Tot nou toe was dit nog net die Skot, Garry Paterson, wat in die sesde episode van Wie word ’n miljoenêr met die meeste geld weggestap het toe hy R250 000 in sy sak kon steek.
Programaanbieder Rian van Heerden het vir Aristotle Onassis, die Grieks-Argentynse besigheidsmagnaat aangehaal wat glo gesê het “at a certain point money is meaningless. It ceases to be the goal. The game is what counts.
“Hier op Wie word ’n miljoenêr kom baie van ons deelnemers vir die geld, maar bly vir die verleiding van die spel.” Daarmee het Rian die spyker op die kop geslaan.
Die ses deelnemers in hierdie episode:
- Liza Smith (Midrand)
- Gerrit Kornelius (Pretoria)
- Adrian Michaels (Riversdal)
- Tharina van der Westhuizen (Roodepoort)
- Hancke van Blerk (Piet Retief)
- Herman Steyn (Clarens)
Die eerste vinnigste vingers
Wie was die eerste deelnemer wat historiese gebeure in die korrekte orde ingesleutel het? Dit was eerste die Anglo-Boereoorlog, gevolg deur die Eerste Wêreldoorlog, die sluipmoord op John F Kennedy en meer onlangs Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing.
Vier deelnemers was in die kol, maar Liza Smith (33) was met 6.667 sekondes die vinnigste uit die blokke.

Rian het vir Liza, ’n mediabeampte, gesê baie deelnemers is senuweeagtig as hulle in daai vuurwarm stoel sit, maar dat sy lyk of sy daar is vir haar bestuurslisensie. Sy het erken dis omdat sy ’n paar keer moes probeer om haar lisensie te bekom, maar dat sy van plan is om net haarself te geniet. Haar man, Petrus, was in die gehoor om haar te ondersteun.
In haar opmars na die eerste vangnet het Liza ’n keer of wat geraai, maar sy het vasgebrand toe sy gevra word wat ’n ander Afrikaanse naam vir ’n mango is. Sy het nie mooi geweet of dit dalk ’n koejawel is nie, en het besluit om ’n hulplyn in te span. Gaan die gehoor haar reghelp? 100% van die gehoor het veselperske as die antwoord gekies. Dit was die korrekte antwoord.
Nadat sy die eerste vangnet gehaal het, het sy vraag 9 vir R30 000 as tweede vangnet gestel. Lize het haar tweede hulplyn, die 50/50-opsie, ingespan toe sy onseker was oor wat die naam is van die eerste mensgemaakte satelliet wat die ruimte ingestuur is. Sy moes kies tussen Spoetnik 1 en Starlink. Haar instink oor Spoetnik was in die kol en danksy die hulplyn is dit bevestig.
Toe sy moes kies watter aktrise 23 jaar lank deel was van die sepie 7de Laan, het sy besluit om haar laaste hulplyn, die “Bel ’n pêl”-opsie, te aktiveer. Sy het gevra dat Chandré, haar baie slim kollega wat oor goeie algemene kennis beskik, gebel moet word.
Chandré het gedink dis Ingrid Paulus, maar Liza was nie oortuig nie. Sy het geraai dat dit Vinette Ebrahim moes wees. Maar Chandré was reg – en daarmee het Liza se sessie in die vuurwarm stoel tot ’n einde gekom. Sy het darem R10 000 gewen toe sy haar eerste vangnet gehaal het.
Die tweede vinnigste vingers
Deelnemers moes atlete in chronologiese orde rangskik vanaf hul eerste oorwinnings in die Comrades-marathon. Die korrekte orde was Wally Hayward, Bruce Fordyce, Frith van der Merwe en dan Gerda Steyn en alhoewel drie deelnemers die regte orde ingesleutel het, was dit Hancke van Blerk wat binne 6.699 sekondes ver voor die ander twee oor die wenstreep geseil het.
Hancke (63) was die eerste predikant wat tot nou toe aan Wie word ’n miljoenêr deelgeneem het. Sy vrou, René, was daar om hom te ondersteun.
Hancke het soos ’n warm mes deur botter tot by die eerste vangnet geglip. Toe hy sy volgende vangnet moet kies, het hy vir Rian vertel hy het reeds vooraf sy besluit gemaak indien hy so ver sou kom. Dis hoe hy te werk gaan as hy vendusies bywoon – vooraf besluit hy hoeveel hy gaan spandeer en dan hou hy daarby.
Maar dié dominee het heel roekeloos geraak – en sy tweede vangnet op vraag 14 gestel en gesê hy besef dis waaghalsig, maar hy geen nie om nie, selfs al kom hy dalk nie eers halfpad nie.
Die vraag oor watter wêreldberoemde weeklikse tydskrif uit New York is reeds vanaf 21 Februarie 1925 op die rakke is, het hom egter genoop om sy eerste hulplyn in te span. Hy het die 50/50-opsie gekies. Hy kon steeds nie tussen The New Yorker en The Staten Islander besluit nie en het vir Rian gevra om vir oud-lidmaat Chris Stander, ’n afgetrede blinde prokureur, te bel. Chris het gevoel dat The Staten Islander die regte antwoord is, en haastig-haastig wou Hancke dit aanvaar, maar Rian het hom daarop gewys dat hy nog ’n hulplyn oor het.
Hy het die gehoor se hulp ingeroep en 65% van hulle kies The New Yorker. Maar dit het hom nog glad nie oortuig nie en hy het volstaan by Chris se antwoord. Ongelukkig vir hom was die gehoor in die kol! Hy is toe met R10 000 in die sak huis toe.
Die derde vinnigste vingers
Die oorblywende deelnemers moes adjunkpresidente van Suid-Afrika in chronologiese order rangskik volgens die jaar waar hulle in die amp begin het. Dit was eerste Phumzile Mlambo-Ngcuka, gevolg deur Kgalema Motlanthe, David Mabusa en nou Paul Mashatile.
Dit was net Gerrit Kornelius (74), ’n ingenieur van Pretoria, wat die korrekte orde in 10.703 sekondes ingesleutel het. En hy is geen groentjie wat vasvra-programme aanbetref nie. Gerrit het toeka se dae ook aan Flinkdink met Edwill van Aarde as aanbieder deelgeneem. Sy vrou, Petra, het hom vanuit die gehoor ondersteun.

