Hier is my voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Bridgerton S4
Vanaf Donderdag 29 Januarie 2026 op Netflix.
Dié trefferdrama is gegrond op die Bridgerton-boeke van Julia Quinn en speel af in die Regency-tydperk (1811-1820). Die storie volg oorhoofs die lewe van weduwee Lady Violet Bridgerton (Ruth Gemmell) en haar agt kinders soos die een skandaal en swak besluit ná die ander dié gesin tref.
In die derde seisoen het die hoofstorielyn om Penelope Featherington (Nicola Coughlan), óftewel Lady Whistledown, en Colin Bridgerton (Luke Newton) gedraai, met dié twee wat wel hul gelukkige einde saam gevind het. Dit was maar hittete in ’n stadium…
In die vierde seisoen is die fokus op die tweede oudste seun, Benedict (Luke Thompson), wat geen begeerte het om te trou en ’n gesin te begin nie. Maar dan, by sy ma se maskerbal, ontmoet hy ’n dame in silwer getooi wat sy hart vinniger laat klop. Hy oortuig sy suster Eloise (Claudia Jessie) om hom te help om dié geheimsinnige vrou se identiteit te ontdek – sy moet mos tog deel van hul high society-sirkels wees…? Toe nie. In ware Aspoestertjie-styl is Sophie (Yerin Ha), die vrou wat Benedict so bekoor het, eintlik in diens van Lady Araminta Gun (Katie Leung).
As hul paaie dan weer kruis, besef Benedict nie sy silwer nooi en Sophie is een en dieselfde vrou nie. En ten spyte van sy toegeneentheid teenoor Sophie, staar hy hom steeds blind… Sal liefde die fel verwagtinge van die elite – en Benedict se eie vooroordele – kan oorwin?
Een keer om die son S2
Die tweede seisoen van Een keer om die son begin op Dinsdag 20 Januarie op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitsaai. Episodes sal ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar wees. Kyk ook die eerste seisoen op Showmax.
Een van die grootste plaaslike TV-treffers in 2024 was die dramareeks Een keer om die son – en die goeie nuus is dat die tweede seisoen vandeesmaand begin.
Die reeks is deur Ivan Botha, Donnalee Roberts, Liani Jansen van Rensburg, Marista van Eeden en Almero Welgemoed geskryf. Ivan, Donnalee en Danie Bester is die vervaardigers, en Ivan is die regisseur.
Die tweede seisoen se storie skop weer op Nuwejaar af, maar hierdie keer is die Van Wyks nie almal saam om dit te vier nie. Die lewe het sy pad geloop, en elkeen het hul eie uitdagings – nie net op die eerste dag van die jaar nie, maar ook in die twaalf maande wat volg…
Jacques Bessenger is weer te sien as dr. Ruan van Wyk, ’n neuroloog wat sy werk soms voor ander prioriteite plaas. Jana Kruger is Lani van Wyk, wat in die eerste seisoen oorlede is, is in terugflitse weer deel van die storie. Ruan en Lani se kinders, Markus (Liam Bosman), Leandri (Alma van Heerden) en Sophia (Klara van Zyl), kom elk teen hul eie uitdagings in die nuwe seisoen te staan. Amé (Donnalee Roberts), Ruan se jonger suster, se huwelik het in die eerste seisoen op die rotse beland en nou vind sy haar voete as onafhanklike en ambisieuse vrou. Albert Maritz is te sien as Sebastian, die afgetrede professor in insektekunde, en Joanie Combrink is Elma, die matriarg van die Van Wyks wat in die eerste seisoen met Alzheimer se siekte gediagnoseer is.
Die Kantoor
Die eerste episode van Die Kantoor word Sondag 18 Januarie 2026 om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144) uitgesaai met die eerste twee episodes wat Dinsdag 20 Januarie op Showmax beskikbaar sal wees. Daar sal weekliks elke Sondag een episode op kykNET uitgesaai word, terwyl twee episodes op Dinsdae op Showmax vrygestel sal word.
