Menu terloops
In Recaps & Resensies [24 Sep 2025]

‘Wie word ’n miljoenêr’: 13 episodes en R1,2 miljoen later… 


Ongelooflik hoe vinnig die tyd verbygegaan het. Hierdie is die laaste episode in die huidige reeks van ‘Wie word ’n miljoenêr’ – en daar was nog steeds geen deelnemer wat binne raakafstand van die R1 m-prysgeld gekom het nie. Is die bordjies toe in vandeesweek se episode verhang?

Deur Annelene Oberholzer

Kyk op DStv Stream

‘Wie word ’n miljoenêr’: 13 episodes en R1,2 miljoen later… 

In die vorige episode van Wie word ’n miljoenêr was daar vier deelnemers wat danksy hul vinnige vingers in die vuurwarm stoel beland het. Drie het huiswaarts gekeer met R10 000 elk, en die vierde deelnemer moes weer terugkeer nadat tyd ’n einde aan haar sessie in die vuurwarm stoel gemaak het. 

Die 37-jarige grafiese ontwerper van Roodepoort, Tharina van der Westhuizen, het die vorige week reeds na die R20 000-kerf opgeskuif en sy het haar tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel. 

In reaksie op die vraag rondom Serena Williams se omstrede uitrusting by die Franse Ope (2018) wat tot die verbod op dié uitrustings by Roland Garros gelei het, het Tharina besluit om haar tweede hulplyn in te span. Sy het die 50/50-hulplyn geaktiveer en sy moes tussen vollengte lyfpak en pelsjas kies. Die korrekte antwoord was die vollengte lyfpak en Tharina het opgeskuif na haar tweede vangnet-vraag.

Daar was ’n taai vraag oor watter Afrika-land as die oudste onafhanklike land op die vasteland beskou word, selfs al het Italië dit van 1936 tot 1941 beset. Tharina het haar laaste hulplyn ingespan en gevra dat haar oom, Amos, gebel moet word. Hy het geraai dat dit Sierra Leone is, maar Tharina is onseker. Sy het gekies om die R30 000-opsie te aanvaar en uit die stryd te tree. En die regte antwoord was Ethiopië . . .

Die ses deelnemers in dié episode:

  1. Wimpie van Schoor (Edenvale)
  2. Almari Wessels (Kaapstad)
  3. Johan Havenga (Pretoria)
  4. Rueben Williams (Eersterivier)
  5. Inge van Wyk (Stellenbosch)
  6. Benjamin Malan (Kemptonpark)

Die eerste vinnigste vingers

Nuusgebeure moes in chronologiese volgorde rangskik word. Dit was eers die vrylating van Nelson Mandela, dan die Rugby-wêreldbekertoernooi in Suid-Afrika, gevolg deur die sokker-wêreldbeker hier en daarna die eerste Covid-inperking.

Net vier deelnemers was in die kol, maar dit was Almari Wessels wat die vinnigste die korrekte orde binne 9.199 sekondes ingesleutel het. Die 43-jarige ondersoekende joernalis van Netwerk24 se suster, Helen, het haar ondersteun.

Wie word 'n miljoener
Almari Wessels (43). Foto’s: Skermgrepe

Almari het korte mette gemaak van die eerste vrae en het haar vangnet van R10 000 bereik. Sy het haar tweede vangnet op vraag 10 vir R50 000 gestel.

Almari het gestruikel toe sy moes antwoord oor waar in die Karoo het die gewilde TV-reeks Die Boekklub afgespeel het. Sy het besluit om nie te raai nie, maar eerder vir die gehoor te vra vir hulp. 91% van die gehoor het gesê dis Merweville – en daarmee het sy opgeskuif na R20 000.

Sy het haar tweede vangnet van R50 000 gehaal met nog twee hulplyne beskikbaar. Maar met die volgende vraag oor wat die kodename Renegade, Eagle, Celtic , Mogul en Trailblazer beteken, het sy besluit om die 50/50-hulplyn in te span. Amerikaanse presidente en Amerikaanse sleutelpunte het oorgebly.

Sy het besluit om haar laaste hulplyn in te span, naamlik die “Bel ’n pêl”-hulplyn en vir David Marais gebel. Hy het dit duidelik gemaak dat hy dink dis sleutelpunte, maar dat dit ’n raaiskoot was. Dit was ongelukkig die verkeerde raaiskoot – daardie kodename verwys na die presidente. Sy het met R50 000 in die sak uit die vuurwarm stoel opgestaan.

