister ter wêreld geword. “Om nou te raai, sal stupid wees,” het HW erken toe hy nie met volle oortuiging die antwoord kon verskaf nie. Hy het gekies om die geld te vat – en R125 000 is glad nie te versmaai nie.
Sirimavo (Sirima Ratwatte Dias) Bandaranaike was vanaf 1960 tot 1994 die voorsitter van die Sri Lanka-vryheidsparty (SRFP).
Die derde vinnigste vingers
Besienswaardighede moes van suid na noord rangskik word. Twee deelnemers was korrek, maar dit was Jaco Wessels wat die korrekte orde die vinnigste binne 6.637 sekondes ingesleutel het: Robbeneiland, Kangogrotte, Kimberley se Groot Gat en die Apartheidsmuseum.

Dié pensioenaris van Pretoria se vrou, Ronel, was daar om hom te ondersteun. Hy het gemaklik deur die eerste vrae gedraf en sy tweede vangnet by vraag 10 vir R50 000 gestel.
Toe Jaco moes antwoord oor Johannes Radebe wat reeds vanaf 2018 ’n bekende gesig is in ’n Britse werklikheidsreeks, het hy vermoed dit is Strictly Come Dancing, maar hy wou nie ’n kans waag nie. Hy het besluit om die gehoor te nader vir die antwoord.
70% van die gehoor het met hom saamgestem. Daarmee het hy opgeskuif na R25 000. Vir die R30 000-vraag oor waar die hoofkantoor van die Afrika-unie is, het Jaco besluit om sy tweede hulplyn, die 50/50-opsie, te aktiveer. Is dit Addis Abeba of Lagos?
Hy het Addis Abeba gekies en op R30 000-kerf beland. Maar voordat hy nog verder kan speel, het die sirene die einde van die episode aangekondig. Jaco sal weer in die vuurwarm stoel sit wanneer die negende episode van Wie word ’n miljoenêr afskop.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.