Kort voor lank het Gerrit die eerste vangnet gehaal en hy het sy tweede vangnet by vraag 10 vir R50 000 gestel.
Gerrit het ’n raaiskoot gewaag oor watter onafhanklike land in Afrika Spaans ’n amptelike taal is. Hy was oortuig dat dit Marokko is, maar ongelukkig was Ekwatoriaal-Guinee die korrekte antwoord. Daarmee het sy feitlik-foutlose tyd in die vuurwarm stoel tot ’n einde gekom. Hy is darem met R10 000 in die sak huis toe.
Die vierde vinnigste vingers
Watter deelnemer gaan die vinnigste wees met die rangskikking van organe van bo na onder? Al drie deelnemers was in die kol, maar dit was Tharina van der Westhuizen wat die korrekte orde van brein, oog, hart en dan blaas die vinnigste binne 4.560 sekondes ingesleutel het. Die 37-jarige grafiese ontwerper se ma, Marietjie, was in die gehoor om haar te ondersteun.

Tharina het korte mette gemaak van die vrae tot by haar eerste vangnet. Sy het haar tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel. Sy is ook nie ’n groentjie wat speletjiesprogramme aanbetref nie. Tharina het in 2023 aan Noot vir Noot deelgeneem en tweede in die reeks geëindig.
Sy was wel bewus van die Karpowership-debakel, maar was onseker van watter land die skepe afkomstig was. Sy het die gehoor as haar eerste hulplyn ingespan. 52% van die gehoor het Turkye gekies en Tharina het hul antwoord aanvaar. Daarmee het sy opgeskuif na R20 000.
Maar die sirene wat die einde van die opname-tyd aangekondig het, het ’n einde aan haar huidige sessie in die vuurwarm stoel gebring. Dit beteken sy sal weer terugkeer vir die volgende episode.
Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.







