Menu terloops
In Wat om te kyk [3 Mar 2023]

Wat om te kyk op DStv in Maart 2023


Wat om te kyk op DStv vandeesmaand: ‘NCIS’ se 20ste seisoen, die nuwe HBO-reeks ‘Tokyo Vice’ met Ansel Elgort, al vyf seisoene van ‘Yellowstone’, en nog.

Wat om te kyk op DStv in Maart 2023

Wat om te kyk op DStv in Maart 2023 – hier is ons top-keuses.

Let wel: datums, tye en vertonings kan verander. Hierdie skedule is slegs vir SA DStv-intekenare. Vir die volledige skedule en besonderhede oor reekstye en die betrokke kanale, kliek hier.

NCIS S20

Die 20ste seisoen van dié über-suksesvolle prosedure-reeks is reeds vanaf verlede jaar in Amerika uitgesaai, maar hiér land dit – heel tydig – ook 20 jaar ná die reeks se debuut op 23 September, 2003.

NCIS het ontstaan as ’n spin-off van nog ’n reeks wat oor die binnewerkinge van die Amerikaanse vloot handel, JAG. Intussen het NCIS, wat draai om ’n span ondersoekbeamptes van die Naval Criminal Investigative Service van krag tot krag gegaan en ’n paar spin-offs van sy eie opgelewer. Daaronder tel die ewe gewilde NCIS: Los Angeles, NCIS: New Orleans, NCIS: Hawaii – en glo binnekort ook NCIS: Sydney.

Die storie, wat meestal in Washington D.C. afspeel, het oor die jare ’n paar groot storielyne gehad en gewilde karakters het gekom en gegaan. Ook nou Mark Harmon – die 20ste seisoen is die eerste seisoen waarin hy nie as die enigmatiese Leroy Jethro Gibbs verskyn nie. Dis die einde van sy era as die hoof-indoena van die NCIS-ondersoekspan. In die nuwe seisoen is dit ene Alden Parker wat die leisels van die span oorneem. 

Weeklikse episodes vanaf Woensdag, 1 Maart op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Online).

Tokyo Vice S1

Tokyo Vice is gegrond op die gelyknamige boek deur Jake Adelstein. Ansel Elgort en Ken Watanabe vertolk die hoofrolle in dié misdaaddrama waarin ’n Westerse joernalis (Elgort) een van Tokio se grootste misdaadbase aanvat. 

Soos die boek, vertel die reeks die ware verhaal van Adelstein, ’n Amerikaanse joernalis wat na Tokio verhuis en by die bekende koerant, Yomiuri Shimbun, daar begin werk het nadat hy hul berugte en vreeslik streng taaleksamen geslaag het. Só het hy dié koerant (in die reeks Meicho Shimbun genoem) se eerste buitelandse joernalis geword – boonop ook hul misdaadverslaggewer. Tot sy groot voordeel, besluit ’n veteraanspeurder (Watanabe) om hom onder sy vlerk te neem soos hy die donker en gevaarlike wêreld van Japanse georganiseerde misdaad, veral die doen en late van die Yakuza, ondersoek. 

Die reeks, wat reeds vir ’n tweede seisoen hernu is, het ’n punt van 85% op die resensiewebwerf Rotten Tomatoes. 

Weeklikse episodes vanaf Woensdag, 15 Maart, om 23:00 op M-Net (DStv-kanaal 101 en DStv Online).

Yellowstone S1-5

Al vyf seisoene van Yellowstone is hierdie maand op DStv beskikbaar. Dié reeks word Donderdae tot Saterdae, vanaf 2 Maart, omstreeks 21:00 tot middernag op M-Net uitgesaai. 

Die reeks sien vir die veteraanakteur Kevin Costner in die hoofrol as John Dutton. Dutton is ’n meedoënlose patriarg wat geen perke ken as dit kom by sy plaas en sy nalatenskap beskerm nie – hetsy teen sy vyande, die inheemse gemeenskappe wat glo dat hulle op die grond geregtig is, of ambisieuse eiendomsontwikkelaars.

Ook in die rolverdeling tel Luke Grimes, Kelly Reilly, Wes Bentley en Cole Hauser.  

Ook op DStv Catchup beskikbaar. 

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies