Menu terloops
In Wat om te kyk [19 Jul 2022]

Vier Kersfees in Julie met hierdie 5 hartverwarmende Kersfeesflieks


Geseënde Kersfees in Julie! Daar is meer as 80 kersfeesflieks op Showmax beskikbaar.

Deur Watkykjy
Vier Kersfees in Julie met hierdie 5 hartverwarmende Kersfeesflieks

Kersfees in Julie is ’n konsep wat dalk al so vroeg as 1933 onstaan het toe ’n lot jonges by ’n somerkamp in Amerika besluit het om die 24ste en 25ste Julie aan die kersgety te wei. 

Kompleet met berge watte vir sneeu, ’n kersboom vol liggies en klatergoud, die uitruil van geskenke, en ’n Kersvader om die hele gedoente te modereer. Die idee rondom ’n middel-van-die-jaar-Krismis sou sewe jaar later internasionale aanklank vind met die sukses van die Hollywood-komedie, Christmas in July. Dis egter in die 1950s wat Kersfees in Julie behoorlik begin momentum kry het.

Ek het dit goedgedink om so ’n handjievol plaaslike Kersfeesflieks voor te stel. Dis immers nodig dat jy ’n bietjie meer kultuur in jou lyf kry as bloot daai af-en-toe “gesonde” laevet joghurt wat jy voor werk uit die yskas gryp. Dis nou as jy die dag onthou… Ons het darem een klassieke Hollywood-treffer ook ingesluit, want poeding bring balans, of hoe?

Vier jou eie Kersfees in Julie met hierdie vyf treffers:

1

In Claire Watson (Lara Toselli; Tali’s Wedding Diary, Tali’s Baby Diary) se finale  poging om ’n aktrise-regisseur-skrywer te word, gebruik sy haar verloofde se Afrikaanse familie, die Botha’s, in ’n doku-film om haar mislukte loopbaan van stapel te stuur. Dit sorg vir ’n chaotiese, dog outentieke, Suid-Afrikaanse Kerskomedie. 

Die rol van die Botha-familielede word deur gesoute akteurs soos Albert Maritz (Wesens), Lida Botha (4 Mure), Johann Vermaak (Swaaibraai), Cintaine Schutte (Bus 7070) en Carel Nel (Raised by  Wolves) vertolk.

2

Van die  boere oor na die Zoeloes! A Zulu Christmas volg ’n bedorwe stadsjapie wat die skok van sy lewe kry as sy ouers hom na sy ouma op die platteland in KwaZulu-Natal vir die Desember-vakansie stuur.

Vir meeste kinders sou dit ’n droom wees wat waar word. Nie vir dié laaitie nie. Hy is beslis nie gereed vir Ouma se se oënskynlik oneindige lys van verbeeldinglose dagtakies nie. Hy sou mos veel eerder videospeletjies speel.

Op ’n positiewe noot is ouma ’n bron van onskatbare waarde sover dit haar stories oor hul familie se ryk erfenis en tradisies betref.

Die oomblik is daar vir die kind om aan te gryp en in te neem – sou hy wou. Só is daar ’n geleentheid vir hom om Kersfees in ’n heel nuwe lig sien.

3

Sedert Haas Das in die 1980’s die aap uit die mou gelaat het dat Kersvader se posadres Posbus 1, Pretoria, is, het oom Ben (Carel Trichard) en sy vrou Ria (Petru Wessels) duisende Kerswense van hoopvolle kinders van reg oor Suid-Afrika ontvang. Die briefies het egter onaangeraak gebly. Om selfs net een oop te maak, sou beteken om almal oop te maak. Om verantwoordelikheid vir ál die kinders se kerswense te neem, sou ’n onbegonne taak wees.

Ria sterf dan onverwags, en in ’n poging om ontslae te raak van alles wat die familie aan haar herinner, vernietig Ben se dogter, Anna (Cindy Swanepoel, Binnelanders) al dié Kerskaartjies. Sy kyk een (genadiglik) mis. Ben sien dit as ’n teken dat sy vrou vanaf die hiernamaals uitreik en maak die briefie oop.  Daarin vind hy ’n baie onverwagse wens wat hom op ‘n ongewone reis van genesing stuur.