’n Afrikaanse weergawe van The Office begin vandeesmaand op kykNET en Showmax, met akteurs soos Albert Pretorius, Schalk Bezuidenhout, Lida Botha en Ilse Oppelt wat deel van die rolverdeling uitmaak. Hotel se Bennie Fourie is die regisseur en hoofskrywer.
Dis nou al meer as twee dekades sedert die eerste episode van Ricky Gervais en Stephen Merchant se oorspronklike Britse weergawe van The Office in Julie 2001 uitgesaai is. Hoewel dié weergawe steeds as een van die beste sitkoms nog beskou word, het dit net twee seisoene gehad. Daarenteen het die Amerikaanse weergawe veel langer op die kassie geboer. Oor nege seisoene heen het dié weergaweetlike benoemings en toekennings ontvang.
Die Kantoor is egter nie bloot ’n Afrikaanse vertaling van The Office nie. Die reeks is herverbeel vir ’n plaaslike konteks met die kantoor-omgewing wat verander is na ’n maatskappy wat in polonie spesialiseer, Deluxe Processed Meats, eerder as die papierverskaffer, Dunder Miffler Paper Company, van die oorspronklike storie.
Ons hou asem op!
Shrinking S3

Vanaf Woensdag 28 Januarie 2026 op Apple TV+.
Shrinking volg ’n sielkundige wat ná die verlies van sy vrou al sy filters heeltemal kwyt is. Hy praat dus eina-reguit met sy pasiënte en sê presies (soos in… presies) wat hy dink. Soos hy sy opleiding en professionele reëls ’n vet middelvinger wys, lei sy gedrag ook tot groot verandering in mense se lewens; ook sy eie.
Shrinking is deur die gerekende TV-skepper Bill Lawrence (ook die skepper van onder meer Scrubs, Spin City, en Ted Lasso). Met Jason Segel (How I Met Your Mother, Forgetting Sarah Marshall) en veteraan-akteur Harrison Ford (Indiana Jones– en Star Wars-faam) in die hoofrolle, bied dié komedie ’n heerlike humoristiese, anderste blik op menswees én hoe ons met mekaar – en die waarheid – omgaan.
Nuwe gesigte in die derde seisoen is Jeff Daniels as Jimmy (Segel) se pa, asook Michael J. Fox, wat laas op Spin City saam met Lawrence gewerk het.
Die derde seisoen se storielyne is tematies op vooruitgang fokus – die eerste seisoen was op rou geskoei, met die tweede seisoen wat om vergifnis gedraai het.
The Night Manager S2
Vanaf 11 Januarie 2025 op Prime Video.
’n Dekade – dis hoe lank ons moes wag vir die tweede seisoen van The Night Manager, die Britse spioenreeks wat op die gelyknamige boek deur John le Carré gegrond is. Die eerste seisoen was destyds ’n ongelooflike sukses. Resensente én kykers was vasgenael – met 36 benoemings en 11 toekennings, waaronder twee Emmys en drie Golden Globes, wat opgeraap is.
Om jou geheue te verfris: The Night Manager se eerste seisoen het gedraai om ene Jonathan Pine – meesterlik en meesleurend vertolk deur die enigmatiese Tom Hiddleston – ’n voormalige Britse soldaat wat deur ’n Britse intelligensiebeampte, Angela Burr (Olivia Colman), gewerf word om die binnekring van die onwettige wapenhandel-magnaat, Richard Roper, te infiltreer.
Met die aanvang van die tweede seisoen het nege jaar verloop. Roper is dood en Pine is nou Alex Goodwin, ’MI6-agent wat ’n toesigeenheid in Londen bestuur. Dinge is rustig, vervelig eintlik. Nes hy dit wil hê. Maar dan kruis Pine se pad met ’n nuwe speler in die wêreld van onwettige wapenhandel, Teddy Dos Santos (Diego Calva). Dis nie lank nie of sy vreedsame lewe begin ontrafel…
En nog:
- Spooksoeker, weekliks vanaf Saterdag 3 Januarie om 19:30 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar. Lees meer hier oor die reeks.
- Op my eish!, weekliks vanaf Donderdag 15 Januarie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144). Episodes ook ná uitsending op Catch Up beskikbaar.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →