Daar is ʼn groot aanbod reekse vir tieners en tweens op die stromingskanale. Hier is ʼn paar van die gewildstes.
Showmax
Henry Danger
Henry Hart woon in ʼn plekkie met die naam Swellview en dit sê reeds baie oor dié “swell” reeks oor ʼn dertienjarige seun wat ʼn superheld, Captain Man, se sidekick word. Die kreatiewe naam vir Captain Man se geheime-wegkruipplek is Man Cave… (Bly maar weg as jy ouer is as 14…)
Henry moet sy nuwe identiteit as Kid Danger wegsteek van sy vriende, die sassy, sarkastiese Charlotte en sy oudste maat, Jasper, wat Captain Man se grootste fan is. Dan is daar ook Henry se kleinsus, Piper, wat hom grensloos irriteer.
Dis ʼn Nickelodeon-reeks, wat beteken die bestanddele vir verslawende bestanddele vir ouer kinders en tweens is alles in die mengsel gegooi – vriendskap, so klein bietjie romanse, simpel grappies en OTT-toneelspel.
Hou maar ʼn oog as jou kinders nog jonger is, soms is Henry-hulle se avonture bietjie te volwasse en gewelddadig na dié ma se smaak. (My sewejarige meen egter hy is “amazing”.)
Al vyf seisoene is op Showmax.
Ouderdomsperk: OLG
Princess Mirror-Belle
Dié BBC-reeks is geïnspireer deur Julia Donaldson se kinderboeke Princess Mirror-Belle, oor ʼn dogtertjie, Ellen, wat moet tuisbly met waterpokkies en besef haar spieëlbeeld is ʼn parmantige prinses met draakpokkies wat kan terugpraat en hou van kattekwaad.
Jonger dogtertjies sal mal wees oor Ellen se mooi pienk kamer, haar hasie-kopband en die geanimeerde uitbeeldings van Mirror-Belle se stories tussendeur ʼn episode. Boonop woon Ellen se gesin in ʼn popmooi huis op wat soos die Engelse-platteland lyk en die grootste drama in haar pa se lewe is sy oudisie om ʼn seerower in ʼn plaaslike toneelstuk te speel. Onskuldige, oulike vermaak.
Ouderdomsperk: OL
Dino Dan
Dis nie paleontoloë wat die grootste kenners oor dinosourusse is nie. Klein seuntjies wêreldwyd neem die voortou as dit kom by dino-kundigheid.
In dié Kanadese-reeks is die tienjarige Dan dino-mal. Boonop sien hy dinosourusse oral in die moderne wêreld raak. Intussen leer hy hoe om leidrade wetenskaplik op te volg en vind hy meer uit oor verskillende dinosourus-spesies.
Die geanimeerde dino’s is geloofwaardig genoeg en daar is heelwat opvoedkundige inligting met lessies oor spanwerk en vriendskap. Geen ouderdomsperk.
Knight Squad
Ridders, swaardgevegte en koninkryke “ver, ver hiervandaan” is die spil waarom dié reeks oor ʼn skool vir ridders draai.
Common Sense Media meen die vriendskap tussen die twee hoofkarakters, Arc, ʼn gladdebek wat homself probeer inkonkel by die ridderskool en Ciara, ʼn vermomde prinses, is louwarm en dat die stelle met ʼn ooglopende dun begroting aanmekaargeflans is. Maar, skryf Common Sense Media se resensent ook, “die pluspunt is dat Arc en Ciara se storielyne stereotipes uitdaag en kinders herinner hulle drome hoef nie grense te ken nie”.
Daar is ook ʼn paar gevalle van grappe wat dalk net bietjie te vuil is vir die teikengehoor.
Nou moet Nickelodeon nog net ʼn reeks maak oor die fabriek waar hulle al hierdie blonde knape met die vierkantige kakebene fabriseer…
Ouderdomsperk: OL
Tyler Perry’s Young Dylan
Dylan se lewe verander in ʼn oogwink as sy ma een dag net nie huis toe kom nie. Hy moet wegtrek van Chicago na sy familie in ʼn voorstedelike woonbuurt. Dis nogal ʼn rowwe beginpunt vir ʼn reeks vir jong tieners, maar dit skop darem nie heeltemal so intens af nie.
Young Dylan is ʼn tipiese gesinskomedie wat wentel om hoe ʼn gesin en hul nefie, ʼn voornemende hip hop-kunstenaar, met mekaar koppe stamp en ʼn nuwe normaal probeer vind.
Die akteur Dylan Gilmer was op ses al ʼn YouTube-sensasie.
Dit word deur een resensent as ʼn nuwe weergawe van Fresh Prince of Belair beskryf .
