Wat om te kyk op TV en aanlyn te stroom hierdie week – hier is ons top-keuses.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
After the Trial S1
Vanaf Maandag, 29 Mei 2023, op Showmax beskikbaar.
Die premis van After the Trial (ook in sekere lande as After the Verdict bekend) is een wat wys op die feilbaarheid van die mens en ons besluite.
Dié Australiese drama draai om vier jurielede wat, nadat die hofsaak waarin hulle ’n vrou van moord vrygespreek het tot ’n einde kom, wonder of hulle die regte besluit gemaak het. Die viertal besluit dan om hul eie ondersoek van stapel te stuur, maar dolwe só hul lewens geheel en al om.
Horisonne
Vanaf Vrydag, 2 Junie 2023, op Showmax.
Elma Postma en Chris Chameleon vertolk die hoofrolle in dié sielkundige riller met regie deur die bekroonde storieskepper André Velts.
Die storie wentel om Melissa (Postma), ’n sielkundige wat by ’n psigiatriese hospitaal werk en wie se traumatiese geraamtes heeltemal uit die kas uit donner as sy hoor haar eks staan aan die hoof van ’n sogenaamde mindfullness-oord. Sy kry dadelik snuf in die neus. Haar eks, Melchior van Staden (Chameleon), het haar immers geestelik gemartel en nou lyk dit asof hy jong mans en vroue brainwash om sy wense uit te voer. Dan leer sy boonop dat haar 18-jarige dogter – wat sy as jong tiener gehad en laat aanneem het – is in Melchior se kultus-web vasgevang. Sy sal enigiets doen om haar dogter te red.
Midde dié storielyn word die verhaal van een van Melissa se pasiënte, ’n beweerde reeksmoordenaar en psigopaat wat dalk effe te veel in haar belangstel, verweef. Dis ’n heerlike vertolking deur Wessel Pretorius, ook dié fliek se draaiboekskrywer.
Manifest S4 Deel 2
Vanaf Vrydag, 2 Junie 2023 op Netflix.
Manifest, wat ná drie seisoene deur NBC gekanseleer is, is deur Netflix vir ’n vierde en laaste seisoen in die lewe geroep, met die laaste tien episodes wat op 2 Junie beskikbaar gestel word. Dís ’n ominous datum – 2 Junie 2024 is immers die sogenaamde Death Date wat soos ’n donker wolk oor die passasiers van Vlug 828 se koppe boer.
Kyk, ek dink ieder en elk van daai passasiers wens hulle het nooit destyds op daai vlug van Jamaika geklim nie. Eers het hulle vir vyf en ’n half jaar spoorloos (uit die lug uit) verdwyn – hiervan kan hulle niks onthou nie en hulle is salig onbewus van die tydsverloop as hulle by die lughawe land. Maar tyd het wel aangestap vir hul geliefdes wat gerou, aanbeweeg en nuwe verhoudings begin het.
Hierna het een na die ander onverklaarbare en weird goed gebeur wat die passasiers – wat nie ’n dag ouer geword het nie – na spesifieke situasies gedryf. Hulle noem dié dryfkragte later Callings – so asof hulle geroep word om een of ander bonatuurlike mag se opdragte uit te voer. En toe vind hulle uit hul lot is gekoppel aan die Death Date, die dag wat die passasiers gaan sterf, presies vyf en ’n half jaar nadat hulle uit die niet uit terugkeer (en dieselfde hoeveelheid tyd wat hul vermis was). Maar dit blyk dié datum geld nie net vir die passasiers nie – die hele mensdom se voortbestaan is op die spel as hulle nie al hul Callings kan vervul nie.
Deadloch S1
Vanaf Vrydag, 2 Junie 2023, op Amazon Prime Video.
Dié misdaadkomedie, bestaande uit agt episodes, is deur Kate McCartney en Kate McLennan geskep. Die twee Kate’s se storie speel af in ’n klein kusdorpie in Australië, Deadloch. Dis ’n rustige dorpie waar nie veel gebeur nie – altans totdat ’n plaaslike inwoner dood op die strand gevind word. Twee speurders begin dan die saak ondersoek. Daar’s die plaaslike sersant, Dulcie Collins, en dan ’n senior ondersoekbeampte, Eddie Redcliffe, wat van Darwin ingebring word. ’n Oorywerige junior konstabel, Abby, is ook heeltemal te opgewonde om met die ondersoek te help.
The Ride S1
Vanaf Dinsdag, 30 Mei 2023, op Amazon Prime Video.
The Ride is ’n dokkiereeks, bestaande uit agt episodes, wat ’n blik bied op die wêreld van PBR – Professional Bull Riders. Dis ’n unieke reeks, werklik ’n eerste van sy soort, wat ’n agter-die-skerms-kykie na een van die wêreld se vinnigste groeiende sporte gee. Die reeks volg ’n diverse groep, insluitend die bull riders en hul afrigters, soos hulle die eerste seisoen van ’n nuwe liga-kompetisie deurtrap.
The Days S1
Vanaf Donderdag, 1 Junie 2023, op Netflix.
The Days herinner aan HBO se ongelooflike vertelling van die 1986-kernramp in die 2019-minireeks, Chernobyl.
In The Days is daar egter ’n ander, meer onlangse, kernramp ter sprake: Fukushima.
The Days lê die gebeure van dié 2011-ramp – ’n reuse-krisis nadat ’n aardbewing en gevolglike tsoenami die kernaanleg erg beskadig het – oor die loop van sewe dae bloot. Die storie word ook vanuit drie verskillende perspektiewe vertel – dié van regeringsamptenare, dié van werknemers van die Fukushima-kernaanleg, en ook die van die werknemers van die Tokyo Electric Power Company.
Ook nuut op TV vandeesweek:
- Where the Crawdads Sing
Vanaf Maandag, 29 Mei 2023, op Showmax.
- Blue Bloods S13
Weeklikse episodes vanaf Woensdag, 31 Mei 2023, om 20:00 op M-Net (DStv-kanaal 101) en DStv Online.
- A Beautiful Life
Vanaf Donderdag, 1 Junie 2023, op Netflix.
- Shiny Happy People: Duggar Family Secrets
Vanaf Vrydag, 2 Junie 2023, op Amazon Prime Video.
- With Love S2
Vanaf Vrydag, 2 Junie 2023, op Amazon Prime Video.
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →