Hier is my voorstelle vir wat om te kyk vandeesmaand.
Neem asseblief kennis dat datums en titels moontlik kan verander.
Frank

Weeklikse episodes vanaf 18 Februarie om 20:00 op kykNET en DStv Stream (DStv-kanaal 144).
Frank Opperman is ’n legende in sy eie leeftyd, een van ons land se mees aangrypende akteurs. Boonop ewe gemaklik op ’n verhoog of voor die kamera. Sy seun, regisseur Frankie Opperman, belig sy pa se verlede, hede en toekoms met ’n intieme fokus in Frank, ’n drieledige dokumentêre reeks, wat vandeesmaand op kykNET première.
The Lincoln Lawyer S4
Vanaf 5 Februarie 2026 op Netflix.
Die vierde seisoen van dié regsdrama is gegrond op The Law of Innocence, die sesde boek in Michael Connelly se The Lincoln Lawyer-boekreeks.
Nes Connelly se stories gewild onder boekliefhebbers is, is dié reeks een van Netflix se gewildste dramas. En kykers is omtrent ongeduldig vir die nuwe siesoen om af te skop ná die cliffhanger waarop die derde seisoen geëindig het.
As ons dan weer vir Mickey Haller (Manuel Garcia Rulfo) te siene kry, is hy in die taaiste saak nog van sy loopbaan gewikkel as hy sy eie onskuld in die moordsaak van ’n voormalige kliënt, Sam Scales, te bewys. Mickey en sy span se pogings om Sam se laaste slenter te ontrafel, bring hulle nie net teen die FBI en die staatsaanklaer se kantoor te staan nie, maar ook spoke uit Mickey se verlede wat dreig om sy lewe finaal te ontspoor.
Brakpan Chronicles
Vanaf 20 Februarie 2026 op Showmax beskikbaar.
Brakpan Chronicles is ’n tweeledige dokkiereeks met Rian van Heerden en Provoco, die vervaardigingspan wat ook vir die Safta-bekroonde Sex in Afrikaans verantwoordelik was, agter die stuur.
Die titel maak eensklaps duidelik waaroor die vertelling gaan. Brakpan het immers ’n sekere reputasie onder Suid-Afrikaners… Rian en sy span het dié dokumenter gemaak om vas te stel of dié dorp, net 30km buite Johannesburg, werklik die woordeboek-definisie vir “kommin” is.
The ’Burbs
Vanaf 11 Februarie 2026 op Showmax.
Die Emmy-benoemde skepper Celeste Hughey (Palm Royale, Dead to Me) het The ’Burbs vanaf die gelyknamige 1989 Tom Hanks-rolprent verwerk. Die Emmy-wenner Keke Palmer (Nope, Hustlers) en die Britse komediant Jack Whitehall (Jungle Cruise, The Afterparty) vertolk die hoofrolle in dié donker komedie wat vertel oor ’n jong paartjie wat teen hul sin na die man se grootwordhuis trek. Hul wêreld word egter omgedolwe wanneer ’n nuwe buurman intrek, en die buurt se verborge ou geheime aan die lig kom.
Ook in die rolverdeling is Julia Duffy (Palm Royale), Paula Pell (30 Rock), Mark Proksch (What We Do in the Shadows) en Kapil Talwalkar (Zoey’s Extraordinary Playlist).
How To Get To Heaven From Belfast
Vanaf 12 Februarie 2026 op Netflix.
Saoirse, Robyn, en Dara is sedert skooldae ’n hegte groep vriendinne. Hoewel hulle nou reeds in hul laat-dertigs is, is hulle steeds beste vriende. Wanneer ’n e-pos arriveer wat hulle inlig oor die dood van die vervreemde vierde lid van hul vriendekring, lei ’n reeks onheilspellende gebeure dié trio op ’n donker, gevaarlike, maar ook skreeusnaakse avontuur om die raaisel van haar dood te probeer ontsyfer.
Die reeks is geskep deur Lisa McGee, wat ook vir die wonderlike aweregse Derry Girls verantwoordelik was. Ons kan maar net hoop vir iets ewe lieflik ongewoon.
Reality Check: Inside America’s Next Top Model
Vanaf 16 Februarie 2026 op Netflix.
Reality Check: Inside America’s Next Top Model vertel oor wat werklik agter die skerms op die stel van dié realiteitsreeks gebeur het. En kyk, selfs die klein en kort blik wat die lokprent gee, is ’n ontnugtering. Want wat begin het as ’n realiteitsreeks wat ’n sogenaamde big break vir aspirant-modelle kon wees, het in iets sieklik ontaard wat later tot groot etiese vrae rondom sulke realiteitsreekse aanleiding gegee het.
In dié drieledige dokkiereeks word daar onder andere met voormalige deelnemers, beoordelaars én die vervaardigers van die reeks gesels. Die spil waarom dit als draai, is egter eenvoudig (en is stof tot nadenke): hoe ver is te ver ter wille van goedkoop vermaak?
Boer soek ’n Vrou S17
Die volledige 17de seisoen is vanaf 5 Februarie 2026 op Showmax beskikbaar.
Die mees onlangse seisoen van dié immergewilde maatsoekreeks maak vandeesmaand ook sy Showmax-debuut.
Die 17de seisoen se oes Boer soek ’n vrou-deelnemers se ouderdomme wissel tussen 26 en 56, en die boere verteenwoordig ses provinsies, met die Vrystaat wat die voortou met drie hubare boere neem. Soos voorheen fokus die reeks op die vyf boere wat die meeste briewe van hoopvolle pasmaats ontvang het.
Dié seisoen was ook die debuut van ’n nuwe aanbieder: Reandi Grey, bekend vir haar rol as Anja in Diepe Waters, het vir die eerste keer agter die stuur van die Boer soek ’n vrou-Hilux-bakkie ingeklim. Volgens Reandi is “al die boere wat ingeskryf het, ook mense wat ek self naby aan my gaan wil hou vir die res van my lewe.
“Hulle is besonderse sout-van-die-aarde-mense wat liefde verdien – en ek voel geëerd om deel daarvan te kon wees,” het sy vroeër aan Terloops vertel.
Man on the Run
Vanaf 27 Februarie 2026 op Prime Video.
Dié dokumentêre fliek neem kykers op ’n intieme reis deur Paul McCartney se buitengewone lewe ná die ontrafeling van The Beatles. Die bekroonde regisseur Morgan Neville, bekend vir sy dokumentêre speelfilms oor groot musiekfigure soos The Beach Boys se Brian Williams, Rolling Stones se Keith Richards en Johnny Cash, neem die leisels. Die vertelling vat dié uitdagende era in Paul se lewe en musiekloopbaan met ’n unieke lens vas soos daar deur voorheen ongesiene beeldmateriaal en besonderse argiefmateriaal gedelf word.
Formula 1: Drive to Survive S8
Vanaf 27 Februarie 2026 op Netflix.
Net so skuins voordat die nuwe F1-seisoen vanjaar in Maart begin, word die agtste seisoen van Netflix se immergewilde F1-dokkiereeks, Drive to Survive, vrygestel.
Dis die eerste seisoen sonder ons geliefde Danny Ric, maar ook met verskeie groot skuiwe, ’n groot groep rookies, en nuwe vetes tussen van die ouer garde. Lewis Hamilton se skuif vanaf Mercedes na Ferrari het dalk aanvanklik soos ’n doodskoot vir Carlos Sainz se loopbaan gelyk, maar soos die seisoen verloop het, blyk dit Williams is dalk die span wat Sainz nog heelpad nodig gehad het om werklik te skitter. Die Red Bull curse duur voort én Christian Horner word summier die trekpas gegee, terwyl die bestuurders van die nuwe Cadillac-span aangekondig word. En dis nog nie eens ’n druppel in die emmer van verlede jaar se drama nie… Strap in!
Kry Netflix met DStv
DStv-intekenare kan met die nuwe Explora Ultra toegang tot Netflix kry. Kry dit nou →