Die tweede vinnigste vingers

Springbok-losskakels moes in chronologiese volgorde volgens die jaar waarin hulle die eerste keer in ’n Wêreldbeker-toernooi gespeel het, rangskik word. Dit was eers Joel Stransky, dan Derick Hougaard, gevolg deur Handré Pollard en Manie Libbok.

Al vyf deelnemers was reg, maar dit was Inge van Wyk wat die bal binne 4.813 sekondes sekuur tussen die pale deurgestuur het. Die 33-jarige student se kêrel, Karel Vrijenhoek, het haar kom ondersteun. Sy het die eerste vangnet vinnig gehaal. Haar volgende vangnet het sy op vraag 10 vir R50 000 gestel. 

Wie word 'n miljoener
Inge van Wyk (33).

Inge het haar 50/50-opsie geaktiveer vir leiding rondom die naam van die uitgestrekte grasvlaktes in Rusland. Savanna en Steppe het oorgebly en sy het die Steppe gekies. Dit het haar op die R25 000-kerf beland. 

Sy het gestruikel oor die naam van die regisseur wat drie van die vyf grootste lokettreffers se regie behartig het en sy het besluit om Rian as haar hulplyn in te span. “Ek gaan met James Cameron . . . ek sal sê Titanic, Avatar 1 en 2,” het hy besluit. 

Ná ’n lang tweestryd met haarself, het Inge besluit om Rian se antwoord as haar finale antwoord te aanvaar. Tot haar, en in alle waarskynlik Rian, se grootste verligting was dit die regte keuse.

Vir haar vangnet-vraag het sy besluit om die gehoor se hulp in te roep oor watter wolkekrabber wat in 1931 gebou is, die eerste gebou was wat meer as honderd verdiepings hoog was. 62% van die gehoor het die Empire State Building gekies en sy het besluit om die gehoor te vertrou. En daarmee het sy haar vangnet gehaal en kon sy R50 000 in haar sak steek.

Met geen hulplyne oor nie, en ook niks om te verloor nie, het Inge besluit om Uganda te kies as die onafhanklike land wat in 1995 die eerste lidland van die Statebond geword het wat geen koloniale verbintenis met Brittanje gehad het nie. Maar dit was die verkeerde keuse. Mosambiek was die antwoord.

Daarmee is dit nie net die einde van Inge se reis na die R1 miljoen nie, maar ook die einde van die huidige reeks! 

Dié seisoen…

  • Meer as R1,2 miljoen is weggegee tydens die 13 episodes waaruit vyfde seisoen bestaan het. 
  • Die spesiale episode (episode 4) met bekendes het R65 000 vir liefdadigheid ingesamel. 
  • Die Skot van Pretoria, Garry Paterson, was die hierdie seisoen se grootste wenner met R250 000 in die sak. 
  • Die naasgrootste wenner was HW de Jager (35), ’n welvaartbestuurder van Stellenbosch, wat in die agtste episode R125 000 syne gemaak het.

Wie word ’n miljoenêr S5 saai weekliks op Woensdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) en DStv Stream uit. Episodes is ook ná uitsending op DStv Catch Up beskikbaar. Wie word ’n miljoenêr S2-S4 van die reeks is op Showmax beskikbaar.

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

Jou ‘Skemergrond’-kykgids vir Augustus 2026

Christine kry ’n nare verassing en Ruan en Amber stel ’n gevaarlike lokval... Dít en nog meer wag op ‘Skemergrond’-kykers vandeesmaand.

Meer

Jou ‘Binnelanders’-kykgids vir Augustus 2026

Die waarheid oor ’n dokter lei tot ’n dramatiese wending en Joe is desperaat om vrae oor sy identiteit te beantwoord. Dít en nog meer is wat op ‘Binnelanders’-kykers vandeesmaand wag.

Meer

Jou ‘Diepe Waters’-kykgids vir Augustus 2026

Jacques en Theresa se groot dag breek aan, terwyl Karla en Arno nie tot ’n vergelyk kan kom nie. Hier is waarna 'Diepe Waters'-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer

Jou ‘Suidooster’-kykgids vir Augustus 2026

Mike maak (weer) droog, Kaashifa vind iets skokkend uit en die Samsodiens sien rooi... Dít en nog meer is waarna ‘Suidooster’-kykers in Augustus kan uitsien.

Meer
Sien alle opsies