Kry maar solank die snesies gereed, want hierdie fliek gaan beslis die hartsnare roer! 

4

As ’n ma onverwags haar man en kinders vir ’n nuwe lewe saam met ’n ander man verlaat, is die gesin so te sê aan skerwe. Dit boonop op Kersdag!

Ná afloop hiervan – en met haar depressiewe pa wat vir drie maande lank in sy slaapkamer wegkruip – word Nonnie (Mila Guy, Wonderlus) die ouerfiguur in die huis ter wille van haar klein boetie, Hugo (Eloff Snyman, Suidooster). Een oggend maak pa Herman (Morné Visser, Trackers) ’n onverwagse aankondiging. Hy het besluit om Kersvader te word; dit is sy roeping! 

Hierdie meesterstuk kom uit die pen van die bekwame skrywer en regisseur, Ettienne Fourie (Dis Koue Kos, Skat, Strikdas, Die Windpomp, Klein Karoo).     

Kyk ook Mila Guy se regisseursdebuut, Skyn, op Showmax.

5

En hier is jou kerspoeding vir Julie! Die Griswalds kry dit net mooi nooit reg om ’n vakansie te beplan sonder dat dinge vieslik skeefloop nie. Hul eerste vakansie was ’n nagmerrie en die reis na Europa het behoorlik vir hulle ore aangesit. So hoekom sou hul Kersfeesvieringe enigsins beter verloop? Selfs al het pa Clark die vakansie vir ‘n maand lank vooruit haarfyn beplan… Jan tuisbly se karretjie blyk die verkeerde opsie vir Kersfees te wees. Oukersaandviering word erg versuur deur ongesofistikeerde familielede wat ’n seniele tannie insluit. Daar is monumentaal gebrekkige toerusting en tegniese blapse, asook ’n onvoorsiene botsing met die gereg. (Dis nou die pote, nie die poeding nie.) Jy mag dalk net opnuut waardering kry vir jou eie familie, foute en terkortkominge ingesluit.


Daar is tans meer as 80 kersfeesflieks op Showmax beskikbaar, en heelwat van die titels (eintlik die meerderheid) is op die jongspan gerig (of die grootmense wat te veel Rondkyk Rothman’s geniet en hul oë stadig knip).

Geseënde Kersfees in Julie, en ’n voorspoedige Augustus tot Desember vir ieder en elk!

Wat, waar en wanneer?

Ons kies en keur die beste plaaslike en internasionale sepies, reeks en flieks om nou op Showmax, DStv en Netflix te kyk.

Sien ook Meer

Jy sal hou van:

‘Wyfie’: Jou kykgids vir Oktober 2024

Dinge raak ernstig tussen Maggie en Shay en Kyla moet moeilike keuses maak. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer

Silwerskermfees 2024: Waar en wanneer om vanjaar se kortfilms die week op TV te kyk

Vanjaar se Silwerskermfees het weereens voortgebou op meer as ’n dekade se ontwikkelingsprojekte in die plaaslike filmbedryf – en die eerste sarsie stories word hierdie Saterdagaand, 7 September 2024, op kykNET uitgesaai.

Meer

‘Wyfie’: Jou kykgids vir September 2024

Amanda kom voor moeilike besluite te staan en Kyla is in ’n desperate situasie verstrengel. Hier is wat jy vandeesmaand op die Afrikaanse universiteitsdrama, ‘Wyfie’, kan verwag.

Meer
12

12 klassieke chick flicks en reekse om te kyk

Gryp die popcorn en rosé en kyk ’n paar van die mees ikoniese chick flicks en reekse wat ons oor die jare vermaak en geïnspireer het. Of jy nou lus is vir ’n lekker romcom, ’n hoërskooldrama, of ’n feel good-reeks, hierdie lys van 12 throwback-juwele is beskikbaar op jou gunsteling-stromingsplatforms.

Meer
Sien alle opsies