Ouderdomsperk: 10-12OL
Sam & Cat
Voor Ariana Grande ʼn popsensasie was, was sy Cat Valentine in die Nickelodeon-reeks Victorious (ook op Showmax). Later het sy dié spin off, Sam & Cat, gekry, waarin twee tienermeisies ʼn kinderoppasdiens begin lewer in die gebou waar hulle woon. Die twee is teenoorgesteldes – Cat is oulik, ditzy en deur die blare; Sam is nie op haar bek geval nie en ʼn bietjie meer edgy.
Dit is ʼn reeks wat op ouer tieners gemik is en waarin ouers nie juis enige goeie rolmodelle of lewenslesse moet verwag nie. Grande-aanhangers sal dit geniet.
Ouderdomsperk: 10-12OL
Ook op Showmax
- Make it pop
- iCarly
- Victorious
Netflix
The InBESTigators
The InBESTigators is ʼn Australiese-reeks oor vier slim kinders wat ʼn speuragentskap begin en beste maats word. Daar is tech-savvy Ezra; vlymskerp, maar sosiaal ongemaklike Maudie; lawwe Tyler en dramatiese Ava. Elkeen het unieke talente en vaardighede wat hulle ʼn goeie span maak.
Die toneelspel is so-so en die storielyn is redelik flou, maar die inhoud is onskuldig en met tye selfs opvoedkundig. Boonop is die rolverdeling divers en word geslagsstereotipes meestal vermy.
Jy kan jou kinders met ʼn geruste hart alleen los as hulle dié reeks kyk, want buiten vir een taamlik irriterende hoofkarakter, is dié speurders stroopsoet en gefokus op geregtigheid.
Ouderdomsperk: OL
Malibu Rescue: The Series
ʼn Span junior-lewensredders wys hulle staal in hierdie reeks oor underdogs wat in ʼn idilliese kusdorp afspeel. Dis een van vele reekse wat op jong tieners gemik is, wat kinders sal laat droom hulle is ouer en meer onafhanklik – die volwasse karakters is randfigure of skelms. Maar buiten vir ʼn paar sexy lewensredders, is die reeks redelik onskuldig.
Dit wentel om twee spanne lewensredders wat meeding om die beste reddingspan op die strand te wees. Daar is ʼn paar voorbeelde van stereotipes en bietjie romanse, maar darem ook van vriendskap en die waarde van harde werk. En simpel humor, wat die teikenmark sal waardeer.
Geen ouderdomsperk, maar nie juis bedoel vir kinders onder 10 nie.
That Girl Lay Lay
Sadie se avatar Lay Lay word lewendig in hierdie Nickelodeon tiener-komedie… Wat dieselfde formule volg as honderde Nickelodeon-tienerkomedies voor dit. Dit is goed om diverse karakters te sien, maar ongelukkig word Lay Lay net nog ʼn ongeskikte amper-tiener, eerder as die positiewe rolmodel wat sy vir dié teikenmark kon wees.
Die toneelspel is egter nie te sleg nie en die stelle is kleurvol en Lay Lay se tegnologiese vermoëns gaan kinders vasgenael hou.
Some Assembly Required
Die veertienjarige Jarvis word die eienaar van ʼn speelgoedfabriek in hierdie onrealistiese, maar heel prettige komediereeks met karakters wat jong kykers gaan laat lag.
Common Sense Media beskryf dit as “goofy” en “lighthearted”.
The Baby-sitters Club
Die nuutste televisie-weergawe van die gewilde tween-romanreeks deur Ann M. Martin gaan oor Kristy en Claudia wat ʼn klub begin om kinders op te pas. Alicia Silverstone van Clueless-faam is Kristy se enkelma. Volgens Silverstone is die reeks “goed-voel inhoud vir gesinne” en dat dit terselfdertyd “heilsaam” én “opwindend” is.
Die reeks word geloof daarvoor dat dit getrou bly aan die boeke, maar modern genoeg is vir hedendaagse gehore.
Dis verfrissend dat die eerste paar minute van die reeks nie in hoë stemtone en ʼn oordaad kleur verbygaan nie. Die toneelspel is goed en die reeks het ʼn getroue gevolg gehad, tot Netflix dit ná twee seisoene gekanselleer het.
Richie Rich
Hierdie een haal net die lys as waarskuwing, eerder as aanbeveling. Die nuutste weergawe van Richie Rich van DreamWorks Animation se AwesomenessTV is gepak met stereotipes, seksitiese uitbeeldings van vroue, materialisme en ʼn kind wat troetelwalvisse met die name Dollar en Bill aanhou in ʼn binnehuise tenk. Hy koop selfs die “supermodel”-robot in ʼn uitrusting wat heeltemal te sexy is vir kinder-televisie.
Systap hierdie een sover jy kan, of maak seker jy kyk dit saam met jou kinders sodat jy kan preek oor alles wat nié okei is oor dié verpestelike seuntjie en sy lewe in ʼn mansion nie.
Die ouderdomsperk is OL, maar kinders onder 10 behoort eerder nie te kyk nie.
Ook op Netflix
- Ponysitters Club
- My Perfect Landing
- Sister Sister
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →